Sunday, November 12, 2017

Gedig | Joan Hambidge - Picasso: Guernica


Vir sommige kenners 'n innerlike konflik
van kleuterkind, vlugtend met sy ouers
in Malága tydens 'n aardbewing, aanskou
later die nag die geboorte van sy suster in 'n grot.
Dáárdie vlugtende perde met hoewe klappend
bly hom agtervolg, aldus Alice Miller, psigoanalis.

In die Museo Reina Sofia, Madrid vertel die gids
hoe die Baskiese stad om 16:30 26 April 1937,
só helder soos gister, vir twee ure lank gebombardeer
word deur Wolfram von Richthofen, glo Hitler
se regterhand en Francisco Franco se oorlogskontraktant,
om die anargiste en sosialiste in die bek te ruk.

Vir Pablo self, dui die perde op die mense van Guernica;
vir ander die bul of minotaur sý oerkrag, opgeteken
in my dagboek kort na ons stiergeveg, 'n ewebeeld

van so 'n iteratief-duratief: opstande van buite
resoneer met die geweld van binne, aldus
hierdie gedig, wat sonder hoewe onomatopeïes, ontspoor



© Joan Hambidge