Michel Houellebecq – vernietig (uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw). Naledi, 2023. ISBN 978-1-991256-40-9
Resensent: Joan Hambidge
I
anéantir (oftewel: vernietig) van Michel Houellebecq is deur die skrywer-filosoof Johann Rossouw in Afrikaans vertaal. Die titel is in kleinletters, soos Houellebecq dit wou hê, en hierdie roman van by die 500 bladsye, is ‘n belangrike baken binne die letterkunde. Hier te lande en buitelands.
Die Franse outeur is bekend as dwars, aweregs, buite die sentrum – soos sy gedigte ook bewys – en hy neem vreeslose standpunte in. Sy gedigte is in Afrikaans vertaal deur H.J. Pieterse en Catherine du Toit.
Hy was in die middelpunt van ‘n kontroversie tydens die destydse aanvalle op Charlie Hebdo en met die publikasie van Submission (2015) was daar hewige reaksie oor sy kritiek op die Islam. Hy moes selfs beskerm word. Nes by Salman Rushdie word heilige koeie vreesloos afgeslag.
Tog is hierdie voorstander van vryheid van spraak, selfs benoem en gekortlys in hierdie jaar se ronde vir die Nobelprys. Met Salman Rushdie ook daar. Is hierdie skrywers blote provocateurs of is hulle visionêres?
II
vernietig is ‘n vreemde, dog pakkende roman met politieke kommentaar op die Franse sisteem, tans gekenmerk deur opstande. Dit speel af in 2026 en 2027 met ‘n presidentsverkiesing. Macron luier hier; nes Marine Le Pen en Ėric Zemmour. Daar is selfs ‘n afdruk van die guillotine.
Paul Raison is die hoofkarakter en raadgewer vir die Minister van Finansies, ene Bruno Juge. Paul kan ook dokumente onderstebo lees; aanleg handig te pas gekom tydens eksamens.
Dit is ‘n tydperk van kuberaanvalle en Houellebecq wat in hierdie bedryf werksaam was, is hier op sy stukke. Vreemde tipe thriller met die seun wat geheime dokumente moet kry by die vader wat in ‘n vegatiewe staat is. The Matrix, die beroemde scifi-film van die Wachowskis 1999, is ‘n belangrike kode. Net soos die afdrukke en sketse in die roman.
Siekte, beroerte en die versorging van die vader, verbintenisse tussen famlielede wat vervreem geraak het, word ondersoek. Die susters Cécile (Katoliek), Aurélien (‘n kunstenaar) en Paul wat fisiese en geestelike ellendes beleef, sorg vir die menslike dimensie van hierdie roman. Hy het tongkanker en die impak hiervan op sy liggaam word uitstekend beskryf. Uiteraard is dit simbolies, net soos die naam van die hoofkarakter, Paul Raison. Hy ontduik die werklikheid dikwels in fantasieë; ook om te ontdek dat kuberoorloëwerklik kan raak. Soos die dood van ‘n moeder en broer.
Die hoofkarakter lees Sherlock Holmes en Agatha Christie in sy stryd teen die dood. Met dwarsklappe na krimi’s. Die Markies de Sade en Apollinaire is eweneens belangrike intertekste met seksbeskrywings wat die kop laat duisel met Prudence.
Die verdoesel van lyding in begrafnisseremonies word gekritiseer en die roman kyk na die impak (en afwagting van die dood) via die Dalai Lamai en vele Oosterse gelowe. Kübler-Ross is hier en David Servan-Schreiber se sielkundige raad vir kankerlyers. Met ‘n verwysing na Charlie Hebdo en die operasie op Philippe Lançon (die skrywer van Le Lambeau) se operasie op sy kaak.
‘n Soeke na raad om te oorleef en selfs Pascal help hom deur sy beproewinge.
Die duiwel en numerologie, ‘n ondersoek na manlike toksika is verdere kwessies wat aangespreek word. Tapirs en Hines.
Daar is eweneens verwysings na kos en hoe riviere in Europa verskillende “persoonlikhede” het. En kritiek op inhoudlose en belaglike televisieprogramme. Daar is eweneens kritiek op die gesin en hoe kinders ouers wil vernietig (422). Freud en Ernst Hemingway word gekritiseer. ‘n Raaiskoot dat hierdie ‘n antwoord wil wees op Balzac se Menslike komedie?
Só sluit die roman op bladsy 478:
“Ten diepste behoort Franse skrywers nie te huiwer om hulleself beter in te lig nie; baie mense is lief vir hul beroep en put vreugde daaruit om dit aan leke te verduidelik. Dis blote geluk dat ek afsluit op ’n positiewe noot; dit is tyd dat ek nou afsluit.”
En die titel verwys na oomblikke wat gebeur (of nie gebeur nie) en mense se lewens as gevolg hiervan verander en soms vernietig word (456).
III
In die nawoord bely Johann Rossouw dat hy in ‘n “’n vlaag van besieling” besluit het om weerstand te bied teen die vervlakking van aktualiteitsprogramme by radiosondergrense.
En sy vertaling van hierdie belangrike skrywer is uitstekend. Rossouw se roman Sluitstuk (Penguin/Random House) oor die verbintenis met Karel Schoeman, verbeel en werklik, is eweneens een van die beste tekste van die jaar. ‘n Boek oor mentorskap en ‘n pynlike soeke na ‘n simboliese vaderfiguur.
Nou het hy Houellebecq se roman vir ons huis toe gebring in heerlike Afrikaans volgens Lawrence Venuti se studie oor vertalings.
Is mandjiespeler die regte woord vir daardie Amerikaanse spel? (404) Charcuterie word wel in Frans behou (51) en gespat (vir dronk) pas volkome hier in. Dalk is snoepgoedoutomaat, soos jong lat, bietjie outyds?
Andersins vloei die prosa goed in hierdie aserbiese, maar soms ontroerende roman. Hopelik is dit nie Houellebecq se laaste werk nie. Dit is ‘n roman wat jy eenvoudig nie kan neersit nie. Dit ontglip genre-definisies: parodie van ‘n John le Carré met ‘n skeut metafisika?
Joan Hambidge is ‘n Fellow en ‘n Senior Navorser aan die Universiteit van Kaapstad. Haar roman Stasies het sopas by Protea verskyn.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)