Lina Spies. Tydelose gety. Protea Boekehuis, 2010. ISBN 978 1 86919
383 6.
Resensent: Joan Hambidge
Die jongste bundel van Lina Spies
heet Tydelose gety: die tydeloos aktiveer tydelik én tydloos, die hier én die
ewige. Hierdie spanning vind ons regdeur die digter se oeuvre en veral in die
bundel Hiermaals word die gesprek tussen die lewe op aarde en die Ewige bestaan
‘n digterlike onderwerp.
Spies spreek in hierdie bundel die
toestand of aard van die ouer persoon aan. Die vrou sonder masker en in hierdie
opsig tree sy in gesprek met twee ander vrouedigters wat hierdie onderwerpe
behandel: Elisabeth Eybers en Antjie Krog.
By Eybers is daar die vormvastheid
wat bekoor; by Krog die woede en kompromislose siening van die lyflike
ontglansing.
‘n Vers soos “Vraag” (28) spreek
Eybers se “Taalles” aan, terwyl die belewenis van die liggaam gelees kan word
as ‘n implisiete antwoord op Krog se verse waar kragwoorde gedy. In “Leeftyd”
(12) kom sy in opstand teen die siening dat liefdesverse nie behoort tot haar
tyd nie. Sy verset haar teen die klaagliedere wat hierdie tydvak kenmerk.
Die digter kies dan beelde waarin
sy haar lewensvreugde weergee, en hierom haar oorgee aan die “eb en vloed” wat
in elke gety stu.
By Lina Spies is daar van meet af
aan ‘n sivolle gesprek met ander digters. ‘n Mens dink aan haar Emily Dickinson
herdigtings (Die enkel taak: Die merkwaardige verwantskap tussen Elisabeth Eybers en
Emily Dickinson (1995) en in hierdie bundel vind ons eweneens vertalings,
herdigtings en indigtings van bekende gedigte: Paul Celan se “Todesfuge” (“Fuga
van die dood”), Pavel Friedmann se “Die skoenlapper” waarin Spies haar liriese
kwaliteite ten toon stel.
Daar is beelddigte oor Nelson Mandela en Anne Frank.
Hierdie bundel wil sig teen die steoretipiese en die geykte van die lewe
stel soos die digter dan ook skryf in die programgedig “Lectori Salutem” (11).
Die liefdesverse is onthoubaar soos die gesprekke met twee groot digters,
Elisabeth Eybers en Vasalis in die aangrypende vers “By wyse van vergelyking”
wat inspeel op die voorblad van die bundel(23):
Vasalis het haar geliefde
met ‘n landskap vergelyk
waarin sy haar neer kon lê
en uit kon strek
maar toe besluit hy lyk
nog meer na die lug daarbo
waar ruimte is vir wolke.
Ek sou jou kon benoem
met dieselfde metafore
maar ek het jou lief
met my eie hart
en ek sien jou met my eie oë
en vir my lyk jy
die meeste op ‘n kroonden
met sy hoë stam
en sondeurstraalde kruin:
‘n boom waarna mens op moet kyk
en waarteen jy aan kan leun –
sonder vrae, sonder beloeftes, sonder vrees.
Die eiesoortige praatvers wat sy skryf, is in hierdie bundel nie altyd ewe
suksesvol nie. Vir my gevoel is die verse dikwels spanningsloos en die opdrag
en uitdaging aan die leser in die programvers word nie orals nagekom nie. ‘n
Vers soos “Gewoon” (19) en sy inspelings op Eleanor Farjeon se geestelike lied,
wat deur Cat Stevens gepopulariseer is, klink flets op.
Daar is gesprekke met Emily Dickinson en Philip Larkin – selfs ‘n
herdigting Maya Angelou. Die gevaar is immer dat die oervers kragtiger mag opklink
vir sommige lesers. In ‘n gedig word die band met Afrikaans besing
(“Moedertaal”, 54) en verse vir Degenaar en Elisabeth Eybers, twee duidelike
mentors vir Lina Spies. Ook Audrey Blignault word vereer.
Tipies Spies is daar verse met ‘n religieuse strekking (soos “Kategismus”,
67) en natuurlik: Anne Frank.
Vir Lina Spies-bewonderaars is die bekende temas (liefde, godsdiens,
vrouwees, ouerword, die dood) daar en getroue volgelinge sal steeds iets put
uit hierdie bundel wat deur Protea Boekehuis uitgegee is.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die
Volksblad geplaas.]