Sunday, September 15, 2019

Resensie | Nadia de Kock - Die wolkversamelaars (2019)

Nadia de Kock - Die wolkversamelaars. Kwela, 2019. ISBN 9780795709036

Resensent: Joan Hambdige

Die laaste wens van 'n jare lange vriendin stuur Talla na die Glencoe-vallei in Skotland. Sy neem digbundels saam, asook haar wolkboekie om haar stokperdjie voort te sit – die soeke na seldsame wolke. Sy gaan by Munro's tuis, 'n onopgesmukte herberg gewild onder bergklimmers, en hoop om stories oor tradisionele tartanwewerye hier te vind. Sy ontmoet hier die eienaardige rondloper Mikey en die ontmoeting neem haar terug na haar verhouding met haar voormalige geliefde Astian.  

So word die roman bemark.

By die lees van hierdie hoogs leesbare roman het ek weer geluister na John O’Donohue se oudio-DVD, Anam Cara, wat handel oor die wysheid van die Keltiese wêreld. Hierdie Ierse filosoof en digter se werk verskaf vele sleutels vir die begryp van De Kock se roman wat handel oor die sogenaamde “dun plekke”.

Die roman begin met hierdie woorde:
Die ou Kelte – die Skotte en Iere – het geglo die hemel en aarde is slegs ‘n meter uitmekaar. Hulle het ook geglo daar is plekke waar dié afstand nóg kleiner is en het dit ‘dun plekke’ genoem.
Talla (Atalia) verloor haar paspoort, het min geld en word gekonfronteer met eienaardige en eksentrieke mense. Mikey is obsessioneel op soek na sy verlore Ierse meisie, en die koue landskap is bedreigend.

Haar gevoelens word vertolk deur aanhalings uit Breytenbach se gedigte en selfs Eybers se "elk langs sy yl weerkaatsing" uit "Busrit in die aand" word 'n kode vir hierdie roman. Die Ierse digter W.B. Yeats rig eweneens haar lewenswyse in die vreemde. En uiteraard ook Robert Burns.

Karakters wat sy ontmoet, verraai iets van haar innerlike landskap. Die leser kry insae in haar seksuele verhoudings. Astian, haar minnaar met wie sy die langste vertoef het, woon hier in Skotland. Deur hom, ontdek sy 'n donker geheim uit haar verlede.

Die vriendin wie se as gestrooi moet word, aktiveer ander herinneringe en mense wat haar lewe verander het. Hierdie oorledene het die reis moontlik gemaak wat verpak word met geheime oor haar self en die dood van Caitlin en hoe dit Mikey en Ailsa se lewens raak. (Hier wil ek nie 'n spoiler gee nie.) In die vreemde word daar oorleef in 'n ysige en bedreigende landskap. Vasvra-aande gee eweneens sleutels vir die oopmaak van die roman. (Soos waar is die City of Towers?) Die IRA, selfdood en ander ellendes is hier soos 'n Loch Ness-monster.

Die roman aktiveer ook Karel Schoeman se 'n Lug vol helder wolke en die leser word op subtiele wyses voorgestel aan wolke en die betekenis hiervan vir die fokalisator. Sy droom dikwels dat sy van trappe afval en dit word verbind aan Breytenbach se siening dat die self 'n solder is met 'n trap waarvan die sporte weggevrot het ...  ('n Kode vir wat in haar verlede gebeur het.)

Hierdie roman moet bepaald saamgelees word met Brave (2012), 'n animasiefilm wat die oerkragte van Skotland oopmaak en verduidelik. Hier gaan dit om die will-o'-the-wisp of die ignus fatuus, daardie spooklig wat die reisiger laat verdwaal in die moeras.

Die roman ondersoek eweneens terrorisme (kyk na die outeursnota oor die Warrington-bomplanters) en seksuele misdrywe.

Hierdie roman is 'n heerlike verrassing. Dit werk met ingebedde wyshede en is, by gebrek aan 'n beter woord, 'n spirituele roman wat die werklike reis met die innerlike reis verbind. Diegene wat al besoek afgelê het in hierdie besondere landskap sal weet dat Nadia de Kock die Ben Nevis, daardie ikoniese berg, en Loch Ness perfek teken.

Die skering en inslag van wewery, die verwysing na tartan, tatoeëring en tumbrels, is ander belangrike sleutels.

Ook wolke word helder geteken: cirrus, translucidus ... en Talla het 'n boekie waarin sy alles opteken. Cirrostratus, altocumulus, nimbostratus ...

En wolke wat uit yskristalle bestaan.

'n Roman sonder opsmuksel wat bekoor om die diepgang wat onder die oppervlak skuil.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)