Tuesday, March 12, 2024

Rubriek | Joan Hambidge - Joslin: ‘Waar reg en verkeerd nie meer bestaan nie’

Die lewe is nie ’n speurverhaal nie, maar hoekom gryp die verhaal van Joslin Smith (6) die publiek so aan? Joan Hambidge vra of dit ’n nuwe weergawe van die Rooikappie-verhaal is.

Op 19 Februarie 2024 verdwyn Joslin Smith.

 

Wat het gebeur? Is sy verkoop aan ’n sangoma? Leef sy nog? Dít is die speurverhaal wat in die hof opgelos sal moet word. Hopelik.

 

Wat my as skrywer interesseer is hoekom ons almal so sterk reageer op hierdie kind se lot?

 

Sy is ’n weerlose, pragtige kind. Klasmaats sit ’n plantjie, ’n kers en ’n foto op haar sitplek in die Diazville Primêre Skool. Hulle glo vas sy gaan terugkeer.

 

En dís hoe dit altyd is. ’n Mens hoop die kind sal terugkeer.

In die hotel waar ek smiddae skryf, verduidelik ’n kelner vir my hoe moetie-moorde werk. Die organe word uitgesny, terwyl die mens nog leef.

 

Ons praat oor die armoede van hierdie mense en hoe die kind waarskynlik verkoop is vir dwelmgeld.



Skoene wat deur die lug vlieg

 

Bloeityd: Verse oor kinders (Tafelberg, 1993) – saamgestel deur Johann Johl en Rika Cilliers – ’n bloemlesing met verse oor kinders – is ’n pragversameling verse.

 

In my somber gemoed herroep ek ander ongelukke én verdwynings wat my beswaard maak.

 

In standerd sewe sien en beleef ek ’n ongeluk. Tydens ’n sogenaamde Lenteloop word 23 kinders beseer en een sterf.

 

Dis 1971. Pretoria. Ek onthou die dooie kind se voet onder die agterste band. En skoene wat deur die lug vlieg.

 

My ouers is die aand nie tuis nie en ons huishulp, Sara, troos my deur ’n slapelose nag. Nou nog as ek die lied “Mamy Blue” hoor, oorrompel die hartseer my.

 

Op 28 Januarie 1979 is daar ’n treinongeluk by Henley-on-Klip. 23 kinders sterf en 16 is beseer toe die bus teen die trein bots.

 

Maar dit is die verhaal van Johan le Roux wat twee ander kinders gered het, wat mense bly aangryp. Hy gooi vir Petrus van der Walt en Willem Nel by die agterste ruit van die bus uit. Hyself sterf.

 

J.C. Steyn het hierdie ongeluk verewig in ’n aangrypende gedig, opgeneem in Die Grammatika van liefhê (Tafelberg, 1975). Só klink die eerste paar strofes:

 

Spooroorwegramp by Henley-on-Klip

 

Henley-on-Klip

stasienaam by Vereeniging:

onwerklike vereniging –

oerengelse samestelling

op Afrikaanse klipbodem.


Henley-on-Klip

skoolbus by spooroorweg

in slaggat gestol

(bloed stol op klip)

’n sneltrein snel voort,

dóód-betyds, dóód


Henley-on-Klip

Hansie-op-gruis

Helena-aan-gras

23 van gras

drié-en-twintig

wat die wolke en die veld,

die sonlig en die weerlig

nooit weer sal belewe nie,

vir wie mamma nooit meer

’n toebroodjie sal smeer nie,

wat vir pa nie half vererg

oor nuwe wiskunde sal terg nie.



Westdene en die teken van die dood

 

Hierna die Westdene-ramp (27 Maart 1985) met skoolkinders aan die Hoërskool Vorentoe.

 

Die buurt: Triomf. Die bus se flikkerligte het aan en af geflits toe dit uitgehaal is en die afklimklokkie het glo nog gelui.

 

Pieter Koen, ’n matriekseun, het vyf ander kinders se lewens gered. Die sesde keer toe hy afduik, het hy nie weer opgekom nie. Danie Theron, wat sy skoolmaats uit die water gehaal het, het later gesterf weens selfdood. Hy is vereer met die Woltemade-medalje.

 

Ek besit steeds die Beeld-voorbladfoto met polisieduikers en kinders wat onder komberse lê met die voete verkeerd-in gedraai. Altyd die teken van die dood.

 

En ’n duiker in sy onderbroek wat vinnig ingespring het.

 

Só het ek hieroor gedig in Palinodes (Haum-Literêr, 1987):

 

Westdene

 

Gelukkig is julle

wat slaap

hermeties verseël

’n toe vuis.


Nooit sal pyn

se perforasie

(stigmata op

die polse) wys.


’n Bus verpas,

’n sinnelose

reis, nie weer.


Nimmermeer

die wagwoord

tussen mense

verleer. Nee.


Die ontoereikendheid

van ouers vergeef.

Slaap rustig,

slaap soet. Kinders


moet gehoor, nie

gevoel word.



Die lewe is nie ’n speurverhaal nie

 

Hierna die verdwyning van Madeleine McCann (3) op 3 Mei 2007 in ’n luukse Portugese vakansieplek, Praia da Luz.

 

Die ouers het saam met vriende buite geëet en telkens gaan kyk of die kinders veilig slaap. Om 22:00 was Maddie weg en het die soektog begin.

 

Die ouers was aanvanklik verdagtes met arguido-status. Die saga is eindeloos, selfs met ’n boek deur die Portugese polisiehoof, Gonçalo Amaral, wat die ouers as die verdagtes sien. Inmiddels moes hy sy woorde terugtrek.

 

Daar is verskillende dokumentêre gemaak en verskeie verdagtes uitgewys. Helaas geen closure nie. Die lewe is nie ’n speurverhaal nie.



’n Moderne Rooikappie?

 

Daar verdwyn daagliks kinders hier te lande. En in ander lande. Oorkant my woning is daar ’n park. Met ’n toilet. Hier het ’n ma en kind van twee gebly. In die nag kon ek die kind hoor huil: koud, nat, honger en dors. Vir weke. Waarskynlik alleen gelaat terwyl die moeder as nagwerker geld verdien.

 

Ek en my buurvrou het die maatskaplike werkers gekontak en hulle is verskuif na ’n veilige oord.

 

Maar presies wát simboliseer Joslin? Hoekom staan al die voorblaaie steeds langs my bed?

 

Is dit die armoedige pondokkie (met die blou slot)? Die Skoolmaatjies wat ’n plantjie op haar lessenaartjie laat? Die gemeenskap wat help soek na die kind en die stad Kaapstad wat hulp verleen?

 

Wat sou Alice Miller, die bekende kinder-psigoanalis in Thou Shalt Not Be Aware: Society’s Betrayal of the Child (1984), vir ons hieroor wysmaak? Sy wat so helder kon skryf oor kindermishandeling; dat diegene wat dit wél kon troef, groot kunstenaars kon word – soos Buster Keaton.

 

In hierdie geval was daar nie eens sprake van “versluierde wreedheid” nie. Ons weet by voorbaat dat Joslin (6) dikwels moes honger gaan slaap het, in die steek gelaat is deur roekelose (en afwesige) ouerskap en vir die wolwe gegooi is. ’n Nuwe weergawe van die Rooikappie-verhaal. In ’n plek waar armoede en swaarkry mense so aftakel dat reg en verkeerd nie meer bestaan nie.

 

Meer nog: dat dit die ongelooflike verskil tussen dié wat het en dié wat nooit sal hê nie, uitwys.

 

Hermeties verseël? Nee, dit bly ’n oop wond.

 

Prof. Hambidge is ’n Fellow en Senior Navorsingsgenoot aan die Universiteit van Kaapstad.