T. T. Cloete - Briewe aan Anna. Pooka
uitgewers, 2016. ISBN 978 0 620 661 45 4
Resensent. Joan Hambidge
I
Op die voorblad van hierdie pragboek is daar ‘n haarlok van die digter T.T.
Cloete se vrou, Anna. In ‘n brief, gedateer 17 Desember 2007, bely die digter
dat hy hierdie gerfie hare afgesny het toe die geliefde in matriek was. Dit is
al wat hy van haar liggaam oorhet na haar dood. Dit is vandag nog net so intakt
as toe: mooi, goudkleurig en vars.
Oor die impak van die afsterwe van hierdie geliefde vrou (wat hy in sy
bundels op verskeie maniere aanspreek, ook in ‘n pynlike lyksdig oor die
verskillende rokke wat sy in haar lewe gedra het) kan afgelees word in die
verskillende briewe – geskryf tydens haar siekte en na haar vertrek.
Jy is steeds die digter in my, na jou dood. Jy is nog.
Of, vra hy, is ek die digter in jou.
Hiermee aktiveer Cloete ‘n eeuoue-gesprek tussen digter en sy objek-van-inspirasie.
Cloete het Dante deurgrondelik geken en die hele gesprek met vroue is van
kardinale belang in sy digkuns. Hieroor het Heilna du Plooy uitstekend geskryf.
En Cloete noem dit tereg briljant op bladsy 335. (Versindaba » Blog Archive »
Heilna du Plooy. Die deurskynende kelk – Oor vorm en inhoud in die poësie van T.T. Cloete. Besoek 22 November 2016).
II
Die skryf van die brief of die hou van ‘n joernaal of dagboek hoort tot die
tradisie van intieme literatuur. Daar is uiters boeiende voorbeelde in die
wêreldletterkunde, soos onder andere Franz Kafka se Briewe aan Felize (uitgegee
deur Penguin as The Letters to Felice);
die ongelooflike briewe van Saul Bellow (uitgegee deur Penguin) waarin hy met
bekende intellektuele en vriende in gesprek tree.
Die brief (dagboek/joernaal) maak van die leser ‘n voyeur. Jy lees iets wat
in die eerste instansie bedoel was vir ‘n ander persoon, maar die oomblik
wanneer sulke briewe of dagboeke gepubliseer word, word die intieme,
aangesprokene se posisie as enigste leser ópgehef. Die leser wat die boek koop
of uitneem in ‘n biblioteek identifiseer dan met die aangesprokene. Hieroor het
Roland Barthes uitvoerig geskryf in Fragments
d’un discours amoureux (1977) wat deur Richard Howard vertaal is as A Lover’s Discourse.
Ek verwys opsetlik na Kafka, Bellow en Barthes om iets te illustreer van
die Cloete-briewe. Kafka en Bellow se briewe verklap iets van hul sieninge oor
kuns, oor watter rol die kreatiewe in hul lewens gespeel het. Barthes, die
bekende teoretikus, neem ‘n bekende tema in die letterkunde en musiek wat hy verteoretiseer.
Cloete se lewensmaat was sy muse. Sy het eweneens opofferings gemaak tydens
sy Nederlandse studieverblyf en teruggekeer Suid-Afrika toe om geld te verdien
sodat haar geliefde man verder kon studeer. Hulle was lewenslank verbonde.
Sy was die eerste leser van sy gedigte. Daar is ook vele gedigte oor haar.
O.a. die prag-verse Uit die wit lig van
my land gesny. Vir Anna (2010).
Ofskoon die digter hierdie briewe as lekebriewe beskou het, is dit egter
meer as dit. Dit werp lig op sy kreatiewe denke, sy menswees en dit kan ook
gelees word binne die kader van trauma-letterkunde. Persone wat dus ‘n geliefde
aan die dood afgestaan het, sal baat vind by hierdie proses van verwerking.
Die “afwesige-aanwesigheid”. Die dood van nabye persoon het soms tot gevolg
dat die agtergeblewene daardie verlies so internaliseer dat die persoon deel
word sy of haar psigiese Umwelt.
Die aktrise Jana Cilliers het dit só verwoord in ‘n onderhoud met Willemien
Brümmer.
Ná Flynn se skielike dood in sy slaap in 2007 het sy ervaar dat die liefde
voortgaan, ongeag. “Ek onthou ek was altyd so skrikkerig ná Bill se dood, want
dan dink ek ek kan nie grappe vertel nie en ek kan nie mense gemaklik laat voel
nie – inteendeel, ek laat hulle ongemaklik voel – en wat gaan ek doen as hy nie
meer daar is nie? Dit was eers later dat ek besef het die omvang van ons
verhouding was so dat hy eintlik net voortleef. Ek’s nie hy nie, maar hy’t
homself nou so half ver-my.” (Ete met Jana Cilliers/ Die sinvolheid van diealledaagse | Netwerk24. Besoek 23 November 2016)
III
Wie is die twee vroue? En wat behels
hierdie misterie?
In die inleiding verduidelik Cloete hoe hy met Anna praat in ‘n
bonatuurlike infra- of ultrakommunikasie (16).
Hierdie brieweboek is ‘n besinning oor die dood en hoe mense bly leef na
hul dood in ander vorme, in die herinnering, in afbeeldings …
En ja, die dood word hier, soos in klassieke tekste, as ‘n vrou voorgestel.
Kort voor Cloete se dood, ervaar ek ‘n pynlike afskeid van hom, ‘n digtersvriend
deur soveel jare. Dié vers is in Indeks
(2016) opgeneem:
Ikarus
About suffering they were never wrong,
The old Masters: how well they understood
Its human position:
W. H. Auden
Vroegdag in ‘n gastehuis langs die see,
Auberge Burgundy te Hermanus,
luister ek na Vers & Klank
met verse vir die digter
van die jukstaposisie
en eiesoortige idiolek.
Teen die muur ‘n skildery
so reg uit Miró, na links ‘n skynsel
uit ‘n modieuse lamp. Jy vra my leser
of ek die see kan hoor?
Bo die oseaan, magtig en onmeetlik
bo die gedruis by die hawemuur
net buite sig klink die kreet op
van ‘n jong seun wat gly en
val. Het enigeen gehoor?
Sy naam word dalk verewig op ‘n plaket.
Die voordragstem verduidelik wat ‘n troop
behels in die donker nag. Gedigte stap
vir hierdie digter jambies deur die vertrek,
vir hom van die baie ryk ure en allotroop,
enkele weke voor sy dood.
‘n Ongeleefde lewe, onvervuld
laat onvermydelik ‘n merk.
Hierdie gedig ‘n letsel, yk
van diegene wat ongevraag,
te vroeg vertrek en net deur slapeloses
aan die vergetelheid ontruk kan word.
Ook vir hulle wat daardie dag
die “forsaken cry” moes aanhoor.
Onvertaalbaar hierdie ellende.
Ek beroep my in onmag op Auden.
Die briewe begin by die Universitas-hospitaal (2002) met die besef dat sy
geliefde vrou gaan sterf. Daar word deurgaans verwys na die siekte en die impak
van die lyding op die digter se gemoed. Op 8 Maart 2010 is daar ‘n inskrywing
oor haar hartaanval (190). Besonderhede oor liggaamlikhede word vermeld (83).
Die terloopse verwysing na Riëtte se dood (waaroor Lina Spies ‘n lieflike vers,
“Op die dood van Riëtte”, geskryf het, )
ruk aan die hart. Die moeder het gevra hy moes ‘n lokkie van haar hare afsny,
wat sy nooit opgeëis het nie. Na Angeline se dood het hy dit begrawe in die
agterplaas. Dit was ‘n motorongeluk en Cloete moes die kind se lyk gaan uitken.
IV
M.E.R.
Daar is baie belangrike kodes in hierdie teks. Soos Elizabeth Kübler-Ross
se klassieke teks oor die verskillende stappe van doodsaanvaarding. J.C. Steyn
se deeglike biografie oor MER word ook vermeld en die “nugtere aanvaarding van
die weggaan” (149).
Viktor Frankl is ‘n ander kode; hy en sy vrou wat opgesluit was in
verskillende Nazi-konsentrasiekampe, maar het met mekaar gekommunikeer en
sodoende aan hul lydende liggaamlikheid ontsnap.
Pleroma versus soma word eweneens ‘n tersaaklike kode vir die begryp van hierdie
teks. Die geestelike, spirituele dimensie help ons om die ligaamlike pyn of
lyding te kan oorwin.
Erich Fromm se The Art of Loving
word vermeld – want hierdie brieweboek is ‘n liefdesboek.
V
Anna (met die bynaam Bessie; ook Anna Parenna; liewe ou siel; Anna Patat)
word intiem aangespreek. Die literator-skrywer Heilna du Plooy, ‘n vriendin, is
ook hier en sy het deur die jare insette gelewer. Cloete se erkentlikheid jeens
ander kom na vore (hy verwys na Nic de Jager se musiekprogram en sy fabelagtige
kennis). Hy is bewus van kleinlikhede en naywer – en hoe mense “nagaande” is
wanneer jy bekroon word (354). Hy gee erkenning aan jonger digters en bedank
hulle vir hul belangstelling of toesendings van boeke.
Dit is ‘n boek wat iets verklap van die binnewerkinge van ‘n groot gees en
hoe hy in hierdie tyd van wanorde, soos hy dit noem, afskeid neem; en
bestendig. Sonder sy geliefde is hy ‘n halwe mens (190).
Die invloed van sy digterskap as ‘n “poet’s poet” is nog nie volledig
bepaal nie.
VI
Steun van sowel die ATKV as die Hiemstra trust het die publikasie van hierdie teks moontlik gemaak.
Hierdie boek met briewe, is postuum uitgegee deur Annekie Botha Du Plessis
en kan bestel word by Posbus 48445, Kommetjie, 7976 e-pos: unicorn@icon.co.za.