Saturday, September 8, 2018

Resensie | W.L. van der Merwe - Doodmenslik (2018)

Doodmenslik - W.L. van der Merwe. Protea, 2018. ISBN 978 1 4853 0895 9

Resensent: Joan Hambidge

I

Doodmenslik is die solo-debuut van Willie van der Merwe wat in Nuwe stemme 3 gedebuteer het. Van sy verse is opgeneem in Groot Verseboek (2008).

Die buiteblad-ontwerp van Strijdom van der Merwe, “Rangskik groen takkies op verlepte blare” (Terschelling, Nederland, 2008), wil dalk suggereer dat lewe spruit uit verrotting? Dat daar na die vermolmde blare tog weer lewe kan wees; al is dit net in 'n kunswerk?

Kom ons val sommer met die deur in die huis. Dit is 'n ongelooflike debuut. Dit tref in die solar plexus. Ontnugtering oor godsdiens, politiek, afleggings (die verlede en van geliefdes) en genderpolitiek, word in sterk, sober verse beskryf.

Die programvers is die bekende gedig (“voortaan sal ek winterskemers vleilangs loop...”) wat Laurinda Hofmeyr, daardie musikale wonderkind, so treffend getoonset het.  

Die digter is 'n teoloog en doseer godsdiensfilosofie aan die Vrije Universiteit van Amsterdam. Hierdie biografiese besonderheid is belangrik as sleutel vir die begryp van die religieuse verse wat sowel ontnugterend as skokkend is (altans vir hierdie leser). God word aangespreek en verwyt oor sy stilte en afwesigheid tydens Auschwitz. In hierdie verband praat hy direk met God in “reisadvies vir God” (48).

Dit is 'n bundel van die melancholie.  Daar is voortdurend 'n soeke na antwoorde; selfs 'n “helpdesk” by die universiteit kan nie help nie.

Stilte ...

Hierdie soeke word telkens gefnuik.

II

'n Gedig word in Nederlands en Afrikaans langs mekaar geplaas; waarskynlik om die dubbelbestaan van 'n hier teenoor die verlede te plaas. Daar is 'n parodie van A.G. Visser. Die digter skryf vormvaste verse. Van Wyk Louw word aangespreek in “naspel 2006” (17). Nou word die wingerd gevloek en die onreinheid van menswees beken.

Die digter eksperimenteer met vorme (soos die villanelle), en Celan se bekende “Todesfuge” (44) (wat al etlike vertalings, bv. deur Helize van Vuuren, en herdigtings in Afrikaans beleef het), word so herskryf:

Fuga in swart
na “Todesfuge”, Paul Celan

swart melk drink ons elke dag
verstik in die beker van mond tot mond
grou die dooier van die maan elke nag

soggens verskril die son tot ʼn klag
roet en as grys neer na die grond
swart melk drink ons elke dag

die dag skrikkel tot laat in die middag
ʼn brandsiek hond wat lek aan sy wond
grou die dooier van die maan elke nag

vergete die klank van kinders wat lag
die gestrikte haarlokke bruin en blond
swart melk drink ons elke dag

hoe lank moet ons nog wag?
het Hy vergeet van ons verbond?
swart melk drink ons elke dag
dood die dooier van die maan elke nag

Die bundel bevat ook besinnings oor die digterskap soos onder meer in “die laaste gedig” (9):

die laaste gedig

professore, doktore, kokkedore en ander koolore
die titel van my gedenklesing vanaand is:
“Die laaste gedig”

Ter inleiding: die laaste gedig is nog nie geskryf nie
Premis 1: die laaste gedig sal lig werp op wat onsegbaar is
en dit daarby laat
Premis 2: dit sal ʼn gedig wees sonder woorde en metafore,
beeldspraak, metrum of rym, sonder sintaksis
of lettergrepe
Konklusie: ʼn gedig sonder taal, ʼn gedig in wit
strepe op papier sonder verband of betekenis
net ʼn leesteken hier en daar wat sinjaleer:
hier is die graal van stilte in git

III

Daar is selfspot oor hoe die digter lyk as middeljarige, en hetero-erotiek word onbevange beskryf, onder meer in “peepshow in Amsterdam” (35).

In “pirates of the Caribbean, Amsterdam” (33) word die pornografiese verbeelding (via Susan Sontag) ontmasker.

Hierdie verse sal waarskynlik politiek-korrektes en sekere feministe ontstig; hierdie leser meen dis sterk, eerlike verse.

Goeie poësie is selde polities-korrek.

IV

Die aangrypendste gedigte is sy lykdigte oor sy vrou en moeder.  En die gesprek met die vader na sy dood. 

Geen mens gaan net dood nie; veral nie as hulle verewig word in lykdigte nie. (Die bundel word opgedra aan die digter se vrou, Lettie wat in 2017 oorlede is.)

Ons dans met die dood 'n pas de deux, maar hierdie dansmaat sal uiteindelik die kalklig steel. Die hier-en-nou, die oomblik is belangriker as die dogma. Hierin lê die troos en hoop (90):

Troos en hoop

jou oë is so groenig-grys
soos dennebos en tortelduif

jou hare is so bruin-verby
soos koffieboon, barlinkadruif

jou hande so deurskynend-sag
soos spinnerak of nartjieskyf

jy’s woud en waterval
brood en hanepoot
maar bowenal
in lewe en in sterwe
my laaste troos en hoop

maar dan met plaasbotter
en stroop

V

Toevallig meld Johan Myburg se Kontrafak (Human & Rousseau, 1994) hom weer aan in 'n doseerverpligting.

Hoe hierdie twee verse oor die dood praat, is opvallend: verskillend en soms ooreenstemmend.

Beide digters spreek religieuse kwessies aan. By Van der Merwe is dit sinies, selfs woedend. Beide digters worstel met metafisiese kwessies. Myburg het tereg sopas die ATKV-veertjie ontvang vir Uittogboek wat die slotvers “Kodosil” (75) verder neem.

In “Grammatika” (36) vra Myburg;

Kan krappies op papier
die lading dra as kode
vir kontak met die gode?

In “optelsom” (51) antwoord Van der Merwe:

Jesus min my
tel my op
maal my, deel my
tot ek klop

By Van der Merwe is daar vrye verse, 'n spel met die villanelle en ballade. Daar is ook 'n blik op Marlene Dumas en wyle Adriaan van Zyl. Metaverse en klein ars poeticas.

'n Bundel vir nadink en vele besinnings oor die digkuns.

Doodeerlik meen ek dis 'n belangrike debuut.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)