Sunday, December 1, 2019

Resensie | Ronelda S. Kamfer: Chinatown (2019)

Ronelda S. Kamfer – Chinatown. Kwela Boeke, 2019. ISBN 978 0 7957 0950 0

Resensent: Joan Hambidge

Kamfer se debuut, slapende honde (2008), word opgevolg met grond/Santekraam (2011) en Hammie (2016). Haar gedigte is in Nederlands en Italiaans vertaal. 'n Keur uit haar werk verskyn in Frans.

Die titel aktiveer Roman Polanski se briljante film: Chinatown van 1974 wat bloedskande en geweld ondersoek met Faye Dunaway en John Huston. Met Jack Nicholson en Polanski in ‘n kameerol.

‘n Neus word oopgevlek in hierdie dramatiese film oor waterbedrog en moord met die bekende woorde:

Forget it, Jake. It's Chinatown …

Die titel aktiveer dus 'n donker ondergrond. Sy doen met hierdie gegewe wat Quentin Tarantino doen met Polanski en Sharon Tate in Once upon a time in Hollywood ( 2019). Bekende gegewens is net die stellasie waarteen eie ervarings en interpretasies geplaas word.

Kamfer ondersoek die bestaan van die bruin mens en al die ellendes wat dit inhou. Die debuut bevat uitsonderlike hou-in-die-maag-gedigte soos “’n gewone blou Maandagoggend” waar pyn beleef word. Die moeder se weerlose, uitsiglose bestaan is in Hammie onder die loep geneem met sterk, ironiese verse oor die verskille tussen ‘n wit en bruin kind se bestaan.

In die jongste bundel vind ‘n mens ‘n sterker fokus op die vaderfiguur soos in “Chinatown daddy”:

my pa is soos ‘n Roman Polanski
omring met ou mans wat jong bloed ruik
draai ek om en vra et tu Dad?
sy favourite plek om na toe te gaan is Chinatown
want hy relate met die fake wealth die shiny kak
wat jou oë brand en die reuk van uselessness
(11)

Die digter se verse sluit sterk aan by die parlando-tradisie. Dit is hardegat-verse waarin sy sonder skroom haar argwaan jeens wit mense bely. Die praattaal en Kaaps is opvallend nes die gebruik van die vuige woord. Soos in die debuut staan sy-waar-sy-staan.

Die jongste bundel is vol gelaaide ironieë soos “my poems is nie confessions nie” (50) waarin sy duidelik te kenne gee dat sy krities is oor Sylvia Plath se lotgevalle:

ek voel fokkol vir ‘n wit vrou wat mooi gedigte
geskryf het in 1960s America

(Terloops: Plath was – soos Kamfer – vasgevang in ‘n vaderkompleks. Hierom haar voortydige selfdood, maar skitterende verse wat vele vrouedigters die loef afsteek – ook Kamfer, vir die rekord.)

En skryf sy verder dat haar literêre heroes wen nie Generaal Hertzog-pryse nie; tog bedank sy Antjie Krog in haar nawoord? Haar ouma, lees ons, het haar geleer om sorry te vra; nie sorry te sê nie (57).

Miskien wil sy juis nie hê dat die spreker in die gedig net aan haar gelyk gestel moet word nie? Of het die wrewel te make dat sy bekroon en besing word deur wittes – soos Annemarié van Niekerk – en ‘n wit uitgewershuis se uitvoerproduk is en aan feeste in die Nederland deelneem?

Of wil sy hiermee ‘n standpunt inneem dat sy steeds soos ‘n Bart Nel nog altyd sy sal bly?

Kreatiwiteit word gevoed deur paradokse, dié weet ons. Hierom moet die leser onwillig die kritiese kanttekeninge wegskuif en fokus op die gedigte. En dit is goed. Verpak met dinamiet en onrus.

ek soek nie ‘n plek langs die tafel nie

ek soek nie ‘n plek
langs ‘n women’s enfranchisement act table wat
in 1930 geset is vir white women only nie
hou julle tafel
ons maak vuur buitekant
(28)

Die gewone Kamfer-aanslag is hier: woede, woede en nog meer woede; verwysings na ander digters en ook mob-films; die durende pyn van die neerdrukkende jeug; haat teenoor witmense; die kompromislose aanslag oor afwesige vaders.

Kyk watter boeke word weggesmyt.

Die verse ondersoek die inbeweeg in die ongeneeslike wond. ‘n Handvol goeie verse, maar die gevaar van herhaling van dieselfde temas begin nou opval. Maar terselfdertyd: die meeste digters ontgin dieselfde kwessies en keer terug na die psigiese scene of the crime.

Wanneer sy nie haar anger uitstal nie, maar werklike pyn weergee, tref dit:

terrorist attack

in ‘n hotelkamer in Istanbul
gooi ‘n man my op
die vloer
druk my gesig in die mat

en verkrag my

buite op Taksim
gaan ‘n bom af
ek bel my ma
en vertel haar net
van die een aanval

die een wat sy op CNN
kan volg
(26)

Voor die uitgewer se deur: Dostoyefsky moet lees Dostojefski; en die verkeerde gebruik van wie in plaas van wat (p. 45). Wie = Genitief.

'n Mens word bedruk deur die ellende van die bestaan wat verbeeld word. Selfmoord, verkragting en haar kind wat geleer word van die ABC van white supremacy.

safe word

soms kyk ek
in die spieël
dan sien ek myself
daar waar ek vir dood
agtergelaat is
(34)

Hierdie vers is veral vir Ronelda Kamfer-bewonderaars en die Nederlandse applouskomitee.
Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)