Saturday, February 2, 2013

Charl J.F. Cilliers - Collected Poems 1960 – 2008 (2008)



Charl J.F. Cilliers. Collected Poems 1960 – 2008Malgas Publishers, 2008. ISBN 978 0 620 42013 6.

Resensent: Joan Hambidge

Digkuns-liefhebbers sou hierdie Engelse digter, met die Afrikaanse naam, se werk al raakgesien het in kleiner tydskrifte en hierdie selfpublikasie van Collected Poems na bundels soos West-Falling light (Tafelberg Uitgewers. 1971) en Has winter no wisdom (Maskew Miller, 1978), wys hoe sake staan binne die uitgewerswêreld.

The heart is many islands en Postcards from the edge is dus hier nuwe bundels, nou saamgevoeg as verskillende afdelings.

Die waarde van die versamelbundel is dat gedigte nou kan terugspeel op ouer, selfs vergete gedigte, en die leser kan eweneens die digter se ontwikkeling raaksien. (Hierdie leser het eers die bundel van agter na voor gelees; en toe weer van voor na agter om juis die nuwes eerste te lees.)

282 bladsye is ‘n stewige versameling wat uitloop in die slotgedig “Finally” (282) waar die digter die futiliteit van die lewe en skryfproses weergee:

until with the futility of one last breath
love and loss are finally one in death.

Tog, ironies genoeg, bly die gedig vóórtlewe vir die leser.

Ons ervaar hier die digterskap van ‘n ervare hand waarin die balans tussen die konkrete beeld en abstrakte boodskap goed gehandhaaf word. In “Mist over gull rock” (281) kom die maan oor die see op soos die gesig van ‘n drenkeling. En so ‘n beeld gaan altyd by die leser spook. Nes herinneringe:

Shells of dead sea creatures lie strewn
all about like the many memories
the small waves bring to him…
(280). 

In “Truth in stone” (281) word die rympatroon van die kwatryn netjies volvoer. Elders hanteer hy die halfrym en spieëlryme puik.

Daar is ‘n melancholiese toonaard, bykans deurgaans aanwesig en by ‘n trouseremonie lyk die konfetti-bloeisels soos opgedroogde trane; ‘n restaurant op sy beurt beskut mense teen die oop wond van die buitewêreld. Dit is immers “postcards from the edge”. Soos ‘n gedig oor Alzheimer se siekte bewys.

In ‘n ironiese gedig (271) oor ‘n partytjie word die leë gesprekke van gasvrou en gaste geparodieer – met ‘n wrang slot. In ‘n gedig oor stiltes tussen mense, vee ‘n kelner die tafel skoon, terwyl die twee mense se bewus is van hul “shattered dreams / suspended there” (253, “Silences”). Met min woorde en suggestie word treffende boodskappe oorgedra. “Chance encounter” (252) kan as ‘n ars poetica gelees word:

The bullet
slit the air and tore
through the shocked socket
of a staring eye.

Daar is ’n vers waarin ‘n kritikus gekritiseer word een van die mees aangrypende verse is ‘n gedig waarin briewe van ‘n afgelope verhouding bekyk word met die wete dat dít wat ‘n hele lewensloop verander het, nou so min beteken (“The letters”, 226).

Die digter skryf nie net oor die intieme emosie nie; daar is besonder knap natuurverse: oor diere, oor jagpartye, oor die Karoo. Daar is verse oor verhoudings met kinders en ‘n pa, ‘n besoek aan ‘n inrigting en ‘n motorbegraafplaas. Die hele lewe word beskou teen die agtergrond van die bekende Quasimodo-aanhaling: en skielik is dit aand. Die kortstondigheid van die lewe, en juis hierom die intensiteit van die digterlike waarneming, maak van hierdie bundel ‘n lonende leeservaring.

Dit is belangrik om te sien hoe die digter na sekere temas terugkeer, dit herskryf, verfyn – met die wete: “and a world at once / that is / and never is” (36).

Die wêreld is onbetrokke, maar die digter wetend dat alles vervlietend is, skryf tog ‘n vers. “The most beautiful” (22) eggo ‘n Wallace Stevens-aanslag en die motto verwys ons na Zbigniew Herbert. Die beheptheid met tyd aktiveert ook T.S. Eliot se seining hiervan en ons vind dan ‘n motto van hierdie digter as sleutel.

Die besondere hantering van die prosodie, verrassende slotte, ‘n helder beelde, imponeer keer op keer. Kyk hoe knap word rympatrone hanteer en die slot van “Necessity” (169) gryp aan die keel:

The shock was the rigor mortis of surprise
(or expectation?) on her lips and in her eyes.

Dit is ‘n bundel waarin ‘n mens bewus word van die digter se komplekse verhouding met die digkuns - en hopelik ‘n paar vrae stel aan die Engelse uitgewers hier te lande wat belangrike bundel, soos hierdie een, oor die hoof gesien het.

franban@mweb.co.za vir bestellings of Malgas Publishers, posbus 169, Private Bag XI, Melkbosstrand, 7437


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]