Wednesday, July 5, 2017

Rubriek | Dan Sleigh se 1795

Dan Sleigh, 1795

I

D. Sleigh se roman 1795 behaal die eerste plek in 2015 se Groot Romanwedstryd. Sopas is dit bekroon met die WA Hofmeyr en die ander boeke was Huilboek van Ryk Hattingh en Op ‘n dag, ‘n hond van John Miles. Met die groot romanwedstryd was Alexander Strachan tweede en Etienne van Heerden derde.

Ofskoon dit onmoontlik is om sulke uiteenlopende romans te vergelyk, is die roman 1795 iets heel besonders.  Ek het reeds indertyd hierop gereageer. (WoordeWat Weeg/ 'n Nota by Dan Sleigh se roman, 1795. Besoek 4 Julie 2017).

Hierdie roman aktiveer die film Russian Ark van die filmmaker, Alexander Sukorof. Die filmmaker problematiseer – soos Sleigh – die verhouding tussen geskiedenis en hede. (Russian Ark – Wikipedia. Besoek 4 Julie 2017). 

Dit is ‘n historiese film (van 2002) wat vervaardig is in die Winterpaleis van die beroemde Hermitage.

‘n Naamlose verteller stap in die Hermitage en bewonder die skilderye. Hy is egter ‘n gees (soos in ’n Faulkner-roman) wat in ‘n ongeluk omgekom het en nou kontak maak met bekende historiese figure. Sy vriend, die Europeër, oftewel die Markies de Quistine, stap saam met hom deur die verskillende vertrekke. Soms word hulle gevra om die vertrekke te verlaat; ander kere bly hulle en lewer kommentaar op musiek, die besetting van Russland, die verhouding tussen Rubens en van Dijk, die Rembrandt-skilderye ensomeer, word behandel. Twee jong matrose beweer die Tsaar het die skilderye anders gehang as wat ons dit nou ervaar. Goeie skrywers het mooi hare, verneem ons.

Ons sien voorstellings van Peter die Grote, Katarina die Grote, Tsaar Nikolaas die Tweede  se kinders, verwysings na die besetting van Rusland tydens WOII.

Roerend is die optrede van die kleinseun van die Sjah van Iran wat formeel om verskoning vra aan Tsaar Nikolaas die Eerste vir die dood van ‘n Russiese Ambassadeur.

Wanneer ‘n mens hierdie voortreflike film kyk, wonder jy oor die stem of die verteller. Wie is hier aan die woord?

Die werklike filmmaker is die verteller wat jou neem op hierdie reis deur die Hermitage en die geskiedenis van Rusland. Ongeveer 33 kamers word besoek en meer as 2 000 akteurs het deelgeneem aan hierdie produksie. Die danstoneel aan die slot van die film is asembenemend. In 1991 had ek die voorreg om St Petersburg te besoek en die verskillende vertrekke van hierdie fenomenale paleis/kunsgalery mee te maak.

Die Markies het in 1839 Rusland besoek en ‘n boek geskryf oor sy besoek: La Russie. Hy roep na sy moeder voor ‘n beeldhouwerk van Canova, ‘n vriend van sy moeder, en sy belangstelling in die porselein in die Hermitage aktiveer hoe sy familie aan hul rykdom gekom het. In ‘n besonder aandoenlike toneel ontmoet hy ‘n blinde vrou wat met haar vingers kan “sien”.

II
1795 lewer eweneens historiese kommentaar op die uitdagings van vandag. Die geskiedenis van hierdie land word intens geaktiveer deur die afbrand van die Bloemfontein se stadsaal. Hierop reageer ek in ‘n gedig nadat die skrywer J.C. Steyn vir my ‘n berig hieroor stuur per e-pos:

Apophrades

vir J.C. Steyn

My verse sleep vlerk
by die dooies: daardie digters
in die baldakyne van my taal
getrippelmaat, getrema én gekodeskrif.
Die vaatwerk van hul verse
só perfek saamgevoeg
met patene en siborieë.
Ek plaas in ’n muntkissie
in naberou treuselend my aflaat:
mea culpa, mea maxima culpa
oor ’n vorige bestel só boos.
Mag hulle stemme bly ópklink
soos daardie trotse Steinway,
in 1936 uit Duitsland ingevoer.
Wonderskone musiek klink steeds op
in die Bloemfonteinse stadsaal:
puin en sinnelose kruistogte ten spyt.

Die vers speel uiteraard in op Harold Bloom se troop van die Apophrades oftewel die terugkeer van die dooies in The Anxiety of Influence (1973). Dit verwys verder na eucharistie met die patene en siborieë. (The Anxiety of Influence – Wikipedia. Besoek 5 Julie 2017). 

In haar uitgebreide resensie-essay op Litnet maak Heilna du Plooy die volgende relevante uitspraak: "Historiese kennis en selfs geskiedskrywing is egter nie dieselfde as die skryf van ’n historiese roman nie.Of is dit?" (LitNet Akademies-resensie-essay/ 1795 deur Dan Sleigh | LitNet. Besoek 4 Julie 2017).

‘n Skrywer kan die geskiedenis ‘aanpas’, vryer daarmee werk, net soos ‘n filmmaker. Sodoende kan daar volgens Du Plooy verskillende gesindhede na vore gebring word.

Soos Sukarof, die verteller van sy film is, bly die leser deurgaans bewus van die stem van Dan Sleigh, gedugte navorser en kenner van die geskiedenis, in sý roman.

“Geskiedenis is ‘n kanker, jy kom nie van sy pyn weg nie. Sokrates het die gifbeker gekies omdat demokrasie hom gewalg het, maar hy sal hier bly en waak” (508).

In die karakter Anton word daar kommentaar op die geskiedenis gelewer, soos dat Beethoven ‘n student van Mozart was. Hieroor, weet die musiekkenner, is daar onsekerheid. Sommige historici meen dat Beethoven wel ‘n paar klavierlesse van Mozart ontvang het, in 1787 – ander meen weer dat daar slegs een ontmoeting was. Maar die romanskrywer kan besluit dat hulle wel ontmoet het.

Die roman lewer kommentaar oor die impak van die geskiedenis en hoe dit vir lank daarna nog ‘n impak het.

Die roman sit vol taaljuwele. Aloofness: loefkant – bo die wind, weg van die lywal (502).

Dit is meer as oor die Britse oorname van die Kaap. Hierdie roman is ‘n stuk bewaring, ‘n belangrike kommentaar op die impak van taal op identiteit. (En wat van die skrywers? | Netwerk24. Besoek 5 Julie 2017).

Dan Sleigh © Michael Hammond

Tydens die oorhandiging van die WA Hofmeyr het die skrywer bely dat dit sy laaste roman is.  Dit sal jammer wees, want in hierdie navorser en skrywer het Afrikaans ‘n belangrike stem en kommentator. Lady Anne is ook hier – en sy is sopas weer vertaal in Engels deur Antjie Krog. So praat tekste heen en weer met mekaar, net soos toe met nou.

‘n Roman oor die geskiedenis ja, oor die impak van verengelsing. In Sleigh se eie woorde in die reeds vermelde onderhoud:
“Dit wás so, die eerste Engelse bewind het ’n taalbeleid ingestel . . . dit word nou later met geweld afgedwing en dit lei tot, onder andere, die Groot Trek, wat myns insiens een van die grootste rampe was wat hierdie land ooit oorgekom het . . .
 “Die verengelsing van skole en later kerke . . . Jy weet, in hierdie NG kerk in Adderleystraat is nog tot in die vorige eeu in Engels gepreek. Die verengelsing het baie lank geduur en was baie diep.
 “Wat nou op Stellenbosch gebeur, is myns insiens ’n ónreg; ons gee nie genoeg aandag aan die onreg nie. Ons praat van ínkomste en die student se toekoms en al daai klas van goed, maar wat van die ónreg? Daardie mense is gerégtig op hul opvoeding; hulle het geen kwaad gedoen deur in Afrikaans te wil leer nie. Hoekom word daar teen hulle opgetree? Hoekom word hulle uit die pad gevee? Dat só iets gebeur en dit word deur baie aanvaar.” 
© Joan Hambidge


Saturday, July 1, 2017

Polemies | Studeerkamers


Ek kom uit die Karoo en ek maak toe vriende met die Paul Roos-seuns en baie van hulle ouers was professore, en dié ouens se studeerkamers was vir my . . . Jy kan mos nou sien ek is ’n man vir ’n studeerkamer. André Brink, terloops, was ook ’n ou vir ’n studeerkamer. Daar is baie kritiek wat jy kan uitspreek teen die manlike skrywer in sy studeerkamer. Ek weet nie of vroueskrywers soveel moeite doen om ’n fort te bou nie . . . (Etienne van Heerden/ Die siklusse van slegvoel | Netwerk24. Besoek 30 Junie 2017).


En nou kyk jy na die letterkunde – die lesers is eintlik vroue, oral waar jy kom, sien jy vroue; die meeste van die mense wat klasgee in die letterkunde, is vroue; al hoe meer van jou resensente is vroue. En soos wat dit gebeur, kan jy sien hoe die mag uit die letterkunde verdwyn.

In die argitektuur en die mediese beroepe gebeur dit ook; “hulle sê die beroep word vervroulik.

En dan sê hulle mans gaan nooit net weg nie, mans vat ook die mag saam met hulle weg en dan bly daar nou net ’n klomp vrouens oor en skielik daal die statuur van daai beroep. Om ’n argitek te wees is nie meer daai aangrypende Fountainhead-ding van die ou dae nie. So hulle gaan word dan spesialiste, die mans of hulle gaan in geld in. (Antjie Krog/ ‘Vreemd sal die nuwer taal moet lê’ | Netwerk24. Besoek 30 Junie 2017).

Twee skrywers aan die woord. Die een manlik, die ander ‘n vrou.

Wat opnuut bewys dat die manlik/vroulik-debat nog lank nie afgehandel is nie in die letterkunde.

Wanneer ‘n manlike skrywer wonder oor vroueskrywers se studeerkamers, is dit ‘n relevante genderdebat: die man wonder of die vrou ‘n fort bou, soos hy, die manlike skrywer. ‘n Fort is immers ‘n manlike ruimte. Is dit bloot ‘n slippage uit die onbewuste, ‘n vraag of vroue ook so sterk kan en mag voel oor ‘n studeerkamer as ‘n manlike eweknie?

Vroue is lankal nie meer ‘n aanvulling of supplement nie. In Digters van dertig het Opperman indertyd Elisabeth Eybers gesien as die “vroulike aanvulling tot dertig”. Geen vroueskrywer is sedert Virginia Woolf se A Room of One’s Own (1929) ‘n blote studeerkamer-versiering of afstoffer nie. Hierna sou vroue-filosowe en –skrywers in eie reg stelling inneem: Simone de Beauvoir tot Hélène Cixous; Jane Gallop tot Shoshana Felman – tot Vito Spatafore. (Talk/Vito Spatafore - Wikipedia. Besoek 30 Junie 2017). 

Antjie Krog wys tereg op die Afrikaanse letterkunde wat deur vroueresensente gedomineer word.

Krog meen dat wanneer mans uit beroepe vertrek, neem hulle die mag saam en die statuur van die beroep daal.

Hiermee verskil ek. Lacan meen immers dat die Orde van die Fallus of mag ook deur mans begeer word.

Dink ‘n vroueresensent – wanneer ‘n boek geresenseer word – eers aan gender? Of kan ‘n leser gender-neutraal lees en resenseer?

Of is jou gender altyd ‘n kwessie? Ek dink ‘n resensent behoort ‘n gender-voorkeur weg te pak en in haarself in die wêreld van die teks in te verbeel. Word dit goed gedoen vir die opset wat dit aanbied? En selfs al is jy gesteur deur die manlike meerderwaardigheid of vroulike onderdanigheid. Om te resenseer, behoort jy vrydenkend te lees en iets te leer van iemand anders se leed, ervarings of geluk.

Jy wals nie deur ander mense se pyn nie, het Jeanne Goosen op ‘n dag opgemerk. En dans is die regte kode. Jy dans nie ‘n wals asof dit ‘n one-two-chachacha is nie. Jy lees ‘n boek op eie terme.

En hier is Antjie Krog weer spot on wanneer sy verduidelik waarom sy graag ‘n das en pak dra:
Ek dink net ’n suit, ’n pak klere, is een van die slimste dinge wat ontwerp is. Niémand weet of het jy tieties nie. Niémand weet jou boude is groot nie. Niémand weet jy’t ’n pens nie. Niemand weet jy’t knock knees eintlik nie. Níks daarvan nie. En jy kan dieselfde pak klere dra na verskeie dinge toe en elke keer miskien ’n ander das en jy’s núút van voor af. Terwyl ’n vrou as jy óp daai verhoog loop en jy’t ’n rok aan . . . hóé daai bene van jou lyk; hóé jou knieë lyk; hóé jou boude lyk . . . Dan hul hare; dis ’n vreeslike weerloosheid wat ’n vrou moet oorkom met ’n rok of met ’n skirt of selfs ’n broekpak. Maar met ’n pák klere is dáái uitgesort. Dis gehanteer: ‘Kyk in my oë en luister wat sê ek!
En daar het ons die belangrike uiting dat manlike dominansie steeds oorheers. As jy nie van die verhoog afgekoekeloer wil word nie, dra eerder iets neutraals. Of ‘n pak klere. Dan is die subliminale boodskap: ek is ‘n Mannin, nie ‘n Beminde Antarktika nie. Ek is hier om ernstig opgeneem te word as intellektueel, nie as seksobjek nie.

Hierom verkies ek om tydens poësievoorlesings te sit – in demokratiese gelykheid met my gehoor. En my hele huis is ‘n studeerkamer – selfs die kombuis sit vol rakke. En in die badkamer staan ‘n bril met boeke.
© Joan Hambidge