Monday, February 1, 2021

Resensie | Antjie Krog – Met die oog op môre | Protea: 2019

Antjie Krog – Met die oog op môre. Protea Boekehuis, 2019. ISBN 148531125X

Resensent: Joan Hambidge

 

 

Met die oog op môre is 'n versdrama van die digter Antjie Krog. Hierdie ervare digter het alreeds haar hand gewaag aan die herdigting van Tom Lanoye se tekste, en veral haar verwerking van Koningin Lear in 2019 (met Marthinus Basson as regisseur) was as teaterervaring, en is as  leesteks vir hierdie kritikus 'n hoogtepunt.

 

Met haar versdrama word die woorde A re shweleng fatshe la rona (Laat ons sterf, die grond is ons s'n) die subteks, wat 'n verbeelde interaksie tussen twee figure weergee. Hierdie mito-poëtiese gesprek waaier uit na ons huidige situasie.

 

Die skering en inslag van hierdie teks is sowel poëties as feitelik. Hier is baie woordhandeling, soos kenners van die versdrama dit beskryf.

 

Die twee hoofspelers is Moshoeshoe 1 en Eugène Casalis, 'n Franse sendeling in 1837 - 1855 in Basoetoeland. 'n Swart koning word geplaas  teenoor 'n wit sendeling. In hul poging om saam te werk word die spanninge en verskille tussen hulle uitgewerk. Die koning van prysliedere teenoor die man van God.

 

Grondbesit is die ondergrond van die drama en hoé wit trekkers hulself as superieur ervaar. Aan wie behoort die grond? Die drama ondersoek eweneens die hele problematiese kwessie van die sendeling wat "heidene" wil kersten en dink hy het die waarheid in pag. Met die koning wat priemende vrae stel oor die heilige Drie-eenheid en die betekenis van Jesus Christus.

 

Is hy nie maar net 'n voorvadergees wat intree nie? 

 

Krog se opposisies tussen wit/swart, man/vrou, Afrika/Engeland, hede/verlede word kompleks uitgewerk. Sy wys op die ideologiese verskille en maak van haar karakters werklike mense met foute en mistastinge. So vermy sy die maklike slaggat wat die drama eentonig of enkellynig sou maak. Sy aktiveer 'n gender- en rasdiskoerse wat volgens moderne teoretici beide as konstruksies benader moet word. Die rol van vroue as teenspelers en hier 'n gewete, soos verbeeld in Mevrou Casalis en haar dogter wat oorneem by die vader, word 'n teenpool.

 

Die metriese eise van die versdrama kom die digter na. Sy speel met die jambiese versmaat en maak alles dramaties vir die leser-as-kyker. Name word genoem sodat die teaterganger 'n karakter sal herken. Daar is ook toordokters, 'n profetes en 'n koor. "Die draaiende bal van vuur met 'n arend se glurende oë wat niks ontgaan nie",  teenoor koning Salomo se wysheid word 'n verdere spanning in die teks. Primordialiteit, argetipes en Die Bybel word ingespan in hierdie teks van grootse opset.

 

Aan wie behoort wat? Waar word die grense getrek? Dit is 'n teks van liminaliteite en grense wat oorgesteek word.

 

Ook die geskiedenis word betrek met die rol van Cathcart en Brittanje se hantering van protektorate. Koningin Victoria en Prins Albert is in die agtergrond aanwesig. 'n Luiperdvel as geskenk aan Koningin Victoria begrond alles verder.

 

Die ellendes van misverstand: Basotho's sit opmekaargedruk soos paddavisse in 'n skepkalbas (85). Krog se beeldende vermoë is hier oortuigend in aksie en in haar digkuns het sy deur die jare verskeie koorsange in bundels geskryf, bykans as voorlopers of oefeninge vir hierdie teks.

 

Die leser word van 'n uitgebreide leeslys voorsien vir verdere navorsing. 

 

Een punt van kritiek: die p-woord val vir my buite die toonaard van die koning se manier van praat en sy denke.

 

Krog se Met die oog op môre moet teen die volgende tekste geplaas word, omdat die leser al hierdie intertekste saamdra. Dalk is dit haar antwoord op Louw se Germanicus (1956), daardie uitsonderlike epiese drama? Gaan lees Jo-Marie Claassen, 'n klassikus, se voortreflike analise van hierdie drama op Litnet. Wat histories onwaarskynlik mag wees, is wel dramaties regverdigbaar, sowel by Louw as in Krog se versdrama.

 

Die epos het in Afrikaans hoogtepunte beleef met Van Wyk Louw se Raka (1941) en Opperman se Joernaal van Jorik(1949) en hierdie teks praat implisiet met hierdie twee klassieke werke. 

 

Hierna was daar Lucas Malan se Hongergrond (1994) en meer onlangs Hein Viljoen se Brisant (2019), al beskryf as 'n postmodernistiese epiese gedig, met verskillende betekenislae, wat besondere eise aan die leser stel. 

 

Jolyn Phillips se Bientang'n !naugedig (2020) werk met "stofpadgedigte" van die geskiedenis sowel binnelands as buitelands róndom die figuur Bientang met verskillende metriese patrone.

 

Nogal 'n ryk skat in Afrikaans van 'n besondere moeilike digvorm wat gehoor moet gee aan die eise van die digkuns én die luisteraar moet bevredig indien dit uitgesaai word. En die opvoering eis weer iets anders want hier het jy kyker én toehoorder.

 

Hoeveel weergawes het Raka nie al met sukses beleef nie. Raka is selfs al as 'n ballet verwerk. Die grootsheid van 'n teks word aan sy antwoorde of parodieë herken.


Dink maar aan Tennessee Williams se A streetcar named desire  van 1947 wat Almodóvar so voortreflik ingeweef het in sy film All about my mother (1999). En Williams was ook digter; hierom is die musikaliteit van sy dramas tersaaklik. Elke punt en aandagstreep moet nagekom word.

 

In hierdie dae waar teaters in beleg is en opvoerings tans onmoontlik geword het, sal RSG se vindingryke Kobus Burger hopelik die uitdaging sien om hierdie teks vir die radio aan te bied. Anders is my geld op Marthinus Basson sodra die teaters weer volskaals funksioneer.

 

© Joan Hambidge