Dirk Nagtegaal. Kok en
skinker. Joho! Uitgewers, 2009. ISBN 9780980275407.
Resensent: Joan Hambidge
Deesdae is daar
in elke dagblad of tydskrif ‘n reisrubriek of
-bylaag. En dan ook ‘n kookafdeling: hier is dit ‘n geval van ek is kok
in my kombuis of dalk: as kok en kok se maat stry kry. Op TV is daar
allamagtige groot ego’s wat vertel hoe ‘n mens moet bak en nie brou nie.
Deesdae is die domein van die kombuis ook nie meer vroulik nie. Vroue word
oorheers deur sjefs wat in die kombuis wys hoe die beste soufflé gemaak moet
word en in Afrikaans het figure soos Kerneels Breytenbach, Hennie Aucamp,
George Weideman, o.a. ‘n meer letterkundige klankie aan hierdie genre gegee,
terwyl C. Louis Leipoldt natuurlik die koning was van die polfyntjie vir die
proe.
Wat sou dit
wees? Hierdie versugting na verre plekke en die groot honger wat die wêreld
beetgepak het?
Sou die
psigoanaliste dit kon verduidelik?
Kok en Skinker
is die uitgewer Dirk Nagtegaal se bydrae tot hierdie genre. Dirk Nagtegaal
beskryf himself as ‘n lekkerbek op die agterblad waar die boek vergesel word
met ‘coup de chapaeu’ van Ettienne Venter, die sjef by die Mount Nelson. Hy
noem die spyskaarte eenvoudig, dog gesofistikeerd.
400 Resepte,
uitgewerkte menu’s, en wenke oor kos en wyn maak van hierdie 556 hardeband boek
‘n moet. Weg met jou Huisgenoot se wenresepte en ek gaan beslis hierdie een vir
my moeder pos wat nou onlangs weer gesoek het na Mevrou De Villiers se ou
staatmaker, Kook en Geniet, toe hare weggeraak het in ‘n trek.
Elke resep is
persoonlik uitgetoets en ‘n wonder: is elke soort wyn ook beproef?
Die boek word
opgedra aan die skrywer se moeder, Lucia Nagtegaal.
Sy ma was ‘n
voorste kok en het kookklasse onder die bome aangebied.
Haar
lewensfilosofie was: as jy kan lees, kan jy kook! Na haar dood het Dirk
Nagtegaal hierdie boek saamgestel as ‘n soort huldeblyk aan haar en die gesin
wie se lewensfilosofie is dat hulle lewe om te eet.
Die boek is
uitgegee om te lyk soos ‘n Michelin-gids!
Nou hoeveel van
die resepte het ek beproef? ‘n Hele paar, hoor. (Vir my is kook ontspannend en
miskien verklap ek eendag my osstertresep met pere en lemoene!)
Soos die pesto
vir die geliefkoosde pasta. En die
braaipapsous (hier slaan my Transvaalse verlede deur). Om nie te praat van die
heerlike biersous vir die T-been nie.
(En ja die kok
fluister inderdaad in jou oor dat die marinade moet staan voordat dit
‘gewigtig’ raak.)
Omdat ek nie
soettand het nie, het die poedings my verbygegaan. Maar iets met ‘n brand, het
my laat stilstaan: soos wortels met byt – dis hier die cayenne-peper en mosterd
wat praat.
Dikwels is die
eksotiese nie op die voorgrond nie, maar eerder die praktiese aanslag wat praat
soos Aspersierolle, toegerol in ‘n snytjie vars brood! Te lekker!
Wel, veral die
wynsake, waarvan ek ‘n kenner en beproewer (all puns intended) is, kan nie
befout word nie.
Kyk byvoorbeeld
hoe insigryk verklap hy al die geheime van ‘n Chardonnay (bladsy 183) waarin hy
die verskille tussen die gehoute en ongehoute een uitwys.
Die boek is
besonder mooi uitgegee. Soms word die resep in ‘n handskrif weergegee sodat jy
voel jy koekeloer in iemand anders se resepteboek.
Die boek is ook
voorsien van nuttige kooktaal. Soos wat vir ‘n ding is bedruip en maak jy met
beslag.
Of blansjeer!
Sou ‘n digter ‘n gedig kan blansjeer?
Oor die
kultivars of druifsoorte word daar knap geskryf.
Daar is ‘n
handige indeks.
Die boek is vol
gesinsfoto’s. Ons herken vir Jackie en Vera, vir Reinette, vir Albert Maritz,
en andere.
Dit is die soort
boek wat jou laat besef: bel jou moeder dadelik en vra haar om al haar
geliefkoosde resepte op te skryf. Voordat dit verlore gaan.
Soos daardie
beroemde resep van my ma: varktjops in appelmoes en rys in die oond stadig
gebak…
Dirk Nagtegaal
se boek, met ‘n lieflike voorbladfoto van Antonia Steyn, is ‘n moet vir die
bakker, skinker, en opskepper.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]