Cas Vos - Fragmente uit die Ilias. Protea Boekhuis, 2014. ISBN-13: 978-1-4853-0181-3
Resensent: Joan Hambidge
Die
Ilias vertel die verhaal van Agamemnon, wat wraak
sweer wanneer Helena (die vrou van Menelaus), deur Paris, ’n prins van Troje,
ontvoer word.
Dit het ’n slopende Trojaanse oorlog tot
gevolg wat tien jaar lank duur en verskeie vertalers het al hul hand aan hierdie
klassieke teks gewaag, wat geweldige eise aan die digter se vormbeheer én
taalgevoeligheid stel. Die Odusseia
begin tien jaar ná die val van Troje.
Dit is soos die verskillende vertalings van
Dante se Heilige Komedie, wat vele
herdigtings en toespelings beleef het en vertalings soos deur die voormalige
poet laureate van die VSA, Robert Pinsky. In Afrikaans is daar gesprekke met
Dante in die diguns van T.T. Cloete en selfs ’n vertaling van Delamaine du
Toit.
Cas Vos se vertalings word gepubliseer met
die herdenking van die Eerste Wêreldoorlog.
Op die Versindaba se webruimte het die
literator Marlies Taljard – wat hierdie teks as ’n meesterstuk beskryf – gewys
op die hantering van die epitet. Hierdie teks, soos elke vertaling uit ’n
klassieke taal, vra egter of die teks genoegsaam getransporteer is van die
Grieks na Afrikaans. Soos wat die Ilias
die stryd beskryf van Agamemnon om die skone Helena te bevry van Paris, is
digters in ’n soortgelyke metaforiese stryd gewikkel in so ’n allemagtige
vertaling of herdigting.
Dit is opvallend dat daar tans, meer as
ooit tevore, geweldig baie vertalings binne die Afrikaanse letterkunde verskyn.
Selfs in verseboeke word vertalings tans opgeneem as digterlike eiegoed. Uys
Krige, H.P. van Coller, Johann de Lange, Daniel Hugo en H.J. Pieterse is
digters wat Afrikaans verruim het met uitstekende vertalings.
In Boek XX lees ons:
“Hoor net hoe jaag die blitse rond,
die gode span saam vir die oorlog.
Uit woede gaan hulle mense wond,
en dit alles weens blinde hartstog” (126).
Hierdie bundel bevat ’n grondige inleiding
ter agtergrond. Die naamverklaring is eweneens nuttig.
Die belang van só ’n vertaling is dat dit
’n mens na die ryk skat van die digkuns neem waarin die Ilias op briljante wyses vernuut is. Vir my is die mees uitstaande
voorbeelde Omerus van Derek Walcott
en die digkuns van Anne Carson, digter en klassikus.
Daar bestaan dubbelloop-vertalings (met
voetnote) en vrye vertalings van klassieke tekste. In laasgenoemde geval kry
die sterk digter se stem die oorhand. En al hierdie gesprekke tussen digters
wat dieselfde oorlogsveld besoek het, bly ’n fassinerende een: Yeats, Lorca,
Neruda, Ted Hughes . . .
Soos Vos tereg uitwys, is daar gevalle waar
die persoonlike ervaring oor hierdie teks getransponeer word (Yeats wat sy Maud
Gonne gelykstel aan die skone Helena van Troje).
“Elke tyd het sy Trojaanse oorlog” (28),
word ’n ander digter tereg aangehaal . . .
Die digter gee erkenning aan die letterlike
vertaling van die Stellenbosse klassikus J. P. J. van Rensburg wat in 1952
verskyn het. Hy verwys die leser ook na al die geraadpleegde brontekste wat vir
die snuffelaar van onskatbare waarde is.
* Op die flapteks staan daar dat Vos in 2012
met die SALA-prys bekroon is. Dit het egter in daardie jaar aan Johann Lodewyk Marais
gegaan.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Rapport)