Gerrit Olivier. Aantekeninge by Koos Prinsloo. Sun Press: Rapid Access
Publishers, 2008. ISBN 978 1
919985 31 2.
Resensent: Joan
Hambidge
I
Ons het lank
gewag op Gerrit Olivier se Aantekeninge by Koos Prinsloo wat sopas by Sun
uitgewers en meer spesifiek Rapid Access verskyn het. Olivier het bekendheid
verwerf in die tagtigerjare as ‘n vlymbekkige en dikwels satiriese kritikus en
hy het ‘n studie oor N.P. van Wyk Louw geskryf wat eweneens kritiek ontlok het.
Hy is tans hoogleraar in die Afrikaans en Nederlands, maar die voormalige
department bestaan egter nie meer nie. Tans is hy is hoof van die Wits School
of Arts en hy was die afgelope paar jaar dekaan wat ongelukkig tot gevolg gehad
het dat daar redelik min resensies en artikels van hom verskyn het.
II
Hy verduidelik
in die nawoord dat hierdie sy Trauerarbeit oor Prinsloo is en hy erken sy
skatpligtigheid aan ‘n hele boel mense. Op die agterblad word die boek
aangeprys deur Edwin Cameron en Marlene van Niekerk wat Prinsloo sonder skroom
beskou as die belangrikste skrywer oor die gay beleweningswêreld. (Vergeet ons
tydelik van Hennie Aucamp en Johann de Lange?)
Die boek getuig
van ‘n deeglike benadering tot Prinsloo se werk. ‘n Soort stiplees en verwysing
na relevante bronne en tekste. Vir ‘n werklike ‘nuwe’ of selfs psigoanalitiese
benadering moet die leser maar elders gaan aanklop. Hiervoor is Olivier se
teoretiese kennis waarskynlik nie diepgaande genoeg nie. Wat die teks wel ‘n
lonende leeservaring maak, is die deeglike kommentaar of aantekeninge by
tekste. Ons lees onder andere in voetnote oor kwessies soos Prinsloo se
betrokkenheid by die UP-tydskrif Vlieg en Hans Pienaar se reaksie nou op die
registrateur se dreigement oor wat alles met hulle kon gebeur.
Olivier begin
met die siening dat Prinsloo se tekste ‘n soort selfopenbaring en ‘n gevoel dat
enige vorm van verswyging, onderdrukking of selfs fiksionalisering van die
werklikheid ‘n vorm van magsmisbruik is. In dieselfde asem is hy dan krities op
lesers soos Riana Scheepers wat karakters in boeke gelykstel aan lewendes buite
die boeke.
Ek weet ek is
nou besig om Olivier se komplekse argument en dans van die sewe sluiers hier ‘n
bietjie te vereenvoudig, maar in die praktyk is dit waarop dit sou neerkom.
“Die paradoks is
dat elke onthulling ook ‘n verhulling moet wees; dat dit onmoontlik is om agter
‘n teks ‘n ek in sy volle naaktheid sigbaar te maak. Die skrywer wat hom verset
teen die moontlike valsheid van die literêre diskoerse en die strategieë van die
glad gepoleerde verhaal kan nie buite die konvensie iets tot stand bring wat
nie self óók konstruksie is nie. Dit impliseer dat selfs die ek-figure wat as
outobiografies aangebied word, nooit sonder meer met die konkrete skrywer
vereenselwig kan word nie” (p. 2). Ek verskil hier: ek dink Prinsloo se tekste
kan as sowel outobiografies of ‘werklik’ gelees word as konstrukte.
Sowel
Olivier se benadering as Scheepers se lesing van sy tekste is geldig. Die
gebruik onder andere van paspoortfoto’s of foto’s van herkenbare persone
aktiveer ‘n werklikheidskode. Dit is dan ironies dat hy Linda Hutcheon aanhaal
in The Politics of Postmodernism (1980) waar sy tog die kwessie van
“doubleness” en “duplicity” beklemtoon (p. 59).
Dit is duidelik
dat Olivier kritiekloos, selfs bewonderend voor Prinsloo staan.
Die studie se
grootste waarde is opgesluit in die voetnote en onder andere die hele
geskiedenis rondom die geknoei met die Rapport-prys word onthul. Beskuldigings
dat ‘n pryskomitee saamgestel kan word om ‘n bepaalde skrywer te bevoordeel en
ander kwessies word vreesloos deur Olivier onthul. Dit was hoe dit was en die
klimaat waarbinne Prinsloo geskryf het met onder andere sy baas, ‘n
koerantredakteur wat wou weet of hy ‘toestemming’ had om as gasredakteur vir
Stet op te tree wat deur Taurus geborg is!
Dit word ‘n
skokkende ontbloting van die benouende tyd waarbinne Afrikaanse skrywers geleef
en geskryf het en hoé daar per memorandum of klein dreigement met ‘n persoon se
gal gewerk is.
Oor die omstrede
Slagplaas is daar al dikwels lank geredeneer. Ek is een van die resensente of
kommentators wat nie in Olivier se oë genade vind nie. Ek was tewens nie
verbaas dat Kerkorrel kwaad geword het vir Prinsloo nie en Olivier speel hier
‘n bietjie Skoolmeneer wanneer hy na letterkundiges se banale uitsprake oor die
teks verwys asof net hy die korrekte antwoord het. Enige grensverskuiwende teks
gaan uiteraard op verskillende vlakke reaksie ontlok. Trouens, ek het nie
gedeel in die ikoonstatus wat Prinsloo in hierdie tyd geniet het nie en dat
elke uitspraak wat hy gemaak het in sekere kringe vir soetkoek opgevreet is.
Ons wag al jare
op hierdie studie.
Dit lewer ‘n
belangrike bydrae wat die stiplees van tekste betref, die uitwys van ‘n geknoei
agter die skerms en die byhaal van dokumente en bronne om die tekste te
verhelder.
Vir ‘n
diepsinnige teoretiese of vars psigoanalitiese blik – op ‘n komplekse skrywer
en samelewing – sal die leser waarskynlik moet wag. Deleuze & Guattari of
Alice Miller sou verheldering kon bring. Wanneer hy Barthes se jouissance
aanhaal, is dit sonder genoegsame verheldering – die erotiese plesier soos wat
Barthes dit beskryf in Le plaisir du texte is waarskynlik komplekser as wat
Olivier hier laat blyk (p. 109). Dit gaan immers oor die leser se vermoë om vlakke
in die teks raak te lees, botsings te verdiskonteer en dies meer.
Olivier se teks
speel op twee vlakke af: ‘n skerpsinnige analise van die verhale en dan die
voetnote waarin hy dikwels op ‘n minder vriendelike wyse ‘n stelling verkeerd
bewys.
Verder besluit hy wannneer ‘n biografiese gegewe binne-in die teks ‘toegelaat’ mag word, maar vind o.a. Scheepers se toespelings nie altyd korrek nie. Of hy haal ‘n sin uit ‘n rubriek – van myself oor ‘n paspoortfoto – buite konteks aan.
Verder besluit hy wannneer ‘n biografiese gegewe binne-in die teks ‘toegelaat’ mag word, maar vind o.a. Scheepers se toespelings nie altyd korrek nie. Of hy haal ‘n sin uit ‘n rubriek – van myself oor ‘n paspoortfoto – buite konteks aan.
Johann de Lange
had gelyk dat Prinsloo die dinamo was vir die skep van die energie waaruit die
tekste geteer het. Waarom sou hierdie opmerking onvriendelik en onjuis wees (p.
208).
Gerrit Olivier
staan te bewonderend en te na aan die figuur wat hy ondersoek. Hier is nie ‘n
kille distansie van ‘n Edmund White aanwesig nie en plek-plek herinner die boek
aan ‘n besitlike weduwee wat jaloers en eiendomlik die manuskripte bewaar.
McHale se
siening van die dood as ‘n “ontologiese grens” is relevant vir hierdie begryp
van Prinsloo se optrede: o.a. die skryf van ‘n woedende brief aan die uitgewer
en die eis van ‘n voorskot al sou die manuskrip nie gepubliseer word nie (!)
dui alreeds op iemand wie se houvas op die werklikheid waarskynlik begin gly
het.
Olivier verwys
na die terapie-sessie waar oordrag plaasgevind het. Dus klein oomblikke waarin
daar flikkeringe of suggesties is van ‘n dieper kyk in Prinsloo se psige en die
rede vir sy simboliese vadermoorde en aanvalle op toenmalige vriende en
kennisse.
III
Die gebrek aan
‘n indeks het die leeswerk beslis nie vergemaklik nie.
Ofskoon daar
baie belangrike inligting verskaf word, voel die leser na die voltooiing van
die teks soos oor E. Lindenberg se lesing van “Groot Ode”. Is dit waarop ons so
lank moes wag?
Langverwagte
tekste wat dikwels met beloftes gepaard gaan van hier kom ‘n deurbrekende
grens, is niks anders as “belofte maak skuld nie”.
Vir die
skerpsinnige analises van tekste kan ‘n mens die hoed afhaal. Vir ‘n
diepgrondige verduideliking van die komplekse persona van Prinsloo wat in sy
eie terme gelees wou word en à la Barthes sy eie filosofie wou skep waarin hy
tuis en veilig sou voel, is hierdie studie helaas nie.
Eerder as om die
teenstrydighede uit te wys, word dit self ‘n teks vol kontradiksies, soos
uitgewys.
Bronne:
Garber, Marjorie: Bisexuality & the eroticism of
everyday life. Routledge, New York. 2000.
Gilles, Deleuze
& Félix Guattari: Anti-Oedipus. Capitalism and Schizophrenia. The Athlone Press, Londen. 1984.
(1972).
Miller, Alice: The Drama of Being a Child – The Search for
the True Self. Virago, Londen. 1987.
Nawoord:
Uit die resensie
is dit duidelik dat die studie in gebreke bly om Prinsloo se opstand teen die
vaders psigoanalities te verhelder. ‘n Woede teen die vader – vaderhaat – word
telkemale op ander vaderfigure geprojekteer en hierdie konflik, een van
ambivalensie teenoor vaderfigure, tref die leser aan in vele verhale. In die
verhouding met die skrywer as mentor (Aucamp) en die uitgewer (‘n simboliese
vader).
Oedipus het sy
vader Laius per ongeluk doodgemaak. By Prinsloo is dit ‘n volgehoue,
meedoënlose inbeweeg en dan afwysing van die vaderfiguur. ‘n Anti-Oedipus dus.
‘n Weiering om te oedipaliseer en die gesag van die vader/Vaders te aanvaar op
alle vlakke: werklik en letterkundig.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]