Saturday, August 9, 2014

Irvine Welsh - The sex lives of Siamese twins (2014)


Irvine Welsh - The sex lives of Siamese twinsJonathan Cape / Jonathan Ball, 2014. ISBN 978 0 224 08789 6
Resensent: Joan Hambidge

Daar is twee skrywers wat morele grense uitdaag, te wete Irvine Welsh en Michel Houellebecq. Beide laat jou ril en maak jou dikwels uiters onrustig, maar is terselfdertyd meesleurende storievertellers en uitdagende stiliste. Die een Skots, die ander Frans. Toe Welsh gedebuteer het met Trainspotting (1993) kon niemand voorsien dat hy die pas sou volhou nie en met Filth (1998) - wat nes sy debuut verfilm is - het hy hom as die meester van die transgressiewe gevestig, dit wat ons waarskynlik kon beskryf as "hiper-realisme" of selfs "dirty realism".

Met sy jongste roman klim hy kaalvuis in onder die Amerikaanse obsessie met die lyf en voorkoms. Die verhaal begin - en hier is die satiriese Welsh natuurlik aan die werk - wanneer Lucy Brennan, 'n "personal trainer", vir Lena Sorensen, 'n "small fat chick" ontmoet. In Miami. Toevallig. In 'n geweldstoneel wat Lena afneem. Reeds in hierdie kort gegewe maak Welsh 'n skerp analise van die moderne Amerikaanse samelewing: lyfobsessie, geweld, die oralaanwesige, priemende, kliekende moderne media ...

En dan besluit Lena om gewig te verloor en Lucy word haar "trainer". En presies die teenoorgestelde gebeur, tipies Irvine Welsh, wanneer Lucy meer besete raak met Lena as wat die leser sou verwag. Welsh laat hom nooit deur "lesersverwagtinge" voorskryf nie. Hy fnuik dit van ammelee se dae. En presies dít maak hom so 'n goeie skrywer. Jy onthou die dooie babatjie in die kot na 'n nag van dwelmroesemoes en hoe hy uitstel oor die gevolge hiervan in Trainspotting?

In sy jongste roman is Lena van Boston en Lucy van Minnesota en hulle ontmoet in Miami. Sadomasochisme is onderliggend aan hierdie verhouding, wat teen die meeste lesers se morele grein sal ingaan. Gemorskos en "fast food sex" word in jou keel afgedruk. Reeds die titel aktiveer die fantasie van die ongerymde: hoe sou 'n siamese tweeling se sekslewe daar uitsien? Dis 'n roman so reg in die Jerry Springer-kraal: 'n verheerliking van die afwykende en grillige. Trouens, as jy oorgewig is in die sonvelde van Miami word jy hanteer as 'n melaatse, vertel hierdie roman. En ja, die vetste mense het ek in die VSA gesien.

Welsh is tans woonagtig in Chicago en hy verstaan dus die verpletterde Amerikaanse droom ten volle. Hierom dat terme soos Amerika, demokrasie, Vryheid en God vandag alleen spottend en ironies gebruik word, mymer ‘n verteller. Die slot is skokkend en sinies oor die rol van kuns en letterkunde in ons samelewing. Uiteraard sou die kritiese leser ook die uitsprake op Welsh se skryfwerk van toepassing kon maak; of dalk dink hy die uitsprake oor “crappy novels” en “fake asses”  is nie op hóm van toepassing nie?

Die boek is veelstemmig: notaboeke, oggendmeditasies, e-posse, vertellings in kursief aangebied. Hierdie tegnieke is eweneens aanwesig in Sarah Lotz se onlangs verskene roman The three en hierom lyk dit bykans na ‘n nuwe modegier binne die moderne  romankuns. Dalk kommentaar dat daar soveel stemme is dat geen styl meer baas speel oor ‘n ander nie? Dat selfs skyfsels op Facebook deesdae paradeer as skryfwerk?

Op 'n keer het Houellebecq opgemerk: "I admit that invective is one of my pleasures. This only brings me problems in life, but that's it. I attack, I insult. I have a gift for that, for insults, for provocation. So I am tempted to use it."  'n Mens kan hierdie opmerking eweneens van toepassing maak op Irvine Welsh.

Welsh, soos sy Franse skryfvennoot, hou jou aandag; bykans soos by 'n motorongeluk waar jy teen wil en dank kyk na die lyke. Beide weet watter knoppies om te druk sodat jy verder lees aan 'n mistroostige, opgefoeste bestaan

Maar skryf kan hy skryf. Dis nou maar wors. Ek moet bely ek is reeds besig met Porno (2002), terwyl Lars von Trier se Antichrist knor in die dvd-speler. Moreel staan dit my egter nie aan; ek bewonder wel hierdie uitinge as siniese kunswerke.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Beeld.)