Die Namib ontmoet die Atlantiese oseaan
Douvoordag vertrek ek lughawe
toe vir my Namibiese reis.
My belangrikste bestemming is
die Namibwoestyn.
Op die lughawe is dit die gewone
wag, brekfis eet by die Mug & Bean. Ek gesels met ‘n jongeling wat as
sekuriteitsbeampte werk.
“Jy’s nes jou pa,” betig my
moeder my speels op die lughawe, ‘n paar jaar gelede. “Julle praat met almal.”
Dis maar hoe ek gebek is. Uit
die mond van gewone mense leer jy veel van die lewe. Soos die man op die
lughawe op Windhoek wat uitroep toe ek hom groet: “Gaan goed met my. Ek skinder
nie vandag oor myself nie.”
Of die gawe bestuurderes by die
lodge wat meen: “Onder elke dak, is daar ‘n Ag!”.
Gocheganas chalet
Of Kris my gids tussen Windhoek
en Gocheganas wat my vertel hoe Windhoek gemoderniseer is die afgelope paar
jare. Die bruin FNB-gebou is trots Afrika!
Of die pragtige jong kinders van
die Hoë Kommisaris uit Kenia wie se dogtertjie van twee-en-half, land en sand met
my gesels, ‘n sonbril op die kop.
Of die swart gids Werner (sy
Christen-naam) wat my vergesel deur die Namib-woestyn en saam stap oor die
duine.
Hierdie reisjoernaal sal met ‘n
begin-middel-einde werk. Maar soos met ‘n (post)modernistiese roman mag die
leser enige plek begin.
Die Begin
Hosea Kutako Internasionale lughawe, Windhoek
Windhoek se lughawe is klein en
beskeie.
‘n Mens beweeg flink deur die
paspoort-kontrole en niemand is stug hier nie. Jy kry jou tjap en daar gaan jy.
GocheGanas (Damara woord: plek
van die kameeldorings en akasias) is my eerste holte vir die voet. ‘n Luukse oord
met ‘n swembad, Wellness Centre en
dierepark. Die mense is vriendelik, behulpsaam en kan Afrikaans praat of
verstaan. Dis ongeveer ‘n uur se ry van die lughawe met ‘n Kombi-bussie. Die
vriendelike Kris is my bestuurder en elke keer wanneer hy net-net wil vetgee,
gaan ‘n alarm af.
“Sodat ons nie te vinnig ry nie
en ons gaste in gevaar stel nie!”
Die lug is helder. Die wolke vet
en dragtig. ‘n Mens dink onmiddellik aan Karel Schoeman se ‘n Lug vol helder wolke.
GocheGanas oord
Daar is vele bobbejaantjies
langs die pad. Die gras is groen, want dit het onlangs gereën. Die rivierlope
is egter steeds leeg. ( A warm Welcome to GocheGanas, Namibia, Windhoek. Besoek 26 Februarie 2017).
In my kamer is daar lys van
voëls en groter diere wat ‘n mens op ‘n uitstappie kan besoek. Ek besluit om
die tweede dag, om vyf nm, op so ‘n patrollie te gaan.
Elke chalet is na ‘n steen
vernoem. Ek bly in Cat’s Eye. Hoe simbolies.
In die Hill Top-restaurant is
die wynlys duur. Suid-Afrikaanse wyne se pryse word hier dubbel en dwars
gelaai. Die kos is heerlik. Wildsvleis of vis. Op Sondag 26 Februarie eet ek ‘n
egte Duitse kool en ertjie-sop as voorgereg. Dan die “game medallions” (glo
eland) en ‘n “Lemon and lime syllabub met mixed berries”.
Skielik bars daar ‘n reënbui uit
en ek is genoodsaak om in die warm binnenshuise swembad te gaan swem. Dit neem
my terug na die hotel in Dubrovnik, ‘n paar jaar terug, waar ek vir oulaas swem
voordat ek terugvlieg huistoe. (Woorde wat Weeg/ Reisjoernaal/ ‘n Sloweense en Kroasiese pelgrimstog (2014). Besoek 2 Maart 2017).
Alle spa’s by sulke hotelle is
dieselfde: ruik dieselfde, klink dieselfde ... met sulke geblikte Oosterse
musiek om ‘n mens te kalmeer. Maar ek voel Zen. Doen my borslag-oefeninge, trap
my trappe en maak gereed vir die 5 nm ekspedisie om diere te besigtig om die
lodge. Hier is glo ‘n renoster of twee te bespeur, maar geen olifante nie.
Oryx © Arno Meintjes
Ons word om vyf op ‘n Landrover
gelaai vol bot Duitsers en twee laggende Hollanders. Ons gids, ene John gee
lesings soos ons ry. Daar is die oryx (gemsbok), die nasionale bok van Namibië. ( Gemsbok - Wikipedia. Besoek 27 Februarie 2017).
Ek sit tussen twee Duitsers uit
München en hang soms oor om ‘n Springbokkie te kiek en ‘n waterbok of twee.
Hierdie bok sal jy nie kan eet nie, vertel John, want as sy olierige vel aan
die vleis raak, is dit kapoet! Hierom kry jy dit nooit te ete in restaurante
nie.
Ons is gelukkig en sien twee
renosters. ‘n Groot logge ou vader wandel met sy jongeling. Die ma is dragtig
en daarom moet die tweejarige ouboet met sy vader wandel. Sy moet nou haar
kragte spaar vir die nuweling en jaag hom nou weg.
Hulle bly vreet aan die gras,
terwyl ons hulle afneem en na beraming is dit daagliks glo 50 kg gras wat
verorber word.
In die droë tyd gee hulle die
diere kos. Hulle kry dan gras uit Suid-Afrika.
Hierna is dit kameelperde,
dansende volstruise, en vele klein jakkalsies. Ek sien ook ‘n grys vossie.
Nou bewonder ‘n mens die digter
Johann Lodewyk Marais al hoe meer vir sy uitgebreide digterlike opnames van die
natuur.
Vlakvark
“Ach so, ein Warzenschwein,”
roep die Duitser langs my uit. “Oh, und ein Streifengu.” Die Hollanders mor oor
die dierepark. Hulle het glo veel beter in die Etosha gesien.
Vir my is dit goed genoeg, ek is
nie ‘n natuurkenner nie en maak klikgeluidjies wanneer iemand vir my ‘n
verkyker aangee om ‘n eksotiese voël te sien.
Maar ek geniet tóg die
uitstappie van meer as twee-en-half ure. Die Duitsers is verbaas dat ek Duits
verstaan en kan terugpraat.
Die sonsondergang is rosig en
onbeskryflik mooi.
Ons hou piekniek in die veld en
elkeen kry ‘n gin & tonic.
Die aand is dit heerlike Duitse
sop en ‘n keuse tussen eland of vark. Ek kies laasgenoemde: sag en onder ‘n
bloukaassous wat smelt in die bek.
Ek e-pos die digter Kobus
Lombard en nooi hom vir ete. Hy is ongelukkig op pad na ‘n werksverpligting.
Ek lees weer van sy gedigte en
vind dié treffende vers wat tot my spreek, nou dat ek iets meer van die
landskap begryp:
Uitsoeklê
in die skoot van hierdie
dorsland
kan julle my neerlê en telkens
as die blare van ‘n geelhout
ritsel
of ‘n jakkals roep na sy maat
agter die kam van die verste
duin
sal ek knus my beendere omdraai
om verder te rus
(Uit: Tussen wysvinger en duim, Protea Boekhuis, 2005)
Daniel Hugo lees ook verse uit
sy bloemlesing Land van sonlig en van sterre (2004)
voor op RSG. Ek laai dit af van potgooi:
Hy wys tereg op die
oorweldigende lanskap. Hier is die natuur nog in beheer.
Hugo, George Weideman (met sy
staning onder sterre), Gustav Preller, Marié Blomerus (met die beskrywing van sterre
wat haar oorweldig), die Namibwoestyn word aan die woord gestel (in die oudste
gedig oor hierdie land wat gesels met “Die vlakte”, hier kan ek die naam hoor
nie), Piet van Rooyen, Abraham Fouché, Johann Lodewyk Marais (‘n nugter vers
oor die oorlog) en natuurlik: Wilma Stockenström se die briljante “Die eland”,
is hier te hore.
Hugo moes vele van die lang
historiese verse uitlaat, maar daar is darem een van Doc Immelman, pragtig
voorgelees deur Hugo.
Welwitschia mirabilis
Oor die worsteling met hierdie
natuur, skryf Blomerus aangrypend in “Welwitschia
mirabilis”:
...
‘n duisend jaar en meer
se worsteling met son en wind
het jou diep gewortel in hierdie
oer-aarde
in hierdie suisende stilte
het die groenspaan blare tot dun
repe verflerts
nogtans blom die geslagskeeltjies
rooi op stewige steeltjies
welwitschia mirabilis
jy’s ‘n gedig
in die oer-aarde se onaardse lig
(opgeneem in - as ek reg onthou
in Fosforblom in 1984. My biblioteek staan
tuis en die internet is onbetroubaar hier.)
Middel: Namib-woestyn
Vroegoggend brekfis en dan swem
in die swembad. Ek groet almal in die lodge. Gawe mense wat altyd hulpvaardig
is. Wanneer jy iets anders behoef as dit wat op die menu staan, maak hulle dit
vir jou.
Gisteraand was ek lus vir koedoe
- en die swart vrouesjef berei vir my die sagste koedoe voor.
Hilton Hotel, Windhoek
Nou wag ek in Windhoek se
Hilton-hotel vir my lang trip (ongeveer vyf ure na die Namib-woestyn). Kris het
my afgelaai. En Werner, ‘n Ovamboman, kom laai my op. Sy regte naam is Amutenya.
Ons ry vir ure lank na die lodge
in die Namibwoestyn. Die 4-by-4 skud op die pad.
“Dit is ‘n Afrika-massering,”
spot hy.
Naukluft Lodge
Dit is ‘n cliché om na hierdie
landskap as beeldskoon te verwys. Ek sit in my nuwe lodge, in die Namib
uitgeput, maar oorrompel na die reis. ( Namib Naukluft Lodge. Besoek 28 Februarie 2017)
Die aand het die panoramiese
aanskyn van ‘n Adolf Jentsch-skildery (Adolph Jentsch by Olga Levinson. Besoek 28 Februarie 2017).
Vroegoggend lui die wekker (4.30
vm) vir die besoek aan Sossusvlei.
Ek is nie ‘n oggendmens nie, en
probeer met koffie en twee sigarette die dag te laat inskop. Verder is die
afwagting groot om die Namib te sien. Jung het glo met sy eerste besoek aan
Indië flou geword, omdat hy besef hy dat hierdie landskap gaan sy hele psige
radikaal verander. Party meen hy moes selfs terugkeer en eers later weer gaan.
Vir my is hierdie oomblik groot.
Ons ry vir ongeveer ‘n uur tot
by Sossusvlei.
Niks wat iemand ooit van dié
woestyn vertel (verklaar tot monument in 2013), kan die prag hiervan vasvang
nie. Van Big Papa tot Big Mama.
Die ou grote lyk op ‘n haar na
die ou voorblad van Perspektief &
Profiel.
Ek klouter die eerste duin uit
en tel klippe op. Soos wat ek doen in elke vreemde landskap.
Twee Landrovers sit in die sand
vas. Daar in die verte kom ‘n bakkie aan om te help.
Ek kyk na die wewer-voëltjies
wat pragtige neste maak; selfs Springbokkies en twee kraaie is hier te sien.
Werner neem vir my foto’s van
die canyon toe ek te bang raak om verder af te klim.
Toe ons by Weltevrede lodge
verby ry, raak ek melancholies. Die naam van my moeder se huis.
Dis onbeskryflik warm. Werner
het vir ons ‘n piekniekmandjie ingepak, maar ek verkies om in die 4-by-4 ‘n
toebroodjie te eet. Ons stop by die Engen-garage waar twee Duitsers uit Bonn
gestrand is. Die voorwiel is voos en pap; kennelik deur ‘n klip getref (en hulle's toe alreeds op die spaarwiel).
Werner probeer verduidelik daar
is niks met die motor verkeerd nie. Hulle het waarskynlik ‘n klip raakgery en
omdat hulle nie gou genoeg gestop het nie, is dit kapoet.
Die Duitse vrou is egter van
mening: “Nee, dis die motor. Hulle eis ‘n nuwe een. Sy hoor al die hele oggend
doef-doef.”
Die Namib beteken letterlik
groot plek. Dit is ‘n Nama-woord. Niemand kan anders as om oorweldig te wees
deur hierdie woestyn nie. Dit is ‘n land van lang afstande. (Namib - Wikipedia. Besoek 1 Maart 2017)
Wanneer ons laatmiddag by ons
holte-vir-die-voet aankom, gaan ek kamer toe. En begin timmer aan ‘n vers:
Ek is geborge in my skadu
soos ‘n viool
in sy swart kas.
Tomas
Tranströmer (vertaal deur De Waal Venter)
Met twee swart kraaie,
‘n lodge wat Weltevrede heet
in die Naukluft,
waaier my hele lewe voor my uit.
In hierdie woestynsee
neem die landskap my terug
na die Rajasthan en Atacama
toe my moeder nog geleef
het en in daardie tyd
was stilte ‘n troop,
‘n duisend jaar of ewigheid,
onbepaald en onmeetlik bloot.
In hierdie land van sonlig en
sterre
met wolke soos watte
is my moeder
steeds die souffleuse
van my lewensdrama
met ‘n uurglas wat uitloop.
Einde: Swakopmund en Walvisbaai
Swakopmund
Nou’s dit Swakopmund toe. Dis vroeg
uit die vere met brekfis op die stoep. Klein voëltjies pik-pik aan die muesli,
en ‘n meerkatjie wag om gevoer te word. Werner wag alreeds buite. Ons ry vandag
nie alleen nie. Daar is ‘n gawe Hollandse vrou saam met ons. Ek het haar
ontmoet op een van ons uitstappies om ‘n wonderskone sonsondergang te sien.
Sy wil dikwels foto’s neem; wat
reg is met my. Ek drink die landskap in. Die woestyn se tekstuur het nou
verander na wit sand. Daar is geen foonontvangs op hierdie lang pad nie en
viertrekke jaag by ‘n mens verby teen ‘n donderende spoed. ‘n Mens wonder wat
sal gebeur as jy hier in die nood raak.
‘n Laaste bord waarsku dit is
die laaste restaurant, ‘n paar km van ons lodge.
Na vier ure is ons in Walvisbaai
en nog dertig km staan Swakopmund, ‘n egte Duitse dorpie. Oor die etimologie
van die naam is daar al baie gestry. Party meen dit van die Nama-woord Tsoakhaub (letterlik anus) om die vloed van
die Swakoprivier se uitwerping van dooie diere en uitskot in die see te beskryf.
Professor Peter Raper, die groot naamkenner, meen dit kom van die Santaal:
xwaka (renoster) and ob (rivier). Die Duitse setlaars het dit verander na Swachaub en in 1896 word dit Swakopmund. ( Swakopmund - Wikipedia. Besoek 2 Maart 2017).
Strandhotel, Swakopmund
Toe ek intjekkereer by die
Strandhotel (na ‘n afskeid aan Werner), staan die twee Duitsers uit Bonn langs
my. Hulle het ‘n nuwe motor gekry, maar moes ‘n nag langer oorbly in die lodge.
Hulle mor oor die ongerief. Verloor nou boonop ‘n nag in Swakopmund. (Strand Hotel Swakopmund. Besoek 4 Maart 2017)
Dis nou maar eenmaal so dat
Europeërs uiters omgekrap raak as sake in Afrika ‘n bietjie skeef loop. Ek dink
aan die twee Duitsers in my eerste lodge wat oor alles gekla het: die kos, die
feit dat hulle nie by die venster mag sit nie (daar was geen bespreking nie),
die kamer wat al te oud en verweerd is, die wyn wat nie reg is nie... En so
word die reis wat ‘n avontuur kon wees, ‘n onaangename ervaring.
Nou is dit Swakopmund bekyk. En
daar trek ek my woorde terug toe ek in die Brewer & Butcher sit en met
irritasie die gille in die kombuis moet aanhoor. Met ‘n bestuuder wat meen die
gaste hou daarvan dat dit so “vibey” is!
Nou’s dit vroeg kooi toe in die
Strand-hotel vir ‘n Marine & Dune-trip vroegoggend.
Swakopmund duine
Toe gebeur die onvoorsiene.
Geen wake-up call – gelukkig is
die selfoon ‘n wakker wekker.
Toe ontbyt en wag. 8 - 8.15 - 8.30
- 8.45 ...
Ons bel die mense in Walvisbaai:
“Haai, Mevrou die boot is al weg. U moes vroeër hier gewees het.” Ek
verduidelik dat my reisbiljet verskil. Gebel heen en weer. Selfs die agent uit
Pretoria bel.
“Jammer ons fout ... u kan darem
nog die Duine-toer doen.”
Ek bel Estelle by ‘n ander
agentskap. Al die bote gaan net in die oggend uit. Dis joppelsee.
Sy is bereid om my op ‘n ander
toer te neem wanneer ek terug kom van die Duine-trip.
Adolph Jentsch landskap
Terug kamer toe. Miskien is dit
Voorsienigheid wat wil toesien dat ek eerder moet fokus op die woestyn en duine
vereers.
By die Duine-ontmoetingsplek,
kom die bestuurderes uit.
Sy stel haar voor aan my. “Die
fout met die bespreking is alles my skuld. Hier is jou geld terug en vandag is
gratis!”.
‘n Koevert met ‘n rol dik note
word aan my oorhandig.
Die grootmoedigheid van die vrou
imponeer – ek is bekend met mense wat altyd ontken dat dit hulle fout was. Of
aanval as verdediging.
Skedelkus, Namibië
En die Duine-trip tot by die
Skedelkus is ‘n ervaring. Die woestyn, leer ons, word gevoed deur die mis. Daar
is klein jakkalsies wat kort voor ons koms by ’n watergat gestaan het.
‘n Mens sien dooie robbe op die
pad – selfs ‘n onthoofde dolfyn en flaminke, ja hulle wat op een been slaap. ‘n
Lewendige rob sit met ‘n stuk vislyn om die nek, maar ons kan nie help nie,
waarsku die gids. ‘n Vriend het in die hospitaal beland!
‘n Rob, vertel die gids, slaap
in die water nooit regtig nie. Sy vinnetjie is na bo en hy draai in ‘n sirkel
sodat hy altyd weet waar hy is. Vir regte slaap, is dit op die strand.
‘n Pragtige pelikaan is ook hier
te siene en miljuisende kormorante.
Ons ry met ‘n Landrover die
duine op en af. Onder ons roggel die sand. Net eenkeer sit ons vas, maar Nico, ‘n
boerseun uit die Noorde, sit die Landrover in trurat en durf weer die duin aan.
Deurentyd is hy en Rudi op walkietalkies.
Lunch is bier, vonkelwyn,
oesters en broodjies met wildsvleis.
Ek kyk na die granaatrooi sand
in die verte; die halfedelgesteentes wat wink.
Op pad terug vra ek of ons kan
swem.
Ek staan in die koue water,
terwyl twee vroue uit Harare alte heerlik swem.
Die lang afstande (vir mense
hier is 300 km naby) en die vlae verweer deur die son en wind sal ek altyd
onthou. ‘n Dorpie met die naam Solitaire waaroor ‘n Nederlander ‘n reisverslag
geskryf het, en die humor. ‘n Boot wat heet “kotskoets”; ‘n plaas se naam is “Droë
Willem”.
Ons staan by die Tropic of
Capricorn net voor Walvisbaai - die sterreteken van my moeder en hierdie
reisverslag is ‘n afskeid aan haar.
Buite Swakopmund het iemand met
witgeverfde bande die naam Jesus in die sand geplant. Vir my gaan dit meer om
die “psychic embodiment” van hierdie genadelose land.
Na hierdie land waar die
welwitschia, die oryx, diamant en visarend simbole is, sal ek beslis weer
terugkeer.
iii Aftelrympie
Hosea Kutako
GocheGanas
Kupferbergpas
Spreetshoogte
Solitaire
Sesriem
Sossusvlei
Tsauchab
Naukluft
Gaub & Kuiseb
Gobabeb
Vogelfederberg
Walvisbaai:
pas, hoogte,
kloof,
vlei, berg,
hier in soveel
tale neergegrif.
Hosea Kutako
GocheGanas
Kupferbergpas
Spreetshoogte
Solitaire
Sesriem
Sossusvlei
Tsauchab
Naukluft
Gaub & Kuiseb
Gobabeb
Vogelfederberg
Walvisbaai:
pas, hoogte,
kloof,
vlei, berg,
hier in soveel
tale neergegrif.
© Joan Hambidge