Bladsye / Pages

Wednesday, September 30, 2020

Resensie | Hennie Meyer – Winkel van wanklanke | Protea, 2020

Hennie Meyer – Winkel van wanklanke. Protea, 2020. ISBN: 978-1-4853-1031-0

Resensent: Joan Hambidge 

Hennie Meyer het in Nuwe stemme 4 gedebuteer. Sy gedigte in Nuwe Stemme (2010) het nie dieselfde impak gemaak as wat die solodebuut nou doen nie. 'n Mens moet die hele bundel sien, vashou en waardeer as 'n kunsobjek. In 2007 neem Meyer deel aan die Sasol Nuwe Handtekeninge-kompetisie met die konkrete gedig "Onder die Belt". 

 

Hierdie bundel is soos Willem Boshof se KykAfrikaans (2003) waar die kyker (leser) die boek anders beleef as die installasie. Die gedig-as-installasie kry 'n ander betekenis wanneer dit binne-in 'n boek beland. 

 

Daar is 'n lang tradisie van konkrete poësie en soos language poetry, daag dit die grense van taal/betekenis/interpretasie uit. Behendige digters van konkrete poësie skryf byvoorbeeld 'n gedig oor 'n vlinder wat soos 'n vlinder lyk. Of 'n diamant wat lyk soos een. Die dinglikheid van die woord word vooropgestel.

 

Elke soort gedig eis sy eie leesstrategie op: die verbale ikoon (well wrought urn) vra vir 'n ander manier van lees as die politieke of maatskaplike vers waar die spreker eksegeties aan die woord is.

 

Hennie Meyer is ook beeldende kunstenaar en hierdie interne gesprek word voortdurend geproblematiseer. In 2004 het hierdie leser in 'n kunsgalery in Kuba 'n installasie gesien en so het ek hieroor indertyd geskryf:

Vir my is een van die interessantste skilderye ‘n beeld van ‘n skoonmaker wat besig is om ‘n vloer te vee. In sy hand hou hy ‘n besem en dan ondertoe is daar ‘n regte mop! Asof die kunswerk ‘n inspraak op die lewe wil maak.

Wat maak oom Kallie hier?

 

Daar is 'n gekskeerdery met die vernames van die Afrikaanse letterkunde soos 

 

Yolande

Yolande

wys my jou tande

 

en:

 

Pa

Ek is so jammer

Dat ek was

wat Pa wou hê

ek moet wees (54).

 

Staan TT / vir Tieties? (56).

 

Die uwe word as digter en kritikus opgestuur in 'n dertigrandnoot en die sleutel vir die oopmaak van hierdie gedigte is debunking.

 

'n Hele paar keer het 'n bulderlag deur my gedreun veral met die volgende een:

 

'n Beter geil

is in die sotste wyn

'n vrolik snaar

op elke trein (57). 

 

Spelend word hier heerlik en opsetlik "misdoen in die skoene van die grotes". Skakels na die webwerf laat die tekste oopwaaier na ander (oneindige) betekenisse. Il n'y a pas de hors-texte word tot emblemata verhef. Hulle aan Derrida en die addenda.

 

Maar as kunsobjek is dit voortreflik uitgegee in die spel met die wit-in-die-poësie (kopknik aan Mevrou Geggus), variasies op 'n gedig en selfs 'n braille-teks. Ander een is so klein dat jy 'n vergrootglas moet optel. Tina is 'n uittrek-vers wat konsertina word wat die ou boeregrap aktiveer van die ou man wat in die hospitaal is en die geskokte nursie wat vra waarom staan daar oom op sy oempabaloelie?

"Dit was eers klopdisselboom van Potchefstroom..."

 

Picasso, Escher, Jackson Pollock, Klee en vele ander kunstenaars word op 'n wonderlike wyse ontmasker of eerder: ontskoen (11).

 

In die gedig "Verskoning" weet hy wat die kritici se besware sal wees oor sy gedigte en hierom skryf hy dat die romantiek van rym verruil is vir rumatiek (76). "Rondeel onderdeel" (59) is 'n slim woordspel met alles wat in die woord rondeel getap kan word: oordelend, onderlondener, oorledene, ronde dele, onderdele ...

 

"Ui" (74) speel in op Opperman se woordspeletjies in Kuns-mis.

 

Ek stel my voor hierdie digter lag oor my resensie en dink hy het my uitgevang, omdat ek geleerderig skryf oor sy bundel. Immers is "Riemtelegram van rym" (60) 'n uitnodiging vir die spelers. "Ek gee vir jou die see" waarop almal mag voortborduur; net soos Johan van Wyk wat op 'n dag in 'n eksperiment "Vroegherfs" opgesnipper het en die reëls arbitrêr saamgesnoer het in 'n nuwe betekenislose vers. Met hierdie bundel weet ons nou dat die postmodernisme inbeweeg het in die metamodernisme.

 

Monday, September 28, 2020

Resensie | Ryan Pedro – Pienk ceramic-hondjies | Kwela, 2020

 

Ryan Pedro – Pienk ceramic-hondjies. Kwela, 2020. ISBN 9780795709869

Resensent: Joan Hambidge

 

As Judith Butler verwys het na "performing gender" kan ons hier praat van "performing race". Ras, klas en identiteit word hier onder die soeklig geplaas in die aangrypende debuut pienk ceramic hondjies. Met die voorblad ontwerp deur Nathan Trantraal.

 

Ceramics op die kop. Die broosheid en breekbaarheid van alles word so uitgedra. Antjie Krog noem dit tereg 'n weerlose en aangrypende debuut met 'n nuwe generasie wat aan die woord is. Trantraal wys op die "craftmanship" en die invloed van hip-hop. En die "furniture" in die "hys" wat rondgeskuif word.

 

Dit is verse wat ook in gesprek tree met Adam Small in "ons is nie meer mense wat sing nie" en die digter betree met die hele skare van nuwe bruin digters soos Ronelda Kamfer, Lynthia Julius en Jolyn Phillips, o.a. 'n nuwe ruimte in die digkuns.

 

Praatverse wat die boodskap voorop stel teenoor die verbale ikoon wat werk met ironie en implikasie. Dit is praatverse met sterk beelde. Slotte tref jou goedskiks tussen die oë. 

 

In die slotvers "by die barbershop" - vir my pa - word dit 'n volgehoue gesprek met die vader en die kultuur van barbiere. Ons hoor Joe Barber ook saampraat, daardie wonderlike stuk teater at ons twintig jaar gelede wakker geskud het. In hierdie gedig word die vader aangespreek en in die derde strofe word dit 'n selfgesprek en soos in Lynthia Julius se Uit die kroes word hare 'n belangrike sosiale en kultuurkode.

 

Die barbershop is hier 'n manlike ruimte waar die jong seun ingelyf word in die manlike orde.

Monday, September 21, 2020

Resensie | Jen Thorpe - The Fall | Kwela, 2020

Jen Thorpe - The Fall. Kwela, 2020. ISBN: 9780795709579

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie roman speel in op die #Rhodes Must Fall / Fees Must Fall-beweging. Dit is 'n hoogs leesbare teks wat die impak van hierdie opstand weergee. Etienne van Heerden het dit aangepak in Die biblioteek aan die einde van die wêreld wat nog nie genoegsaam vertelling geword het nie en té na aan die dokumentasie gestaan het. Ook met 'n stywe skeut suspension of disbelief.

 

By Jen Thorpe vind 'n mens 'n vertelling van binne-uit en 'n gefiksionaliseerde en dikwels fantasieryke gegewe. Hector, die protagonis, word teenoor Thuli, die antagonis geplaas. Die angs, paranoia en onsekerheid van die spelers word effektief weergegee in 'n binnespraak waar verskillende vertellers aan die woord gestel word.

 

Die sementblok – waar Rhodes se standbeeld eens gestaan het – is in die afwesigheid steeds aanwesig. Hierdie leser het die beweging eerstehands aan UCT ervaar waar alles begin het en na ander kampusse uitgekring het. Studente se eise teenoor die owerhede se reaksie het tot dispute en opstand gelei. Daardie “underground root system of a forest” – soos dit op bladsy 312 opgesom het – het menige persoon uit 'n intellektuele gemaksone gelig en vele debatte oor postkolonialisme is en word steeds gevoer. Dekoloniseer ons voorgeskrewe werk, was van die eise. Ons is van Afrika en waarom moet ons betaal vir ons studies?

 

In die korona-tydvak het ons beweeg na 'n volgende vlak: aanlynklasse en verdere begrip vir studente se vrae oor waarom sekere boeke op hul voorgeskrewe lyste land.

 

Die moderne dosent weet ook dat tydens die 1968-opstande in Parys hoe dramaties denke verander het in die Linguistiek, Sosiologie en Literatuurteorie. Jacques Lacan het in 1968 sy seminaar onderbreek en met Daniel Cohn-Bendit in gesprek getree. Hier het hy dan die idee gekry om die meesternarratief te analiseer teenoor die diskoers van histerie, die Universiteit en die analis.

 

Die boek het 'n vliegoog-vertelling: elke storie ondermyn of bevestig die voorafgaande soos in William Faulkner se As I lay dying (1930).

 

Met die studenteopstande is dit dieselfde gesteld: daar is verskillende perspektiewe hierop van diegene wat die gooi van uitskot en die verwydering van beelde problematies vind en 'n miskenning van die geskiedenis tot diegene wat dink dit is reg. 

Die waarheid het immers altyd drie kante. En hierdie boek bewys daar is dalk meer. Van Hector se wit tekkies tot die einde. By die lees van hierdie boek het die verskillende perspektiewe iets van die problematiek opgevang.  Hector en sy meisie, Sindiwe teenoor Thuli, 'n heldersiende karakter wat gevare raaksien; die joernalis, ene Helen; Noné, die president; Ray, die minister van polisie en Adnan. Die roman het dus 'n sterk feministiese onbewuste en kritiseer die "fallostyne", met ander woorde, 'n blinde manlike orde. Dus is die titel dubbelsinnig: #Fees Must Fall maar ook 'n kritiek op die fallologosentriese orde.

Kan ons asseblief nou 'n swart vrouekarakter 'n ander naam as Thuli gee? Sewe dae se simboliese betekenis word ook geaktiveer.

Sarah Lotz se shout ("breathtakingly imaginative, original and entertaining") op die voorblad is ietwat oordrewe, maar 'n belangrike boek is dit wel. Bepaald vir die moderne dosent wat 'n roman oor hierdie tydvak wil voorskryf.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Sunday, September 20, 2020

Resensie | Louis Esterhuizen - Die gladde stiltes in glas | 2020

Louis Esterhuizen: Die gladde stiltes in glas. Protea, 2020. ISBN 978-1-4853-1155-3

Resensent: Joan Hambidge

 

In hierdie jaar lewer Johann de Lange, Johann Lodewyk Marais en Louis Esterhuizen, digters uit die tagtigerjare, wat verskillende vorme van die digkuns ondersoek en in gesprek met die groot tradisie van skryf.

 

Die digter en resensent Nini Bennett (wat haar onderskei as 'n deeglike stipleser as resensent op die Versindaba) het die volgende oor die bundel geskryf: “Hierdie bundel betrek glas as uitgebreide metafoor in al sy betekenisassosiasies, byvoorbeeld, lig, water, klip, rots, sterre, prismas, kristal, ensovoort. Glas is sterk, dog broos en breekbaar. Verse oor die natuur, die liefde en die aard of besinnings oor poësie as ambag – oftewel Ars poëtikale poësie – vind hul beslag … dit is duidelik dat ’n ervare digtershand hier werksaam is en dat die manuskrip konseptueel, sowel as in die fynere detail, deurdag en afgerond is.”

 

Inderdaad. Hierdie bundeltitel aktiveer Simon Vestdijk se De glancende kiemcel (1950) waar hy skryf oor die wese van die digkuns en verskillende vorme en hoe die titel reeds die leser neem na bepaalde temas en motiewe. Esterhuizen se gedigte het nog altyd sterk gewerk met die bundel as eenheid. Selfs bundels waar die eerste gedig en laaste gedig in 'n sirkelgang funksioneer. Daar was al gedig oor water, oor die oog, oor skaak. Nou werk hy met glas. En dit herinner ons aan Petra Müller se pragtige gedig oor glas in Die aandag van jou oë.

En glas in Covid-inperking is ironies genoeg uiters relevant: Consul het aangekondig dat hulle nie meer kan glas kan vervaardig nie weens die verbod op drank.

Op die voorblad van hierdie bundel is daar waterdruppels wat oor die glasoppervlak loop; agterop word 'n gedig geplaas met so sluit:"Kyk, ons reis / begin / met son".

 

Binariteite of opposisies rig die gedigte. En word dan ondermyn. Die spreker praat met sy toehoorder (hier die geliefde, maar ook die leser) in afdelings wat heet Steierwerk, Buiteligmusiek en Grondwaarts.

 

Die afdeling Buiteligmusiek ('n Komposisie met tema en variasie in veertig bewegings) aktiveer die aspek van klank waaroor Vestdijk uitgebreid skryf. Die motto van Arvo Pärt is belangrik, omdat hy sy musiek vergelyk met wit lig wat alle kleure bevat. Net 'n prisma kan kleure verdeel en hierdie prisma mag die gees van die luisteraar wees. Die leser moet dan haarself oorgee aan die musikaliteit van hierdie afdeling wat begin:

 

Die volmaakte akkoord is

'n gloeidraad in 'n glasbol ...

 

Hierna word die digkuns - en die soeke na die volmaakte gedig "veilig hier, agter die ruit / van 'n gedig" - wat waarsku dat die wit in die gedig die longe is (Geggus se studie word so ingebring in die gedig) waar die digter assosiatief tyd, die liefde en waarnemings gebruik as beeldmateriaal.

 

Want elke gedig se hart is herinnering, word ons gewaarsku as "reisgesante".

 

In my eksemplaar word Buiteligmusiek herhaal teen die einde as 'n aparte afdeling. 'n Bonus, want die leser kyk dan na hierdie bundel as sogenaamde narsistiese poësie en die dubbelbollens van gedigte (aldus Patricia Waugh en Linda Hutcheon). Wat hierdie leser terugneem na "Aanloop tot 'n gedig wat nooit geskryf kan word nie") wat die geweld van hierdie land in oënskou neem.

 

In "Winterlied" word David Lean se film Dr Zhivago (1965) beskou: met Lara se tema en die geliefde (en lesers) wat nooit werklik kan verstaan wat die inspirasie alles inhou nie. Met die yskristalle wat Omar Shariff sien ...

 

Die digter skryf eweneens in "Blindekol" oor die seisoene van in ingeperkte visie

 

In Blindness and insight skryf Paul de Man oor die blindekol van lees:"'Critics' moments of greatest blindness with regard to their own critical assumptions are also the moments at which they achieve their greatest insights" (109) in Blindness and Insight: Essays in the Rhetoric of Contemporary Criticism (Oxford University Press, 1971).

 

Inderdaad is die leesaksie gekoppel aan die aporia (the self-engendered paradox) aldus De Man wat soos Geoffrey H. Hartman daarop wys dat die leesaksie "beyond formalism" moet beweeg in Criticism in the Wilderness (1980).

 

Dit is 'n bundel waarin die digter blyke gee van vormbeheer en gesprekke (implisiet met ander digters) en waarin sy verse losser gestruktureer is as in vorige bundels. Daar is vele metagedigte en besinnings oor die digkuns - dieselfde geld De Lange (Die meeste sterre is lankal dood) en Marais (Ondertussen) se onlangse bundels. 

 

Melancholie is 'n bergstroom -

die dwaalgang van water tussen klippe,

dit wat ons altoos

 

na onder neig

 

om leegtes mee te vul

en altyd weer terug

na die moeë metrum van 'n gedig.

 

("Swaartekrag").

 

Inderdaad is melancholie 'n swaartekrag, 'n swart draad wat regdeur hierdie elfde bundel loop.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Gedigte | Joan Hambidge - Twee verse | 2020

 Die groot Tempel 

Jdl

 

Is jy 'n Sondagdigter?, vra jy

op 'n keer. Neffens die Hanoi-stasie

sonder jou reisend voortvlugtend

tot in die Tempel van Letterkunde Van Mieu

en die Ba Din sq.

By die St. Josef Katedraal

neem ek 'n taxi tot by die Hanoi-stasie

na besoeke aan tempels en museums.

Wanneer begin 'n gedig?

Dalk die aand in die Hanoi-operahuis

'n paar blokke ver van die strafjaart.

Vreemde name en plekke en gewoontes

the making strange of things

beland in my notaboek vir 'n boodskap

aan jou, my toeverlaat en praatpendant.

In die katedraal onthou ek die saamsing

en voorlees uit Die Bybel, 'n geskenk

van my moeder toe geloof gehul 

was in voorskrif en bedompigheid

en 'n prediker gevind later

in 'n gasgevulde motor en in my jeug

dikwels die leviete voorgelees

met my vader die beskermheer

bid toe-oog vir ons Sondagmaal

waar die horlosie op die kerktoring

se wysters nou stilstaan 

in 'n Sabbat geroep chủ nhật,

chúa nhật soos die ander Sondagdigter

sondig sonderling hom oorgee aan 'n wandeling

in New Haven, Connecticut. 



***



Prosopopeia

 

vir Johan Myburg

 

By al die meesters

van dié onsigbare bedryf

staan dit opgeteken

dat jy moet buikspreek

jou lyf laat verdwyn 

soos 'n ratse koggelmander

 

met dakpansgewyse skubbe

en skerp punte

vir beskerming soos 

'n opgeblase keel om klanke

metries ritmies uit te koggel

om almal net weer lie te maak

 

te verdwyn in 'n bamboesstok

vir die sluikhandel van versreëls

of snags die huis se stilte

te jukstaponeer of uit 'n verre land

te dig oor die dor verlate land

sonder olywe en veels te min katedrale

 

wat naby is word ver

selde meer as 'n fragment

wat koggel-koggel uit die vergeetboek

van onthou vergeet 

agtervolg deur 'n rotskoggelmander

in die woestyn herinner

 

aan 'n kleurvolle pantserkoggelkopper

wat in Tanzanië snags onverwags

teen my spring en swart deeltekens

uitspoeg teen die wit muur 

swewend tot in hierdie gedig

asof hy beunhaas net vir my

 

Monday, September 7, 2020

Resensie | Hugo Claus – Die verdriet van België (Vertaal deur Daniel Hugo) | Protea, 2020

Hugo Claus – Die verdriet van België (Vertaal deur Daniel Hugo). Protea, 2020. ISBN 978-1-4853-0766-2 (gedrukte boek) | ISBN 978-1-4853-1194-2 (e-boek)

Resensent: Joan Hambidge

 

Vertalings is glo verraaiers. Die vertaler moet afwesig of onsigbaar wees. Moet die vertaling die teks huis toe bring of eerder tuis bly en getrou bly aan die oorspronklike weergawe?

 

Dit is drie van die bekendste mantras oor die vertaalproses. En vertalings – soos Uys Krige ons geleer het via sy Spaanse dans – is om 'n ander man se bruid deur 'n sluier te soen. Dit het hy by 'n Italiaanse vertaler "geleen". 

 

Lawrence Venuti, die gedugte vertaalteoretikus, onderskryf laasgenoemde twee uitsprake. Ons sou nie kon bestaan sonder vertalings nie, en groot vertalers is bekend om hul  monnikewerk: 'n onbaatsugtige diens aan die letterkunde. Agterna sal cognoscenti altyd meen hierdie vertaling is beter as daardie een. D.M. Thomas is bv. telkemale gelooi oor sy Russiese vertalings. Hier te lande vertaal Daniel Hugo sowel poësie as prosa.

 

En ons weet wel dat die geslaagde vertaling dans in die nuwe taal. Die Vlaamse skrywer Hugo Claus se klassieke Die verdriet van België beslaan oor die 700 bladsye en is deur Daniel Hugo vir ons gedomestikeer. Hierdie teks is áldaar allemansgoed soos J van Melle se Bart Nel of Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins by ons is.

 

In die Lae Lande ken almal daardie roman van Claus, 'n veelsydige, prolifieke én briljante skrywer, gebore in 1929 oorlede in 2008. Digter, skrywer, filmmaker en in sy dae ook getroud met Sylvia Kristel van Emmanuelle-faam. In 1922 benoem vir die Nobelprys en in die Lae Lande talle kere bekroon, o.a. met die Belgiese Staatsprys.

 

Sommige lesers kan nog Nederlands en Vlaams lees, maar 'n hele geslag jong lesers het ongelukkig nie meer daardie voorreg gehad om die taal en haar grammatika baas te raak nie. Nog minder die konsep van "valse vrienden" te begryp, met ander woorde, begrippe wat dieselfde klink, maar verskillende betekenisse het in die twee tale. Ons dink nou maar aan die woord neuk. Of eventueel. Op Litnet is daar 'n rubriek wat dit onderhoudend verduidelik.

 

Louis Paul Boon, Hugo Claus, Jan Wolkers en Reve is my gunstelinge uit die Lae Lande. Claus se roman is 'n grootse stuk komposisie soos 'n Bolano-roman. Hier word die impak van die oorlog op die gesin Seynaeve ondersoek. Meelopers of kollaboriste wat met die Nazi's meegewerk het in die hoop dat Vlaandere onafhanklik sou word van Wallonië. Die Duitsers verloor egter die oorlog en die geskiedenis draai teen die verraaiers. Die noorde teen die suide; Vlaams teenoor Frans, met Brussel die middelpunt as 'n tweetalige stad. België se taalverdelings is eweneens relevant vir ons land waar daar ook divisies en spanninge róndom taal heers.

 

Die roman lewer eweneens kommentaar op taal en die baasskap van die heerser:

"Mamma sê ook af en toe in die middel van ’n Vlaamse sin woorde soos zweifelloswunderbar of die vreemde ähnlich." Is dit dalk waarom Afrikaans ook Engelse woorde oorneem?

Die roman is soos die Engelse skryf  gewoon"unputdownable". Dit is eweneens tersaaklik om Roman Polanski se film The pianist, 'n meesterstuk van 2002, saam met hierdie roman te lees.

'n Roman wat duidelike outobiografiese elemente in sig dra (Claus se vader, 'n drukker en uitgewer, moes boet vir sy gekonkel), maar uiteraard verwerk én verhef tot roman. 

Daar is kinders se reaksies op verbode boeke wat dan die hele kwessie van waarheid en leuen inlei. Daar is beskrywings van karakters wat inzoem op hebbelikhede. Daar is vinjette wat my altyd sal bybly. Die Reglementeboek van die Kerk word bespot en die straf wat uitgedeel word vir belaglike oortredings. 'n Jong kind se fantasie oor hoe 'n baba ontstaan, is wonderlik.

En grappe wat vertel word, bewys opnuut dat humor regstellende aksie is.

Die komma word beskryf as 'n asemhaling. 'n Baardskeersessie is dawerend snaaks en die vertellende instansie weet dus ook dat hy per implikasie hiperbolies skryf: "Veels te kwistig. En te vergesog" (721).

 

So word daar die spot gedryf met 'n digter-van-die-tyd:

Hy skrik nie, bloos nie, skyt nie in sy broek soos iemand wat ek ken nie. Hy draai na alle kante en buig. Hy haal ’n folioblad uit wat baie onlangs opgevou is en lees met ’n onverbloemde Kortrijkse aksent, ek skryf dit hier neer: 

 

   Geseënd is die wurger van die nagtegaal, geseënd is alle vroulike soogdiere, die holtediere en die syriviere, 

   die nete en Zwevegem. 

   Geseënd is die onmisbare behoeftes en die getye

   en die gasgevulde vliese en die ambervlieë.

   Geseënd is dié wat van die slyk gespeen is 

   en hulle wat nie die dinge ken soos wat hulle is nie 

   maar soos wat hulle voorkom. 

   Geseënd is die plant en Tarzan wat hang aan die plant. 

   Geseënd is ek. 

 

Hy knik vir die yl applous. (723)

Satire, humor, ironie meesterlik saamgebind soos daardie 'n groot epiese filmmaker, David Lean 'n stuk geskiedenis weergee en vertolk soos in Doctor Zhivago (1965). 

Die vertaling lees vlot en lekker. 'n Mooie vonds is konkeldoor. In die geheel gesien is hierdie roman soos 'n simfonie of epiese film met baie karakters en ekstras met die verteller wat 'n grimmige blik op godsdiens werp met die "besmetting van sonde" (91).

Dit is 'n roman-in-vertaling wat hierdie leser met bewondering én plesier gelees het. Wanneer resensente hier te lande die woorde meesterlik, uitstaande en 'n hoogtepunt kwistig rondslinger, kan 'n mens dit wel hier opplak. 

Hierdie publikasie is moontlik gemaak deur die finansiële steun van die Vlaams Fonds voor de Letteren en gepubliseer deur Protea. En dat 'n vertaler die stamina gehad het om so 'n dikke boek te vertaal, dwing bewondering af.

 

Sunday, September 6, 2020

Resensie | Die meeste sterre is lankal dood, Duimnaelsketse, en Oopkardoes (2020)

Johann de Lange - Die meeste sterre is lankal dood, H&R, 2020 | Johann de Lange - Duimnaelsketse, Naledi, 2020 | Hennie Aucamp - Oopkardoes, Naledi, 2020.

Resensent: Joan Hambidge

I


Die digter Johann de Lange het sopas drie bundels vir ons gelewer. Die meeste sterre is lankal dood (Human & Rosseau), Duimnaelsketse (Naledi) en 'n bundel boertige ryme van Hennie Aucamp wat heet Oopkardoes (Naledi). "Versôre" deur Johann de Lange.

 

'n Besondere prestasie wat De Lange se belangrike posisie bevestig as digter én bloemleser soos in Soort soek soort (1997) en Die dye trek die dye aan (1998), met Antjie Krog as mede-samesteller.

 

Die meeste sterre is lankal dood is vintage-De Lange in die volgehoue gesprek met Van Wyk Louw, o.a.:

 

Slot 

 

Soggens & saans bid ek diskreet

bely die sondes waarvan ek weet.

 

Aanstons sal ook my gebed wegsink

& ek my koel gedagte skink

 

of straks, op 'n vraag vas-

steek, in medias

 

Louw se beroemde siening dat slotte ook sleutels is, word hier ópgehef: in medias res en dus onvoltooid. Die programgedig uit Tristia word eweneens geaktiveer.

Die gedig het nie 'n punt nie wat die leser noop om hierdie gedig te voltooi.

 

Al die bekende De Lange-temas is hier aanwesig: eensaamheid, die gesprek met ander digters, die dood, die natuur, portretverse, lykdigte, gay-verse, improvisasies en die ontginning van verskillende digsoorte. Ook verse wat getuig van 'n spirituele bewussyn vind ons hier met besinnings oor die wetenskap.

 

Telkemale is hierdie leser bewus van die vormtegniese beheer van die digter. Opvallend is die terugkeer na die sober woord, die skérp afgeëtste beeld wat die debuut Akwarelle van die dors uit 1982 kenmerk.

 

Hierdie selfkonfrontasie is aangrypend in die gesprek met Louw en Eybers in die soeke na die essensie van die ek-heid:

 

 

Ek is my 

 

Ek is my jare

my grys hare my jig

ek is my oorgewig

ek is my boeke my films

my liefdes my verliese

ek is my vriende my familie

ek is my lesse my berou

ek is my vergeet & my onthou

ek is my bloeddruk my pille

my hart my longe my lewer

ek is my voël & my knaters

my suksesse & my flaters

my lewervlekkies & my niere

my vergrote hart & my kliere

dit was ’n lang pad tot hier

van oordaad & tekort 

om ék te word

 

Sterre brand uit en lank daarna neem ons nog die lig op aarde waar. Op dieselfde wyse sterf digters, maar lank daarna is ons nog bewus van hul digterlike impak. Kyk hoe het Olga Kirsch na soveel jare "teruggekeer" en die volgehoue gesprek met Van Wyk Louw in bundels en op die Versindaba bewys hierdie proses.

 

 

II

Duimnaelsketse heet sy bundel kwatryne wat 'n "opvolg" is van Weerlig van die ongeloof wat in 2011 verskyn het.

 

Hierdie is mini-verse - 'n duimnaelskets is immers 'n vinnige skets sonder korreksie. En 'n mankement wys uiteraard sterker op in so 'n kort gedig. Die titel is egter misleidend, want die digter is wel besig met afgeronde verse, daardie "dinamiek van die gees", soos wat Opperman, self 'n voortreflike beoefenaar van die kwatryn opgemerk het in Standpunte 9.

 

Die kriptiese waarneming; sentensieuse en epigrammatiese aard van hierdie gedig, soos Opperman beklemtoon, is alom bekend. Ook die gebruik van die "spaarse woord". Waarneming én kommentaar geregistreer in vier reëls met verskillende rymskemas. I.D. du Plessis, Uys Krige, Opperman, S.J. Pretorius en Daniel Hugo is bekende beoefenaars van hierdie vorm in Afrikaans.

 

In die pragtige kwatryn vir Eybers en Kirsch word hulle buitestaanderskap beskryf in 'n gedeelde taal: Afrikaans. Die een woonagtig in Amsterdam, die ander een in Israel en tuisgebring in hierdie gedig:

 

Elisabeth Eybers & Olga Kirsch 

 

Kaapstad 1979, ’n laaste besoek

 

Vriende, én eensame ballings van ’n taal,

het hul ’n laaste keer in die vlees ontmoet

in die Kaap van Storms; oor ’n laaste maal

'n gedeelde taal gewissel, & gegroet.

 

Opperman se speelse en spulse parodie "Die weduwee Viljee" kry 'n grimmige voetnoot:

 

Die weduwee Viljee 

 

by 'n foto van 'n windverwaaide kraanvoël

 

Die weduwee Viljee gepluim & in wit geklee

trotseer op stokkiesbene die Sedoos tree vir tree.

In geel kapstewels stap sy, wankel & windverwaai,

ontwyk sy op die loopplank die see se neem-en-gee.

 

Opperman se woordspel met Emily D. en kry eweneens 'n nuwe aanslag in nog 'n digter wat verder borduur in die tuin van die eensame:

 

Die stilte van die bye 

 

met apologie Dirk & Emily

 

Skaarste van vye- & vygiekonfyt

& die bye se soet, geel tuinery:

want bye is skaars, maar nie digters nie,

met tyd & ink genoeg vir mymery.

 

 

III

Oopkardoes, die boertige ryme van Aucamp, is versorg deur Johann de Lange en is 'n uistekende bloemlesing met geil gedigte. Kwatryne, rympies, limericke, boeregrappe en wat nog, word hier saamgesnoer vir die leser wat met eindelose plesier saamlag. 

 

En soms saamhuil:

 

Ná ’n bottel likeur

raak jou uitsig versteur: 

Jy swalk tussen glase 

in verdwaasde ekstase

en sing kabaret in mineur.

 

Of vir (vet)pret:

 

’n Vrystaatse boer, ene Thijsie,

is kliphard op soek na ’n meisie: 

Moet kan skaap slag en bees 

en blymoediglik wees

’n stampblokkie snags vir oom Thijsie.

 

En vir vormbeheer met die stanza wat uit 5-reëls bestaan waar die eerste, tweede en vyfde rym met mekaar. Die twee korter reëls ( 3 en 4) rym ook dan met streng sillabiese beheer. Ook is die sogenaamde "bouncy rhyme" relevant.

 

’n Jags jong boertjie van Grabouw

het agteraf van mans gehouw.

Hy lok stukwerkers na sy skuur 

wat diens teen appels uitverhuur,

en mince, ontlaai, terug na sy vrouw.

 

Aucamp se bewaring van ou boerewoorde maak van hierdie bloemlesing 'n leesplesier duisend:

 

Teiresia Tert het ’n tuisbakkery,

die trots van haar dorpie, Lekkerverby. 

Wie lus voel vir meesmul 

kry vetkoek en reusel –

en ’n vinger in elke pastei.

 

Lees die hele versameling vir veelvuldige teks-tase ...

 

Ja-nee. Hoe ry die boere-sit-sit-so!

 

*

 

'n Prestasie om drie bundels vir ons te gee in hierdie grendeltyd:

 

Selfportret op 60 

 

Die hande in my skoot is nié meer van ’n knaap.

Ek skryf my jare in my taal, my kaartehuis,

& vind my weer terug waar als begin het, die Kaap

van Goeie Hoop. Hientoe verplant, geprys & grys.