Tuesday, December 18, 2018

Repliek | Jean Meiring oor 'Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey' (2018)

By die lees van Jean Meiring se repliek, lees ek Charl-Pierre Naudé se Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey en ook resensies oor hierdie roman. Nêrens vermeld Meiring dat dit ’n metaroman is nie en hy gee los verwysings na ander tekste. 

Dit het my eerder terug geneem na Patricia Waugh se Metafiction (2002), Linda Hutcheon se Irony's Edge (Routledge, 1994) en Brian McHale se Postmodernist Fiction (Methuen, 1987) wat toelig hoé die fiksionele wêreld hierdie ontologiese problematiek aanspreek. Die sogenaamde world next door.

Maar hieroor iets later, oor die boek wat hom laat “prewel en kraai” het. Dit is inderdaad ’n uitstekende roman met “luimige slampampery” wat  mens laat wonder of hy weet wat die woord beteken? Uitasem sjoeboekie? Wat vir ’n ding is dit? (Deksels lekker dik debuut! | Netwerk24. Besoek 17 Desember 2018).

Ons verneem Jean Meiring het ’n Honneurs in Latyn. Wel, ek ’n diploma behaal met ’n kookkursus in Thailand – dit maak egter nog lank nie van my ’n sjef nie.

Ek gaan ook nie sommer ’n pop up restaurant begin nie. 

Ek antwoord puntsgewys. (Daar is tweekeer ’n nommer 4 in sy skrywe.)

1. Is jy ’n advokaat of letterkundige? Of sommer beide? Of is hierdie ’n mini-hofsaak?

2. Jou foto subliminaal? Wel, jy is ’n advokaat, nie waar nie?

3. As jy uit die reaksie álle toekomstige resensies as oningelig wil afmaak, kan ek nie help nie. Jy het jou uitgelaat oor Olga Kirsch en die studies eers na die tyd gaan lees. (Ons wag terloops nog steeds op ’n verduideliking vir die beskrywing van jou sekretaresse.)

4. Crito is aangehaal: 

Crito het hom reeds hierop gewys: “Wanneer, indien ooit, is toeëiening toelaatbaar en wanneer kom die gebruik van die kultuurgoedere van ’n stilgemaakte volk net op verdere verdelging neer? Ongetwyfeld sal ’n debat hieroor van stapel gaan.” (Tweevuis. Litnet Blogs. Besoek 24 November 2018).

Daar is die aanhalingstekens. Lewensgroot. En almal weet Crito het dit indertyd geskryf . Nou verwys hy na Helize van Vuuren se studie - ’n akademiese een weer eens (Woorde wat Weeg/ Polemies | Jeremiade van ’n buiteleser - RepliekBesoek 17 Desember 2018).

4. Tweede 4

Jean Meiring se styl vind ek narcisties. Jy skryf duidelik om met slim woordpeletjies af te show.

5. Nêrens jou “bot” genoem nie. Jy lê hier woorde in my mond.

Kirsch se eerste vormingstaal was Afrikaans. Gaan lees die gedigte. 

Moedertaal-teoretici beklemtoon by herhaling dat die vormingsjare is die eerste taal en die taal wat in die laerskooljare gepraat is. 

Sy was op ’n Engelse hoërskool en het aan Wits Afrikaans studeer - waarskynlik’n soort verlange na die jeug? Gaan kyk tog wie was haar mentor.

6. Ek herhaal – ek hoef nie my bladsynommers aan jou te vermeld nie. Dis jou werk as resensent. Ons kan nie toelaat dat mense net menings vorm op grond van resensies nie. Die boeke moet eerstens gelees word.

7. Ek sien my as die plaaslike Chomsky? Wat ’n kompliment. Nêrens myself so tipeer nie en jare gelede is ek die Susan Sontag van Afrikaans genoem. Iemand anders het dit geskryf, nie ek nie.

8. Die punt oor simplistiese antwoorde is duidelik in Julia Kristeva en ander begrond. Daar kan nooit oor enige mens se lewe maklike antwoorde wees nie.

Hierom bestaan daar verskillende biografieë oor skrywers.

Hora est.

Hier is dit weer die advokaat wat praat!

9. Die feit dat jy sedert 2002 oor die media skryf is ’n obiter dictum. Ek skryf al sedert 1980 vir die pers resensies en rubrieke.

So?

10. Ek wonder hoé sal Jean Meiring reageer as ’n persoon sonder genoegsame regsopleiding in regstydskrifte begin skryf en oordeel.

Want hy skryf nie net resensies as ’n entoesiastiese leser nie; hy kanoniseer ook sommer op die koop toe. En as hy hierdie opmerking as ’n argumentum ad hominemervaar, het ek nie raad nie.

Om te bulder of nie te bulder nie, dit is nou skynbaar die vraag.

Dankie vir ’n leersame polemiek. Wat veel verraai van projeksie.


© Joan Hambidge