“Dear friend, A Letter always feels to me like immortality because it is
the mind alone without corporeal friend.”
Emily Dickinson aan T. W.
Higginson, Junie 1869
In haar lewe
publiseer Emily D.
glo net sewe,
aanvaarbare verse,
versend aan
haar kritiese mentor,
ene Thomas
Wentworth Higginson.
Nadoods word
die dubbelspraak,
haar ragfyn
binnespraak, ontrafel.
Die ryke
tapisserie van haar lewe
lok
ooreenkomste uit, merkwaardig,
ook met haar,
wat op die Stadionkade
mymer oor die
digkuns as 'n valreep.
'n Ander
Thomas stel hom aan,
in 'n ander
tyd en ruimte, as preseptor.
Sy
holruggeryde argumente oor
veelheid,
vormvit en byltjies slyp,
neem my terug
na Emily D. en Elisabeth E.
Waarom dié
onheilige Thomas,
'n blote
tentmaker van die woord,
glo bó hulle in 'n durende akkoord?
glo bó hulle in 'n durende akkoord?