Wilma
Stockenström. Abjater wat so lag.
Human & Rousseau, 2008. ISBN 0798127740.
Resensent: Joan Hambidge
NB-uitgewers se
publikasieprogram rondom die heruitgawe van klassieke romans in Afrikaans moet
wyd geloof word. Die jongste een is Abjater wat so lag, die gedugte digter en
prosaskrywer Wilma Stockenström se vaartbelynde konfessie. Vir hierdie boek is
sy tereg in 1992 bekroon met die Hertzogprys.
Dit is ‘n
eerstepersoonvertelling, die verhaal van ‘n wit meisie wat as bediende werk en
haar indrukke gee van die wêreld om haar.
Sy is
onaansienlik en kom uit ‘n armoedige agtergrond en hierom het sy ‘n bediende
geword. Telkens kyk sy na haarself in die blink spieëls van die gepoetste
oppervlakte om haar. Sy vertel hoe sy sien en onthou en haar sosiale bestaan
maak van haar ‘n outsider: sy is wit, maar ‘n bediende. En in die tyd, ons dink
dis so tussen 1945 en 1955, maak dit ‘n bepaalde sosiale stelling.
Verder is sy ‘n
doodsbegeleider, ‘n “hospies” in haar eie woorde ‘n vroedvrou van die dood, en
sy is dan ook waarnemer van die fase tussen lewe en dood.
Sy lewer
kommentaar op hierdie proses, oor hierdie finale reis en sy wil ‘n soort mag
hieroor uitoefen.Nie net is sy onaansienlik nie, maar het ‘n donkiestem en in
haar konfrontasie met die dood, sing sy vir Abjater – en hy lag. Maar hierdie
lag neem hom dan na die dood. Sy neem die begrafnis waar en die troebel
verhouding tussen Abjater en sy vrou word vanuit haar perspektief gegee,
gebaseer op die skinderstories van die dorp. Om jou dus dood te lag, word hier
nuut beskou.
Sy is eenvoudig.
Abjater het ‘n diep wond en ‘n letsel aan die siel opgedoen in Abessinië.
Volgens haar het hy gereis na die woestyn waar Josef en Maria met die Kindjie
Jesus geswerf het. Vir haar was hy in Egipteland waar hy laggend gaan veg het
(108). So word die roman dan slim gesitueer binne die WOII en net daarna.
Die verteller is
egter naamloos.
Ons sien alles
vanuit haar perspektief raak en hierdie is haar binnespraak wat die leser
meemaak in die vyfde roman van Stockenström wat oorspronklik in 1991 verskyn
het. Die leser word ingetrek in ‘n teks, ‘n stuk vertelling, wat soos ‘n vloed
oor jou spoel.
Dit het die
kwaliteit van ‘n Virginia Woolf-roman en hierdie is dan die bewussynstroom wat
jy al lesende meemaak.
Vir my is dit die
hoogtepunt in hierdie outeur se besondere prosa-oeuvre. Meesleurend, intiem,
subtiel, pynlik en ‘n roman wat binne die sub-genre van die belydenisliteratuur
internasionaal kan meeding.
Die omslag is
perfek: van Lien Botha.
Ook hier kan die
leser die fantasie gebruik. Is dit selonsrose? Wilde rose? Takke?
Lees dit. Dit is
werklik ‘n klassieke teks.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]