Op 1 Maart het ek saam met Breyten Breytenbach en Dominique Botha gedigte voorgelees in die Bôrdienghuis te Wellington.
Ons het ook mekaar se verse voorgelees. Breyten het "Uitwaartse reis" vertolk en Dominique het "My pa" voorgelees uit Lot se vrou.
Stilte, die mag van woorde, die verhouding met ouers en landskap het in die verskillende gedigte opgeklink - met Breyten natuurlik as die meester. Sy onlangse gedigte staan op die Versindaba.
Konfessies, kaarte en konterfeitsels verskyn binnekort by Martjie Bosman se Imprimatur in Pretoria.
Hier is my gedigte.
*
Onder nomadiese sterre
Ubi sunt qui ante nos in mundo fuere?
So teen hierdie latenstyd 'n terugkeer
na konflik onverwerk; daardie onthoue
en afranselinge opdat jy anders was;
'n muurblom immer uit pas
met die lewensdans se ritmes
opgeklop deur 'n sketterende simbaal.
Van kleinsaf eenspaaiig, eenrymend,
stilte beleef, met sinne ópgeskerp:
suurlemoene op 'n bitter tong geproe.
Eerste woorde op 'n lei gekrabbel
en vandaar tot skryf- en kladboek beweeg
waar woorde vlerke klap: lysters op dor gras.
Ligusterbosse, akante, jakarandas gloei
in hierdie vlymende onthouboeke.
In die gebreekte spieël van die self
(iewers verbeeld tot poësie)
oorgange en rituele in reliëf berym.
Telkens 'n self verloor, soos 'n slang
vervel in die klein rondeau of villanelle
van 'n lewe vol sonsverduistering,
skending, smaad en sameswering.
Klein momente van lig en vuur
in woordtestamente bemaak
aan hulle wat ongesiens en ongehoord,
dit wat 'n hartenswoord was, sou verloën.
'n Kalligraaf geword om polisillabies
rooi vuurblomme in die moederstuin
te vertaal tot bloeiende, uitstulpende simbole.
Dáár waar die aarde met die lug dans
op die Hoëveld, een-sillabig, 'n lot beklink:
telkens gereis onder nomadiese sterre.
Bome
Oor bome, treurende bome, soos 'n wilger,
'n sipres, 'n bloekom op die walle van 'n rivier,
staan opgeteken in die familieboom van my gedigte.
Die jaarringe van my gedigbome verklap
'n lewenshouding van voortvarend tot bloeiend.
Hoe het die lewe my nie gesnoei nie?
My weerbarstige, selfgerigte takke is afgekap
tot vuurhout vir kritiese en ongevraagde lesers.
Nou is dit net die bome, treurende bome, 'n wilger,
'n sipres, 'n bloekom op die walle van 'n rivier
wat nog staan vóór die finale inspit in 'n dennehoutkis.
Hierdie is nie 'n liefdesvers nie
Hierdie is geen liefdesvers nie,
dis 'n gedig oor 'n X
wat geen silwer herberg bewoon
in die sneeu nie, maar ewigdurend
sous rature bly in die aanwesigheid,
my deurkruising ten spyt.
En ja, spyt kom altyd te vroeg
met die eerste voëlgekletter,
die Katolieke kerk se klokkespel,
'n muezzin se roep na Mekka
en my oggendgebed vergeef-my-
sondes-en-almal-wat- gesterf het.
Hierdie is nie 'n vers vir Fanie Olivier
se Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.
Dit behoef 'n dubbel-negatief, 'n minaret
waarop ek staan-waar-ek-staan
roepend na jou, my gedig nommer X,
my afskryfvers: onoorspronklik, 'n spel.
Ignatia bid vir haar orde
Dat pyn bestaan is onnodig, Heer
vir wát moet lewe 'n pynboom word
met bitter vrugte van verdriet en afleer
in mý reaksie vol wrewel en ongeduld?
Vergeef my Heer: klontjies pyn
maak die lewe tans ondraaglik:
soveel maal gebid om klaarheid
in 'n soeke na dít wat tog sal rym.
Antigone
i
My verse herskryf ek
soveel keer teen aanwysings in
van Creon, die kritikus alkriekend.
My tekste, 'n Polinices,
sal ek herbesoek en begrawe
al word ek honend bevlek.
ii
My naam bedui in die plek van my ouers
en nou word ek finaal die optekenaar,
nee buikspreker van my ouers
reeds weg na die ander oord.
Geo. Hambidge teken jy jou briewe
en op Sondag 5 Maart 1995:
"Ek bid elke dag vir ons almal ..."
En op 3 Februarie 1996 vertrek
sy Badplaas toe vir 'n vakansie
om uit te rus saam met my suster.
Elke brief, herinnering geliasseer
in hierdie klein geskiedskrywing
ook genaamd 'n veelgodedom.
iii
My pa, soos ek, was 'n opgaarder
'n versamelaar van seëls uit verre lande ...
In 'n brief van sy vriend, Ottie W. Reno
uit die VSA, vertel die afgetrede regter
van hoefysters en sy kinders en sy land.
Hierdie brief verklap 'n diepgaande vriendskap
oor twee kontinente heen tussen twee
ouwêreldse mense wat glo in God, 'n vlag
en 'n president op wie hulle kon vertrou.
Sy klein studeerkamer, 'n heiligdom,
vol stapels dokumente en boeke: DF Malan
en JF Kennedy, langs 'n atlas van die wêreld.
Voor sonsopkoms betree ek in herinnering
weer daardie ruimte en wonder wáár op godsaarde
hang oom Ottie se geluksbringer nou?
iv
'n Lamentoso, 'n pynlike terugkyk:
gebore op 9/11, maar voorspel vir 9/9;
totdat die buurman, 'n astroloog verklaar
dat my ouers met húl sterkonstellaat
nie 'n hermiet sou kon verwek nie.
Dit was in die Noord-Kaap, Aliwal-Noord
en hierna sou veral die landskap in Chili
my ontspoor in die wêreld van Pablo Neruda.
Soos Sappho onder die sewe gesterntes
afskeid geneem van haar, die geliefde;
by Macchu Pichu tot in La Paz
in vele verdraaide raaisels onder
onder nomadiese sterre reeds uitgebrand.
v
Vandag word daar 'n nuwe planeet ontdek
en die maan is glo ouer as die aarde,
weet kenners te vertelle, en soos alles
nou draai om dié as en wanneer en as,
wonder ek waar julle jul tans bevind?
Nomaad
νομάδες
Gedagtig aan hulle wat nooit 'n staanplek
onder die sterre vind vir die voet se holte
soos die Mbuti van die Ituri Reënwoud,
die Negrito's in Suid-Oos-Asië, die Adivasi
in Indië, die Nukuka-Makú in die Amasone:
eens op 'n tyd was hierdie nomaad flink
aan die reis van kontinent na kontinent
wég van ankers en vastighede aan die rinkink
in onveilige plekke ver van haard en huis
net met onrus as die dwingende kompas.
Te lank uit en tuis sodat die self soos die gedigte
altyd op soek was na nuwe, onbegonne weivelde.
(Uit: Nomadiese sterre)
Aflegging
Jou verjaarsdag vier ek sonder jou vandag
daar waar jy nou vertoef in 'n hemelse tuin,
versend ek hierdie boodskap, moeder:
Elke oujaarsdag was daar vieringe
rondom jou geboortedag op die jaarend.
'n Piekniek toe ons kinders was in Kirstenbosch
en later so op die oujaar, het jy klavier gespeel
in jou huis met 'n tuin vol blomme en struike.
Later al reisende het ek uit vreemde ruimtes
jou opgebel en uit 'n koue New Haven 'n gedig
gepos,'n hartskrif, ons verskille ten spyt.
Langs die corniche, verby Koeëlbaai bely
jy oor dít wat van jou jeug ons vir altyd sal bybly.
Die skrander kind van 'n Wellingtonse vrugteboer.
Iewers, dit weet ek, word die kind trooster,
optekenaar, bemoediger in 'n diftong van ek/jy.
Vandag sou ek al ons misverstande wou herroep
soos 'n mens 'n e-pos delete, 'n brief opskeur ...
En ek wat my so eindeloos op stilte beroep,
die tweeklanke van verlies verken, berym,
pleit om jou vir oulaas weer op te roep.
Uitwaartse reis
In ’n droom staan ek en my moeder op ’n hoofbeuk
na ’n eksotiese ruimte, onbepaald en onbekend.
Ek verlaat die kabine op soek na my paspoort,
vind dit inderhaas by my stom reisagent.
By my terugkeer het die skip vertrek
op ’n tyd vroeër as getoon op die swart biljet.
Die kaptein weier toegang, maar ’n stuurman
neem my vervaard na die eerste punt, ’n hawe
waar ek opklim, vergeefs op soek na haar;
sy alreeds op ’n ander vaartuig aan die kim.
My paspoort ongeldig; die visums by verstek.
In hierdie droom was daar geen obool,
net Charon wat my na Hades wou begelei.
Ons hou begrafnis, ek en jy
Was my taal ’n steppewolf
sou ek en jy nie begrafnis hou
in my verslete memorieboek.
In ’n helder droom staan jy
in ’n begraafplaas met blomme
vol maaiers en insekte,
bykans ’n David Lynch-film.
Ek hoor jou sing uit ’n ou Gesangeboek:
“O goedheid Gods hier nooit volprese”
met ’n opmars van miere en ongediertes.
Ek, die middelman, kyk toe
hoe woordeboeke – selfs ’n geelgoue Eksteen –
saam met verseboeke die donker gat in
afgesmyt word sonder ’n kis
of ’n grafsteen met datums.
O ja, ek memoreer en treur bepaald.
Hoe dan anders? Die merkinke
van ’n taal en sy mense
laat ’n lyster sy koppie skoppelmaai
“Tjou-tjou,” sing hy. “Kreools,
krioelende mengelmoes,” fluit
hy verder, want die een ou spook
was vet en die ander een gaan
langsaam telluries dood.
Op watter vasteland ons boer,
dit wis daardie Peter Blum beslis.
(Uit: Konfessies, kaarte en konterfeitsels)
My pa
My pa
wou ons Sondae treat
met ‘n ete in die Masonic
of in oom Boetie Michaels se hotel,
ja, daardie hotel wat in die vloed bly staan het
toe sy ma op die boonste verdieping toekyk vanuit die Ark
en die off-sales besteel word en die Vaalrivier oor sy walle stroom.
Ek onthou die spyskaart van daardie Sondae:
Tamatie- of roomsop, vis en spaars gekerfde lamsboud
en doodgekookte groente. Met roomys of dadelpoeding en vla…
En my pa wat smak aan ‘n groen Grünberger Stein…
Ek skryf hierdie vers in ‘n Italiaanse restaurant
met ‘n eksotiese plakkaat van Venesië teen die muur:
hier kan jy jou eie menu saamstel:
Gnocchi of Capeletti, dalk Lam Tortellini
asof in ‘n vreemde land, daardie plek met sy water
en gondolas en water-taxi’s…
Hy het my nie alleen die vreugdes van uiteet
geleer nie, my pa, nee, hy het my véral wysgemaak:
die lewe is ‘n spyskaart,
een wat jý saamstel
met ‘n onbetaalbare rekening.
(uit: Lot se vrou: Human & Rousseau, 2012).
© Joan Hambidge