Hennie Smith – Multivers. Naledi, 2016. ISBN: 978-0-928316-64-3
Resensent: Joan Hambidge
Naledi bemark hierdie bundel soos volg: “’n Aantal verse reik uit na die
grense van religie en filosofie. Hier is ’n bundel wat die grense van dig-denke
roer en verbreed.”
In hierdie dae van sterk debute, met sowel konvensionele digkuns (Hendrik J
Botha en Juanita Louw) as anti-digkuns (soos Bibi Slippers), is hierdie bundel
nie ’n "verbreding" nie.
Die digter gebruik verder tekeninge om die gedigte te versterk. Hierdie
tekeninge van Mimi van der Merwe gee iets naïefs weer.
Soms is daar ’n bekoorlike beeld of ingryp, maar as debuut - soos dit hier
staan - is dit nie oorredend as digkuns nie. Die digter verken die "stof,
ster en plante" van die "geskape Univers" en sy bundel se titel
is ontleen aan die fisika.
Afrikaans het wetenskaplikes, dokters, ingenieurs, ensomeer opgelewer, maar
teen hierdie geesgenote klink die bundel maar yl op.
Die mooiste verse is dié wat oor die natuur handel, soos
"Winterwitstinkhout" (95):
Die witstinkhout staan stom
tas met dun vingers
die leë dae om
’n swart-en-wit fiskaal
wag roerloos
weldra sal broos lewe
deur die takkie-are kom.
In die eerste afdeling word die bekende (en ontglippende) uitspraak van
Archibald MacLeish aangehaal: “A poem should not mean / But be”. Dit is egter die konklusie van die verruklike
vers van hierdie Amerikaanse digter wat alles sluit : “A poem should be
wordless / As the flight of birds”. Overgesetsynde, die tegelykertydsaspek waar
beeld en gedagte één word op papier.
Macleish, ’n Amerikaner (1892 – 1982), was ’n modernistiese digter waar
die geslote, outonome eenheid van die vers beklemtoon word, eerder as die
buite-wêreld. En dit ontgin Smith dan in die eerste afdeling in die soeke “in
nuwe vorme van lewe” (5) en in die gedig “Woordskig” (7) lees ons:
Tref ‘n voël
in sy vlug
pen hom trillend vas
op wit papier
waar die rooi merke
stadig stol
bleik tot blou.
Die tweede afdeling (“Ewige Vroulikheid”) handel oor die liefde, daardie
allermoeilikste onderwerp vir die jong digter, wat immer gepootjie word deur
die Abstraksie en reeds-geskryfde, wat nuut beskryf moet word. Die digter
gebruik beelde uit sy wêreld om dit te beskryf, soos in “Gravitasiekolk” (27)
waar swaartekrag, galakties, inspiraal, ensomeer die liefdesdaad beskryf. Die
meeste liefdesverse kom hier nie verby die geykte nie.
Die derde afdeling heet "Woelende Woorde" - met verwysings na
Dante wat in gedigte ontgin word - maar nie sterk genoeg na vore kom nie.
Daar is gedigte vir die geliefde, vir die ouers, vir ’n kind, vir vriende;
wat net by die persoonlike en intieme bly en nie oortuigend vers word nie. Dalk
moes dit maar net vir hulle versend gewees het.
"Château Ligeon" is ’n Franse vers. Gesprekke met die mitologie,
Helena, Héloise (wat ’n mens terugneem na Sheila Cussons se verruklike vers.)
In die woordverklarings word die konsep "multivers" verduidelik
as die samehang van die univers wat deur wiskundige "wette" beskryf
word. Daar is in elke formule ’n konstante wat toevallig die presiese waarde
het wat Homo sapiens se bestaan moontlik maak.
Dieselfde geld die digkuns. Ook hier bestaan "oneindige aantal
universe" - die anti-digter se afbreek van reëls bevestig die bestaan
daarvan. Die goeie digter skep sy eie uni-vers-um.
En waarom tog praat van “singuliere denke”? Of “woorde wat koaguleer”? Daar is immers lekker Afrikaanse woorde, nie
waar nie?
Die digter is soms buite sy boekie om. Iets mag miskien in die wêreld van
die fisika reg klink, maar in die gedig trek dit negatiewe aandag.
En die ars poetica van MacLeish illustreer al hierdie wetmatighede, soos
Cleanth Brooks se "well wrought urn". Die goeie gedig steek sy
bouwerke weg; bly in jou naklink soos daardie vertrekkende voëls. Macleish was ’n uitsonderlike talent binne die Modernisme.
Van "vers-ekstase" is hier helaas, jammer genoeg, min sprake. Te
veel harttog, te min hartstog.
Die bundel word deur Naledi gelys as ‘n topverkoper, wat helaas nie ’n
werklike prestasie is nie. ‘n Groot digter soos Wilma Stockenström is nie ’n topverkoper
soos Deon Meyer nie, maar haar gedigte-as-gedigte bly bakens binne ons
letterkunde.
(Hierdie resensie word geplaas
met vriendelike vergunning van Beeld)