Tuesday, April 9, 2024

Resensie | Betsie van Niekerk – ... so ook op die aarde | Naledi 2024

Betsie van Niekerk - ... so ook op die aarde | Naledi, 2024 | ISBN 978-1-991256-59-1

Resensent: Joan Hambidge

 

Betsie van Niekerk se prosateks …so ook op die aarde kan ‘n mens net met een woord beskryf: ‘n juweel. 

 

Dit verbeeld religieuse kwessies in die Kalahari met ‘n woestynkatedraal. Dit vertel die storie van Suster Agnes, Suster Léonie, die Hondekind, Vader Simon en ouma Pop. En Rufus die koster. En Kleinklaas se begrafnis, sogenaamde die wending of denouement van die verhaal. Met ‘n Hoofouderling Herklaas. En ‘n klagskrif.

 

Die vertelling ondersoek die donker kamer van die siel (11). Die skrywer gee ‘n besondere kennis weer van die Katolieke liturgie en gebede: die gebedsweë, kruisweë, litanieë en novene (oftewel, die gebed van 9 dae), gebede tot die Drie-eenheid, gebede tot die heilige Maagd Maria, opstaangebede, gaan-slaap-gebede, die Jesus-gebed, die mag van die bidsnoer-gebed. (21)

 

Wat hierdie vertelling uitermate aangrypend én boeiend maak, is die spanning tussen die goeie en die bose wat subtiel uitgewerk word. Die verskillende ruimtes soos die woestyn teenoor die verre Lyon gee sleutels vir verskillende lewensuitkyke, maar met die universele spanning tussen geloof en twyfel (die sogenaamde “skemerwete” van die bestaan).

 

Die aankoms op ‘n poskar en hoe ‘n klein gemeenskap se vooroordele teen die afwykende of outsider funksioneer, neem hierdie leser terug na Elsa Joubert se roman uit 1988, Missionaris. Hierdie teks in sy eenvoud is egter só treffend dat die impak vir hierdie leser sterker is.

 

En die geheim oor die sonde en die hondekind (die judasbok) word netjies weggesteek. Wyfie- en mannetjieblomme is die simbole vir seksualiteit. Wanneer die dadeloes af, is kom daar klaarheid en helderte.

 

‘n Biblioteek vol verbode boeke wat brand met “otterspore” geplant in die teks, eis ‘n Jungiaanse lesing op. Kaarte van die psiges teenoor die lyflikheid wat ervaar word deur die Suster. Die verskillende karakters is argetipes: moeder en kind; die sondebok; lewe teenoor dood gekoppel aan die Christendom; die natuur wat groei aandui; water hier, wat sowel positief (Grootrivier) as negatief, ervaar word (verdrinking teenoor oorlewing); vuur wat dui op verwoesting van die Bose.


Skedels en Sandro Botticelli se Moeder en kind (1480) gee ‘n ánder belangrike sleutel vir die geheim van die teks. Ook genoemd die Madonna van die Boek, omdat die moeder lees uit die gebedeboek, die Horae Beatae Mariae Virginis. Dit is te siene in Poldi Pezzoli Museum in Milaan. ‘n Sogenaamde emblematiese skildery, net soos hierdie vertelling emblematies en dalk allegories is.

 

In 1988 het Betsie van Niekerk, ‘n bekroonde jeugverhaalskrywer, ‘n bundel Ronkedoor gelewer. En hier sien ons die hand van ‘n digter in die ragfyne beskrywings.

 

Tussen die aarde en geloof.  Tussen belewenis en emblemata. 

 

Joan Hambidge is ‘n Fellow en Senior Navorser aan die Universiteit van Kaapstad