Jaco Kirsten. Om na ‘n wit plafon te staar. Tafelberg
Uitgewers, 2009. ISBN 9780624047117.
Resensent: Joan Hambidge
Hierdie roman
word tipeer as ‘n reguit roman. Reguit? Dis bepaald wat dit is. Op die man af.
Sonder draaie of swaaie. Dis ‘n satire van Naspers en die media. Dit vat
regstellende aksie en die lot van die wit man aan in die huidige onseker
Suid-Afrika. In hierdie opsig is die plafon van ‘n dubbelsinnige titel. Dit dui
op iemand wat net staar na die plafon, maar ook die plafon van sy loopbaan
bereik het. Hy kan nie hierdeur breek nie.
Die basiese
storielyn handel oor Lourens se poging om ‘n roman te skryf: polities-inkorrek
en in die oë van talle aanstootlik en onaanvaarbaar. Hy is die skrywer van die
motorbylaag (nes die werklike skrywer op sy dag was!) en wil eintlik aan almal
rondom hom bewys dat hy ‘n ernstige skrywer is…
Die eerste
gedeelte beland per ongeluk op die ombudsman se lessenaar wat egter in staat is
om die skryfsel te sien vir wat dit is: satire.
Die roman wentel
tussen herkenbare en onherkenbare figure. Die leser kan dikwels mense herken en
name is net effens aangepas of verwring.
Is dit nodig? Ek
bedoel waarom het hy nodig om die grense so aan te lê? Dit is juis die punt van
die roman, om hierdie spel met Barthes se vraisemblance vol te hou.
Die uwe word
sommer by die naam genoem.
Ek haal graag
aan:
“Ja, man, kak
soos intertekstualiteit en so aan. Ek het mos paar jaar gelede ‘n kursus in
skeppende skryfkuns op varsity gedoen. Jy maak heeltyd sulke side-ways verwysings
na goed in ander boeke. Die resensente is mal daaroor en dit laat hulle slim
voel as hulle dit raaksien. Veral Joan Hambidge is goed daarmee en miskien gooi
sy ‘n bietjie van Umberto Eco en die semiotiek in. En as jy gelukkig is, dan
fok sy jou nie op met ‘n verwoestende resensie nie!”(p. 64).
Aan die woord
hier is MJ (Emile Joubert?) die bekende wynskrywer en kortverhaalskrywer wat
die uwe eweneens in ‘n verhaal opgestuur het en toe nie die pak slae in ‘n
resensie kon vat nie.
Umberto Eco se
Travels in hyperreality kom hier handig te pas, net soos sy spel tussen die
oop/geslote teks vir die leser relevant sal word.
Party sal meen
hy gaan te ver; ander sal glimlag en hard lag oor die opstuurdery.
Die punt is ons
maak die roman-in-wording mee en is uitgelewer aan Kirsten se galgehumor.
Die boek,
Transformasie-medikasie, word weergegee en al die clichés en bekgevegte rondom
boeke en bemarking word aan die kaak gestel. Ook hier is herkenbare figure wat
die spit afbyt.
Maar van
lekkerlag, kom lekkerhuil. Soos dit dikwels gesteld is met goeie satire, draai
hierdie boek teen homself en haal die werklikheid van regstellende aksie mense
in.
Daar is
selfmoord en moord.
Meer durf ek nie
verklap nie.
Op bladsy 149 wonder die skrywer of ek hom uitmekaar
gaan ruk? My besluit:
Hy kan skryf. En
vertel. En dus die hele punt.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]