Tuesday, May 3, 2016

Taaldispuut & Max du Preez [Brief]



Kaapstad, 03 Mei 2016 00:00, Die Burger

In twee onlangse reaksies op die taaldispuut aan die Universiteit Stellenbosch het ons die sobere, rustige reaksie van Ria Smuts, wat betoog vir die belang van moedertaalonderwys. Van al die reaksies is dit waarskynlik die beste: Uiteindelik het ’n kenner uit onderwysopleiding gereageer. Met kundigheid.

As jy jou eie taal onder die knie het, kan jy soveel beter ander tale leer.

Dan het ons Max du Preez. Ek wil dit duidelik stel dat Du Preez belangrike werk as politieke kommentator lewer. Maar wanneer dit oor taalsake gaan, is hy sy grammatika byster.

Om nou vir ons te kom vertel hoe Afrikaans en Engels in sy skryfwerk “werk”, hou gewoon nie steek nie. Wat weet hy van die universiteitswese en die krisisse wat tans beleef word?

Vir die duisendste keer: Ons praat van Afrikaans as wetenskapstaal, as taal waarin mense dink, artikels skryf, gedigte publiseer, tesisse begelei en klasgee. Nie 7de Laan of ander “touchy feely”-nonsens nie. Ons praat van ’n taal wat, soos Bahasa Malysia, sig gevestig het tot ’n taal waarin jy skryf en wetenskaplike analises kan maak, in so ’n mate dat taalwetenskaplikes in Afrikatale weet hulle kan by Afrikaans leer.

En oor identiteit en etnisiteit is ’n komplekse diskoers – gewis vir antropoloë se studie – nie vir Max en alleman nie.

En om Jan Smuts en Eugène Marais te gebruik omdat hulle Engels bo Afrikaans verkies het, is gewoon opportunisties. Albei het tye in die buiteland vertoef en komplekse sieninge oor taal en Afrikaners gehad. Marais het “Winternag” en Dwaalstories geskryf, twee bakens in Afrikaans.

Breyten Breytenbach praat Frans in Parys, maar hy bly in sy hartstaal dig.


© Joan Hambidge