Wednesday, September 30, 2015

Tsjechof In Kaapstad (Resensie: Die seemeeu)


Tsjechof In Kaapstad.‘Seemeeu’ bied ryke stof vir besinning

Resensent: Joan Hambidge


Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Klassieke tekste is klassiek omdat daar in so ’n teks ’n kern is wat die menslike lot getrou weergee.

Tsjechof, die Russiese dramaturg en kortverhaalskrywer (1860- 1904), het begryp dat die oorgang van een sisteem of lewenswyse na ’n ander onsekerhede oopmaak. Ons leef in die huidige Suid-Afrika eweneens in ’n tyd van oorgange en veranderinge.

Die agtergrond vir Tsjechof is Rusland. Is dit toevallig dat Arkadina reëls uit Hamlet voordra? ’n Teks waaroor psigoanaliste soos Freud en Ernest Jones lang analises geskryf het? Wat het Shakespeare te make met Tsjechof? Oor albei se tekste is die meeste rolprente klaarblyklik al gemaak. Tsjechof is deur Tennessee Williams en Raymond Carver tot storie verklaar. En sy invloed op die kortverhaal word eweneens sterk geregistreer.

’n Klassieke teks verduur teensange en parodieë wat binne ander kontekste die oorspronklike boodskap versterk. Christiaan Olwagen doen met Die seemeeu wat Pedro Almodóvar in All about my Mother (Todo sobre mi madre) gedoen het met A Streetcar Named Desire van Williams. Daar word in die teks gesoek na onbedoelde “openinge” of dalk ook na ’n rafel wat uithang sodat die weefwerk kan loskom.

Almodóvar fokus op genderspanninge wat ook deel was van Williams se lewe. Olwagen aktiveer vroulike histerie en neurose in sy weergawe van Die seemeeu. Hamlet se verhouding met sy moeder kom hier na vore nes Freud se werk oor die onderwerp.

Parodie is nie net opstuur nie; dit is eweneens ’n stylverskynsel wat die essensie van die oorspronklike teks herkontekstualiseer: onsekerheid, politieke onrus, die meedoënloosheid van tyd, die primordiale verhouding tussen moeder en seun.
Die teks waaier oop na ’n moderne konteks waarin die lyflike beklemtoon word. ’n Aktrise op ’n oefenfiets; ’n oorgewig akteur in ’n swembroek. (Lyflikheid sou vir Tsjechof tersaaklik wees; sy gesondheid was nie goed nie. En sy dood het eweneens al verskeie kreatiewe reaksie ontlok.)

Tsjechof die medikus het opgemerk die mediese beroep is sy eggenoot en skryfwerk die minnares – ’n komplekse siening oor die rol van skryf, wat dikwels vir hom gekoppel was aan ’n oorlewingstryd, ook in die finansiering van sy familie.

Boonop is hy modernisties in sy skryfwerk, soos Henrik Ibsen en August Strindberg s’n was. Sy tekste se strukture moet in hul eie terme verstaan en ontleed word.

Olwagen is in ’n post-post-moderne tydvak dan besig met ’n aweregse antwoord. Hugh Kenner verwys na hierdie ironie as ’n hangover van ons tyd.

Alles is reeds geskryf en juis om te fokus op die uitsigloosheid en noodlot word die Olwagen-teks ’n robuuste antwoord op die oorspronklike een.

In sy lewe het Tsjechof satires gepleeg en humoristiese stukke geskryf om aan die lewe te bly.

Hy sou in alle waarskynlikheid plesier gehad het aan die wyse waarop sy teks nuwe lewe kry met ’n balans tussen satire en erns. Misverstand, gefnuikte ambisie, melankolie, absurditeit, stiltes – die kenteken van alle groot dramas. En in Die seemeeu word dit tot ’n hoogtepunt gevoer. Met implisiete kommentaar op die skryfproses wat immer vir die skrywer binne ’n groter politieke konteks as ’n futiele, selfs nuttelose aksie ervaar word.

Wat bedui die seemeeu nie alles nie? Nina merk op dat sy aangetrokke is tot die meer asof sy ’n seemeeu is.

En wát dit alles simboliseer, sal van kyker tot kyker verskil. Nes die skote wat in die agtergrond opklink.

Hierdie teks neem jou terug na die betekenis van fin-de-siècle en waarom Anton Tsjechof, sensitiewe kunstenaar wat hy was, verstaan het dat simbole nie enkelduidig vaspenbaar is nie.

Saartjie Botha se vertaling is eweneens in die kol. Dit vra vir verdere besinning. Wat is uitgelaat en wat is saamgevoeg?

Bronne: Cornel West: Chekhov’s Legacy (2004); Janet Malcolm: Reading Chekhov – A Critical Journey. (2004).


Die seemeeu word van 19 tot 31 Oktober in die Baxter-teater in Rondebosch opgevoer. Bespreek by 021 685 7880.