Friday, January 24, 2020

Resensie | Gisela Ullyatt - Die waarheid oor duiwe (2020)

Gisela Ullyatt - Die waarheid oor duiwe. Protea Boekhuis, 2020. ISBN 978-1-4853-1066-2

Resensent: Joan Hambidge

Die waarheid oor duiwe is die digter en vertaler Gisela Ullyatt se debuut. Die leser word dadelik getref deur die aangrypende omslag van die kunstenaar Toni Pretorius.

Die duif hier is van porselein en aktiveer stolling en dood. Die duif is simbool van die Heilige Gees en in Oosterse gelowe dra hulle boodskappe oor van ander domeine. Dit simboliseer ook die huis en die liefde. “Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif”, dig Breytenbach.

Verskillende voëls kom aan bod. Maar telkens is die duif daar …

Die titel aktiveer geweldig baie dimensies: die jeug, die kortstondigheid van die lewe, die soeke na sin en betekenis, liggaamlike eise; hierom die verwysings na die Bybel én die Boeddhisme.

Die bundel kan in ‘n sirkelgang benader word: wat in die jeug gebeur het, bepaal die lot van die volwasse mens. Hierom dan ook die motto van Johan Myburg uit Vlugskrif:

Die dae het onrustig geword
met die pote van duiwe
op die windgrys dak

dit het onherroeplik winter geword

In die openingsgedig kyk die kind na die duiwehok deur die swanky bure teruggevat. Op die vergeelde gras is daar nou net ‘n vergeelde, leë vierkant wat dan na die stanza van ‘n gedig verplaas word.

Die slotvers beklemtoon dat sy nie haar jeug - en van hierdie duiwehok – kon ontsnap nie. 

So klink ‘n ars poetica:
september 
skeef lê die kransduif 
op septembergrond
geen geheime oopgeskarnier 
slegs ’n stringetjie lentemiere
intieme besoekers 
op terra incognita

Dan kom sprokies aan bod en verskillende vroue se lewensverhale word weergegee. Die lot van die vrou by die uilhuis is hier waar sy “nagmerries uit koue kruike drink”. Hierna verskuif die fokus na aangrypende lykdigte en Ingrid Jonker se Rook en oker word slim geaktiveer in die slot “agter gordyne” wat selfdood aktiveer.

‘n Vrou trou met ‘n gehuurde trourok (“die kosmos in maart”) met die plaaspad ‘n sinkgat en daar is verbrande dagboeke.

Die melancholie word afgewissel met humor wanneer daar geskryf word oor ‘n parakiet en ‘n valk in Kalkutta; inderdaad: ‘n pop goes the weasel.

Daar word klinies-gedistansieerd gekyk na siekte en depressie. Die digter is eweneens ironies hieroor in die gedig “ná ontbyt” waar die afhanklikheid van depressie-pille onder die loep geneem word met die dokter as ‘n soort hoëpriester van narkotika. Sy is bewus van die impak van hierdie “volmaanpille”. Soos die digter E.W. S. Hammond in Doodsteek van ‘n diabeet, skryf sy ironies-indringend oor die impak van siekte. In “jy omsingel my” word Bybelse toespelings aangepas en omgedraai om hierdie ellende te verwoord. Hierom word woorde selfs onder kwarantyn geplaas in “ek wou”.

Daar is ‘n duidelike gesprek met Sheila Cussons aantoonbaar: die woedende brood, die verwysings na argetipes, sprokies, die kombuis – met ‘n sterk ontnugtering te bespeur by hierdie digter.

Daar is onthutsende verwysings na selfuitwissing (Ophelia, die son wat nie sak nie, maar doodgaan) en die skryfproses is telkens iets wat die digter red van hierdie negatiewe ervarings. Die reeks-verse oor Kurt Cobain en veral die gedig oor Wilhelm Knobel verklap die ellende van selfuitwissing en depressie. En Ernst van Heerden se tyd-van-verhuising word ingeweef. 

Daarom ook die labirint waarin verdwaal word. ‘n Klein haikoe som dit op:

labirint 
die uitgang 
is die binnekoms

Ons sluit af met hierdie vers:

winter

winter is onversadigbaar
in blomloosheid in duifkarkasse
soos ’n grysaard mompel die wind 
deur gaas in die spens die laaste lig

geleidelik verdof die middag tot igloo

ek skryf sondag-gedigte
aan die naderende koue 
die koolstoof troetel 
geheime teen sneeu

gedigte nes emmers 
vang vuil sneeu op 
om te vries 
vir volgende jaar se somer

Oor ouers en grootouers word helder gedig: die pa is ‘n bywoner in sy eie lewe. Dit is ‘n grimmige, ontblotende, sensitiewe bundel met ingebedde verwysings (o.a na Ginsberg se “Howl” en Walt Whitman), maar hier word ‘n eie stempel afgedruk.

Dit is ‘n digterlike suture – en die leser word bewus gemaak van skryf as substitusie (verplasing) in Hélène Cixous se terme. 

Die plek of ruimte van skryf: La venue à l'écriture (1977).

Ek is die plek; die plek is ek.

‘n Pynlik-mooie boek.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)