Showing posts sorted by relevance for query afstand en verbintenis. Sort by date Show all posts
Showing posts sorted by relevance for query afstand en verbintenis. Sort by date Show all posts

Monday, September 6, 2021

Resensie | Ena Jansen - Immigrant: ‘n Keuse uit die gedigte van Elisabeth Eybers | H&R, 2021

Immigrant: ‘n Keuse uit die gedigte van Elisabeth Eybers. H&R, 2021. ISBN 978 0 7981 8203 4

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Meester van die prosodie en posodinie

 

Die enorme posisie wat Elisabeth Eybers (1915 – 2007) inneem binne die Afrikaanse én Nederlandse kanon kan nie verminder of ontken word nie. As ons eerste gepubliseerde vrouedigter het sy alreeds ikoniese status verwerf sowel hier te lande as in die buiteland. Sy verlaat Johannesburg in 1961 op ouderdom 46.

 

Geen kursus oor vrouedigters kan sonder haar nie en Hélène Cixous en Julia Kristeva laat haar oopwaaier vir jong studente wat haar gedigte besielend en slim vind.

 

Die pragversameling gedigte is deur ‘n kundige leser Ena Jansen gemaak wat ons op die belangrikste aspekte van Eybers se digkuns attent gemaak het soos die sogenaamde “tussentaal” waarin sy dig. Die verhouding tussen moederland en aangenome land word deur hierdie skerp intellek ondersoek. Jansen noem haar tereg die literêre dubbelganger met ‘n dubbele poëtisiteit. Inderdaad skryf sy in Amsterdam haar beste verse en sy takel die tabelleland sodat (en totdat) dit haar nuwe tuiste word.

 

Afstand en verbintenis (1996) heet Jansen se studie oor ‘n digter wat die “voelhorings van ironie” ken en die paradoks by uitnemendheid bedryf. Lina Spies het al op die merkwaardige ooreenkoms tussen haar en Emily Dickinson gewys in Die enkel taak (1995).

 

Die volledige vrouwees word in haar digkuns opgeteken. Ons verneem van siektes (griep, ‘n besoek aan die arts), beserings na ‘n val, sonde met die bure en ‘n gesprek met ‘n kleinkind. Sy lewer egter ook kommentaar op die digproses – soms ironies met 'n gedig wat "Rymdwang" heet. Sy is beheer van die prosodie en weet wat posodinie behels (die vermoë om pyn te kan hanteer). Gedigte word selfs gedroom; sy skryf oor haar ouers met heimwee terug na haar tuisland wat altyd binne-in haar bly.

 

Sy is ook ‘n uitstekende vertaler (o.a. uit Frans) en haar selfvertalings gee baie om oor na te dink. Jy sien hoe sy assosiatief ‘n gedig transporteer van een taal na ‘n ander sonder om ooit vorm in die slag te laat bly.

 

Eybers is al deur verskeie digters geparodieer en aangespreek: Antjie Krog, Lina Spies, Johann de Lange, Daniel Hugo, Dolf van Niekerk, Eveleen Castelyn, I.L. de Villiers, o.a. Haar verbluffende vormbeheer het min gelyke. Die distigon, sonnet, ballade en kwatryn, beheer sy behendig. Sy is ironies; ander kere satiries soos in “Wespark”; dan weer nostalgies en in latere jare selfs (self)verminderend. 

 

En selfs ‘n bietjie stuitig in “Die ouderdom is nie noodwendig saai” met die dubbelsinnige slot.

 

Daar is gedigte wat elke digkuns-liefhebber met sig saamdra soos “Orkaan”, wat selfs ‘n pendant vind in ‘n gedig van die Suid-Afrikaans gebore Jonty Driver in Still further (2021). Ander klassiekes vir my is "Taalles" en "Navrae":

 

Navrae

 

Die aard van angs is dat dit tydelik kwel.

Verdriet, volgens 'n ou ballade, duur

twaalf maande en 'n dag, tot op die uur.

Die ritueel van rou is vasgestel.

 

Vreemd, van berou word nie so veel vertel.

Waar vind 'n mens 'n betroubare gedig

om jou oor die vervaldag in te lig

van daardie individueler hel?

 

'n Sentrale vers in hierdie versameling is die "Voetjie vir voetjie", omdat gedigte róndom migrasie en aanskoms nuwe betekenisse en implikasies genereer.

 

Voetjie vir voetjie

 

Voetjie vir voetjie word mens immigrant ...

Toevallig uit, toevallig tuis, gestrand

op hierdie teennatuurlike terras

sonder om ooit onloënbaar aan te land.

 

Die latere Eybers spreek veral tot hierdie leser waar sy ironies kyk na die "hardvogtige selfbejag" van die digproses ("Voortplantingsrym" uit Winter-surplus, 1999).  Die “beproefde patologie van poësie”, soos sy hierdie proses in "Verklaring" uit Verbruikersverse (1997) tipeer, neem ons na haar vreeslose laatwerk. Sy het getransformeer van die “vroulike aanvulling tot Dertig” tot ‘n skildery deur die internasionaal-bekroonde Marlene Dumas.

 

Daar is 'n handige indeks met eerste reëls van gedigte en verwysings waar gedigte staan. Om die tema van immigrasie / migrasie vind ons 'n sinryke versameling oor teenstellings en die soeke na balans. ‘n Groot versoek: plaas asseblief die samesteller se essay [1] in die boek. Skutblaaie raak allengs verlore.

 

Daardie grensgebied tussen liggaam en gees verwoord sy, soos Jansen uitwys. Eybers se idiolek is noteer, agteloos, tintel, allengs, sintels, respyt, gewrogte, bedolwe, om ‘n paar uit te sonder.

 

Hierdie is 'n keuse vir elke poësieliefhebber en met die boeiende tematiese keuses kry gedigte  langs mekaar geplaas nuwe betekenisse. Hierdie leser was opnuut so onder die indruk van ‘n digkuns wat stadig geheime prysgee; dikwels weifelend tussen implikasie en ‘n hartwankelingsdroom. As ‘n Röntgen-foto. Sy kyk deur die “tralies van tyd” met die wete:

 

Afbeelding oortref weer die werklike ding (“Weerkaatsing”).

 

Op ‘n koue wintersoggend lees ek gedigte uit hierdie bloemlesing voor vir my buurman en hy knik instemmend sy kop oor hoe goed “Taalles” is en hoe sy selfs in ‘n klein kwatryn jou ontroer:

 

Vir Bert

 

Noudat jy swyg is daar niks meer

vir my ooit nog te begeer

buiten die tydstip waarop ek

dieselfde stilte mag betrek.

 

Die digkuns as noodluik én onderdak. As kruis of munt. Met elke herbesoek van hierdie bloemlesing vind die leser nuwe aspekte van hierdie meester(es) van implikasie. Immigrant én Emigrant. Hier en daar. En al die genderopposisies waaroor Cixous skryf in Sorties (Uitgange) kan jy aflees in haar gedigte …

 

‘n Groot dank aan Ena Jansen se goeie oes.

 

Vir Eybers dan:

 

Elisabeth Eybers: Pegasus

Joan Hambidge

 

Gespierde hings, my teuelgreep tem jou trots,

boetseer die ritme van jou vaart ...

Elisabeth Eybers: Amasone

 

Die aard van dig is dat dit immer bly dikteer; 

dit wis jy met afstand én ironie in selfbevestiging. 

In die verte tot woordimmigrant gepromoveer, 

ry jy perd in die vleuels van jou verbeelding. 

Uitermate of uitgedien word hierdie digterlike verweer,

'n antwoord op jou, niks meer as selfverloëning?



















Elisabeth Eybers op Prins. In ‘Rit voor die storm’ en ‘Tuiskoms in Junie’ 

skryf sy oor haar perd.


[1] Ena Jansen, Afstand en verbintenis. Elisabeth Eybers in Amsterdam · dbnl


 

Monday, October 14, 2019

Onderhoud | Gesprek met Hendrik J Botha (2019)

1) Verduidelik jou titel.

Soos met my eerste bundel het die titel hom redelik laat aangemeld. Ek het met ‘n werkstitel, Seisoenaal, gewerk, waaroor daar in ‘n keurverslag bedenkinge was. Synde dat die bundel wat my aanbetref nie werklik oor die natuurlike seisoene gaan nie, maar ek eerder iets anders daarmee probeer kommunikeer, het ek na alternatiewe titels begin kyk. Die voorblad het ook laat beslag gekry, eintlik min of meer dieselfde tyd as die titel. Ek het my vrou gevra of ek een van haar kunswerke kan gebruik, (sy is ‘n skilder), maar ek kon niks kry wat werklik tot my wou spreek nie. Ek het haar toe gevra om die manuskrip te lees en iets te maak wat sy dink daarmee kommunikeer. Die voorblad was dus inderwaarheid dan ‘n opdragwerk. In dieselfde tyd het ‘n slotreël van een van die gedigte, “hoe die winter soms bloot voorspraak vir die lente maak” in my kop begin draai, en dit het saam met die voorblad vir my eintlik presies saamgevat wat die bundel myns insiens wou kommunikeer: voorspraak versus uitspraak, vooruitskouing versus nabetragting, lewe versus dood, voorspoed versus teenspoed, sukses versus mislukking.

Die tweeheid, miskien eerder ‘n soort “eenheid van teenstellings”, soos Herakleitos dit genoem het, en hoe onlosmaaklik hierdie teenpole reg deur ons lewe aan mekaar verbind is, en dikwels eintlik interafhanklik van mekaar is. (In welke verband die opdraggedig, "Apoptose", natuurlik ook die sleutel verskaf.)

En dan die “voorspraak”. Daar word vir almal van ons iewers in ons lewens voorspraak gemaak: deur ouers, onderwysers, vriende, wie ook al.

En iewers maak ons op ons beurt weer voorspraak vir iemand: vir kinders, geliefdes, vriende. En die “voorspraakmaker” staan dikwels nie voorop nie, maar eerder bietjie terug, amper in die skadu. (Die titelgedig, “Voorspraak” staan dan ook “non-prominent” redelik laat in die bundel.) Dis die vangnet wat ons almal iewers ondervang in die lewe, selfs dikwels sonder dat ons daaraan dink. Dan natuurlik as jy uit ‘n gelowige perspektief daarna kyk, die fundamentele Voorspraak wat daar vir ons almal gemaak is deur Jesus.

2) Jy is deel van ‘n lang galery digters wat ook dokters is. Hoe beïnvloed die mediese wêreld jou gedigte? Veral jou werk as narkotiseur waar jy dikwels met lewe en dood gekonfronteer word.

Vir my is dit ‘n logiese uitvloeisel om oor my werk (ook), te skryf. Ek “leef” poësie raak, en skryf dit dan neer. Ek spandeer tussen tien en twaalf uur, (soms langer), in my werksplek. (Ek werk deesdae minder!) Dit is logies dus ‘n ruimte vir my waar ek poësie moet “raakleef”.
Wat die dood aanbetref… “Die dood was nog altyd met ons gewees”…(dit was Len Louw se woorde).

Soos ek reeds genoem het in die eerste vraag, is die lewe en die dood onlosmaaklik aan mekaar verbind. Die enigste gegewe wat vir ons gewaarborg is by geboorte, is dat ons iewers gaan sterf, dis al wat vas staan, die res is blote spekulasie!

Soms is die dood ook noodsaaklik vir oorlewing: dis wat apoptose uiteraard beteken, “geprogrammeerde seldood”, in wese dan ook “geprogrammeerde sel(f)dood”.

My antwoord op die vraag dus: Ja, ek word dikwels met die dood gekonfronteer, ewe dikwels met die lewe, en die onderskeid tussen die twee is dikwels vaag.

En ja, dit beinvloed my gedigte. Dit doen.

3) Charles Bukowski begelei jou herinneringe aan ‘n kindertyd. Waarom juis hierdie digter?

Bukowski is ‘n digter wat ek baie lank reeds graag lees, en waarheen ek dikwels ook terugkeer. (Soms terugvlug)! Hy kommunikeer vir my ‘n melankolie wat resoneer met my. Hy was in baie opsigte ook ‘n randfiguur, die verteenwoordiger van die “underdog”, wat my aanspreek.

Dít alles praat met my, nog altyd. Maar dis veral die melankolie, dink ek.

4. Jy skryf ‘n unieke landskapsgedig waar die binne-landskap iets verklap van die buite-landskap; en andersom. Soos in “Onbewus”. Kommentaar.

Soos ek vroeër genoem het, gaan my seisoensgedigte nie werklik oor seisoene nie, net so my landskapsgedigte nie werklik oor “plekke” nie, maar oor verskillende ruimtes met hul diversiteit en tweeledigheid, (soos natuurlik ook die binne-landskap en buite-landskap tereg deur jou opgemerk). En dan natuurlik ook die fundamentele eensaamheid en die melankolie, so onlosmaaklik deel van ons. Ons beweeg siklies deur die lewe, soos seisoene: alles wat opgaan moet afkom, wat gebore word moet sterf, wat vandag sukses meebring, baar môre mislukking, en alles is onlosmaaklik verbind aanmekaar. Ook ons binne-landskap en buite-landskap?

5. Waarom praat Namibië so sterk met jou.

Ek het Namibië met die oorlog destyds die eerste keer leer ken, en ‘n lewenslange liefde vir, nee, eintlik ‘n obsessie met die land ontwikkel.

Ek keer telkens terug daarheen, veral die droër noordwestelike gedeelte, die Kaokoland. Ek voel my meer tuis in woestyne of semi-woestyne soos die Kaokoland of die Namib. ‘n Woestyn voel vir my of daar niks weggesteek is nie, of dit wat jy sien dit is wat jy kry. Amper of die landskap meer “eerlik” is. Dit spreek tot my. (Dis egter nie heeltemal waar nie, want woestyne se geheime is net meer subtiel en lê dikwels onder die sand.) Ek val egter minstens vir die illusie, telkens weer. 

Ek reis dikwels in Namibië. Op ‘n stadium in my lewe was die enigste vankansie wat ek ooit geneem het, ‘n jaarlikse pelgrimstog deur die Kaokoland, dikwels ook alleen, (wat nie ‘n goeie idee was nie; enige iemand wat die Kaokoland ken, sal vir jou sê jy moet nóóit alleen daar reis nie), maar ek het.

Ek skryf ook makliker oor “dorre streke”. Ek neem aan dit gaan maar oor mens se persoonlikheid: “dor en droog” vs “geil en vrugbaar”?

6. Die impak van die weermag en die grensoorlog het jou ook as mens (en as digter) gevorm. Kommentaar.

Meeste Suid Afrikaanse mans van my/ons generasie het die oorlog (minstens kollektief) in ons geheue. Party is meer direk daardeur beïnvloed as ander.

Vir my was dit ‘n tyd wat ek as’t ware my “onskuld verloor” het, ‘n tyd van ontnugtering, ‘n tyd van gewaarwording dat daar meer as een kant van ‘n saak is, dat alles waarmee ons grootgeword het, dit wat ons met moedersmelk ingeneem het, nie noodwendig die volle waarheid was nie. “Nothing is what it seems” is ‘n gedig in my eerste bundel daaroor. Bob Dylan se liedjie “With God on our side” (uit sy album The times they are a changing), gee ook ‘n ironiese blik hierop.

Die oorlog was egter ook goed vir my; dit het vir my ‘n lewenslange verbintenis met Namibië bewerkstellig, en dít het ‘n enorme invloed op my as mens, en veral op my as digter gehad.
Om op te som: die oorlog was sleg, en die oorlog was goed, en die goeie en die slegte is eintlik onlosmaaklik verweef… amper soos die lewe en die dood.

7. "My eie spieëlbeeld versplinter in die water".
Is gedigte ooit spieëls? Of is dit spirituele medisyne soos Darwish opmerk?

Versplintering vs. volmaaktheid of heelheid.

Teenpole, onlosmaaklik verbind.(Ek klink nou soos ‘n grammafoon)!

Ons beweeg siklies deur die lewe, in alle opsigte: wat opgaan moet afkom, wat bloei moet taan, wat lewe moet sterf.

Hoe ouer ek word hoe meer bewus raak ek van my eie imperfeksies, die krake in my mondering, my eie sterflikheid, “my eie spieëlbeeld versplinter in die water”. Maar ek leer ook vrede maak daarmee. Leonard Cohen sê: “there’s a crack in everything, that’s how the light gets in”…

Gedigte kan ook spieëls wees, (nie noodwendig altyd nie), ook nie net gedigte wat ons self skryf nie, ook gedigte wat ons lees. Soms help ‘n gedig my om iewers uit te kom, om iets ánders te sien of te beskou. Soms ook om iets van myself met “ander oë” te sien.

Is gedigte spirituele medisyne? 

Die skrywer Robertson Davies het eenmaal ‘n lesing aan ‘n klomp dokters gegee onder andere oor die gebreke in die opleiding van dokters. Hy het dit verduidelik aan die hand van die Caudaceus. Die Caudaceus is die simbool van medisyne in die Amerikaanse tradisie, (en in meeste militêre instansies se mediese korps).

Ons in Suid Afrika val natuurlik in by die Europese tradisie, waar Asclepios se staf met die enkele rotslang om gespiraal gebruik word as teken.

Hoe dit ookal sy, die Caudaceus bestaan uit die Griekse god Hermes se staf met twee slange wat daarom krul. In die mitologie lui die verhaal dat Hermes in die veld geloop het en op twee vegtende slange afgekom het. Om die geveg te probeer besweer het hy sy staf tussen hulle ingegooi. Die slange het egter om die staf gekrul en aanhou veg. Die staf hou dus sedertdien die vegtende slange in balans.

Binne ons konteks vandag is Hermes se staf die Geneeskunde, en die twee slange in konflik, die slang van Kennis en die slang van Wysheid.

Kennis verteenwoordig die medies wetenskaplike domein, en Wysheid die menslike empatiese verhouding wat daar tussen dokter en pasiënt gevestig behoort te word, en wat vir genesing net so kardinaal noodsaaklik is as Kennis.

Dis die emosionele skakel wat “slagoffer en heler” met mekaar verbind. Poësie bied by uitstek  die grondslag vir empatie.

Tydens opleiding van dokters is daar, (veral in my tyd), suiwer gefokus op die wetenskap, dus die slang van Kennis, en is die empatiese aspek van Wysheid bykans buite rekening gelaat. Volgens ‘n studie deur J.Kenneth Arneth begin mediese student hul opleiding met “empathy deficits”, en vererger die tydens hulle opleiding. 

Poësie kan dokters dus help om beter “helers” te word. Poësie omvat baie van die ideale wat dokters nastreef, dit wat Cesar Pavese noem “an absolute will to see clearly”, of miskien wat Czeslaw Milosz noem “the passionate persuit of the real”.

Ek dink dit beantwoord jou vraag of gedigte spirituele medisyne is.

8. Tom Waits en Leonard Cohen praat ook saam. Waarom die twee sinici? Ek dink hier aan die slot van “Vasbeslote”.

Ek dink ons moet oppas om Cohen en Waits te tipeer as sinici, hulle is soveel méér as dit. Eintlik dink ek hulle beide se sinisme is amper ‘n toevallige bevinding. (As dit moontlik is dat sinisme toevallig kan wees)!

Ek het grootgeword met Cohen. Hy was ‘n gerekende digter lank voor sy eerste album uitgereik is. Hy dra ‘n diepe melankolie sy lewe lank met hom saam,  en ‘n amper naïewe goedgelowigheid in mense, ‘n nederigheid en aweregse selfspot, en ‘n nimmereindigende soeke na “iets” om aan vas te hou “Since I’ve last been here, I studied deeply into the religions and philosophy, but the cheerfulness kept breaking through”… Dis die Cohen wat ek leer ken en leer aanhang het. Maar dis veral die digter…

Waits is iets anders. Hy dra iets van Bukowski in hom. Hy is aweregs, ‘n randfiguur, verteenwoordiger van die “underdog”. Hy sou groot korporatiewe instansies (soos Audi en Dorito’s) hof toe sleep vir skending van kunstenaars se kopiereg, (terwyl almal sou waarsku dat jy nie ‘n hofsaak teen sulke groot maatskappye kan wen nie). Hy sou telkens die saak wen en dan die geld aan liefdadigheid skenk. Hy sou weier dat Amerikaanse radiostasies sy musiek uitsaai, oor ‘n dispuut, (wat absoluut kranksinnig sou klink), maar dan sou hy daarna byna kultus status in Japan en Australië bereik. Die dag toe ek gehoor het dat hy vir drie maande in sy kar gewoon het, daardie dag het ek ‘n lewenslange aanhanger van hom geword.

Waits is ‘n randfiguur…, met ‘n melankoliese aura en ‘n obsessie oor regverdigheid.

Dis hoekom hy saampraat.

9. Die liefde word ‘n ars poëtika. Dink jy ‘n digter dig beter uit afstand en liefdesverdriet as tydens die geluk en ekstase? Of is dit verskillende prosesse? Die onmoontlikheid om beide te verstaan?

Verdriet en ekstase, twee kante van dieselfde munt, onlosmaaklik aan mekaar verbind. Net soos lewe en dood, voorspoed en teëspoed, feestelikheid en rampspoed. Die “eenheid van teenstellings”. Dis die kernboodskap wat die bundel probeer bring.

Dis altyd gevaarlik (vir my altans), om vanuit ‘n posisie van “rou emosie” te dig, hetsy dit oor liefde, verlies, woede, of watter ander emosie ook al is; hetsy dit uit verdriet of ekstase is. Ek dink, wag eers tot die stof gaan lê.

Oor liefde spesifiek dink ek dis makliker om meer gedistansieerd daaroor te kan dig hoe ouer ek word. Toe ek jonger was kon ek glad nie liefdesgedigte skryf nie, altans nie wat jy in die openbaar kon wys nie!

10. Jy skryf ook lykdigte – o.a. oor ‘n vermoorde jongmens soos in “Rooikappie revisited”. Watter invloed het die politiek en geweld in hierdie land op jou siening van skryf?

Ek dink die politiek en geweld beïnvloed ons almal, direk of indirek, wat in hierdie land woon. Ook ons denkpatrone en ons onbewuste, (wat natuurlik die reservoir is waaruit ons dig).

Ek skryf nie graag politieke gedigte nie, wel oor sosiale en etiese kwessies, en oor onreg. Selfs groot digters (soos Neruda), het mindere politieke gedigte geskryf, daarom probeer ek my weerhou daarvan. 

Ontluik

Laataand lê ons langs mekaar.
In die nanag raak dit koeler,
trek iemand, ek of jy,

’n duvet oor ons,
lê jy soos ’n papie opgekrul,

’n vlinder gereed
om te ontluik,

jou vlerke oop te sprei,
my silhoeët te eien,

dan amper terloops
my aan te raak.

Hendrik J Botha (Uit: Voorspraak, Naledi: 2019)


Friday, February 1, 2013

Daniel Hugo - Die panorama in my truspieël (2009)



Daniel Hugo. Die panorama in my truspieël. Protea Boekehuis, 2009. ISBN 978 1 86919 296 9.                   

Resensent: Joan Hambidge

I.

Daniel Hugo beklee ‘n uitsonderlike posisie binne die Afrikaanse digkuns. Hy het veral die vernufsvers ontgin en besondere hoogtes bereik met die limerick, die speelse vers en slim toespeling. My gunstelingbundel is Skeurkalender. Maar daar is ook te midde van die speelse en vernufsvers, ‘n sterk melancholiese draad wat deur sy digkuns loop. Enersyds speels, andersyds seer.

Verder is hy ‘n voortreflike vertaler en dikwels herdigter. Veral sy vertalings van Herman de Coninck is uitstaande. Dit moet steeds as ‘n vraag gestel word: waarom is Hugo se vertalings nie in Groot Verseboek opgeneem nie, terwyl ander vertalers wel gekanoniseer is?

Vir die digkuns-liefhebber is sy keuses uit die werk van Ina Rousseau en Olga Kirsch eweneens belangrike versamelings. En ook die werk van Philander benader hy met sorg. Hugo is ‘n kundige letterkundige en veral sy werk by RSG en sy vele onderhoude met skrywers, is van uitstaande gehalte.

Sy jongste bundel heet Die panorama in my truspieël uitgegee deur Protea met ‘n voorbladontwerp na ‘n foto van George Hugo, die digter se seun, en versorg deur Hanli Deysel, wat werklik mooi voorbladontwerpe maak. Die redakteur was die uitstekende Martjie Bosman.


II.

Die bundel begin met ‘n motto van De Coninck waarin die verhouding tussen die tydelike en ewige uitgespeel word met ‘n voorkeur vir die tydelike.

In die programgedig word die afwysing van die metafisika op ‘n komplekse wyse beskou. “Voyeur” (7) beweer dat God sy rug op ons gedraai het, maar kyk via die maan, ‘n kosmetiese spieël, na ons:

wat hy daarin sien, sal hom nog ‘n eeu
of so plesier kan gee en dan finaal laat gru –
mens sou dink God is ‘n digter: hy leef per-vers.

Tog is God nie afwesig nie. In ‘n winterkwatryn (28) lees ons:

II

takke knak en dakke kraak
in die noordwes wat loei:
god is weer met ‘n swaar hand
dié seisoen aan die snoei

Dit is egter ‘n God met ‘n kleinletter. In “Grootdruk” 30, opgedra aan George Weideman wat weens sig-probleme in groot font moes skryf, word die verhouding met God ook uitgespeel:

God rangskik versreëls
oor die vlakte – ry op ry
lê inkblou berge

In “Mossie en mens” (55) word God se kosmiese simfonie beskryf.

Die verhouding tussen gedig en lewe is bekende tema in Hugo se werk met die gedig as afbeelding of “glancende kiemzel” (Vestdijk). Die leser word dus gerig na die vers se bindmiddele en tegnieke word behendig uitgestal. In ‘n gedig vir Eybers, “Sonland”, word die verhouding tussen Afrika en Europa beskou met die wete dat die digter in sy taal gevange gehou word aan Afrika. Die slot aktiveer ook G.A. Watermeyer se bekende gedig en die digter maak hier die teks oop na ander gedigte waarin die verbintenis met taal en identiteit beskryf word. Eybers se afstand/verbintenis-spel word eweneens hier geaktiveer.
Die digkuns is ‘n obsessiewe proses, een waarna die digter vlug (“die donkerkamer van die digkuns”, “Filmologie”, 11) en die gedig is uiteindelik ‘n proses waardeur sin gemaak word en al wat sin maak.

Die ontginning van woorde se betekenisse, soos in “Die hakkelaar” 12, ‘n vers oor Barrie Hough, werk behendig rondom die leser se mede-skrywing van wat tersaaklik is. In Roland Barthes se terme word die leser dikwels genoop om ‘n scriptible (writerly)-lesing van die gedig te maak. ‘n Goeie gedig hoef dus nie ‘n filosofiese steling te maak nie; trouens, die gedagte-inhoude is dikwels maar aan die dun kant (“Sinne en sin”, 13), maar die spelende, saam-digtende leser lees nie vir filosofiese waarhede nie.

Klank en ritme en beeld is dus vir die digter Hugo waarom dit gaan, hoewel hy in die vers die verskillende maniere van doen erken.

Vir my is die skitterende “Loflied op die letterkunde” (20) ‘n hoogtepunt in Hugo se oeuvre en dit is nou onlangs tereg in Die Burger aangehaal op Wêreld-Boekedag. Hy wys in hierdie gedig op al die foute en vergissings, die stommiteite en leuens. Maar die gedig dekonstrueer die vorige stelling dat ‘n gedig nie ‘n filosofiese waarheid hoef uit te dra nie! Hierdie gedig lewer felle kommentaar op die traak-my-nie-agtige houding rondom die letterkunde wat alte maklik op pad is na ‘n pulpfabriek.


III.

Kemerkend aan Hugo se digterskap vind ons telkens woordspel (Poseidaan) en ‘n ontginning van die haikoe-vorm in ‘n handvol mooi gedigte. “Blanko blad” (27) vra vir ‘n saamlees met Opperman se Kuns-mis, onder andere. Daar is winterkwatryne wat goed werk en Hugo se vernuf is telkens by sodanige vorme opvallend. Sy bemoeienis met die digterskap word uitgespeel in “Lees by lamplig” (33) waar die digterlike woord as onskadelik gesien word. In “Bestemming” (34) word die titel geaktiveer en word die digterlike proses dan weer as gevaarlik gesien. Die digter is ‘n klein god wat skep en gedigte lewer kommentaar op vorige verse of  laat dit verval (“met dit gedicht…). Daar is dus verse wat kommentaar lewer op die proses en die eise wat dit aan die digter stel (“Kortsluiting”, 42 en “Toe en nou”, 44).

Daar is lykdigte en reisdigte aanwesig in hierdie bundel. En humoristiese verse oor ‘n kat soos Ogden Nash dit kon doen.


IV.

Daar is egter verse waar die blik in die truspieël dof en flets is. Hierdie leser dink ‘n vers soos “Verdubbeling”(45) illustreer dit by uitstek:

snags terwyl die naakslakke
op die sitkamer se mat
blink spore maak

doen ons op die dubbelbed
(ná ‘n paar doppe)
ons eie slakding: naak

Die herhaling van die woord naak, is hier onfunksioneel. Die gedig hou dus geen verrassing in nie. Hierdie soort spel eis veral die onverwagse rym of wending op. Dieselfde geld ‘n gedig soos “Naak” (46). “Paradyskloof” (47) kom eweneens nie verby die voor-die-hand-liggende nie, ofskoon die beeld van die tarentale se geskree wat soos ‘n geroeste swaai klink, ‘n oomblik van vervreemding of ostranenie skep.

Trouens, Hugo het al vantevore knapper en vaardiger gedig oor ‘n onderwerp soos “Huwelik” (39). 


V.

In die sterk slotvers “Die lang pad” (64) is die digter besig met ‘n bestekopname:

jy word gedwing om ‘n palindroom te versin:
begin is bestemming en bestemming is begin.

Die tyd het geleer dat ‘n digter dikwels met ‘n mindere bundel uitkom by ‘n sterker bundel. En hopelik is die volgende bundel sonder mis op die truspieël.

Hugo se digterskap is een van vernuf én spel. André P. Brink het jare gelede Hugo se digterskap met ‘n kamerorkes vergelyk. En dis hoe ‘n mens hierdie oeuvre moet benader en waardeer.


Bronne: 

Roland Barthes: S/Z/ An essay. Hill and Wang, New York. 1970/1974.

Daniel Hugo: Speelse verse. Tafelberg, Kaapstad. 1988.


Relevante samestellings:

Olga Kirsch: Nou spreek ek weer bekendes aan. ‘n Keur 1944-1983. Human en Rousseau, Kaapstad. 1994.

P.J. Philander: ‘n Keur uit sy gedigte. Tafelberg, Kaapstad. 1996.

Ina Rousseau: Die stil middelpunt. Human & Rousseau, Kaapstad. 2003.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]

Wednesday, June 26, 2013

Heilna du Plooy & Loftus Marais - Nuwe stemme 5 (2013)



Heilna du Plooy & Loftus Marais (Red.). Nuwe stemme 5. Tafelberg, 2013. ISBN 978 0 624 058861

Resensent: Joan Hambidge

‘n Eksperimentele werkswinkel-essay

I. Mirakels en muses

Op versoek van die webmeester, Marlise Joubert skryf ek hierdie verslag oor Nuwe stemme 5.

Goed willig ek in, maar verduidelik: dit kan nie ‘n gedistansieerde resensie wees nie. Ek is immers self besig met die begeleiding en ontdekking van jong talent. Hierom besluit ek dan op ‘n essay wat die prosesse sal verduidelik. ‘n Soort apologia pro domo. Maar sonder om kritiese afstand in te boet.

Nuwe stemme is nou reeds ‘n instelling in ons digkuns en as aktiewe kreatiewe skryfwerk-begeleier van die digkuns (in sowel Afrikaans as Engels) word daar na tendense én prosesse gekyk. Kreatiewe Skryfwerk word tans aan verskeie universiteite aangebied en by die UP se Winterskool het ek die afgelope paar jaar in ‘n koue winter voornemende digters van raad bedien. Hier is drie nuwe stemmers meegemaak. (Een nuwe stemmer was in my kursus.) Binne een week probeer jy as gepubliseerde skrywer fabrieksgeheime verklap. Nie altyd met sukses nie. ‘n Jong, seergemaakte digter daag na twee dae op nie; ‘n ander een weier om jou raad te aanvaar (en jy wonder waarom is jy hier?) Selfs ‘n klagte dat jy nie genoeg aandag gee aan iemand se “uitstaande” werk nie…

En my mantras is algemeen bekend. Jy kan net dig as jy kan lees (en gelees het). Jy moet ten minste Groot verseboek ken en handleidings oor die digkuns plunder soos Ottone M. Riccio se The intimate art of poetry. Dit is gepubliseer deur Prentice Hall in 1978.

Daar is nie ‘n metafisiese reël wat vir elke gedig geld nie. Die goeie digter skep sy/haar eie reëls. Maar jy moet dit ken om dit te kan breek. En jy skryf altyd teen die back drop van ‘n tradisie.

1 ‘n Goeie gedig is konkreet;
2 ‘n Goeie gedig se beelde klop (kongrueer) soos ‘n kasboek;
3 ‘n Goeie gedig se slot vang alles op;
4  Skryf met ‘n woordeboek langs jou; verkieslik ook ‘n sinoniemwoordeboek;
5  Moenie ‘n woord herhaal in ‘n gedig nie (‘n les geleer by De Lange) tensy dit 
    funksioneel is;
6 Gebruik leestekens;
7 Bly weg van verkleinwoorde;
8 Bestudeer digterlike vorme en oefen om ‘n distigon te skryf (o.a.) soos ‘n 
    tennisspeler afslane oefen;
9 Wees bedag op die maklike rymwoord;
10 Bly weg van geykte beelde
11 en gebruik uitroeptekens spaars!
12 Kontroleer feite, behalwe as jy opsetlik ‘n gat in die betekenis van die gedig 
     wil los;
13 Vermy geleerde of grootdoenerige woorde;
14 Moenie die gedig vir die leser interpreteer nie; die gedig moet sélf die 
      betekenis oordra;
15 Probeer die woord “wat” vermy, omdat dit al te maklik in prosa mag oorgaan;
16 Moenie preek nie;
17 Sorg dat die interne grammatika van die gedig reg is. Die sintaksis moet die gedig
      voortdryf. Miskien iets soos klippe in troebel waters waaroor ‘n mens kan loop;
18 Tel die sillabes sodat jy die metriese patroon noukeurig kan volg.

Hier is nog raad: "Fabrieksgeheime: 3 digters gee raad".

Alle digters het mentors, al is dit net simboliese mentors wat hulle raaklees in bundels of bloemlesings. Toe ek as jong digter op die toneel gekom het in 1982 was publikasie in Standpunte of Tydskrif virletterkunde ‘n eer. Deesdae is daar die internet met vele webruimtes (o.a. Litnet & Versindaba) waar digters kan publiseer. Persoonlik gebruik ek beide ruimtes as ‘n toetsterrein en skroom nie om ‘n vers te herskryf nie. Studente wat onder my studeer aan die UK mag nie publiseer tydens die kursus nie, omdat die portefeulje oorspronklik moet wees. Daar is wel “publikasie” in die vorm van klasbywoning en die blootstelling aan ‘n sirkel van lesers. En voortydige blootstelling is sleg vir jong digters wat aan hierdie swak debuut geken sal word.

Die mentor moet eweneens die verbintenis óphef wanneer die bundel voltooi is sodat die jong digter sy/haar eie stem alleen kan ontwikkel. Werklike mentorskap moet dan verplaas word na simboliese mentorskap.

Digterlike stamina. Dit is waarskynlik die belangrikste eis vir die digterskap. Kan jy aanhou en uithou soos ‘n Comrades-atleet?

En wees eerlik met jouself: hoekom dig jy? Heilna du Plooy spreek hierdie kwessie aan in haar inleiding. Volgens my is die digkuns nie ‘n plek vir hipertrofiese, selfingenome mense nie. In jou hart moet jy altyd twyfel aan jou talent en nederig bly voor die groter figure wat al die terrein bestryk het. As jy skryf vir pryse, trofees, applous of simboliese onderskeidings, mis jy die punt van hierdie bedryf volledig.

Nou onlangs het ek begin met ‘n essay oor Lacan en Kreatiewe Skryfwerk na aanleiding van die TV-reeks In Treatment. Net soos die analysand sy/haar analis kies, bly dit die reg van die voornemende kreatiewe student om te besluit watter skryfkursus jou sal pas. Aniel Botha, Fourie Botha, Karen Kuhn, Martina Klopper, Hennie Nortjé, Carina Stander – in alfabetiese volgorde – het onder my gestudeer en solo-bundels gelewer. Daar is nog ander talent wat wag op solo-publikasie.

Ook ek had my mentors. In boeke was dit nog altyd Eybers en Van Wyk Louw; Sylvia Plath en Anne Sexton; nóú Michael Donaghy en immer Wallace Stevens – te veel om op te noem. In lewende lywe was dit Opperman in 1977 in ‘n derdejaarkursus met sy befaamde letterkundige laboratorium waar hy sinryke lesse geleer het.

Gedigte is anoniem voorgelê in ‘n boekie saamgebind en Opperman was die fasiliteerder wat jou geweldig baie geleer oor die prosesse ágter die digkuns. Hy het gewys daarop dat daar stryd is. Sy digterlike loopbaan was dikwels antwoorde op Van Wyk Louw. Ons ken Harold Bloom se “the anxiety of influence” en die siening van “belatedness” – ‘n mens veg in jou gemoed met diegene wat reeds dit wat jy wil sê soveel beter gedoen het.

En natuurlik is daar Johann de Lange wat deur die jare my verse gelees het. By hom het ek die wáárdevolste les geleer: om te kan dig, moet jy kan lees; stiplees. En wanneer ‘n gedig voltooi is, moet jy jou eie kritikus word en kyk na die gedig asof jy dit nie geskryf het nie.

Jy moet dus met jouself kan skaduboks. Ek rond nou ‘n bundel af en keer terug na die gedigte: Vir wie skryf jy jou gedigte? wat ek verander na:

44 Vir wie skryf jy jou gedigte?
Vir Johann de Lange

Vir woordfeeste waar, uitgestal
saam met ander “gewilde digters”,
jou optrede verydel word
deur laatkommers of feesgangers
op soek na iets beters
wat die deur oop en
toe laat konsertina?
Vir daardie geliefde wat nooit die gedig
oor jou hunkering en pyn
sal lees nie en net onthou
dat die bed immer haaks was?
Vir ‘n vlymbekkige kritikus
‘n byltjie aan't slyp
oor ‘n onbetaalde rekening
op ‘n ander plek en tyd?
Vir skoolkennisse van wie jy nóg die naam,
en nóg minder die bynaam kan onthou,
wat familiêre groete stuur
via ‘n ander onbekende siel?
Vir jou pa aan die "ander kant"
wat in drome verskyn
aan jou oudste suster
in ‘n blazer en das
en met woorde van vertroosting?
Vir jou ma wat jy versoek
om eerder nie die gedigte te lees nie,
sodat die pyn van ‘n troostelose jeug
stiekem kan verbygaan?
Vir jou terapeut met wie jy laatnag-gesprekke
voer oor jou verknoopte psige
en wat jou aanmoedig om tóg aan te hou?
Vir jou vriend wie se kind
selfdood pleeg sonder ‘n afskeidsnota?
Vir jou mede-digters wat smaal
“die voorlaaste bundel was beter”?
Vir buitelandse digters wat ontsyfer
aan vertalings getransporteer
van een taal na ‘n ander, immer in transit?
Vir jou susterskind
skrywend aan ‘n opstel oor jou digkuns
timmer timmer laatnag?

L’envoi

Vergewe die wrang aanslag, liewe leser,
(en ‘n gedig wat oop-en-toe konsertina)
keer terug na Auden, o amateur, en weet:
‘n gedig laat niks gebeur!

Wat die belangrike vraag aktiveer: vir WIE skryf jy jou gedigte? (En vir WAT?)

Wees genadeloos. Skryf die vers af. Gooi hom weg. Of sit dit in ‘n legger: op die regte tyd sal die vers sig aanmeld.

II. Woord en wederwoord

Die belangrikste aspek van die Nuwe stemme-reeks is dat dit ‘n seleksie bevat van digters wat ook werkswinkels aangebied het. Heilna du Plooy het dan ook in ‘n onderhoud op hierdie aspek kommentaar gelewer. (Onderhoud met Heilna du Plooy oor Nuwe Stemme 5).

Geen mentor kan “objektief” of “neutraal” wees nie. Maar die student kies die mentor en moet die simboliese gesag van die mentor aanvaar anders kan die proses nie voltooi word nie. Hierom verwys hierdie mentor haar studente altyd na sang. Daar bestaan vele voorbeelde, maar kyk op YouTube na hierdie een met Monserrat Cabballé as die leermeester. (Ilona Domnich, Soprano-Master class with Montserrat Caballe 2008)

What makes a great soprano?

Kiri te Kanawa seg dit kos jare se oefen. En kyk hoe gee sy praktiese raad oor asemhaling. Ek leer ook my student om gedigte hardop voor te lees.

En gee Kiri te Kanawa die volgende raad: “simplify the technique”.

En jy moet sterk, fiks, in “proper shape” wees – net soos die digter eweneens emosioneel moet fiks bly. Soos die operasanger moet vasstaan om die hoë note uit te kry, moet die digter weer en weer terugkeer na die gedig en daaraan skaaf.

Of gaan goegeloer hoe Leonard Bernstein met Carreras se gal werk in die repetisie van West Side Story. (Leonard Bernstein/ West Side Story, studio-takes.)

Carreras! Carreras!

Of wat van Sutherland! (1995 Masterclass - Joan Sutherland)

Daar is uiters talentvolle digters wat saam met my op die toneel verskyn het, wat jammer genoeg verdwyn het. Dalk is dit ‘n blote gebrek aan belangstelling, maar ek dink dit het ook iets te make met dit wat Renée Fleming benadruk: ‘n opvoering duur drie ure; dit is emosioneel uitmergelend want jy sing dikwels oor verlies en pyn. En wie wil nou jaar in en jaar uit gedigte skryf oor die afwesige vader, isolasie, nostalgie, verlore liefdes as jy ‘n ryk sakeman kan wees? Of ‘n gigolo?

III. Dolosgooiers van die woord

Ware digters mag verskil in aansien, maar hulle het almal dieselfde DNA. Hulle bly aanhou, aanhou, aanhou totdat hulle ‘n uitgewer vind wat belangstel. En bly hulle voortskryf – ten spyte van wat ander mag sê of nie sê nie. Trouens, daar is digters wat doodgeswyg is en tog aangehou is. Thomas Wentworth Higginson het na sy kritiese reaksie nie vir Emily Dickinson stilgemaak nie. Sy het nou wel in haar lewe net 7 verse gepubliseer nie, maar steeds bly dig.

Neem kritiese raad ter harte en move on.

Gaan kyk na die resepsie van De Lange se bundels deur die jare en wat ‘n opdraande stryd dit was vir hom om te kom tot waar hy nou as ‘n gerekende digter staan. (Die resepsie van die digkuns en prosa van Johann de Lange. Polemieke en enkele onderhoude)

IV. Digterlike diagnose

‘n Gevestigde digter en jonger digter is die samestellers van Nuwe stemme wat nou al die vyfde nommer beleef. Dit is ‘n vertoonkas vir jong digters wat nog nie genoeg gedigte het vir ‘n solo-bundel nie, maar genoegsame belofte vertoon. Daar is vele talente wat deur hierdie proses van werkswinkels en publikasies beweeg het tot ‘n volwaardige digdebuut. Die werkswinkels, so verneem ons, is al hoe “dringender”. In die pers noem Loftus Marais die bundel “byderwets, vernuwend en relevant” ("18 nuwe stemme klink op", Beeld, 14 Mei 2013 ) [1].

Byderwets en relevant ja, vernuwend dalk nie oral nie. Vernuwing is ‘n groot woord. Die drif-tot-vernuwing is ‘n bo-menslike eis; en wat dikwels as vernuwend gesien word, staan reeds in menige gepubliseerde gedigte. Vernuwend as kritiese eis is dikwels moeilik – en “vernuwend” is digters wat die kanon dramaties verander. Figure soos Opperman, Breytenbach, Cloete, o.a. Andersins praat ons eerder van ‘n eie stem.

Die bloemlesing bevat ‘n deeglike verantwoording van Heilna du Plooy. En ‘n goeie inleiding deur Loftus Marais. Du Plooy skryf sober, akademies en Marais wys op die onnodigheid van so ‘n inleiding, omdat die gedigte op hul eie bene moet staan. Die bundel bevat ook nie biografiese besonderhede van die digters nie; ons word dus gedwing om te fokus op die gedigte.

Nou die bundel – terloops, die lys van name agterop is onvolledig en ons sien net name en gedigte. Geen bio-inleiding wat die aandag aftrek of jou bevooroordeeld maak nie.

Met ‘n eerste lees, val hierdie verse my op:

Gerhard Bothma: “Silhoeëtte” (21)

Joan-Mari Barendse: “America’s next top poet”(40)

Desmond Painter: “By die reünie”(61); “Jy het Griekeland gehaat” (65) ; 
“Sondagmiddag” (67)

Neil Cochrane: “Lyfvaart: pastiche” (75)

Fanie Viljoen: “dekonstruksie” (85)

Alwyn Roux: “Teken” (97)

Ihette Jacobs: “The sound-of-silence” (104)

Jaco Barnard-Naudé: “Manu magister” (55)

Hilda Smits: “deesdae is Londen my stad” (111)

Pieter Odendaal se “die eerste steen” (129); “Meiose” (151)

Natuurlik verraai dit iets van my leesvoorkeure. Ek hou van reisgedigte, reünies, pastiches of postmodernistiese speletjies, intertekste, stiltes, afwesige lover’s wat die vers aanstig en die tegelykertydasapek van die gedig: daar waar die onderwerp en die tegniese aanslag een word. Kortom, ek hou van tegniek. Maar tegniek soos ‘n bedrewe gokker jou kul met ‘n vinnige beweging van die hand.

Met ‘n tweede lees, sien ek hierdie twee verse op die Versindaba se webblad:

Overberg

berge ou seer lywe
in die wind
onder ’n papryp son
gis lande koring
skape drentel rond
’n valk se skadu
volg hom oor die afgrond

(Gerhard Bothma)

Ja, less is more. Die slot en begin is treffend. En hoe meer ‘n mens lees, hoe meer karring die vers aan jou gemoed.

vir pa, soos die ander

pa die sluise bruis vanaand weer soos in kanale are wat bars
deur die nate van tyd pa ek was in amsterdam die water het
geblink in die donker daar was swart vlekke swane en ons het
bier gedrink en geproost soos regte kaaskoppe pa en daar was
sprake van groningen in ’n bar daar was lang mans wangbene
gekap uit been en voor vondelpark het ek vir eybers
raakgeloop en mense het binnensmonds gemompel en ek het
op die punte van my tone geluister soos toe ek as kind julle
geheime taal wou ontsyfer daar was die flits van fietse in lane
my kamera-oog het geknip gefokus die dag het silwer geskarrel
in die tonnel van my oog en in die sekondewaas was ouma
hilda ook daar saam met jou pa

(Hilda Smits)

Die interteks is kennelik Eybers se “Twee kleuters in die Vondelpark”. Ongelukkig oordonder die interteks die vers. Moenie sleg voel nie. Sy sny ons almal se tonge uit. Boonop kry ‘n mens die gevoel die digter het nog nie uitgekom by dit wat sy werklik vir die pa (en ander) wil sê nie.

Wel goed is die bewussynstroomtegniek en die assosiasies wat die spreker maak.

V. Swaarte- en Ligpunte

In haar sinryke inleiding vra Heilna du Plooy onder andere:

Hoekom lees ons gedigte, terwyl gedigte tog nie die wêreld kan verander nie?

Sy wys op die tematiek in die bundel: die liefde, die dood, vigs, die media, die ouers (veral die vaderfiguur), ontnugtering, e.d.m. – bekende bakens in die digkuns…

Hoeveel van hierdie gedigte kom by Roman Jakobson se eis uit, naamlik om gewone taal georganiseerde geweld aan te doen?, soos Du Plooy dan aanhaal. Om die klip dus klipperiger te maak, soos Sklovský dit so netjies geformuleer het.

En hiervoor kyk ‘n mens na beelde en nie na persoonlike opmerkings van die digters nie.

Enkele kanttekeninge:

Georganiseerde geweld of om die klip “klipperiger” te maak is waarskynlik die moeilikste eis van die digkuns. Aan nuutsegging of oorspronklikheid word die digter immers gemeet.

Met my derde lees, is ek veral onder die indruk van die oorspronklike beelde in die gedig “Ballade” (135) van Pieter Odendaal.

Die treintrok het gedig geword
die lied was ons enjambement
en almal was veeltalig een,
behalwe die simpel vent.

En “oë wat sci-fi-strale skiet” is ook skerp.

Die digter bring die wêreld van die digkuns, treinry (ja die strofes is soos treintrokke) en beelde uit die filmwêreld. Ook die aanwesigheid van selfone word hier ingebring met die wete dat die digkuns tóg iets is waarmee die spreker ander kan uitoorlê. En dis hierdie geloof in die digkuns wat waarskynlik soveel belofte inhou vir hierdie digterskap. In die gedig “die see glim soos die weerkaatsings van die boek” (131) is daar dieselfde ont-plooiing van taal.

Ek dink hier aan “die kerktoring se stilblyvinger”, “ry daar ‘n fiets // uit die garage van my harsings” (131).

In “Meiose” (132) lees ons oor die pa: “sy maag peul uit soos ‘n struggle song”.
“die eerste steen” (129) (vir Adam Small) is ‘n vers wat reeds wyd aandag ontlok het. 

Hilda Smits se “Vir Primo Levi” (114) imponeer eweneens.

“By die reünie” (61) van Desmond Painter is die onthoubare beslis:

Die maan is ‘n semenvlek
op die swart onderbroek
van die aand…

Tegelykertydsaspek:

Daardie gegewe waar die gedig twee sake oormekaar skuif sodat dit één word, vind ons by Jaco Barnard-Naudé in “Manu magister” (55)

Manu magister

die een hand
           reik skielik
oor ’n styfwit tafeldoek
            na die ander
hand
die een hand vreeslik femme
           die ander o so straight:

’n gedig ontspring
by verbode aanraking.

en in “Overberg” (20) van Gerhard Bothma wat ek weer aanhaal om my argument te staaf:

Overberg

berge ou seer lywe
in die wind
onder ’n papryp son
gis lande koring
skape drentel rond
’n valk se skadu
volg hom oor die afgrond

Temas:

Gedigte oor ouers en siekte vind ons hier – soos “Alzheimer” (123) van Izak du Plessis waarin die siektetoestand konkreet verbeeld word. “Die moeitelose selfmoord van dominee De Waal” (126) wys hoe ‘n psigiese dood in wese ‘n soort selfdood word.

Die liefde vind weerklank in die snaakse “The sound-of-silence” (104) van Ihette Jacobs. 

Joan-Mari Barendse se “America’s next top poet” (40) is ironies oor die vraag: kan ‘n mens met toewyding ‘n digter word soos ‘n supermodel? Absoluut!

America’s next top poet

Volgens ’n voorste modelafrigter
kan enigiemand
met toewyding
’n goeie dieet
strawwe oefening
professionele grimering
ontwerpersklere
plastiese chirurgie
en die regte gene
’n supermodel word
ek wonder
geld dit ook vir digters?

Eensaamheid en nostalgie is te vinde in die digkuns van G.P. Terblanche.

Die skryfproses en die bemoeienis met die digkuns is ‘n belangrike tema vir Hendrik van Niekerk wat selfkrities blyk te wees oor die “metaforiese branders” (33, “Verligting in skoon word”). Desmond Painter ervaar ook die skryfproses en die gesprek met die liefdesgedig in Afrikaans wat dikwels op ellende en eensaamheid uitloop (“Sondagmiddag”, 67).

Die “geding met God” vind ons by Wicus Luwes in die aangrypende “’n Beknopte lewe” (43):

ons lewe in skofte
en leer honde om hul pote vir ons te gee…

Oloff de Wet en Desmond Painter gee indrukke van ‘n vreemde landskap soos in “moya” (49) en “Jy het Griekeland gehaat” (65).

Die impak van TV en die impak van plastiek word verïroniseer deur Fanie Viljoen in “plastiek” (87).

Die skilderkuns as uitweg en digterlike konstruk vind ons in “Sneeukoningin” van Gisela Ullyatt (92).

Toespelings:

Adriaan Coetzee se gedig “laat die kind kom” (118) speel in op Leipoldt se oorlogsverse oor die Boereoorlog en Ingrid Jonker se beroemde gedig wat Mandela weer lewendig gemaak. Dit is ‘n slim gedig, omdat die leser se voorkennis van die geskiedenis aangespreek word. Dit aktiveer eweneens die taalstryd.

laat die kind kom

laat die kind kom na my Afrikaansklas
om sy taak oor Leipoldt
in swak skrif op rooi karton
naas plakkate van landmyne en handgranate
teen die muur te plak
laat die kind kom en my halssnoere
op die voorblad bespreek in Voorligting
laat die kind kom na my skoolsale
vol foto’s van Kruger tot Mandela
en Hoe groot is U sing

Neil Cochrane en Alwyn Roux se gesprekke met die tradisie is gesofistikeerd. Eersgenoemde met postmodernistiese aanslag (“Lyfvaart: ‘n pastiche”, 75) en laasgenoemde in sy gesprekke met Breytenbach.

Desmond Painter bely pront hy het ‘n gedig afgekyk (“Aanvaarding”, 62).

Carina van der Walt maak aanspraak met die mona lisa-obsessie in “Amon L’isa” (79) en “kontra-komposisie” (81) word ‘n slim kuns-paper chase.

Fanie Viljoen noem ‘n gedig “dekonstruksie” (85).

Tegnieke:

Facebook maak hier konkreet sy opwagting (Desmond Painter se “Vier Facebook Status Updates”, 71).

Daar is beeelddigte – wat dui op groter afstand van die self – soos die gedig oor Rosa Luxemburg (“Gesoek: Rosa Luxemburg” van Jaco Barnard-Naudé, 58) en die reeds genoemde “Vir Pirmo Levi” (114) van Smits.

Die spel met die sonnetvorm is ook hier (“Jeugfoto: ‘n vals sonnet”, 55) van van Barnard-Naudé. Die vierreëlige vers word aangetref in “Silhoeëtte’ (21) deur Gerhard Bothma.

Die distigon vind ons by Barnard-Naudé in “In transit” (54).

Adriaan Coetzee maak ons attent op die aanwesigheid van die speltoetser (“Instrumentalis”, 117) en die spanning tussen natuur en masjiene.

Die kaberetagtige vers vind ons ook hier, soos by Desmond Painter wat die oeroue spanning tussen die lied en die digkuns aktiveer (“Miss Jesus”, 63).

Neil Cohrane is speels en ironies in sy pomo-verse.

Kritiek:

Die naamregister agterop is onvolledig.

Boeke en internetverwysings vir verdere bestudering:

A.P. Grové: Woord en wonder. Nasou, 1984.
Henning Snyman: Mirakel en muse. Perskor, 1983.
Camille Paglia: Break blow burn. Knopf Doubleday, 2005.
Ottone M. Riccio: The intimate art of writing poetry. Prentice Hall, 1978.
Johann de Lange se blog Kaapse paragrawe.

Heilna du Plooy sluit tereg haar inleiding af met ‘n verwysing na Sheila Cussons, iemand wat destyds in Opperman se Stiebeuel-reeks gedebuteer het en gegroei het tot een van die grootste digters in Afrikaans. Haar debuut Plektrum bly ‘n hoogtepunt.

Kom ons kyk wie gaan genoeg stamina hê om alleen te debuteer. Daar is genoeg blyke van genoegsame talent in hierdie versameling wat ‘n mens hoop gee vir die “loneliness of the long distance poet”.
                  
Ek wil nie al die gedigte aanhaal nie, omdat die leser die boek moet koop!

Junie 2013

Joan Hambidge

Is professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die UK. Haar laaste bundel heet Lot se vrou (2012). In September verskyn Meditasies by Human & Rousseau. Vir Visums by verstek (2011) is sy bekroon met ‘n ATKV-Woordveertjie. Hoe ouer sy word, hoe meer voel sy dat net vleis en tamaties gegradeer behoort te word.

Sy glo ook dat ‘n mens met elke bundel soos ‘n slang moet kan vervel en nuwe tegnieke onder die knie behoort te kry. Haar blog heet Woorde wat weeg. 

Sy is op pad Viëtnam toe aan die einde van die jaar en probeer haar hand waag aan die luc bát. (Lục bát - Wikipedia, the free encyclopedia)

Endnote:

Rudolf Stehle. 18 nuwe stemme klink op. Beeld, 14 Mei 2013.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Versindaba geplaas.]