Tuesday, April 25, 2017

Michiel Heyns – I am Pandarus (2017)



Michiel Heyns – I am Pandarus. Jonathan Ball, 2017. ISBN: 9781868427758

Resensent: Joan Hambidge

Michiel Heyns is bekend as vertaler én as romanskrywer: The Children’s Day, The Reluctant Passenger, The Typewriter’s Tale, Bodies Politic, Lost Ground, Invisible Furies en A Sportful Malice. Hy is al bekroon met die Sunday Times Literary Award in 2012 en die Herman Charles Bosman-prys vir Engelse fiksie in 2015.

Hierdie leser is gaande oor Heyns se romans, omdat hy altyd 'n roman-probleem of literêr-politieke kwessie aanspreek. Dink maar aan sy The Typewriter’s Tale wat een van die mees aangrypende en oortuigende romans is oor die skrywer Henry James.

Hierdie roman begin in 'n kroeg en handel oor die figuur Pandarus, 'n karakter wat opduik in die tekste van Boccacio, Chaucer en Shakespeare, onder andere. In die OED verwys die woord pander ook na wellus. Pandarus self verwys na homself as 'n konstruk, 'n hibried. Is hy 'n blote slagoffer van die verskillende skrywers (wat van mekaar "gesteel" het), of is hy 'n semantiese ongeluk? Wat is dus sy essensie en wat is bloot toevallig? (p. 8-9). Heyns se roman bring die gesiene Shakespeare-kenner, Marjorie Garber se Vested Interests - Cross Dressing and Cultural Anxiety (1997) na vore. Mans in Shakespeare se tyd wat vrouerolle moes vertolk en die betekenis van die drag queen in ons tyd.

Die roman gebruik dieselfde tegnieke as wat Umberto Eco in Baudolino (2002) aangewend het. Dit speel af in die 12e eeu en Eco se roman gebruik Latyn en Middeleeuse Italiaans en ander tale. Eco het sowel werklike as fiksionele karakters in sy verhaal soos Gavagai ('n verwysing na die filosoof Quine se karakter), Deacon John, die heerser van Pndapetzim en etlike historiese figure soos Frederick Barbarossa, Pous Alexander III, Stephen Hagiochristophorites, e.a.

As semiotikus, in sy studie The role of the reader (1980), verwys Eco na beginsels soos narkotiseer of opblaas in die leesaksie. Op jou sogenaamde "inferential walks", lees jy die storie dus op twee vlakke: as werklikheid sowel as fantasie. Die jong Baudolino met sy  verstommende kennis van taal word na Parys gestuur om verder te studeer. Kruistogte én 'n spel tussen fiksie en werklikheid dryf die verhaal voort wat eweneens rondom die Gnostiek wentel. Politieke onrus en Keiser Frederick se pogings om die Noordelike Italië se onafhanklikheid te tem, word afgespeel teen 'n fantasie-wêreld en mites. Baudolino ontmoet eunugs en eenhorings op sy reis.

'n Soort speurverhaal dus, soos Die naam van die roos / Il nome della rosa (1980).

Wie is die modelleser vir Heyns se roman?

'n Leser wat die hervertelling raaksien van Troilus en Chriseyde tydens die Trojaanse oorlog. Pandarus word vermeld in die Iliad, en speel as karakter verskillende, toenemend groter rolle by Boccacio, Chaucer en uiteindelik Shakespeare se Troilus and Cressida. In sy nawoord beklemtoon Heyns dat lesers 'n outentieke representasie verwag. Uiteraard is 'n roman egter fiksie en kan die skrywer sekere aanpassings maak.

Heyns maak van die historiese gegewe 'n klassieke middeleeus-Elizabethaanse amalgaam (240), en as voormalige professor in Engelse letterkunde ken hy al die kodes. Nes Eco as Renaissance-kenner op sy beurt ingelig is oor hoe daardie kodes werk.

Heyns se roman word voorsien van 'n lys karakters (menslik, goddelik en dierlik!).

"No escape for anyone anywhere", is 'n motto uit Milan Kundera se The art of the novel (1988).

Die slot aktiveer 'n soort fantasie wanneer die verteller wegstap uit die kroeg. Dalk terug in die tyd?

Hoe die verskillende weergawes ooreenstem en verskil met Heyns wat hierop voortborduur, is tersaaklik. Chaucer se gedig (in rime royale/ rymende stanzas), met Calchas die waarsêer speel af tydens die Trojaanse oorlog, met Pandarus as tussenganger vir die bemindes, draer van liefdesbriewe en getuie van ‘n tragiese einde. Die dood is 'n verlossing uit die heidendom en besinning van Christelike waardes - vanuit die perspektief van die verteller. By Heyns word paganisme vervang met gay-liefde, en The Pander's Tale is gelaai met ironie.

Heyns se verteller in die roman (Book Three) lewer kommentaar op Hektor en gay-liefde in oorlogstyd (119). Dit word weer in die werklikheid geplaas met die agent wat ‘n moeilike skrywer moet hanteer wat voel sy boek kry nie genoeg publisiteit nie …

Ek het my verkneukel aan die beskrywings van  Kassandra, en die insigte oor die "halcyon period of love" (117 – 118) is skitterend.

Die boek lewer slim kommentaar op die sewe argetipiese intriges wat bestaan in die romankuns versus geluk / waarsêery. Die betekenis van die liefdesring in die Middeleeuse tradisie en moderne tyd word goed vasgeknoop. Nes die tersluikse verwysing na die tarot en die gelukswiel (132).

Die roman is uitstekend geskryf en lewer kommentaar nie net op die gesprek tussen literêre tekste nie, maar ook op die afwesigheid van die numineuse - en hoe mense mekaar nodig het in hierdie tye.

Hierdie leser het lanklaas 'n roman (‘n soort metaroman) se uitdagings so geniet. Dit is goed dat daar romanskrywers is wat hul lesers uitdaag soos Heyns.

My resensie is inderdaad ‘n eulogie (‘n panegyric) vir ‘n fyn stilis en uitmuntende storieverteller.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)