Monday, October 30, 2017

Gedig | Joan Hambidge - Maria Callas (1923 - 1977)


A woman sings with her ovaries—you're only as good as your hormones.
Carol Neblett

La Divina,
temperamentis,
tessitura uniek;
die bybel van opera,
doop Leonard Bernstein
haar tereg.

Verewig
op 'n Griekse munt
uiteraard nadoods;
haar asse gestrooi
in die Egeïese see,
soos sy versoek.

Haar stem
onlosmaaklik
deel van haar lyf:
eers gewigtig,
dan afgeskaal;
uiteindelik, net-net tentatief.

Haar moeder, Evangelia,
te blameer glo
vir haar skuheid.
Sy sny haar los
van háár wat erkenning
en applous kleintyd terughou.

Die media en operahuise
word 'n temporêre vesting.
Nooit is dít genoeg;
telkens die terugtog
in herinnering
na die afwesige goedkeuring.

Giovanni Battista Meneghini
vergoed vir die vader onbestendig
en dan haar nemesis:
Onassis, betoweraar,
minnaar, woekeraar
tot Jacqueline Kennedy
op die toneel verskyn.

Haar lewe soos 'n opera:
liefde, verraad, skandaal
uitgespeel op die media-verhoog
waar almal kan hoon of klap
met haar terugkeer toe Ari,
'n glitz-bestaan, haar stem vunsig maak.

Die dénouement?
'n Gebreekte hart, 'n stem
wat skryn en skroei en stotter
tot 'n solo-bestaan
in die stad van lig en liefde,
ómhul met haar donkertes.

© Joan Hambidge