Saturday, February 2, 2013

Sebastian Barry - The secret scripture (2008)



Sebastian Barry. The secret scriptureFaber & Faber, 2008. ISBN 978 0 571 239610.

Resensent: Joan Hambidge

Die roman behandel die tema van verlies en dit is geskryf in die toonaard van die caion (cian), die Ierse lamentasie. Sebastian Barry is gebore in Dublin en hierdie roman vertel die verhaal van Roseanne McNulty, ‘n pasiënt van die Roscommon Regional Mental Hospital wat gesluit gaan word. Niemand is presies seker hoe oud sy is en war sy vandaan kom nie. Haar verhouding met die psigiater, dr Grene, is die tema van hierdie roman. Die leser word bekendgestel aan hul onderskeie joernale en ons ervaar dus eerstehands hul persoonlike ervarings. Ons lees van haar verhouding met haar vader,’n eenvoudige grafgrawer en ons beleef sy verwerking van die dood van sy vrou, Bet.

Die outeur presteer dit om die verskillende persoonlikhede oor te dra en die tekstuur van die vertellings verskil.

Die roman werk met ‘n buite-spanning, naamlik die sluiting van die gestig teenoor die binnespanninge van die twee karakters: die ou vrou wat haar jeug herroep die dood van haar vader en die psigiater wat terugkyk op die verbintenis met sy vrou. Die subtiele interaksie tussen psigiater en pasiënt word in die verskillende joernale gejukstaponeer met mekaar. Die intense Ierse geskiedenis en die verhouding tussen die Katolieke en Protestante kom aan bod. Sligo in die dertigerjare word met presisie beskryf en die eenvoudige vader en die verhouding met sy dogter word met subteks gelaai.

Sy noem haarself die vroedvrou van haar lewensverhaal en die leser is toeskouer van hierdie ingewikkelde en dwingende proses. Sy beskryf haar psigiater se baard en hoe dit iets wegsteek. Amper nes ‘n voël wat in ‘n toegemaakte kou skuil. “Or a hedge around a secret garden”(97). Hierdie is dan ‘n metafoor vir a die geheime en onthullings wat ons beleef. Die psigoanalitiese leser sal by uitstek hierdie roman opwindend vind in die voortdurende spel tussen analis en analysand (Lacan) of selfs ‘n Jungiaanse lesing hiervan kan maak. Vir die buiteleser is die beskrywings van die Ierse gewoontes en geskiedenis eweneens ‘n belangrike reistog.

Die romanskrywer se digterlike beelde is opvallend: ons verneem van ‘n cornucopia van verdriet, ‘n beeld wat die leser duidelik neem na die mitologie, maar ook na die oordadigheid en bykans skoonheid van hierdie proses.

En die slot wat deur sekere wysneuse as té melodramatise afgemaak word?

Ek vind dit een van die ongelooflikste beskrywings, want in hierdie hellevaart van die vrou besef ‘n mens watter rol ‘n gemeenskap speel met hul etikettering van mense sodat ekstreme dade uiteindelik die enigste wyse is waarop so ‘n mens tot stilstand kan kom.

“Morality has its own civil wars…”(278) besef die psigiater wanneer hy verwonderd staan voor haar ontboeseminge wat hy voel vir hóm geskryf is.

Dit is ‘n aangrypende roman. Die toespelings op die politieke ongeregtighede in Ierland wat soos trauma werk, naamlik leuens wat waarheid word, is ‘n ander leestog.

Reading in the dark van Seamus Deane en Frank McCourt se Angela’s ashes het my laas so aangegryp. The secret scripture is ‘n ryk geskakeerde roman wat reeds ‘n gesogte prys ingepalm het.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]