Ivan Vladislavic. Flashback Hotel. Early stories. Umuzi, 2010. ISBN 978 1 4152
0107 7.
Resensent: Joan
Hambidge
Missing persons
(1989) is indertyd met die gesogte Olive Schreiner-prys bekroon en Propaganda
and other stories (1996) bevat twee verhale wat die Thomas Pringle-toekenning
verower het. Portrait with keys het destyds my asem weggeslaan en Flashback
hotel, wat sopas by Umuzi verskyn het, is dan ‘n kompendium van ou verlore
verhale. Stories wat ‘n mens lees wat in die struggle-tyd afgespeel het en nou
dwingend relevant is. (Ek hoef dit seker nie vir enige leser uit te spel dat
die media-tribunaal op ‘n erger sensuursisteem gaan afstuur as wat Connie
Mulder & kie ooit bedink het nie.) ‘n Verhaal waarin Vladislavic se métier
as kortverhaalskrywer die beste geïllustreer word, is in die verhaal: “The
box”.
Hier het jy die
ware storieverteller aan die woord. Quentin, die fokalisator sit sy bottel
Southern Comfort neer en kyk TV waar die eerste minister allerlei kwyt raak.
(Gaan terug in die verlede, geliefde leser en dink aan noodtoestande, boikotte,
ensomeer.) En dan gebeur die onmoontlike: Quentin ruk die man-van-gesag uit die
boks en hy verklein soos ‘n speeldingetjie in sy hand.
Dan word die
leser getrakteer op wat alles met hierdie mannetjie gebeur in die fynste
detail.
En terwyl hy ‘n
gevangene is van Mary en Quentin in ‘n aweregse Alice in Wonderland-wêreld,
ontken die regering dat hy weg is. Nee, hy is net ernstig siek en
media-verklarings word uitgereik om dit te bevestig. Die wêreld van die
“printer tray” word geaktiveer en die mannetjie word gevoer op ‘n
melkbottel-proppie.
En dan begin
hierdie aanwesigheid die karakters te steur. En nog meer waansin en diefstalle.
Selfs ‘n glimlag op ‘n tandepasta-advertensie word geskaai. Hierdie
fantasieryke verhaal is ‘n kragtoer en illustreer die skrywer se talent,
naamlik die vermoë nooit melodramaties te laat raak nie en déúr die fantasie
wat geskep word, kommentaar te lewer op die werklikheid. Uiteindelik word dit
ook ‘n soort kommentaar op die aanwesigheid van die media in ons daaglikse
bestaan.
Wat maak Ivan
Vladislavic só ‘n besonderse talent?
Waarskynlik die aweregse humor en die slim spel, sonder
dat dit vervelig of akademies raak. Die oplettende leser – soos Crito – sal
opmerk dat ‘n verhaal leen uit ‘n Barabra Cartland-storie én ‘n uitgewersnota
van Naught for your Comfort deur Fr Trevor Huddleston. Hierdie briljante vertelling handel oor ‘n
man se ontmoeting met ene Helena. Hy koop van haar boeke by ‘n tweedehandse
stalletjie en in ‘n fantasieryke vertelling probeer hy via haar boeke agterkom
wié sy is.
Die slot kan as dubbelsinnig gelees word. Ontmoet hy
haar werklik met die verwysing na THE END wat die verhaalmatige wil vooropstel
of is ons hier in die mal verbeelding
van ‘n persoon wat te veel gelees het? Hy lees immers Pirandello en ons weet
wat Calvino alles in verhale aanvang.
Daar word
dikwels groot gewag gemaak van Vladislavic se humor.
“Autopsy”
illustreer dit. ‘n Man sit en eet in die Potato kitchen en hy sien die Koning,
oftewel Elvis, of iemand wat Elvis sou kon wees. In hierdie waarnemer se
gedagtegang word hy ‘n Messias-figuur.
Vladislavic se skryfstyl is dikwels digterlik in
beelde wat die leser onverhoeds betrap: “the sun sank like an embolus into a sea
of lymph”(148).
Die verhale gee
aandag aan klein besonderhede sodat
die leser dikwels ‘n vergange of retro-wêreld terug geneem word.
Dit is verhale
wat nie maklik hul geheime prysgee nie en die leser dwing tot herdink en
herlees.
Die voorblad
verklap iets van die verhale se aard: in plaas van ‘n kop is daar ‘n gloeilamp
wat helder skyn.
‘n Beeld dalk
van die verbeeldingsvlugte wat hierdie verhale wakker maak?
Ivan Vladislavic
is ‘n ware vakman en kenner van die kortverhaal.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]