Sunday, November 4, 2018

Polemies | Skoenmaker: Die ontologie van oningeligtheid en beterweterigheid (2018)

I

’n Buiteblik op die letterkunde is dikwels interessant soos afgetrede regters en advokate (o.a. Regter Kriegler) as resensente heel dikwels bewys. Kriegler het ’n briljante analise van Ton Vosloo se outobiografie geskryf. [1.]

Dit is egter so dat ’n literator se mening oor ’n regsproses dikwels ook net ’n allemans-mening is.  Waarom wonder ’n mens, dink almal dat resensies deur Jan en Alleman sonder letterkundige opleiding geskryf kan word? Is dit omdat mense meen taal behoort aan almal?

My vriende in die regswêreld sug diep wanneer joernaliste of leke nie regsprosedures begryp nie en dink iemand is skuldig, omdat hy so lyk. Of op grond van koerant-bespiegelinge eksperts word.

In sy bespreking van Egonne Roth se biografie oor Olga Kirsch (“Kirsch-geheime bly verhul”, Rapport 28 deser) meen Jean Meiring dat ons nie weet hoekom Kirsch in Afrikaans gedig het, terwyl sy Engels skoolgegaan het.

Hy kritiseer ook die “psigo-Babel van naweldeurprieming” waarin ’n biografie kan ontaard. Hiermee bewys hy dat hy nie bekend is met Thomas Minnaar se doktorale studie ’n Herwaardering van Olga Kirsch se oeuvre: Identiteit, moederskap en ballingskap aan die hand van die psigoanalitiese teorieë van onder andere Sigmund Freud, Jacques Lacan en Julia Kristeva (UCT, 2012).

Dis uiteraard ook duidelik dat hy nie The silent woman (Vintage, 1995) van Janet Malcolm oor Sylvia Plath verreken het nie of veral die taalteorieë van Julia Kristeva nie. Gaan lees maar Desire in language (Columbia University Press, 1982) oor moedertaal.

Sowel Minnaar as Roth wys op die ingewikkelde verhouding met die moeder en die komplekse verhouding met die vader. Dalk keer sy altyd terug in haar gedagtes en gedigte na haar jeug waar hulle outsiders was in die Vrystaat. Die ervaring van “andersheid” as Jode en die soeke na die aanvaarding in gedigte; hierom dat sy as volwassene die jeugdorp alleen wou besoek, sonder die trompetgeskal van die dorpsraad.

My lewe sal gesplete bly:
Groen stamme, as die byl hul kap
kerndiep, sal nooit weer heelheid kry.
Maar aan die staallem klewe sap.

(Uit: Geil gebied, 1976)

Literatore sal anders kyk na Roth se biografie (Naledi) as ’n buite-leser.

’n Komplekse boek soos Roth se studie verdien ’n deegliker besinning.

II

Daar is niks wat ‘n resensent meer vreugde verskaf as wanneer lesers reageer op resensies nie. ‘n Mens voel dikwels asof jy die spreekwoordelike roosblaar in die Grand Canyon afgooi of luister na die geklap van die een hand.

Oma Prinsloo in 25 deser kritiseer my opmerking oor Saul Bellow as die “onbesonge meester” (“Dankie vir dié resensie, maar …”). Ek is absoluut bewus van al die bekronings wat Bellow ingeoes het en lees hom sedert 1976. Elke jaar herbesoek ek Humboldt’s Gift, sy meesterlike omdigting van Delmore Schwartz se lewe (“In Dreams begin reponsibilities” heet Schwartz se 1938-kortverhaal).

Met onbesonge het ek egter bedoel binne die Afrikaanse letterkunde, maar as woorde soos goed, uitstekend, ensomeer kwistig rondgestrooi word wanneer ‘n mens die boek lees, is jy minder geïmponeer, omdat jy besef resensente se verwysingsraamwerke is beperk. As hulle meesters soos Bellow, DeLillo of Perec sou ken, sou hierdie lesers minder opgewonde wees oor ‘n roman.

So gelees, is Bellow wel onbesonge.

Met onlangse besoeke aan die VSA ook gevoel, dalk al vergete?

Die implisiete gesprek met Etienne Leroux moet nog deegliker besoek word en ook Moby Dick (1851) soos Oma Prinsloo uitwys.

’n Oma weet ons ook beteken ’n karsinoom of ’n abnormale groeisel.

Joan Hambidge

Endnoot:
[1.] Hierdie nota het op versoek van Media24 verskyn:

Oor Grense'n lewe in die media in 'n tyd van verandering (Jonathan Ball) van Ton Vosloo is ’n memoir. En hierdie soort teks se sinonieme is outobiografie, lewensverhaal, herinneringsteks, joernaal, reminissie, o.a. verklap sy aard. Dit is ’n sogenaamde “naked I” wat besig is met ’n bestekopname van hoé hy sy lewe onthou en die besondere openbare figuur geword het.

Uiteraard moet ’n mens dan alles deur hierdie optekenaar se bril beskou. Die waarde van so ’n teks is dat dit ’n stuk geskiedenis weergee. Dikwels sterf mense en ’n hele stuk institusionele geskiedenis verdwyn saam met hulle soos die museum in Rio de Janeiro wat afbrand. Artefakte in ’n memoir is daardie oomblikke of oorgange wat mense wat nie oor binnekennis beskik nie inlig oor hoe dinge gebeur het. Hoe het Koos Bekker op die toneel gekom? Hoe het Naspers so ’n magtige maatskappy geword? Wat is (en was) die rol van politieke figure – soos P.W. Botha en Pik Botha – in hierdie tye? Het Naspers nog ’n siel? Was I.L. de Villiers gewoon stroomop?

Agternakennis is ’n eksakte wetenskap, waarsku Vosloo. ’n Man wat swaar groot geword het, maar met ’n enorme dryfkrag hom gevestig het tot die magtige figuur wat hy geword het. Hy gee erkenning aan raadgewers – soos o.a. Elize Botha en Fran du Plessis – en wys die kanselierspos aan die Universiteit van Stellenbosch van die hand. Hy ken sy beperkinge en hierdie posisie sou hom ontoereikend laat voel het.

Hy fokus veral op kwessies buite hom. Persoonlike sake, soos die geboorte van ’n kind wat verswyg word, ofskoon hy pynlik-eerlik skryf oor die dood van ’n broer. 

Hy vra byvoorbeeld: Was die uitbou van Naspers, met die eerste wig die skepping van M-Net,’nwyse besluit?

Hy antwoord: Ná die algemene verkiesing van 1994 het die rol van die ou, regerende
Nasionale Party en die verbintenis tussen die Party en die Pers in Suid-Afrika tot ’n einde gekom (35).

En hiermee verduidelik hy hoe alles verander het. Naspers is ’nreus inderdaad, maar hy waarsku dat ’nmens nederig moet bly; die ekonomie is immer wispelturig. (Het ons nie gesien wat met Steinhoff gebeur het nie?)

Eerder die josefsbeleid as uitspattigheid, is sy motto.

In hierdie geskiedenis van Naspers word vertel van die verskille tussen Vosloo en Bekker. Bekker se gevoel was dat hierdie boek van Lizette Rabe nie moes verskyn nie. “As hulle oor die maatskappy se verlede moes lees, sou dit die aandag van die ANC-regering op die maatskappy vestig en kon dit sy gereguleerde besighede, soos DStv en digitale uitbreidings, in die gedrang bring” (68). Dat dit waarskynlik ’n oorreaksie was, is nou duidelik.

Die woeste stryde en politieke gevegte word goed weergegee: So het dit daaraan toegegaan in dié tye, merk Vosloo ironies op. Daar is Broedertwiste, ’n humeurige PW, dreigemente van sensuur teen grensoorskrydende skrywers, jong joernaliste wat hulle by die WVK uitspreek teen die ou regering en hul base. Maar Ton vergewe en bring almal weer bymekaar.

Van Joyce Waring tot die Inligtingskandaal en Perskor se knoeiery is hier te lese. St. Nelson tot Mandela word ondersoek. Ook oor die toekoms van Afrikaans skryf hy insigryk.

’n Groot storie kan hard slaan, dit begryp hy. Dit is ’n belangrike tydsdokument.

© Joan Hambidge