Monday, January 16, 2017

Andrei Tarkofski – Ivan’s Childhood (1962)


I
Oor die films van Andrei Tarkofski het ek al uitgebreid geskryf. Sy films resoneer met my siening van die lewe en kuns. Sy eerste rolprent Ivan’s Childhood het analises ontlok van Ingmar Bergman en Jean-Paul Sartre, o.a.  

Bergman het by herhaling sy bewondering vir Tarkofski uitgespreek (Sculpting in Time_on life and Art with Andrei TarkovskyBesoek 16 Januarie 2017).

Hierdie rolprent - gemaak in 1962 - is gebaseer op ’n kortverhaal van Vladimir Bogomolof (1957). Dit is 130 minute lank, maar vereis vele herkyke, omdat dit gelaai is met sub-teks en droomsekewense, iets waarin Tarkofski uitmunt. Daar is min filmmakers wat drome so behendig kan aanwend as hierdie Russiese filmmaker, en volgens sy vrou gebruik hy dikwels sy eie drome as verhaalelemente in ’n film. (Hieroor sal daar later geskryf word na die soveelste herbesoek van die filmdokumentêr oor sy lewe en sy werk. In hierdie memoir maak hy die uitspraak: ek is my films; my films is ek.)

 Die gegewe van die film handel oor ’n jong weeskind, Ivan wat betrokke raak by die oorlog in WOII en waarskynlik wil wraak neem, omdat die Duitsers sy ouers doodgemaak het.

Die rekonstruksie van hierdie kort verhaalopsomming gaan gepaard met komplekse vertelstrategieë, soos non-liniêre vertelling; terugflitse; ’n sirkelgang (die begin en einde is waarskynlik ’n soort droomsekwens); die gebruik van historiese dokumentasie, o.a. oor Goebbels; ’n sub-plot (die verhouding tussen die soldaat en Masha).
II

’n Twaalfjarige kind, Ivan Bondaref, beleef  ’n droom. Sy moeder en hy sit langs ’n put. Hy beweeg af in die put en wanneer hy binne-in die put is, kom ’n emmer af. Ons hoor ’n skoot en wanneer hy na bo beweeg, is sy dood. Die kyker besef nie dadelik dat dit ’n droom is nie. Die moeder is egter reeds dood. En dit sluit by die slot aan wanneer hy in ’n ander droomsekwens saam met ’n jong dogter oor die strand hardloop. Voor dit sien ons perde wat appels vreet.

Die film sluit met ’n beeld van ’n dooie boom. Aan die begin word daar geroep na die moeder; aan die slot is daar volledige stilte, omdat Ivan dood is.

Na die droomsekwens aan die begin, beleef ons die jonge Ivan se swemtog oor ’n rivier. Hy dring daarop aan om deel te wees van die oorlog. Luitenant Galtsef is die ondervraer. Die jong kind word wel ernstig opgeneem deur Luitenant-Generaal Gryaznof, en Ivan verduidelik in sy verslag hoe sy ouers en suster deur die Nazi’s vermoor is. Die terugflitse gebeur eweneens non-liniêr. Ivan weier om na ’n militêre skool of weeshuis te gaan. Hy wil aktief deel wees van die oorlog.

Hy word deur die soldate toegelaat om aan te bly. Teen die mure is die name van die gedoemde soldate uitgekrap.

Kholin and Galtsef neem Ivan laatnag oor die rivier.

In die laaste tonele sien ons in Berlyn die impak van die oorlog. Goebbels se gebrande lyk, sy vergiftigde kinders - hiermee wil Tarkofski die geweldige impak van die oorlog op kinders beklemtoon en word dit duidelik waarom ’n kind gebruik word om die storie te vertel.

Kholin is dood in die oorlog en Galtsef bekyk dokumente waarin hy ontdek dat Ivan deur die Duitsers gevang en opgehang is.

Die film sluit af met die jong, gelukkige kind wat saam met ’n jong meisie oor die strand hardloop - met die finale skoot: ’n dooie, uitgeholde boom. (Simbolies beskou is dit ’n beeld vir die impak van die oorlog.)

Nikolai Burlyaev is Ivan Bondarev (Nikolai Burlyayev– Wikipedia. Besoek 16 Januarie 2017).

III
In romanterme sou ons kon verwys na ’n ouktoriale verteller wat buite die gegewe staan en die verhaal gedistansieerd vertel, maar ook manipuleer. Dus, Tarkofski as ouktoriale verteller met die direkte belewenisse van die karakters en droom-sekwense.

En die sterk simboliek van hierdie pakkende rolprent. Oorlog beteken die dood van drome; die dood van onskuld.

In sy memoir Sculpting in Time Reflections on the Cinema skryf hy:
Masterpieces are born of the artist’s struggle to express his ethical ideals. Indeed his concepts and sensibilities are informed by those ideals. If he loves life, has an overwhelming need to know it, change it, try to make it better, – in short, if he aims to cooperate in enhancing the value of life, then there is no danger in the fact that the picture of reality will have passed through a filter of his subjective concepts, through his states of mind. For his work will always be a spiritual endeavor which aspires to make man more perfect: an image of the world that captivates us by its harmony of feeling and thought, its nobility and restraint.
Tarkofski (1932 - 1986) is op 54-jarige ouderdom oorlede in Parys. Sy films het veral in die buiteland baie lof ontvang. In die film-memoir - met Erland Josephson as die kommentator - laat hy hom uit oor hoe hy films maak en die impak en betekenis van tyd. Filmkuns, beweer hy, is die een kunssoort wat direk met en in tyd werk.

Tarkofski had uiteraard respek vir Coppola se The Godfather, ’n film wat ek beskou as ’n hoogtepunt in sy waarneming van die familie, die Katolieke kerk, bedrog, verraad, die verhouding tussen Italië en die VSA, die rol van die immigrant.

Met die wonderbaarlike Al Pacino (My Life as a Blog | What Andrei Tarkovsky Said AboutFrancis Coppola. Besoek 16 Januarie 2017).

Terug na wyle Josephson, ’n akteur deur sowel Bergman as Tarkofski gebruik. ’n Besielde vertolker van hul komplekse werk.

© Joan Hambidge


Etienne Terblanche - By die nag se wit kant (2016)

Etienne Terblanche - By die nag se wit kant. Protea Boekhuis, 2017. ISBN 9781485306016

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie bundel maak die indruk van ’n digter wat buite die kodes van Afrikaans dig. ’n Sterk nuwe stem kan uiteraard die bestaande orde ­omverwerp met #KonvensiesMoetVal. En ’n handvol het dit in Afrikaans reggekry: ­Opper­man, Blum, Breytenbach, om ’n paar te noem.

Hoewel dié digter anders dig as sy tydgenote, maak hierdie bundel die indruk van ’n digterlike Rip van Winkel.

Hierdie leser was verlei deur die digter se onderhoud op Versindaba. Die gedigte (oor die 102 bladsye, wat ver te veel vir ’n debuut is), raak kant nog wal. Die beelde is geyk en die toon van die gedigte is outyds. Die verwysings na Blake, Yeats, Eliot, Cummings en andere is nie verwerk nie.

Die gedigte word begelei met die volgende motto, onder meer:

“Een word twee, twee word drie, en uit die derde kom die een as die vierde.” – Die aksioma van Maria die leraar van Demokritus.

So klink ’n gedig:

Die eilande

Waarom voel ’n mens so beweeg?
Die kajuit druis botstil. Ons vlieg
oor Mikonos en Iraklion
– die See van Kreta –
die oop oseaan.
Doer onder plak ’n sirruswolkie styf
teen een. Die landskappie is beenderig
soos ’n foto van die maan.
Tripoli skuif nader,
die Sahara skuif nader,
die huis kom nader.
In jou gemoed, iewers vandaan,
swel iets. Is dit geskiedkundig,
onvervals – of nog ’n kitsch moderne traan?
(Of dalk die sout herinnering
aan jou eerste oseaan?)

En so klink ’n reël elders:

En dat die staccato skote uit die snikhete bosse
vir my geen sin maak nie en nooit sal kan nie.

Die bundel klink soos iemand wat te veel ­Wilma Stockenström se Monsterverse probeer ­naboots.

Die herhaling van die “O!” is eweneens ’n kenteken van ’n outydse aanslag.

’n Mooi gegewe soos “Chrissie” ontaard in ’n óórskrywery, amper asof die digter vrees dat die leser nie die simboliek sal raaksien nie.

Die prosaverse (asseblief, gaan lees Bukowski) is gewoon net vertellings en dikwels word ’n mens blootgestel aan ’n studentikose gedig soos die een oor “Gielie Barnard en die matrone”.

Die gedigte word telkens deur idees oor die digkuns ondermyn (“’n Bladsy uit die boek van die New Age Blues”).

Daar is groot gewag gemaak van hierdie ­debuutbundel op die Versindaba in ’n onderhoud met René Bohnen. Dit is duidelik dat die digter geweldig baie gelees het oor die digkuns en geweldig kundig is. Maar helaas, in sy eie bundel moet ek met spyt bely, kon ek nie een gedig vind wat werklik as gedig oortuig nie.

Van die wyshede is onder meer die ­volgende:

Die wurm is my suster. Die termiet is my broer. Die hoëveldbloutjie en die akkedis is my medelandsburgers. My siel spieël in die metaalblou en grys van die hoëveldbloutjie, daardie dartelende klein psige, want ons is (gemaak van) dieselfde sterrestof en ek verstom my oor hoe perfek pragtig hy daarin vorm gekry het of daaraan vorm gee! Ek dink aan Emily Dickinson en wil saam met haar sê: Amen! En ook: ek ­salueer u, pragtige versvrou van Amherst.

Trouens, bitter min van wat oor die bundel gesê word, staan in die gedigte.

Die digter het skynbaar die volgende titels oorweeg: kronkelmandala, dartelmandala, fladdermandala, die swewende mandala, die drywende mandala . . .

Dit al reeds spreek boekdele.

Van die sjamanisme en Jungiaanse aspekte vind ’n mens nie veel in die bundel nie. Daar is in die woorde van die digter te veel agter fantasmiese beelde in die geestesoog aan geskryf. En dis jammer, want hier sou iets kon gebeur.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Friday, January 13, 2017

Die stilte van die skrywers

Stephanus Muller

In 'n onderhoud op Litnet met Naomi Meyer (Onderhoud met Stephanus Muller/ Dekolonisasie van musiek) beweer Stephanus Muller op 12/1:
Hierdie versuim het rampsalige gevolge op verskillende gebiede, waarvan één die voorkeur is vir traangas eerder as colloquia, vir arrestasies eerder as seminare, vir hofstukke eerder as gedigte. Dit wat ons tans in die gesig staar, sal nie deur die polisie opgelos word nie. Die humaniora is kern tot die probleme (en hul oplossings) wat deur die gebeure van 2015 – 2016 aan die orde gestel word, maar dit is deur die slopende effek van die polisiestaat en daarna deur gebrekkige befondsing en korporatisering so verarm dat ons kommerwekkende gebrek aan diepte toon in ons reaksies op die sosiale onrus. Die maatstaf vir die omvang van ons probleme is nie die omvang van die gewelddadige onrus nie, hoe ontstellend dit ook al is. Dit is eerder die beperkte woordeskat van universiteitsbesture, die afwesigheid van die filosowe, die stilte van die skrywers, die onttrekking van die historici, die isolasie van die kunstenaars en oor die algemeen die gebrek aan prominensie van denkers en kunstenaars in hierdie tyd.
Ek wil veral reageer op sy aanklag teen filosowe en die stilte van skrywers. Waarskynlik het hy Johann Rossouw se uiters belangrike analises gemis? Of die replieke van Breyten Breytenbach, skrywers se reaksies via Pen-Afrikaans, en my bydraes op my blog Woorde wat weeg. Hans Pienaar het ook verskeie debatte aangevuur op Litnet en Sonja Loots het in Rapport male sonder tal standpunt ingeneem. Die Gelyke Kans-inisiatief is immers ’n belangrike reaksie wat nie geïgnoreer kan word nie.

Hy kan begin by Protes en anargie (Woorde Wat Weeg/ Joan Hambidge - Protes en anargie (2015). Besoek 13 Januarie 2017).

En: Woorde Wat Weeg/ Joan Hambidge/ reaksieop M. C. Botha brief aan Die Burger. Besoek 13 Januarie 2017.

En hoe universiteite en die werkinge anders bekyk word: Woorde Wat Weeg / Universiteite 2016/ Nie voor dooiemansdeur nie. Besoek 13 Januarie 2017.

Verskeie denkers, skrywers, historici, e.a. lewer kommentaar. Waar ek doseer aan die Universiteit van Kaapstad is daar voortdurend gesprekke, senaatsvergaderings (wat robuust verloop) en kommentaar van universiteitshoofde, dekane, et al.

Ek is nie bewus van 'n stilte nie. Eerder 'n soeke na oplossing. In ’n universiteitsomsendsbrief sopas ontvang word daar tereg gewys op die emosionele impak van die onrus van die afgelope tyd.

Dit is moeilik om in 'n tyd van onrus 'n omvangryke woordeskat te hê.

Wat eerder verontrus, is die polarisering wat tans opmerklik is. Kollegas wat altyd goed oor die weg gekom het, staan nou skepties jeens mekaar.


© Joan Hambidge