Monday, February 13, 2017

Hennie Smith – Multivers (2016)


Hennie Smith – Multivers. Naledi, 2016. ISBN: 978-0-928316-64-3

Resensent: Joan Hambidge

Naledi bemark hierdie bundel soos volg: “’n Aantal verse reik uit na die grense van religie en filosofie. Hier is ’n bundel wat die grense van dig-denke roer en verbreed.”

In hierdie dae van sterk debute, met sowel konvensionele digkuns (Hendrik J Botha en Juanita Louw) as anti-digkuns (soos Bibi Slippers), is hierdie bundel nie n "verbreding" nie.

Die digter gebruik verder tekeninge om die gedigte te versterk. Hierdie tekeninge van Mimi van der Merwe gee iets naïefs weer.

Soms is daar n bekoorlike beeld of ingryp, maar as debuut - soos dit hier staan - is dit nie oorredend as digkuns nie. Die digter verken die "stof, ster en plante" van die "geskape Univers" en sy bundel se titel is ontleen aan die fisika.

Afrikaans het wetenskaplikes, dokters, ingenieurs, ensomeer opgelewer, maar teen hierdie geesgenote klink die bundel maar yl op.

Die mooiste verse is dié wat oor die natuur handel, soos "Winterwitstinkhout" (95):

Die witstinkhout staan stom
tas met dun vingers
die leë dae om

n swart-en-wit fiskaal
wag roerloos

weldra sal broos lewe
deur die takkie-are kom.

In die eerste afdeling word die bekende (en ontglippende) uitspraak van Archibald MacLeish aangehaal: A poem should not mean / But be”.  Dit is egter die konklusie van die verruklike vers van hierdie Amerikaanse digter wat alles sluit : “A poem should be wordless / As the flight of birds”. Overgesetsynde, die tegelykertydsaspek waar beeld en gedagte één word op papier.  Macleish, n Amerikaner (1892 – 1982), was n modernistiese digter waar die geslote, outonome eenheid van die vers beklemtoon word, eerder as die buite-wêreld. En dit ontgin Smith dan in die eerste afdeling in die soeke “in nuwe vorme van lewe” (5) en in die gedig “Woordskig” (7) lees ons:

Tref ‘n voël
in sy vlug
pen hom trillend vas
op wit papier
waar die rooi merke
stadig stol

bleik tot blou.

Die tweede afdeling (“Ewige Vroulikheid”) handel oor die liefde, daardie allermoeilikste onderwerp vir die jong digter, wat immer gepootjie word deur die Abstraksie en reeds-geskryfde, wat nuut beskryf moet word. Die digter gebruik beelde uit sy wêreld om dit te beskryf, soos in “Gravitasiekolk” (27) waar swaartekrag, galakties, inspiraal, ensomeer die liefdesdaad beskryf. Die meeste liefdesverse kom hier nie verby die geykte nie.

Die derde afdeling heet "Woelende Woorde" - met verwysings na Dante wat in gedigte ontgin word - maar nie sterk genoeg na vore kom nie.

Daar is gedigte vir die geliefde, vir die ouers, vir n kind, vir vriende; wat net by die persoonlike en intieme bly en nie oortuigend vers word nie. Dalk moes dit maar net vir hulle versend gewees het.

"Château Ligeon" is n Franse vers. Gesprekke met die mitologie, Helena, Héloise (wat n mens terugneem na Sheila Cussons se verruklike vers.)

In die woordverklarings word die konsep "multivers" verduidelik as die samehang van die univers wat deur wiskundige "wette" beskryf word. Daar is in elke formule n konstante wat toevallig die presiese waarde het wat Homo sapiens se bestaan moontlik maak.

Dieselfde geld die digkuns. Ook hier bestaan "oneindige aantal universe" - die anti-digter se afbreek van reëls bevestig die bestaan daarvan. Die goeie digter skep sy eie uni-vers-um.
En waarom tog praat van “singuliere denke”? Of “woorde wat koaguleer”?  Daar is immers lekker Afrikaanse woorde, nie waar nie?

Die digter is soms buite sy boekie om. Iets mag miskien in die wêreld van die fisika reg klink, maar in die gedig trek dit negatiewe aandag.

En die ars poetica van MacLeish illustreer al hierdie wetmatighede, soos Cleanth Brooks se "well wrought urn". Die goeie gedig steek sy bouwerke weg; bly in jou naklink soos daardie vertrekkende voëls. Macleish was n uitsonderlike talent binne die Modernisme.

Van "vers-ekstase" is hier helaas, jammer genoeg, min sprake. Te veel harttog, te min hartstog.

Die bundel word deur Naledi gelys as ‘n topverkoper, wat helaas nie n werklike prestasie is nie. ‘n Groot digter soos Wilma Stockenström is nie n topverkoper soos Deon Meyer nie, maar haar gedigte-as-gedigte bly bakens binne ons letterkunde.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)