Tuesday, December 29, 2015

Reisjoernaal: Chili 2015 (Deel X)


Deel X

Vir oulaas na die hotel. Die kroegman gee my ‘n afskeidsbier op die huis. Sy kroegmaat het gisteraand ‘n hele skinkbord met cocktails laat val.

“Kan ek help?”, het ek die geskokte man gevra, wat moes opmop.

“Nee, toemaar, senora.” Hy lyk verleë en die wagtende Duitsers lyk ongeduldig.

Toe ek halfses die hotel verlaat vir die twee ure rit na Punto Arenas, stap hy na my.

“Vir jou, senora.” Hy oorhandig ‘n duur bottel Reserva spesiaal gebottel vir die Australis-hotelgroep. Ek bedank hom vir die gul geskenk.

Lieflike personeel. ‘n J&B-single word sommer ‘n driekamp. Deure word galant oop- en toegemaak; ‘n serp word opgetel. As die koffie koud is by die ontbyttafel, maak die bestuurder vars koffie net vir jou.

Ek verlaat Puerto Natales en ry vir twee ure na Punto Arenas. Ons ry verby ‘n plaas wat heet Monte Alto, die naam van my huis en ek weet ek hoort hier!

In die groen weilande wei skape, perde en koeie. In ‘n gehuggie staan daar ‘n ambulans voor die aanklagkantoor. ‘n Kafeetjie se ligte brand.

Ek drink die landskap in. Wanneer ons by ‘n dam verby ry, sien ek hoe koud dit is. Die brandertjies verklap winter. En Punto Arenas is ysig.

Die aand drink ek van die Reserva ‘n glas en gee die res van die bottel vir die portier wat uiters dankbaar en bly is.

Opvallend van hierdie reis is hoe mense my “agtervolg”. Stap ek in by ‘n nuwe hotel, vra iemand was ek ook nie op daardie plek nie.

So raak hulle ou onbekende-bekendes.

Sosioloë beweer mos mense soek mekaar spontaan op. Op treine sit dieselfde mense langs mekaar, asof hulle onbewustelik mekaar “herken”. Vanoggend op pad na La Serena en dan finaal Santiago, sien ek vir Olga op die lughawe. Heerlik met haar gesels op ‘n koue, nat oggend oor hoe sy as Mexikaan Santiago ervaar.

Gebed van ‘n reisiger

Die sneeutoppe van die Andes,
‘n kormorant teen ‘n seekrans,
‘n swewende valk in die blou lug,
weet ek, hoe geseënd om ‘n landskap
met die oog te skandeer en dan te vertolk
in woorde, in ‘n ander tongval ritmies,
volgens die hartslag van my aard.
Ook die sonsondergange en maans-
veranderinge registreer ek in ‘n skets,
die blote onthou, ter wille.
Sneeu, son, maan, water, lug,
kormorant en valk ...
Niks was toevallig dalk?

Soos dit nou maar altoos met reis gesteld is, moet jy keuses maak. Jy kan eenvoudig nie alles in ‘n land ervaar of besoek nie. Sou graag Easter Island (Rapa Nui) wou meemaak, die vulkaniese eiland in Polinesieë, met die ongeveer 900 standbeelde. Klipaltare (ahus), hierdie groot menslike figure en hul groot koppe.

Een van die grootste opelug-museums op aarde.

Maar met al die reisonsekerhede en -stakings moes die weermag ingryp en mense met ‘n weermag-vliegtuig na die eiland neem. Verder, vertel my San Francisco-mede-reisiger, was hulle daar vasgekeer weens die stakings. Sy wys selfs foto's hoe hulle in die weermagvliegtuig langs die bagasie sit.

So my hele reisplan sou ontwrigting in die gesig staar. Moes ‘n muntstuk opgooi: Wynlande, Neruda, Huidobro en Mistral se huise en die gletsers (met natuurskoon) in Puerto Natalis Of Rapa Nui en snorkel in die pragtige oseaan ...

Kruis of munt?

Reis het eweneens ‘n spyskaart – en jy moet kies ...


Terwyl ek hierdie inskrywing maak op pad na La Serena, onder andere om Gabriela Mistral se huis te besoek, lees ek van Randall Wicomb se dood, hy wat so mooi “Dans metdie rooi rok” kon vertolk met sy gewese vrou, Koba.

Nou draal die wysie in my kop ...

Dans met die rooi rok, die hartlam van my.
Dis die rooi rok, dis die mooi rok, dis die rooi rok wat waai.
Dawid de Lange se orkes, Haai! Haai!
Dis die rooi rok, dis die mooi rok, dis die rooi rok wat swaai.

Nou dink ‘n mens – sommer om opstropperis te wees – het die vertaling van die liedjie dieselfde krag as die oorspronklike?

En hier op pad na La Serena weet ‘n mens presies wat die woord hártstaal beteken.

La Serena snags

Ek neem foto's van die Andes en dink dat een van die hoogtepunte in my lewe die besoek aan die gletser was. En daardie whizza met geltser-ys, veral.

Ek kyk uit op die lughawe in Santiago de Chili vanuit die vliegtuig en sien hoe my tas ingelaai word. Dankbaar dat die tas nie agterbly in Santiago nie, maar saamreis na La Serena. Ek herken my tas aan sy blou sekuriteitssleutel.

Dis immers een van die nagmerries van reis: dat jou tas agterbly op ‘n lughawe of na die verkeerde bestemming versend word. Veral die Amerikaners op hierdie reis vertel hoe die tas wegraak en dan ‘n paar dae later eers opdaag.

Wanneer ons vlieg, sien ek spore op die berge. Is dit dalk van die gode, soos Von Däniken beweer het oor die gode se besoeke aan Peru en hier? Daar draal rook uit ‘n bergtop.

Sou wat wou gee om ‘n vulkaan te sien ontplof – van ver af deur ‘n vliegtuig se venster.

Die laaste drie dae was vol met avonture en ek is nogal lodderoog wanneer ek in La Serana aankom in ‘n soort oord wat herinner aan die een in Acapulco. Mense lê langs die swembad. Nou is dit eers uitpak en gewoond raak aan die nuwe kamer.

Die wifi werk. Maar helaas is daar geen water in die kamer nie. Ek moet dit in die restaurant gaan koop en boonop geen prop vir die bad nie. Die recepcion beveel ek moet stort, en basta. Dis hoe dit hier is.

My gids vertel ek moet more ontspan. Dan neem sy my Dinsdag na Gabriela Mistral se huis. En dan die Elqui-vallei.


Vanaand gaan ek vroegerig inkruip.

© Joan Hambidge