André le Roux. Op die vrou af 2. Human & Rousseau, 2009.
ISBN 978 0 7981 5033 0.
Resensent: Joan Hambidge
Nou onlangs sit
ek en ‘n mede-skrywer en gesels. Hy is enigsins geïrriteerd oor skrywers wat
hulle met die politiek bemoei, resensies skryf of maklik-toeganklike rubrieke
vir vrouetydskrifte pleeg. Hy is ‘n man van die Erns. Hy lees net Rilke en
Neruda en beskou enigiets anders as ‘n verkwisting van tyd. Skrywers wat optree
in Sewende Laan laat hom koud.
Hierdie leser is
van mening dat skrywers dikwels inspirasie kry juis uit hierdie aweregse
optredes. Die kritiese hand voed dikwels die kreatiewe een. Kyk maar na Le Roux
se Huisgenoot-artikels wat later voortreflike skryfwerk geword het in Sleep vir
jou ‘n stoel nader.
André le Roux
kan skryf. Hy is die meester van die snelvuur-onderhoud en –rubriek. Hy maak
korte mette van pretensie, voorgee of snert.
Sy leesgehoor
hier is Sarie-lesers.
Ons sit met ‘n
tweede versameling, dus is daar ‘n aanvraag.
Of dit nou gaan
oor G-string wat uitsteek (wat nes weerlig is, want jy kyk nie na hom nie, maar
sien dit) of alledaagse indrukke van die wel-en-wee van die Sarie-vrou.
So wat ek en
daardie skrywersvriend uiteindelik dink van hierdie versameling gaan niemand
skeel nie.
My vriend knor
oor die inhoud.
Los André uit!
Hierdie is die voorstudies en vingeroefeninge vir sy ernsige werk. Soos Kom ons
sit sommer by die tafel.
Verstommend dat
iemand wat “dirty realism” so knap beoefen sulke dun, niksseggende rubrieke kan
lewer.
Jy mis alweer
die punt!
Die stukke is so
lig soos Kelloggs-graanvlokkies. Soms met ‘n stoute woordspel of toespeling
(soos op-en-wakker vir jy weet wat). Maar in die geheel is dit ‘n filosofie van
die middelklas met hul leë gesprekke en neuroses. Wat nadink oor ‘n vakansie
sonder (of met) klere…Of wat in ‘n hyser mag gebeur met selfone se manewales.
Maar my magtig
man: dis bedoel vir kykers van Sewende Laan, lesers van Sarie, aanhangers van
Pedro Kruger (ja daardie een met die vreemde grynslag vir ‘n glimlag).
Agterop is daar
‘n ge-photoshop-foto van die outeur.
Dit verklap mos
alles.
Nie bedoel vir
die aanhangers van sy prosa of digkuns nie. Wat my laat wonder: wanneer
publiseer hy weer ‘n op die man af-digbundel? Struisbaai-Blues het mos al in
1977 verskyn, nie waar nie?
En Te hel met
Ouma! (1980) bly maar ‘n hoogtepunt.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]