Monday, July 25, 2016

Reisjoernaal: Wenen | ICLA-kongres (Deel I)




So open die kongres dan op die Donderdag. Wonderlik om bekende gesigte te sien van vorige internasionale kongresse in Rio de Janeiro (op die stoep van die Hotel Regina sien ek weer vir Dorothy) of in Parys (hier staan David).

Marina Warner

Ons ontvang ’n program wat so dik soos ’n telefoongids is met 388 bladsye. Alles kan jy nie beluister nie, maar ek volg altyd my intuïsie. Die program word geopen deur die beroemde Marina Warner ("Magical Writing: Oracles, Curses, & Further Preventive Measures") wat praat oor ons "collective utterances" en "magical writing" wat sy via die Bybel (en natuurlik via Frank Kermode se The sense of an ending vir haar luisteraars verduidelik. Hoe die toekoms al wink deur die "cuts" van die oomblik. En letterkunde grense oorsteek en kan voorspel. Julian Barnes se History of the world in 10 1/2 chapters (1989) wat eindig met die korrekte voorspelling van wie die sokker in Engeland gaan wen. Gewone lesers het hom op sy woord geneem.

Klytemnestra vermoor Kassandra

Dit is ’n skitterende lesing (wat my diep tref), omdat sy na beroemde mitologiese en Bybelse figure soos Jeremia, Klytemnestra, Kassandra, o.a. verwys. Ook King Lear kom aan bod. Dit is by uitstek ’n lesing wat primordialiteit aanspreek: soos die nette wat die dooies gevange hou in die Boek van die Dood. Moderne Britse teater kom ook aan bod in die hervertolking en interpretasie van onder andere die Oresteia. In hierdie ryk geskakeerde lesing (via Auerbach, Said, Kermode, e.a.) word ’n mens weer bewus van hoe die grense van literatuurteorie voortdurend verskuif. Ons begin waarskynlik weer terugkeer na die argetipiese of primordiale benadering wat vir etlike dekades uit literatuurteorie verban is.

Die soeke na die lesinglokale in die Universität Wien is moeilik. Lesinglokale word op ’n kaart aangedui, maar jy vind dit nie sommer nie. Die gebou is soos ’n Escher-skildery.

Ek stap by ’n lesing in (onbespreek) en hoor wel iets relevants oor die representasie van Godot in komiekstrips.

Ek ontdek ’n gender-seksie wat fassinerend is. Hemingway se vreemde verhouding met Gertrude Stein wat die spreker sien as ’n verplaaste gay-dimensie. Ek wys haar daarop dat hy salig onbewus was van die verhouding tussen haar en Alice B. Toklas. Hy het eers eendag toe hy voor hul huis in die Rue de Fleuris gestaan het, gehoor hoe die twee rusie maak ...

Die gender-sessies is fassinerend: gender en genre; gender en taal; genderkonstruksies wat grense bevraagteken, afbreek en herdefinieer, soos in die Algeryns-Franse letterkunde waar gay-tekste geheime kodes het wat nie ingeligte leser begryp.

Soos poisson (vis) wat ook ’n soen tussen twee mans beteken ...

En dan ’n hoogtepunt ... aan’t verdwaal in die UniVie se oordonderende geboue, kom ek af op ’n sessie: “The metaphor and Languages of the Diseases, the Healing and the Medicine since the 20th Century. Al Berto and the writing of Fear en Torture and Consumption. Insatiable Appetite in Kim Je-woon's I Saw the devil (2001).

Al Berto wat skryf uit ’n posisie van gepynig wees en siekte wat hom voortdryf en anders maak blyk die dinamo vir sy kreatiwiteit te wees. Hierteenoor ’n lesing oor ’n reeksmoordenaar as ’n marginale persoon en wat in I saw the devil behandel word. (I Saw the Devil - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 23 Julie 2016).

Fassinerend hoe hierdie twee referate van waarde is vir my werk oor Johann de Lange en o.a. sy hantering van die marginale persoon en die reeksmoordernaar (soos Jeffrey Dahmer) wat ’n troop word van onvervulling en die abjekte.

Veral lesings oor vertaling (en die sogenaamde "untranslatable") word in vele sessies bespreek.

Daar is ’n paneelbespreking rondom minderheidstale: uit Indië en Afrika. En hoe hierdie tale "bewaar" moet word. Ja, noem die een respondent dit. Daar is ’n selfs ’n woordeboek in ’n Afrikataal met ’n X begin wat hy nie kan uitspreek nie. Xhosa, help ons hom. En maak ook die gehoor daarop attent dat daar selfs ’n Zoeloe/Engels/Afrikaanse woordeboek bestaan. (isiZulu.net – Zulu-English online dictionary. Besoek 24 Julie 2016)

Selfs Amerikaanse komparatiste verdedig minderheidstale en hoe ons moet bly veg vir minderheidstale, diversiteit en verskillende kulture. Dit is immers waarmee Komparatisme besig is - en eerder die parallelle teks as die een verswelgende Engelse teks is die antwoord.

Is daar iets soos World Literature? Of is dit ’n blote kanonisering van Groot Name, geskep deur maghebbers, wat die kleiner, randletterkundes verdring? Emily Apter en David Damrosch is hier in debat. (David Damrosch | Department of ComparativeLiterature. Besoek 24 Julie 2016)

Emily Apter is die skrywer van die bekende studie: On The Politics of Untranslatability (2013).

Sekere konsepte in die filosofie word hervertaal, weer vertaal, en in wese bly dit on-vertaalbaar. (Emily Apter | Department of Comparative Literature | NYU. Besoek 24 Julie 2016)

By elke lesing hoor hierdie kongresganger presies dit wat universiteite aan Suid-Afrikaanse universiteite tans ontken: die ontkenning van diversiteit, meertaligheid en die erkenning van multi-kulturalisme.

Om van buite - op selfs subliminale maniere - bevestiging te kry dat meertaligheid belangrik is, maak van hierdie kongres ’n opwindende en tersaaklike ervaring.

Daardie telefoongids neem ek huis toe. Daar sal ek ander relevante lesings kan aflaai en herbesoek.

Vandag is Sondag. ’n Klein respyt want more begin die lesings weer in aller yl.

Migrasie, grense, klein tale, minderheidsposisies ...



© Joan Hambidge


Thursday, July 21, 2016

Reisjoernaal: Wenen | Stad van Musiek, Stad van drome



Dag 4

Vroegoggend brekfis ek. Lees e-posse. Die moderne akademikus kan eenvoudig nie die aanslag van e-posse pypkan nie. Wel, jy kan probeer; net om te ontdek dat ’n datum verbygeglip het of ’n aankondiging van ’n kongres in jou vakgebied is weg. Hier in Wenen sit ek reg oorkant die universiteit en beantwoord ’n tsoenami van e-posse. 

UCT/UK kampus

Beursaansoeke (wat nou geteken moet word); klastye en -toelatings wat nie kan wag nie; beangste studente wat tesisse wil inhandig. So iewers op jou reis knyp jy ’n paar ure af en laat weet ’n kursus is geskrap of ja, dit mag ...

Dan is daar weer die HoHo busse (hop on/hop off) wat jou jou deur die stad neem. Jy stop vir ’n vinnige koffie, mis die volgende bus, koop ’n aandenking en wag.

Jy beloer die plattegrond van die stad. Sekere areas begin nou al bekend raak. Soos die Freud-park naby jou hotel.

Jy verbeel jou hoe Freud en sy hond hier gewandel het. Met Paula, die huishulp.
Sigmund Freud Park

Meer as 3.7 miljoen mense besoek hierdie stad jaarliks wat naas Melbourne as die mees leefbare en genietbare stad beskou word.

Op straat vra ek vir aanwysings en ’n jong meisie vertel vir my hoe haar woonstel langs ’n park haar afsluit van stadsgeraas. Helaas, kan ons nie dieselfde in Kaapstad sê nie, waar jongeliede tot laatnag op stoepe drink (en lawaai) met bergies wat hul eie stadsmusiek het.

Wenen se Romeinse en Keltiese geskiedenis is herkenbaar; ons sien klassieke mure in die ou gedeeltes van die stad.

Van Wenen na Venesië

Neffens die Tsjeggiese Republiek, Slovakië en Hongarye kan jy selfs daguitstappies maak na die omliggende buurlande; mits jy ’n visum het.

Wenen (Vien) beteken bergstroom (Vedunia).

Ook geroep Dunaj.

In 1938 (met die Anschluss) beset Hitler Oostenryk.

Eers in 1955 is Wenen verlos uit die kloue van Nazi-Duitsland.

In 1945 het die Sowjet-Unie die stad beset tot in 1955.

Hierdie stad was ook vasgevang deur Duitsland en die Sowjet-Unie, bykans soos ’n kind wat in ’n egskeidingdebakel ’n twispunt tussen die ouers word.

Hitler se geboortehuis word oorweeg vir sloping

Onder die Nazi-regime is ongeveer 65 000 Jode gedeporteer en vermoor in konsentrasiekampe. 130 000 mense het gelukkig op vlug kon slaan, onder andere Freud en sy gesin wat genoeg geld gehad het. Vandag is die Joodse buurt amper on-Joods. ’n Mens wonder hoe het dit toe gelyk voor hierdie geweldige aanslag?

Hoe ironies dat Hitler gebore is in Oostenryk.

Voorblad van die Akte van die Weense Kongres

Uit al die na-oorlogse spanninge kon Graham Greene The third man skryf. Dit het behels dat die VSA, Sowjet-Unie, Frankryk en Engeland Wenen beheer het in die sogenaamde "Four-Power Vienna". 

(Vienna - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 18 Julie 2016). 

Die klimaat is sub-tropies; so tussen 22 grade en meer tans.

Vandag na ’n busrit, draai ek my rug op die stad om asem te skep.

Dis soos wanneer ’n mens ’n uitgebreide maal aandurf. Jy moet rus tussen die voorgereg, hoofgereg en nagereg.

Ons is nog net by die voorgereg in die stad.

Nog net geproe-proe.

Dus ’n dag van sleepvoet. In skoolterme: ek het vandag stokkies gedraai! Net ’n klein busroete meegemaak en bietjie gestap verby die universiteit.

More is ’n lang dag.

Ek kyk na die plattegrond.

Na links die Dieretuin, na regs die Donou waarop ek more gaan vaar.

Die Natuur- en Kunsmuseum is ’n enorme baken. Nes die Prater of die Groot Wiel waarvandaan jy die stad kan bespeid.

Die Belvedere Paleis. MUSA-museum.

Een van die bakens naby my hotel is die Votivkirche. En die universiteit.

Van ver kan ek die kerk se toring sien. Dit is ’n neo-Gotiese kerk geleë op die Ringstrasse. In 1853 was daar ’n aanslag op die lewe van Keiser Franz Joseph. En omdat sy lewe gered is, het sy broer Ferdinand Maximillian geld ingesamel om God te dank omdat sy broer se lewe gered is. Vandag stap hier mense met honde rond en die kerk word tans aan die voorkant gerestoureer.


Tydens die Tweede Wêreldoorlog is van die vensters beskadig.

Ek kyk na die ongelooflike argitektuur en na die sogenaamde "flying buttresses". Watter enorme geduld en harde werk het nie gekos om so ’n gebou van sandsteen te konstrueer en te bou nie?

Die kerk het twee klone: een in Speyer en een in Oostende.

Tydens slopende tye het hierdie kerk vertroosting gebied aan soldate. En vir moderne reisigers.

Dag 5

Nou begin die reis inskop. Na drie dae, so vertel dokters, verander jou metabolisme. Ek besluit: vandag gaan ons op die blou Donou vaar wat (sover ek weet) eintlik bruin is.

’n Laat-ontbyt met organiese koffie. Dan vertrek ons op ’n bustoer deur die stad. "All is an illusion" staan daar op ’n venster. Dit kaats terug na Lumen ’n paar aande terug ...

Hundertwasser museum

Ons ry deur die stad en ek begin  al sekere bakens herken. Daar is die Hundertwasser museum, ’n kunstenaar beroemd vir sy uitspraak dat hy bome liewer het as mense.

Ons sou kon raai hy was ’n misantroop.

Die Joodse area wat tydens die Kristallnacht vernietig is, spook by my. Hoe moes dit nie gevoel het om Joods hier te wees nie?

Fred Astaire moes sy naam verander; soos Heddy Lamarr.

Ons ry verby die Groot Wiel wat in 1897 voltooi is. Daar naby staan ’n Riesenrad bar waar mense nadink oor die tarot en die Wiel van Geluk wat hulle afgegooi het.

Vele bakens flits verby: Beethoven se huis, Dvorak se plek, unsw.

Dan tot in Grinzing waar ons nou die aand heurigen Wein gedrink: jonk, maar lekker. Of, klein maar getrein.

In Grinzing staan Nicky Lauda se huise en daar is selfs ’n monument vir Lady Di. Ook ’n park vir meditasie.

Die bootvaart is aangenaam, maar ietwat van ’n teleurstelling. My voorstellings van die Donou was anders ...

Ons weet mos hoe die Burgemeester van Wenen op sy dag ’n watertjie uit die Donou moes drink om te wys hoe skoon dit is. Dit was op televisie gebeeldsend, maar die urban legend loop dat hy eintlik met ’n glas konjak in die hand gestaan het.

Na die bootvaart verby is, vra ek die gids: waar is die bus om terug te keer na die hotel.

Daar is geen bus nie.

Ek staan in die middel van die stad. Ek besluit om ’n trem te neem terug hotel toe en danksy al die busritte, weet ek watter kant toe om te beweeg.

Neem nommer 1, verduidelik ’n man.

Nou is ek op die trem. Maar helaas. Jy kan geen kaartjie koop op die trem nie.

Ek weet in watter sop jy kan beland as jy nie ’n kaartjie het nie. Ek spring by die volgende stop af en weer help ’n Samaritaan my om ’n kaartjie te koop teen 2 euro's. Ek herken die bakens. Die trem tol vinnig om draaie.

Daar is die universiteit en ja die Kerk. Met sy gargoyles - om die bose af te weer.

Gargoyles. Besoek 20 Julie 2016). 

Ek gesels met ’n jongeling. "Wat noem julle dit hier?"

"Demone. Om die bose af te weer."

Inderdaad. Hy ken nie die woord gargoyle nie; van die Frans gargouille, wat letterlik keel beteken. Miskien omdat daar soveel dinge is wat ons deesdae aan die keel gryp. More begin my kongres. Ek begin al van die kongresgangers herken. Daardie een laas in Parys gesien; daardie een Rio de Janeiro.

Orals hoor jy dieselfde gesprekke: die onrus wat regoor die wêreld aan die broei is.



 © Joan Hambidge