Martjie Bosman. Toevallige tekens. Protea Boekehuis, 2010. ISBN 978 86919
400 0.
Resensent: Joan Hambidge
In 2003 debuteer Martjie Bosman
met die bundel Landelik waarvoor sy bekroon word met die Ingrid Jonker-prys.
Soos die titel van die tweede bundel Toevallige tekens dan ook suggereer, moet
die leser die tekens en spore in hierdie bundel met nougesette aandag volg. Die
teken as teiken dus en ‘n mens word telkens bewus van ‘n volgehoue semiotiese
spel met die leser.
Van Wyk Louw rig dan ook die
bundel in ‘n motto:
…dié Woord
vol bybetekenisse en bowe-tone,
té vol vir bloot net beteken of
betekenis.
Die digter aktiveer die
Afrika-wêreld waar mense die “tekens van gemene besit / op allemansgrond,
gebied onder koningsgesag” beleef (“Meent”, 15). Die bundel spreek ‘n
Afrika-landskap aan en so tree die bundel in gesprek met Opperman-kodes. In die
gedig “Grondeis” (35) spreek sy Opperman dan direk aan. Dirk-se-erf is nou ‘n
beleërde plek waar die digter haarself moet verweer met guerillategnieke.
Bosman aktiveer telkens op ‘n
konkrete wyse ‘n sintuiglike dimensie wat sy plaas teenoor die “angs van
binneruimtes”. Vigs (“groter siekte”) is ‘n harde werklikheid waaraan
geloofsgenesing niks kan doen nie.
Die Mosambiekse landskap word
eweneens ontgin met Maputo as ‘n vervalle stad. Vir hierdie leser wat die
landskap intens en gereeld besoek het, is die beskrywing van die menslike
ellende en die hospitaal-dienste, helder weergegee. En Bosman skryf eweneens
oor die nood van vrouwees in so ‘n bestaan waar verkragting en liggaamsgeweld
‘n harde werklikheid blyk te wees. Hierom is daar ‘n motto by “Mutilados” wat
verwys na Dine van Zyl se Die verminktes. “Die kind van Kigali” (24) tree weer
in gesprek met Ingrid Jonker se ikoniese gedig “Die kind”.
Die Rwanda-werklikheid kom
eweneens aan bod in hartgrypende verse oor die volksmoorde aldaar. Die digter
hou die pynlike en transgressiewe gegewe in beheer met sterk metafore. In die
hande van ‘n mindere digter sou hierdie gedigte skel kon oorkom. Maar dit is
júis wat hierdie verse onderskei van ‘n berig in Time: sy gebruik herhalings
wat ‘n soort pynlike inkantasie word van die koeëls wat “in sagte vlees
wegsink”. Die iteratief-duratief (wegsink in plaas van die verlede tyd
weggesink) aksentueer dat die pyn voortduur in die menslike gemoed.
Die bundeltitel word verklaar in
“Eendagskoon” (27) waar die verval in Afrika weergegee word. Hierdie gedig tree
eweneens in gesprek met Ina Rousseau se voortreflike tuin/Eden-verse en kan
gelees word as ‘n ars poetica. In “Soet seisoen” (80) soek sy na ‘n metafoor om
die verval van ‘n stad te verbeeld, maar die gedig bly die aftakeling ontwyk.
Juis deur ‘n gedig te skryf kan sy haar verweer teen die sloping wat sy meemaak
en is die tekens van die gedig “’n tuin van alle liefde”.
In die personifikasie van ‘n
skreeu (“Die skreeu”, 31) word die weerloosheid van mense binne ‘n
geweldgeteisterde Afrika-werklikheid belig.
Die slim toespelings op Toon van
den Heever en Marais skep winste vir die gedigte, nie alleen in die vervloë
wêreld wat dit oproep van ‘n verlore stam nie, maar ook ‘n bewusmaking vanwaar
die Afrikaanse digkuns tans staan.
Hierom is daar waarskynlik ‘n
bestekopname van die digter se verlede met aangrypende en nostalgiese gedigte
oor die jeug. Ons vind reeds in die herinneringsverse ‘n slim kind as waarnemer
wat tekens probeer dekodeer en nou as volwassene terugkeer na die verbeelde
wêreld wat sy beleef het. In “Kispak” (58) vind ons ‘n lykdig wat weer
terugwaaier na T.T. Cloete se vers oor die verskillende rokke van sy vrou. Hier
is dit die kispak:
Dan word die pak diep weggepak
tot dié dag wanneer die kis
die pak weer waardig is.
Martjie Bosman bewys met haar
tweede bundel dat sy ‘n knap digter is wat aan elke beeld en woord aandag gee.
Haar leser word bekoor deur die tekens wat jy moet snap: foto’s, musiek, mense,
diere se geluide. Daar is verse oor bekendes (soos Wena Naudé) en gedigte oor
die Spaanse landskap.
Die gedigte lyk op die oog af
sober en in beheer – onder is daar ‘n melancholie wat by elke herlees ‘n
mens dieper tref.
Dit is ‘n bundel oor “vae en
ontwykende drome” wat helder en stip verwoord word.
Alles is hier dringend in klein
tekens op papier gemerk, om die digter aan te haal.
Daar is ‘n opbloei in ons digkuns:
Johann Lodewyk Marais, Tom Gouws en andere wat bewys dat ten spyte van die
geweld en onsekerhede wat ons beleef, bly digters in Afrikaans belangrike werk
lewer.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die
Volksblad geplaas.]