Thursday, March 17, 2016

A Doll’s House - Regie deur Christaan Olwagen. Produksie: Roelof Storm (2016)



A Doll’s House - Teksverwerking en regie deur Christaan Olwagen. Produksie: Roelof Storm

Resensent: Joan Hambidge

Bokmål: Et dukkehjem. Oor hierdie belangrike teks van Henrik Ibsen wat vir die eerste keer in 1879 opgevoer is, is daar al geweldig baie geskryf. Dit is eweneens ‘n teks wat verskillende kreatiewe reaksies ontlok het – soos ‘n 1973 filmweergawe met Claire Bloom wat weer op haar beurt ‘n outobiografie in 1998 geskryf het oor haar huwelik met Philip Roth: Leaving Doll’s House.

Christiaan Olwagen

Olwagen is ‘n talentvolle regisseur en ek het my reeds uitgelaat oor sy teks Dogma en sy verwerking van Tsjekof se Die seemeeu. Beide uitstekende tekste wat uitmuntende akteurs wat reg laat geskied aan die onderskeie tekste. 

Op Dinsdag 15 Maart is ek by die openings-aand by die Baxter-teater. Verskeie teaterkenners en –resensente het groot gewag gemaak van hierdie produksie. Daar is verskeie akteurs en bekendes in die gehoor: staande ovasie, applous, dreunsang toe die aktrise Jennifer Steyn as Nora Helmer met haar rugsak van die verhoog af hardloop en ontvlug deur die teatergangers na die agterste deur. ‘n Baie insigryke kommentaar oor die spel tussen werklikheid en fiksie. Brecht se Verfremdungseffekt dus; ons het net ‘n teaterspel vir ‘n oomblik “waargeneem” … dis nie werklik nie.

Jennifer Steyn

Die teks is ‘n verwerking van die oorspronklike met ‘n verwysing na Barbie. In die advertensie-plakkaat verlede jaar, lê Jennifer Steyn dan ook uitgestal soos ‘n Barbie-pop met plastiekringe om haar enkels en arms. Soos ‘n speeding vir ‘n jong dogtertjie wat deur die Barbie-stereotiep haar gaan oorgee aan die fallogosentriese orde.

Dawid Minnaar

Dr Rank (vertolk deur Dawid Minnaar) se siektetoestand is die siekte-van-ons-tyd en dit aktiveer dus Susan Sontag se Illness as metaphor hier. Torvald Helmer word vertolk deur Martin le Maitre in ‘n onderbeklemtoonde vertolking teen die gillende, over the top-aanslag van Steyn. Kristine Linde (Anthea Thompson) en Nils Krogstad (Rob van Vuuren) omarm die gegewe as die twee byspelers wat die vonk in die vat veroorsaak.

Die gegewe is pienk en luiddrugtig. Steyn as Nora dans en disko. Sy is in gymklere en alles is pienk (en onplesierig). Ligte flits. Musiek lawaai. Dit dreun en gil. Gemaskerde mense lewer eweneens simboliese kommentaar op die ramp wat hom hier mag afspeel.

Ons weet egter Nora word “gered”. Sy gaan nie selfdood pleeg nie en haar man gaan haar vergewe. Maar in die daad van vergifnis, ervaar sy haar gevangenskap in ‘n huwelik van uitsigloosheid waar sy bloot ‘n besitting was. Hierom vlug sy.

Henrik Ibsen in sy studeerkamer

Ek kan nie akkoord gaan met die applous nie. Dit is nie meer Henrik Ibsen nie. Ook nie Naturalisme nie.

Karakters is uitgesny uit die teks (die kinders, die portier wat ‘n Kersboom aflewer, die bediende …)

Soos wat Nora ‘n handtekening vervals het in die teks, is hierdie produksie soos dit nou daar uitsien, ‘n vervalsing van die oorspronklike teks wat werk met implikasie, sosiale kommentaar oor die rol van die vrou binne ‘n manlik-gedomineerde gemeenskap.

Daar word nie ‘n brief met die verlossende boodskap afgelewer nie. Ons beleef nou implikasie van boodskappe wat agter ‘n kodewoord opgesluit lê op ‘n komputer of selfoon.

“We must come to a final settlement, Torvald. During eight whole years. . . we have never exchanged one serious word about serious things” is die kernwoorde van Nora wanneer sy besef dat sy vir sowel haar man as vir haar vader net ‘n speelpop was.

‘n Vrou wat dalk met hierdie woorde nie langer ‘n blote besitting wil wees nie en haar eie vroulike agentskap wil ondersoek?

Word die implisiete en sterk gekodeerde feministiese boodskap van hierdie produksie ondermyn deur die banale seksuele aksies van die hoofkarakter?

Die gehoor het dikwels ook op onvanpaste plekke handegeklap. ‘n Minder teatrale, histeriese produksie sou oortuigend gewees het. Soos dit nou daar uitsien, is daar die klankie van ‘n misogonistiese sub-teks in die produksie.


Die geraas van die akteurs se mikrofone soms, het die produksie gesteur, en die aanslag was te oordadig.