Sunday, December 23, 2018

Rubriek | Marilyn Monroe (1945 -1962)

I.
Nou onlangs lees ek weer Time Bends, Arthur Miller se outobiografie wat in 1972 verskyn het.

Sy verbintenis met Marilyn Monroe bly altyd 'n onderwerp vir nadenke. Die digter Johann de Lange het op sy blog Kaapse paragrawe die gesprek oor Monroe vir ons bestendig (Kaapse Paragrawe/ Marilyn Monroe/ met ‘n omweg kan bysake die aandag trek op hoofsakeBesoek 23 Desember 2018).

Verskeie feministe het gewys op die paradoks van hierdie seksgodin: mooi, uitlokkend; dog intellektueel en troebel. Van Gloria Steinem tot Jacqueline Rose.

Jacqueline Rose se lesing oor Marilyn Monroe kan hier beluister word. [1] 

Dan is daar uiteraard die pragboek van Norman Mailer wat heet: Marilyn: A Biography (1973). Ander bekende studies oor hierdie komplekse figuur is onder meer: Marilyn Monroe (Maurice Zolotow, 1960), Marilyn: an untold story (Norman Rosten, 1967) en Norma Jean: the life of Marilyn Monroe (Fred Lawrence Guiles, 1969) is.

Wat aktiveer sy nie alles nie. Skoonheid, broosheid, versaking, misverstand…

Die afgelope tyd het ek weer oor haar gedig en reeds gepubliseerde verse oor haar herbesoek. En een ongepubliseerde vers oor haar dood in my bundel waaraan ek nog werk: Astrak.


II.

Marilyn Monroe en Arthur Miller

vir JdL

Vir $43,750 verkoop
die liefdesbriewe 
van Arthur en Marilyn
op 'n veiling in 2014.

Wat in hierdie briewe
staan, is reeds opgevang
in The Crucible: John Proctor 
teenoor Abigail Williams.

"Wat maak jou so
hartseer?", vra Clark Gable
met 'n cowboy-hoed 
in The Misfits aan Marilyn.

Hierdie dialoog geskryf
deur Arthur Miller (en
met Paula Strasberg as
die drama-afrigter)

behoort aan die werklik-
heid met die eerste
ontmoeting:" “I think you’re 
the saddest girl I ever met.”

Onvanpas glo, dié verbintenis
tussen die intellektueel
en Hollywood se megaster 
oor wie ons kloekmoedig bly dig.

In een so 'n liefdesbrief
wat ek ter wille van dié gedig
opmaak – die waarheid gelieg
skryf hy aan haar aarselend:

“Die hipnose van jou lyf
aan almal bekend. Die skiet-
afstand van die kamera beheer
en manipuleer jy. Maar dis

die slenkdal van jou jeug
en ewige soeke na hom,
die verdwynende vader,
wat alles sal verbroddel.”


Tinseltown Royalty

Die liefdesnes van Marilyn
en Joe DiMaggio op 2393 Castilian
in die mark vir $2.695 miljoen.

Dit was toe bloot net gehuur
teen $237 volgens 'n tjek
geteken deur háár in 1953.

Vir nege maande lank glo
hier vertoef in die Outpost 
Estates op Hollywood Hills.

Met méér badkamers as
slaapkamers, luuks was dit
glo en is dit steeds vir kopers

van 'n glanspaarlewe, 'n aanwins;
met hóm wat rose bly stuur het
na haar graf in LA tot in 1999.

Oor die huurgeld vir dié rusplek,
word helaas geswyg soos die graf.

2018


III. Ekfrastiese verse oor haar

Monroe: foto in rou

Beskeie waag ek
vanaand 'n gedig
oor jou Nee eintlik vir jou

ek wou begin:
die argetipiese seksgodin
wat ander voor en na
leepoog weg laat kyk

besluit: té dramaties
gewigtig lomp
ensovoort

my onvermoë word nou
net 'n oomblik lank
opgehef

wanneer ek met 'n skok
Bert Stern se L.A.-foto
sien

dat toeval hier net toevallig
was, glo ek nie
Marilyn Monroe in rou!

net die skouers wys effe
lyf (verder niks)
soos ons gewoond was

jou kop skalks weg áfgedraai
jou hand voor jou mond
asof jy stil waarsku: ek word nie meer gebruik

jou linkeroog bot toe
selfs die wimpers glimmend swart
dan: die immer wit gebleikte hare

O altyd witter ja witter as sneeu
begin swart uitskif
in jou sagte swanenek
hiervolgens moes jy wel weet
(kyk selfs die moesie wit)
of was jy reeds tot-die-einde-toe
moeg?
die dood is net 'n droom


(Uit: Hartskrif,1985)


Just Marilyn (1926 – 1962)
Vir T.T.C. , a poet’s poet en al die napraters

Jy is net Marilyn,
Marilyn Monroe
’n naakte lyf, oop en bloot,
sowel wondnaat as wond.
Jy soek jou vader soos alle weeskinders,
ja, in die naam van die vader,
verheug toe jy uitvind
daar was wél ’n vader,
jy had ’n naam.
Maar jy het verskeie name,
Norma Jean Mortenson,
Norma Jean Baker,
toe word jy Marilyn Monroe,
’n lusobjek, ’n fantasie,
op almal se lippe,
femme fatale,
MM: The Prince and the Showgirl.
Ons kyk na jou,
uitgestal op blou en rooi.
Jy terg jou kyker, speel met jou hare,
Jou borste verraai vir die ingeligte
’n aborsie, miskien ’n afgetekende kind?
Jou dye het soveel ontvang, selfs ’n dramaturg
het hoog opgegee dat jy méér was as blote genot;
iewers staan dit opgeteken: jy lees Dostojefski.
Die Gebroeders Karamazof word die Kennedys.
Húl bloedige eindes sou jy na-aap, die here-weet,
niemand sou kon weet hoé die lewe venyniger 
in jou skoot tot stilstand kom soos ’n Zapruder.
Jy is immers Anna Freud se beroemdste pasiënt.
In swart word jou binneste uitgeryg, uitgespeel
(There’s no business like show business)
nes ’n akteur wat speel asof dood of ’n regisseur verveeld
met die teks van ’n aspirant of wanna-be Tennessee W.
In die naam van Hollywood, Spiritus Sancti,
word jy die spel, futiel, want dood 
het soveel name, weet jy: sterf, vertrek, word lyk. 
Jy dans met Truman Capote met ’n cowboy-hoed.
Wat sou jy maak van In Cold Blood?
Selfs in jou grande finale (waaroor almal steeds bespiegel)
was dit ’n oordosis of  jou minnaar in Dallas, Texas
in ’n kavalkade met Jackie (neffens hom) gefusilleer,
se uithaalplan? Vanaand kyk ek weer na jou:
binne word buite, ’n tergende raaisel. Of buite
dalk eerder binne? ’n Drama vir Arthur Miller?
Oordosis of moord, jy bly op almal se lippe,
verdroomde droom, gemaakte Objek, buite bereik:
eenmaal, eenkeer was jy nét mens: Just Marilyn,
Norma Jean. Dalk die verkeerde foto gekies
vir my digterlike snapshot. In Nomine Patris
Wie weet? Norma Jean, glansend geyk
et Filii et Spiritus Sancti. Amen.
  
(Uit: Meditasies, 2014)


Marilyn Monroe: stil lewe in wit

Weggedraai van die kamera
die foto van 'n lyk
met merke, yke 
op die rug uitgekerf 
bly sy slaap daardie slaap
van die rusteloses
ingebed en ingelê. 
Oordosis of moord?
Die mes van die lykskouer
die hand van elke digter 
(en speurende leser)
soekend na antwoorde
of uitsluitsel
in gedig na gedig:
ontleders, agoniste,
poësie-paparazzi,
en ander oopvlekkers
staan langs dié bed
nes die priester,
afwesig en gebedloos,
aan die leuens toedruk
op die imperium se bevel.
Pyn het geen protokol,
dis 'n ongenooide gas,
waarop haar rug
kilbloedig iets
soos 'n sug 
van ontvlugting slaak.
'n Bottel slaappille
langs die skrynende
instrumente wat
moes oopmaak
en nooit weer
heelhuids
sou kon toekry
nie, nooit weer nie.
'n Onopgeloste saak
met digtende jurielede
terugkerend, soekend 
na haar én die oerakkoord:
lewe onverbiddeliker 
as dié konserf.


IV. En uit Meditasies


Keerweer

Op die hoek van Dunbarton 
en Wisconsin, Washington
verloor ek ‘n gedig oor Chicago. 
Daardie gedig, dit weet ek,
sal my agtervolg soos ‘n slegte gewete
of ‘n droom van iemand, iewers op ‘n hoë gebou
wat val en woordeloos roep om hulp.
Dit sal terugkeer (soos Eliot waarsku)
in ‘n ander vorm, langs ‘n ander roete,
kopsku die opwagting maak: “Hier’s ek.”
Dalk het daardie vers
beland op ‘n ander busroete
of dalk gaan asiel soek by die Ambassade?
Of vermoeid en rooi-oog
‘n naam op die waglys geplaas:
“Ek was in Chicago,
‘n bootvaart meegemaak,
bewonderend gestaar na Mies van der Rohe 
se tuimelende geboue,
die koue waters voel rinkel
soos ys in ‘n glas, verby die Chicago Tribune,
die speakeasies,
van die boot afgeklim,
na links gestaar na ‘n standbeeld
van Marilyn Monroe in haar bekende pose,
my glas gelig op Chicago:
“my kind of town”.

[1]. LRB Lecture Jacqueline Rose on Marilyn Monroe by British Museum | Free Listening on SoundCloudBesoek 23 Desember 2018.