Tuesday, January 10, 2023

Resensie | Piet van Rooyen - Antraks – ‘n Roman | Protea Boekehuis, 2023

Piet van Rooyen - Antraks – ‘n Roman | Protea Boekehuis, 2022 |ISBN 978 1 4853 13, Sagteband 304 pp

 

Resensent : Joan Hambidge

 

Piet van Rooyen se roman Antraks word bemark as ‘n omgewingsvriendelike skop, skiet en donder.

 

Hierdie lokteks op die agterblad het hierdie leser se vermoede bevestig: Piet van Rooyen is besig om die draak te steek met die krimi-kultuur in Afrikaans. Is daar ‘n sub-genre wat meer aandag kry op boekeblaaie tans? Boonop meen ‘n gedugte kollega en teoretikus word hierdie tekste gelees en geresenseer asof dit ernstige literatuur is. 

 

Van Rooyen het etlike romans gepubliseer en pryse verower. Hy is ook ‘n digter. Lesers van sý romans soos Die spoorsnyer (1994), bekroon met ‘n handvol pryse, weet hy is ‘n gedugte navorser oor spoorsnyers en die San. Dieselfde geld die roman Die olifantjagters (1998) met die wêreld van jag op die magtige olifantbul Maxamesi. Ook in Gif (2001) word die komplekse verhouding tussen San en wit mense uitgewerk. In al hierdie romans is daar uitstekende antropologiese navorsing aanwesig in romans met tekstuur.

 

Die strippe-voorblad neem die leser terug na die wêreld van RP-publikasies waar die karakters in clichés praat. Ons dink hier aan Die Ruiter in Swart waar die held altyd oorwin en die boef sterf in dramatiese-geykte taal: soos hy geleef het, sterf hy (sonder genade). Verder verwys die titel Antraks na die sogenaamde Bacillus anthracis …

 

Ons het ‘n vliegtuig met ‘n besending dodelike gif wat neerstort in ‘n oerwoud. Die begin van die roman is ‘n mokerhou:

 

Oral is losgerukte takke en blare gestuif oor wrakstukke en liggame. Confetti by ‘n makabere huweliksvoltrekking voor die poort van die doderyk. 

 

En die slot: Die trop ape wat destyds hier ingetrek het, beskou die plek nou as ‘n permanente tuiste (304).

 

‘n Teks wat tussen twee ellendes vasgeklam word met baie aksie. “Die reis is meer as die eindpunt”, lui een van die hoofstuktitels en “’’n Rooi lig flits skreiend in sy kop” ‘n ander. En “Tarzan tussen die krokodille” wat ‘n jeugherinnering terugbring na ‘n Sondagkoerant se strippe met hierdie held.

 

En die name! 

 

Soekie en Lafras. Markus Jones. Luister mooi na die name. Hoofstuk-afdelings wat die verhaal raam soos “’n Onhoorbare lied van sugte” met verwysings na Tarzan en James Bond. Met pigmees en avonture in die oerwoud geskryf in oordrywing om die satiriese aanslag te beklemtoon. Daar is ‘n duidelike verwysing na die film Live and let die (1973) met Roger Moore as James Bond en Jane Seymour as Solitaire.

 

Voedoe, die okkulte, tarot word die onderbou van hierdie film.

 

En die storie?

 

Daar is slim verwysings in Antraks is wat op die bo-vlak ‘n verhaal vertel van ‘n Boeing 727 wat neerstort in Angola met ‘n gevaarlike besending aan boord. In Lubango (in Angola) oorleef net drie van die 52 passasiers. En ons sien hier ‘n politieke kode en ‘n implisiete verwysing na die Helderberg-ramp.

 

‘n Aktrise, ‘n kleuter en ‘n Angolese vlieënier is die drie oorlewendes.

 

Soekie Verster en Lafras Uys moet die “probleem” oplos. Hoe gaan hulle die gevaarlike antraks “neutraliseer”? So reg uit ‘n James Bond-verhaal waar die held (en hier heldin) die wêreld moet red van ‘n gewisse ondergang.

 

Kannibale – die hoof heet Hihatele – en ene Markus Jones, die hoof van XYZ- sakegroep is ander spelers saam met Prima, leier van die Praeter-groep. Daar is Witko, Veikko Palander, ‘n politiek-korrekte Fin (met sy deurskynende ore), JimBrown en Mongoli (gebore met Down-sindroom) sit jou reg binne ‘n James Bond-film met afwykendes as die teenspelers. Vera en De Freitas.  Normaal en abnormaal. Wit Afrikaners versus albino’s met ‘n uitermate goeie reuksintuig. ‘n Rammelende bussie teenoor ‘n luukse Pajero.

 

Die afwykendes vind ons dikwels in thrillers. Ons dink aan Nick Nak in The man with the golden gun (1974), Scaramanga (self ‘n ‘afwykende’) se handlanger in daardie klassieke Bond-film. Of die reus, Jaws te siene in die films The spy who loved me (1977) en Moonraker (1979).

 

Die vermenging van ‘n vliegongeluk – ‘n ramp – met ‘n soektog in die oerwoud. Google map is vooraf beskou.

 

Daar is verwysings na Die Bybel, Hansie en Grietjie, Kafka, Interpol, populistiese tekste, Heart of darkness, ensomeer. Die disjunksie tussen aanbod en uitwerking, só bekend aan die satire, vind ons hier.

 

“Die satire wil bespot, en deur die spot die versteurde werklikheid belig. In hierdie spot is die groteske (humor) en die absurde belangrike hulpmiddels.” Aldus Henning Snyman in Mirakel en muse (Perskor, 1983).

 

Bykans asof hy dit oor Antraks geskryf het vol ironiese wendinge en ‘n korrektief op ‘n wêreld wat heeltemal absurd geraak het.

 

Hierdie distopiese roman is inderdaad polities inkorrek met verwysing na woorde soos pramme en menige woke-leser sal stik in die kamille-tee.

 

Antraks is letterlik ‘n bakterie wat vergiftig. ‘n Hoogs leesbare satire wat my weer laat kyk het na Frank Kermode se belangrike baken uit 1967: The sense of an ending: Studies in the theory of Fiction.

 

‘n Einde voorspel op vele vlakke. 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)