Showing posts sorted by relevance for query roland barthes a lover's discourse. Sort by date Show all posts
Showing posts sorted by relevance for query roland barthes a lover's discourse. Sort by date Show all posts

Friday, June 3, 2016

Joan Hambidge - Argief




Op soek na ‘n misgeplaaste objek in my biblioteek-cum-argief waar ek tuisgaan, kom ek af op Roland Barthes se Writing degree zero wat onder my dubbelbed geland het. Die bed het vier kaste onderin. Hier berg ek ‘n kamera, ekstra brille, pille en ‘n ekstra sleutel vir my motor. Aan die ander kant van die bed is daar twee laaie met lakens en ‘n ou kombers uit my jeug.

Vanoggend soek ek na die objek. Haal die matras van die bed af om te kyk of dit nie dalk iewers ingegly het. Of moontlik geberg in een van die laaie?

Maar die soektog-na-die-verlore-objek konfronteer my met ‘n legger wat ek gehou het tydens ‘n navorsingstydperk aan Harvard en briewe van my moeder. In haar netjiese handskrif. Briewe waarvan ek al vergeet het.

In dieselfde legger is daar e-posse van Johann de Lange as ‘n “bevestigende vlam” van ‘n lang digtersvennootskap en vriendskap.

Langs die legger is daar ‘n netjiese houer met ou pille, botteltjies, medisyne – artefakte uit die ooskus van Amerika. Objekte wat ek nie kan weggooi nie, omdat dit iets representeer van ‘n tydperk, ver terug in die tyd (1999) toe Barbara Johnson nog geleef het.

Ek stof af …

Ontdek ook ‘n e-pos van ‘n voormalige vriendin.

Die dood van ‘n vriendskap. Ek stap na my raak en kyk na Barthes se A lover’s discourse. Dikwels is vriendskappe al lankal verby, maar ‘n mens kan dit nie aanvaar nie.

“To know that one does not write for the other, to know that these things I am going to write will never cause me to be loved by the one I love (the other), to know that writing compensates for nothing, sublimates nothing, that it is precisely there where you are not — this is the beginning of writing”, aldus Barthes in sy liefdesboek.

Maar ek moet nou ophou soek na die verlore objek. Ek het ‘n visumafspraak om 1nm vir ‘n reis na Wenen. Freud, Wittgenstein en Klimt se stad. Die stad van The third man en Bad timing.

Ek is vroeg by die konsulaat en ‘n jong Xhosa-vrou gaan my dokumente deur. Ek verwag altyd die ergste met sulke besoeke. Iewers vind die beampte fout. Jou foto is verkeerd – jou lippe is effens oop. Of jou bankbesonderhede is verkeerd. Of jy moes eers hierdie visum kry voordat jy daardie een kan kry, unsw.

Die mag van die burokraat.

Hierdie vrou is iets heel besonders. Ons is albei gebore op Aliwal-Noord roep sy met vreugde uit. En ja, sy kom van Johannesburg en kan Zoeloe, Xhosa, Afrikaans (’n bietjie) en Engels praat.

Ek vertel haar van die taalstryd op Stellenbosch.

Sy kyk my in ongeloof aan.

“Ons swartmense en Afrikaanse mense se taal is van hier,” sê sy sonder skroom. Langs ons sit ‘n Russiese vrou en haar kind. Hulle luister na ons gesprek. Sy praat Russies met haar kind wat hier gebore is en Afrikaans kan praat. Bly Russies praat met hom, beveel ek. Dit raak ‘n wonderlike gesprek oor moedertaalonderrig.

Sy is van Vladivastok. Die seun gaan na Bishops. Nou word my vingerafdrukke gekiek.

Ek is op die sisteem.

Betaal ‘n boel geld vir my reis na Freud se stad.

Dieselfde aand ontdek ek die verlore objek:

Orfeus en Euridike *

As jy soos Euridike
in ‘n algebra van nood
voortydig die onderwêreld betree,
sal ek soos Orfeus
daagliks my lot betreur.

Miskien sal jy die grein
van my stem herken in dié dood
wanneer my woorde
jou in dié tussenplek bereik:
ek sal nie terugkyk, ek beloof.


Bibliografie:

Writing Degree Zero (1968).
Roland Barthes by Roland Barthes (1977).
A Barthes Reader (1982).
A Lover's Discourse : Fragments (1990).

The Grain of the Voice: interviews 1962-1980 (1985.

© Joan Hambidge

Tuesday, February 16, 2016

Fanie Olivier (Samest) - Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte (2016)



Fanie Olivier (Samest) - Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Human & Rousseau, 2016. ISBN 9780798170406

Resensent: Joan Hambidge

I

Op die Versindaba het ek in 2010 geskryf oor die liefdesgedig in 2010 en onder meer gesprek getree met Roland Barthes se beroemde  A lover’s discourse (Woorde wat Weeg/ Die liefdesgedig. ‘n Persoonlike belydenis).

Marius Crous resenseer die bundel vanoggend 15 Februarie vir Die Burger en Beeld (“Olivier se groot verseboek van die liefde”) en verwys eweneens na Barthes se beroemde fragmentariese teks. Die intertekstuele spel tussen resensies kan ‘n interessante vakgebied word. Toe ek indertyd verwys het na “vermeende” foute in Kerneels Breytenbach se roman Ester het dit my groot jouissance verskaf om te sien hoe dit die resepsie van die teks verander het. Die sogenaamde “fout” in die (post)moderne teks mag; dit weet ons uit D.M. Thomas se Flying into love (1992) waar die historiese werklikheid aangepas word of in sy roman The white hotel (1981) waarin Freud en Jung optree. Die kenner van hul lewens weet watter kanse Thomas vat. Terselfdertyd is Barthes oor die liefde ‘n seminale teks waarsonder ‘n mens nie die sogenaamde “heel mooiste” liefdesvers kan benader nie.

Hierdie boek verskyn presies drie jaar na die moord op Reeva Steenkamp. Op daardie dag vier ek vir oulaas Valentynsdag met my geliefde, ‘n geskryfde, en ‘n jong man gee vir ons elkeen ‘n roos persent – een vir my, een vir die geskryfde, een vir sy geliefde. Drie jaar later is ons deur die media-verhoor van Oscar Pistorius en al die kwessies rondom ‘n verhouding wat die pers sou uitblaker …

En as jy die liefde ken, weet jy deur watter pyn hierdie man moes gaan na haar dood.

Hierdie kwessie neem ‘n mens na G.A. Watermeyer se klassieke vers uit 1948 wat heet “Ballade op die dronkparty” wat so eindig:

Die liefde is die bitter glas, 
die droë glas, die donker glas;
die liefde is die naverdriet
wat in die hart se holte pas.

Hoe resoneer hierdie vers nie steeds nie?

Olivier se bloemlesing is myns insiens belangrik, omdat hy die net wyd gooi; waarskynlik te wyd, maar vanuit ‘n historiese perspektief is dit opwindend om die ontwikkeling van die liefdesgedig te sien. En hierom sal ‘n mens sterk reageer op die nou geykte “Jou liefde is ‘n helder vlam / wat stil en suiwer voor my brand” van I.D. du Plessis wat in 1952 verskyn het. En Boerneef as motto as waarskynlik ook al ‘n bietjie lank in die tand:

Mits dese wil ek vir jou sê
Hoe diep my liefde vir jou lê

Breytenbach se “Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif” is ‘n klassiek.

Sekere liefdesverse in Afrikaans is onvergeetlik mooi: daardie nog-in-my-laaste-woorde of die beklemmende teen dusketyd, een van die verruklikste verse van Boerneef.

Dit is goed dat hy jonger digters ook opneem, want hul belewenis van die liefde is anders: daar is die internet, sms-taal, moderne musiek, ensomeer wat Valentynsdag op Facebook anders daar laat uitsien.

Die meeste liefdesverse handel oor die bloedige afloop: Carol-Ann Duffy se liefdesverse bewys dan ook dat Jonker reg was:

die liefde’s niks anders
as die verlange (“Gistraand”, 1963).

Die dye trek die dye aan (Johann de Lange en Antjie Krog) 1998 is die pendant vir hierdie versameling van Olivier: hier is dit die meer robuutse seksvers wat opgeneem word. ‘n Mens sou dit ook lyflike verse kon noem.

II
Roland Barthes se bekende A lover’s dicourse dra ‘n sub-titel, te wete “fragmente”.  Miskien omdat ‘n mens nooit die geliefde in volledigheid kan beskryf of besit nie.

Die “discours amoureux” is in Afrikaans só veelsydig. Barthes beskryf hoé die geliefde jou volledige universum word en dat jy later alles as tekens van die geliefde interpreteer.

Barthes skryf oor die “angoisse” of agonie wat die geliefde ervaar: die wag op ‘n wederwoord of ‘n verwerking van die afsegging, van die verby-wees oftewel, die “cri de coeur”.

Is die parodie of pastiche nie dalk juis ‘n poging om hierdie pyn te probeer systap nie?

Want die liefdesvers dra in sigself die Petrarcaanse paradoks: jy raak dikwels verlief op die projeksie wat dalk niks met die werklikheid te make het nie. Petraraca, so skryf  kenners van die Canzoniere, het Laura nooit geken nie, sy was ‘n maaksel / ‘n konterfeitsel.

Tog het hy bitterlik geween toe sy dood is.

III

Olivier (tans woonagtig in Pole) het hierdie bundel vanuit die buiteland saamgestel. Volgens sy eie belydenis in ‘n biblioteek in Gent. Hy verwys dan ook na ander bloemlesings met “omvattende inleidings” en hy skryf:”Literatore sou miskien kon hoop op teoretiese opmerkings. Oor waar en wanneer die sonnet oorheers, wat die funksie van die kwatryn is om te help dat die gedig die emosie temper en of daar iets te sê is oor langer of korter gedigte teen die maatskaplike, politieke of ekonomiese agtergrond”.

En dit is presies wat hierdie leser – sowel die digter as die teoretikus – verwag van ‘n bloemlesing. Ons is nou onlangs vergas met ‘n bloemlesing wat praat oor gedigte wat nie daarin opgeneem is nie (In a burning sea), en lesers bestaan immers ook uit studente wat iets moet verstaan van die tradisie waartoe hulle behoort. En dat daar teorieë bestaan dat die Petrarcaanse sonnet die droom en werklikheid van Petrarca se psige vergestalt en dat die kwatryn – daardie “weerlig van die ongeloof” – juis die vinnige liefdesuiting só uitstortend opvang. Skryf mans juis hierom meer dikwels kwatryne as vroue? Is die kwatryn ‘n soort saadstorting?

Ons sou eweneens ook die gesprek tussen digters verhelder wou sien – soos De Lange se “Nog in my laaste blow job” (uit 2014) terug praat met Van Wyk Louw; of Antjie Krog se ‘huisskoonmaak” uit 2014 tree in gesprek met Eybers in ‘n (verhulde) sonnet.

Hipotese: Daar bestaan ook genderverskille tussen gedigte van manlike digters (wat dikwels meer op die sien/kyk fokus) en vroulike digters wie se verse meer fokus op aanraking. Bevestig deur Tom Gouws se gedig uit 2012 “vrou slapende” waar die man kyk en ‘n bestekopname maak van die vrou en die taktiele vers van Petra Müller uit 2002 wat “onderweg” heet.

Die gedig as “deurskynende liggaam” (196) sou ‘n mens weer kon neem na Barthes se The pleasure of the text …

Watter digters het die meeste verse geskryf oor die onderwerp van die liefde? Skryf gay-digters meer oor die afgelope, kortstondige verhouding as straight digters?

En handel ‘n liefdesgedig oor ‘n werklike liefdesavontuur of oorstyg dit juis die oomblik? Ek onthou hoe drie vrouens aanspraak gemaak het op ‘n liefdesvers in Bitterlemoene en nou onlangs is ‘n liefdesvers van my in ‘n in memorian in Die Burger geplaas wat die liefdesvers “Wete” verander het na ‘n lykdig.

Hou ons digkuns op hierdie gebied kers vas by buitelandse bloemlesings?

Wie kan Pablo Neruda troef?

Die “heel mooiste” dui reeds op ‘n emosionele uiting.

In die kolofon staan daar dat die uitgewer haar bes gedoen het om al die digters op te spoor. Indien die uitgewersbrief jou nie betyds bereik het, kontak die uitgewer. 

Of skryf eerder nog ‘n gedig, meen ek.

Hierdie bundel het in 1986 verskyn vir die eerste keer en herdrukke en uitbreidings beleef in 1992, 2001, 2006.

Ook dit sou tersaaklik wees: die veranderende politieke “back drop” en hoe digters steeds bly dig oor die liefde ten spyte van alles wat verander (het) en aanspraak maak op ons daaglikse oorlewing.

Kaapstad, Februarie 2016


Bibliografie

Barthes, Roland. 1979. A lover’s discourse: Fragments. New York: Hill and Wang.

                                1973/1975.  The pleasure of the text. New York: Hill and Wang.

Brink, A.P. 2000. Groot verseboek 2000. Kaapstad: Tafelberg.

De Lange, Johann. 1998. Die dye trek die dye aan. Kaapstad: Human & Rousseau / Tafelberg. (saam met Antjie Krog).

Olivier, Fanie. 1992. Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Kaapstad: Human & Rousseau.