Jaco Kirsten – Nadraai. Tafelberg, 2019. ISBN 978 0 624 08783 0
Resensent: Joan Hambidge
I
Nadraai, 'n roman, sluit aan by die tradisie van grensverhale en die impak van die oorlog op die psige van die voormalige soldaat. In Afrikaans het Alexander Strachan met 'n Wêreld sonder grense die oorlog en die impak daarvan uitstekend ontgin. Daar was ook My Kubaan van Etienne van Heerden en verhale van Koos Prinsloo, e.a.
Jaco Kirsten verpak die oorlog met die hede en sluit aan by die tradisie van spanningsverhale wat tans so gewild is. Ene Rocco de Witt, 'n Kaapse argitek met 'n beeldskone Duitse verloofde, het 'n donker geheim. Destyds tydens die Bosoorlog het hy tydens 'n Swapo-operasie sy bewussyn verloor. Skielik word hy gekonfronteer met hierdie verlede. Sy plaas Nadraai in die Tankwa-Karoo word skielik 'n vreemde en bedreigde ruimte.
Die roman wentel om opposisie. Rocco se gay-vriendin, ook 'n argitek, se pa was 'n polisieman, terwyl sy vader 'n afgetrede mediese professor in 'n rolstoel is. Hede word telkens teenoor verlede geplaas (en die herinneringe aan die oorlog word in 'n ander lettertipe aangebied). Verder lewer Rocco kommentaar op argitektuur met verwysings na etlike plaaslike bakens, wat dikwels as wysneusig oorkom. Dieselfde geld die opmerkings oor restaurante: La Perla se naam word selfs vir die leser verduidelik. Verder word 'n koffieplek in Groenpunt se dekor beskryf. Egte bestanddele moet hier meeding met mensgemaakte stowwe soos silikoon en botox (125). Hier is dit die verteller wat die karakter se bewussynstroom binnedring en satiriese en ongevraagde kommentaar lewer.
Is dit relevant binne die raamwerk van 'n spanningsverhaal?
Omdat die gegewe deur die derdepersoonverteller gebeur, word dit steurend.
II
Waar die verhaal wel uitmunt, is die spanning wat geskep word rondom die donker verlede. Posttraumatiese stres én angs word deeglik en dwingend beskryf soos paranoia en padwoede.
Die effek van alkohol word oortuigend beskryf en 'n besoek aan die hospitaal (met die onsekerhede wat dit inhou) oortuig. Die gesprek tussen pasiënt en terapeut word eweneens geanaliseer.
Dieselfde geld 'n besoek aan Mavericks en die mans se ervarings van paaldansers. Die geveg na die ervaring, is eweneens oortuigend - met vuige woorde - en 'n duidelike verwysing na die problematiek van Kaapstad: karwagte wat betrek word by meer as karre oppas.
In die kroeg word die banaliteite van die manlike deelnemers weergegee en Rocco se besoek is meer besadig. Hierom die konfrontasie buite Mavericks.
Die roman wentel rondom binariteite; hede versus verlede; sekerhede versus onsekerhede; rykdom versus armoede ...
Deur sy Duitse minnares as metgesel, word etlike kwessies ondersoek: hoe ons politieke verlede uiters vreemd is vir buitelanders en hoe dit moeilik is om Engels te praat voor jou ouers (die minnares ontwille), omdat 'n mens Afrikaans is.
III
Wat hierdie roman veral dwingend en relevant maak, is die genderanalise van manlikheid (masculinities).
Veral wit manlikheid wat reeds geaktiveer word deur die hoofkarakter se naam en werkplek. Maar ágter die machismo van oorlog, gevegte, Swapo, valskermbataljonne en Recce's word die broosheid van manlikheid uitgewys. Manlikheid was kultureel gedetermineerd en nou word dit gekritiseer. Dit is dan die nadraai van ons politieke skuld.
Hierom is die voorblad so belangrik: wie is nou in die visier?
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)