Justin Cartwright. To heaven by
water. Bloomsbury, 2009. ISBN 978 0
7475 9814 5.
Resensent: Joan
Hambidge
Justin
Cartwright word op die voorblad van sy jongste roman aangeprys deur die
Guardian as een van die beste romanskrywers tans werksaam. Hy is ‘n gebore
Suid-Afrikaner en dit is sy tiende publikasie. Hy was al op die kortlys van die
Booker-prys en hy die Whitbread-, Hawthornden-pryse ingepalm.
Cartwright se
jongste To heaven by water vertel
die verhaal van die afgetrede TV-nuusankerman, David Cross, wie se vrou hom
ontval het. Die lewe van die wewenaar is skielik op sy kop gedraai, maar met
die wete: dat hy na veertig jaar gelukkiger is as ooit te vore. Dit skep
spanning in homself, omdat hy dit vir sy kinders, Ed en Lucy, moet wegsteek.
Die leser word onder andere bekend gestel aan wat die verteller dink van Gordon
Brown (onvleiend) en herinneringe aan Richard Burton wat hy meegemaak het op ‘n
filmstel in Rome, maak van die roman iets sappigs en skinderagtig.
Hierdie gegewe,
‘n dramatiese dénouement of wending, herinner aan die romankuns van Saul Bellow
of Philip Roth. ‘n Mens dink onwillekeurig aan Bellow se Seize the day of Herzog. Of Roth se aserbiese romans. ‘n
Everyman is dit helaas nie.
Die roman is
vlot vertel en die titel is ‘n verwysing na James Joyce se Ulysses: “James M’Cann’s hobby to row me o’er the ferry…To heaven
by water”.
Die roman is
vlot geskryf, die intriges en spanninge hou lesersaandag.
Die basiese tema
wat in hierdie roman aan bod kom, is die wete dat mense se lewens komplekser is
as wat op die oog af mag voorkom (80).
Die ingewikkelde
familie-romanse ( in Freud se terme) kom aan bod en die roman bereik ‘n
besondere hoogtepunt in die beskrywing van Jenni se verdrinking. Dit het sy
lewenspad verander van akteur na nuusman. In hierdie vinjet word die dood van
sy vrou en Jenni se einde behendig gesinkopeer. Hierdie dood word weer later ‘n
belangrike motief in die grusame dood van sy broer (288).
Dit is ‘n roman
wat aanvanklik traag begin, maar wanneer die verskillende karakters se
binnelewens onthul word, neem die roman ‘n besondere tesktuur aan. As daar
gepraat word van “an Englishman in New York”, kan ons hier verwys na ‘n
Suid-Afrikaner in Londen met ‘n besondere skerp blik op die sosiale struktuur
van die moderne Britse gemeenskap.
Die roman lewer
dikwels kommentaar oor die metafisika en Gerard Manley Hopkins se “The
Windhover” is ‘n belangrike sleutel. Die hoofkarakter besoek die
Kalahari-woestyn en daar is sinvolle uitlatings oor die moderne mens se
belewenis van die lewe teenoor dié van die San.
Daar is eweneens
belangrike meditasies oor die rol van die moderne stad, en meer spesifiek
Londen, se invloed op ‘n mens se lewe; tereg anders as die Londen van Dickens
(141).
Die outeur het
‘n besondere skerp waarnemingsvermoë oor die lotgevalle van die moderne mens:
huweliksontrou, swangerskappe, familie-intriges, die dood. Hy beskryf dan
dikwels mense wat ‘n soort oorgang beleef van een dimensie na ‘n ander, een
lewenservaring of –insig wat ‘n nuwe begin inlei.
Ed, Lucy, Josh,
David word almal skerp geteken. Dit is ‘n roman wat ‘n mens as ‘n aangename
leeservaring kan beskryf. Boeiend, maar beslis nie groots nie. Dit is asof die
outeur te veel bestanddele wou ingooi in die roman en te veel kommentaar wou
lewer oor hoe ons van lewe na dood of tot selfontdekking kom dat die roman platval.
Skitterende
oomblikke is daar wél.
Die skrywer word
vergelyk met Ian McEwan en Kazuo Ishiguro; bepaald geskryf deur ‘n reklameman
van Bloomsbury.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]