Marlise Joubert – Laatnageilande. Naledi, 2023. ISBN: 9 781991 256089
Resensent: Joan Hambidge
I
Laatnageilande is Marlise Joubert se elfde digbundel. Sy is skilder, dramaturg en romansier van onder andere, ‘n belangrike gefiksionaliseerde lesbiese teks Klipkus (1978), vertaal as Rode granaat.
‘n Roman wat die manlike orde teenoor die feminiene een plaas.
Joubert is eweneens ‘n bloemleser van die 2014 antologie In a burning sea. Contemporary Afrikaans Poetry in translation.
Die titel van die jongste bundel verwys na die bekende siening dat geen mens ‘n eiland is nie en verskeie skrywers en sangers het al die idee van die eiland gebruik. ‘n Plek van ontvlugting soms; maar ook een van eensaamheid.
Daar is uiteenlopende vrouedigters in Afrikaans: Elisabeth Eybers, Olga Kirsch, Sheila Cussons tot by Antjie Krog en Ronelda Kamfer, om ‘n paar name te noem. Van die vrou as ontheemde, tot die woedende een; van die gekwelde tot die versorgende moeder; van die aktivis tot die stilgeworde een. Huisvrou tot minnares. Karen de Wet se Vrou en vers (2020) gee ‘n blik op hoé uiteenlopend hierdie stemme is.
Elke teoretiese benadering kan op vrouedigters van toepassing gemaak word. Lankal nie meer digteresse of vroulike aanvullings nie. Cixous, Irigaray, Kristeva, ensomeer.
Die skryfproses impliseer ‘n komplekse verhouding met taal soos Julia Kristeva dan aantoon in Begeerte in taal (1969) en haar siening van die skilpoppe.
Verskillende vrouedigters vra spesifieke leesbenaderings. By Marlise Joubert is dit veral moederskap in al haar gedaantes: moeder, grootmoeder, verhoudings met haar biologiese moeder én haar ouma.
Daar is in hierdie bundel ‘n besinning oor oudword en siekte; dood en geboorte; verhoudings met ‘n werklike geliefde en die digkuns. Politieke verse.
II
In die gedig “diepseeduiker” vra sy vrae oor haar verbintenis met skryf wat meer oordra as praat.
Uiteraard ‘n terugkyk op ‘n lewe-van-skryf. Joubert het immers in 1970 gedebuteer met ‘n Boot in die woestyn.
Die digter beoefen veral die vrye vers, soms die ballade en rondeel. Die passies en passasies van dig.
tussenruimte
dialoog laat gapings
en stulp slegs vermoedens
by die luisteraar. praat
skep vele misverstande.
skryf is ’n diepseeduiker.
dit kan jou soveel méér vertel.
maar toe ek na my
skryfhand kyk, asof ’n leë nis
sonder beeld of artefak,
sien ek vae buitelyne: die impasto
van ’n lewensreis het verbleik.
’n ander vraag doem op:
wie was die geskryfde ek?
dis iets om van hier en nou af
dodelik mee rekening te hou.
die naderende tussenruimte
vou ’n raaisel oop wat nie praat
of skryf nie:
die oorgang
van ’n ingesoute hart
na die wrakstiltes van been.
III
Yehuda Amichai is weer ‘n besielende rigtingwyser in hierdie digterskap wat op die tydelikheid van alles dui. Jy was hier, eenmalig; met ‘n wêreld wat dig sluit agter jou.
Hier is ‘n handvol gedigte wat ‘n mens altyd sal bybly soos “visgedig” (126) wat imperfeksie en verwonding artikuleer. En “die verlede loop leeg” (123) met die sterk beeld:”die gisterklanke ontheem en leeg”.
Met “skrywendes” (120):
my appelhuise hang nou aan
die laaste draadjie van
geskryfde taal
Hierdie gedig speel terug op “taal” (103) met die wete dat die digtende spreker bykans alles verloor het buiten taal. Die gedig – via Breytenbach – is egter iets delikaats …
In “allervrou, ‘n sprokie” (77) word vrouwees via Clarissa Pinkola Estés se Woman who run with the wolves (1992) beskou. Soos vele tydgenootlike digters is daar ‘n huldigingsvers “elisium, ‘n herbesoek” vir Petra Müller (1935 – 2021) oor die “omtes van die hart”. Pragtig-aangrypend is die klein vers oor “ouma bes” (55) wat meen gedigtemaak help teen die gal. Slim beeld oor die digter se naeltjie as die kleinste eiland (46).
Die gedigte oor die katte en kleinkinders is nie so sterk nie, terwyl die verse oor die Oekraïne in die maag tref soos “Irina se klavier” (18).
Tersaaklik om te sien waarop vrouedigters fokus in hierdie slopende oorlog.
IV
Dit is ‘n bundel van oorgange en verliese. Die bundel artikuleer pynlike ervarings van die spreker met kinders (en kleinkinders) in die buiteland en die herinneringe aan die jeug, die vergange lewe met ouers en ‘n begrypende grootouer. Dit registreer ‘n verbygaande era en hoe ons nou in ‘n globale wêreld – post-Covid – oorleef. Met onsekerheid as die wagwoord.
Siekte en liggaamlike veroudering word beskryf. In die laatnag met ‘n terugkyk na wat was dikwels.
Dit is ‘n bundel wat op plekke geresoneer met hierdie leser in ‘n tyd van soveel verliese: onder andere aan ‘n pas oorlede vriendin wat moeder en grootmoeder was. [1]
Die kunswerk op die voorblad van Jean Dreyer “Resettle I” wat deel vorm van die uitstalling burnt white / brandwit is beeldskoon.
[1]
Sover as ‘n engel te perd kan ry
Joan Hambidge
Anita Visser (1952 – 2023)
Jou 70e vier ons
in ‘n Griekse restaurant
met blou teëls en skottels kos;
boonop dra die spreker blou –
glo die kleur van helderte
én melancholie. Nou ook rou.
Danie Visser se vrou is oorlede…
Wars van fieterjasies en voorgee was jy
soos ‘n spreekwoord:
spits, op die man af, puntig.
Uitstaande sjef en hoeder
van familie en vriende en kennisse.
Danie Visser se vrou is oorlede…
Ek sien jou frons oor dié gedig;
onthou ons gesprekke oor verloedering,
die brand by UCT met vuurkeëls
wat die lig inskiet en jou biblioteek tref.
By die interbib-afdeling staan jy almal by.
Danie Visser se vrou is oorlede…
Iewers staan dit opgeteken
ons lewe ‘n boek op bruikleen
met net soveel tyd en stempels
voor dit terug gevra word
deur die Onsienlike.
Danie Visser se vrou leef
in ons binnespraak
en herinneringe – al was
die dood ‘n opskepgas.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)