Nicola Hanekom - Die pad byster. Protea Boekhuis, 2014. ISBN 978 1 4583 0059 5
Resensent: Joan Hambidge
Nicola Hanekom word deur
teaterresensente as ‘n teatergenie beskou. Tereg ook, want sy probeer dikwels
om te eksperimenteer binne die Afrikaanse teater. In 2013 het sy die ATKV-prys
verower vir teater en omdat sy haar tekste publiseer – anders as byvoorbeeld
Saartjie Botha – kan ‘n mens die verbintenis tussen opvoering en gepubliseerde
teks takseer.
In die teater is die werk van Tennessee
Williams in allerwaarskynlikheid die beste voorbeeld (vir my persoonlike smaak)
van ‘n dramaturg wie se opvoerings jou meesleur én inspireer en waar die
geskrewe tekste eweneens leesplesier verskaf. Nes Edward Albee, Arthur Miller …
By ons PG du Plessis (Siener in die suburbs), Bartho Smit (Christine), om twee
ou staatmakers af te stof, nes Pieter Fourie, ‘n ander teatergenie.
Die pad byster bevat twee tekste, te
wete Hol en Trippie. Hol ontgin die obsessie met die lyf en meer spesifiek die
gym-kultuur: hoe kilojoules, die oorverdowende musiek, die plek van seksuele
konkeling, “personal trainers”, ensomeer die belydende, spreker se narcistiese
monoloog bepaal.
Hierdie teks is ‘n skitterende
“hinderlaag van die siel” (24).
En op ‘n besonderse wyse word die
lyfobsessie verbind met die ondergrond van die teks, te wete, die geweld wat
alles in hierdie land bepaal en domineer. ‘n Besoek aan ‘n tronk en die skryf
van ‘n artikel oor geweld word oordonder deur die aftel van kilojoules en
gym-verslawing. Uiteindelik impliseer hierdie teks dat ons hier te lande net
kan oorleef, as ons verslaaf is aan iets …
Dit is ‘n onthutsende analise van
dieetsiektes en obsessies. Met slim toespelings, soos o.a. die verwysing na die
Carpenters. Karen Carpenter had immers anoreksie en sy is op die jonge ouderdom
van 32 oorlede aan komplikasies weens hierdie siekte. Sy is trouens ‘n simbool
vir siektelyers, omdat haar dood mense bewus gemaak het van die werklike gevare
van die siekte. (En dan word daar ook ander name vermeld …dalk bulimies, dalk
anoreksies?)
Trippie is ‘n “intieme drama” geskryf om
op ‘n bewegende bus af te speel waar die passasiers dan die gehoor word. Die
rit is deur die Klein Karoo …
Hierdie soort teater is grensoorskrydend
en innoverend en diegene wat al deel was van ‘n bewegende verhoog of opgeraap
is om deel te word van die aksie, sal weet waarvan hierdie resensent praat.
Hier het ons die ontginning van die ontmoeting tussen twee onbekendes op ‘n
bus. Die dialoog is digterlik en assosiatief in aanbod met die vroulike
karakter, as ietwat psigoties en manipulerend. Is sy werklik gemolesteer? En
die man, is sy vrou werklik dood? Sterf hy ten slotte? Is sy verantwoordelik
vir sy dood? Is sy ‘n Eva-figuur wat hom met die appel vergiftig?
As leesteks vind ‘n mens toespelings op
Pirandello en selfs na Ionesco met sy vlugte tussen fantasie en werklikheid.
Dit is ‘n besonder boeiende teks hierdie.
Uit die pen van ‘n gedugte aktrise wat die konvensies van die teater uitdaag en
langs ‘n nuwe galery van jongelinge, soos Saartjie Botha en Jaco Bouwer, ons
hoop gee vir die toekoms. Nicola Hanekom sien haarself as aktrise. Met hierdie
dubbeldoor maak sy ‘n besliste merk en dit is werklik verblydend dat Protea
steeds hul weg oopsien om dramatekste in Afrikaans te publiseer.
Die pad byster – met Hol / Trippie –
ondersoek die binneruimte van ‘n vrou op ‘n grens en mense praat in digterlike
taal wanneer hul spanningsituasies ervaar, het D.J. Opperman by geleentheid
opgemerk. Ek is werklik spyt dat ek die produksies van hierdie twee dramas
misgeloop het!
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Rapport)