Monday, June 8, 2020

Reisrubriek | Onthou om te onthou | 2020


Donderdag,  4 Junie 2020 tot Sondag, 7 Junie 2020

Vanoggend luister ek na die kommentaar van twee filmkritici (Peter Brunette en Frank Burke) oor Amarcord.

Tussendeur gaan ek deur stapels manuskripte. Reisverslae, universiteitsdokumente, briewe, keurverslae van boeke – pak dit weg in kombuiskaste. 'n Groot klomp papiere land uiteraard in 'n swart sak. 'n Hele lewe word in ''n fast forward na vore gebring. 'n Handgeskrewe "Daar is 'n koggelmander in my kakhuis", 'n brief van Johann de Lange aan my in 2013, 'n in memoriam in Die Burger waar 'n liefdesgedig by die herdenking van 'n kind se dood ander betekenisse ontsluit.

Die gedig is sonder my toestemming gebruik. Dit is goed so. Gedigte moet reis om mense te help. Dit kry immers onmiddellik na publikasie 'n nuwe betekenis.

Amarcord is wonderbaarlik reg vir hierdie tyd.

Fellini het opgemerk op 'n keer dat hy musiek te oorweldigend vind om daarna te luister. Tog is Nina Rota se musiek as refrein belangrik vir sy films.

Karakters praat direk met die kamera asof hulle óns, die kyker, wil betrek. Die vrou Gradisca voer 'n ontkleedans uit – nie vir die minnaar nie, maar vir die kyker. 'n Soort Brechtiaanse Vervremdung.

Fellini is inderdaad 'n visuele storieverteller. En jy kan die storie volg sonder onderskrifte of dialoog. 

In Roma (1972) bring hy hulde aan sy geliefde stad. Die stad van illusies, soos Gore Vidal, die Amerikaanse skrywer dit tipeer, wat lank woonagtig was in Rome.

Peter Gonzales vertolk die rol van die jong Fellini in hierdie film met verskillende episodes: besoeke aan 'n hoerhuis; ondergrondse frescoes verdwyn, omdat daar lig op hulle skyn; gesprekke oor die sub-way wat nie voltooi is nie, weens die brose struktuur van die stad; 'n modevertoning waar priesters op rolskaatse rondbeweeg en verskillende kledingstukke vertoon en dus kommentaar lewer op die kerk se materialisme; 'n boksgeveg; die diefstal van 'n kamera.

Die film begin met die geskiedenis van Rome en Fellini en sy assistente beweeg deur die stad. 'n Mens bly deurgaans bewus van hulle. Anna Magnani weier om Fellini te woord te staan. Sy klap as groot aktrise die deur in sy gesig toe. (Sy is kort na die voltooiing van die film oorlede.)

Oorlogtyd word teenoor die sewentigerjare geplaas. 'n Bomskuiling teenoor hippies wat sing met die kokende restaurantlewe in Rome. Fellini speel 'n jong man in die dertigerjare wat bordele besoek en in die sewentigerjare is hy die filmmaker. Twee verhale word teenoor mekaar geplaas in 'n selfrefleksiewe, metatekstuele film wat hy later in Otto e mezzo verder ontgin.

*

Jeanne Goosen se dood wek tereg wye reaksie in die pers. Daar is vele huldeblyke vir die uitstaande, enigmatiese en briljante skrywer wat op soveel fronte werksaam was. Ek probeer haar karteer in 'n gedig:

Jeanne Goosen

Op 'n herfsdag word jy ontslaan
met boegoe en jenewer en Maria Callas
om finaal te vertrek na daardie aftreeoord
waar ander digters nou met jou hof

sal hou in 'n gewalste woord of koue oorlog
in 'n ruimte met vele sirkels oneindig glo
hoe klink dit daar met musiek op die engeleharp?
sal jy jou steeds onverbiddelik verweer verset

teen vooroordeel leuens of voorstellings 
van dié firmament nooit omsingel of omskryf?

Nou is jy elders aan diens met Bibberende Piet
en jou bossies Mamma se agterstevooromkind

sing Ia sona molto felice vol geluk en saligheid
soos klank en woord en beeld se drie-enigheid

omstedelik sal jy aankom in hierdie omstreke 
vol stories fabrikasies en dié plek ook omkeer

*

In City of women (La città delle donne) van 1980 vertolk Marcello Mastroianni die rol van Snàporaz. Hy ontmoet 'n vrou op 'n trein en het kortstondige seks met haar in die toilet. Die trein stop onverwags en hy agtervolg haar dan deur 'n woud na die Grand Hotel waar daar 'n kongres vir vroue plaasvind. Hy is onwelkom hier as man en word gekonfronteer – saam met die kyker – met uitspattige en uitbundige gesprekke oor vroulike seksualiteit.

Daar word beswaar gemaak oor terme waarmee die vagina beskryf word: box, snatch, bunny, beaver... 'n Vrou bely dat sy as jong kind so meegevoer was deur Sneeuwitjie en die sewe dwergies dat sy nou sommer sewe mans het.

'n Liedjie op die maat van "A woman without a man is like a fish withou a bicycle" wys op vroue se rol as tweedeseks. Met guitige woorde en vreemde assosiasies.

Heerlik parodies is 'n toneel met 'n vrou wat in 'n toneel kinders versorg, stryk, kook en dan kom die man boonop met 'n Frankenstein-masker en eis seks van haar. Die masker word afgehaal en dit is 'n vrou wat die rol vertolk van die betredende man.

Die kongres handel oor poliandrie en Snàporaz word deur ene Donatello begelei na 'n gimnasium waar vroue op rolskaatse hom konfronteer. 

Is dit dood wat sy sens ophou? Of is dit gewoon 'n vrou wat alweer op hom afstorm?

Hy word deur 'n vet, aaklige vrou oorrompel en sy verkrag hom bykans in 'n kweekhuis. Haar moeder kom dan tot sy redding.

Hierna beland hy in 'n motor met harde musiek waar die vroue hoog in die takke is.

Uiteindelik word hy "gered" deur ene Dr. Xavier Katzone waar hy omring word deur belaglike seksobjekte en selfs 'n tong uit 'n masker word in sy oor gedruk. Die performance van sy vrou wat deur telekenesis pêrels en geld opsuig, is 'n kommentaar op vroue wat met mans trou ter wille van geld. Zen-seks, word dit genoem.

In hierdie film word Snàporaz ook met sy eksvrou gekonfronteer. Met al die voorspelbare verwyte en aantygings.

Vroue – vermom as Nazi's – betree die huis en Snàporaz word ter take geneem in 'n hof vir sy manlikheid. Daar is 'n bokskryt en hy verlaat dit in lugballon in die gedaante van Donatello. Sy skiet die ballon aan stukke.

Skielik word hy wakker op dieselfde trein as aan die begin van die film.

Dit was alles dan net 'n droom en die vroue wat hy in die nagmerrie beleef het, staan om hom in die trein.

*

Die Van Wyk Louw-insette gaan voort op Versindaba.

*

City of Women is 'n uiters komplekse en selfs waansinnige film. By die Cannes-filmfees was een van die kritici se opmerking: Zero for Fellini. 'n Ander een het gemeen: A Mountain of Tedious Pretension.

In sy dagboek het Tarkofski – toe besig met Nostalghia – soos volg geskryf oor hierdie film:
At the Cannes Festival the papers said that Fellini's last film was a total disaster, and that he himself had ceased to exist. It's terrible, but it's true, his film is worthless.
Met 'n herbesoek nou (en ek gaan hierdie week weer die film kyk) is die uwe van mening dat dit uiteraard die tyd vér vooruit was. Dit analiseer genderpolitiek vanuit verskillende hoeke.

Ons sou graag wou weet wat Almodóvar of Tarantino hiervan sou maak. 'n Kopknik uiteraard na die komplekse genderpolitiek en die spel met verskillende style: 'n Fred Astaire-dans, vroue as Nazi's, grappe oor seksualiteit, vrees vir vroulike oorheersing, ensomeer.

Soms is 'n film – nes 'n boek – sy tyd ver vooruit.


© Joan Hambidge

Thursday, June 4, 2020

Reisrubriek | Hallo, koebaai, Jeanne! | 2020

Foto: Lerato Maduna

Maandag, 1 Mei 2020

Op Netwerk24 verskyn hierdie resensie:

Jaco Fouche – Aanspreeklikheid. Human & Rousseau, 2020. ISBN: 978-0-7981-7833-4

Jaco Fouché is ‘n eiesoortige en produktiewe romanskrywer wat gedebuteer het met Ryk van die rawe (1996) bekroon met die Eugène Marais-prys. Met Aanspreeklikheid het hy die tweede plek verower het in Groot Afrikaanse Romanwedstryd vir 2018. Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach was eerste en die derde prys is verower deur Debbie Loots met Die boek van gelukkige eindes. Fouché se Verstevlei wen die derde prys in NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2012.

Aanspreeklikheid is ‘n besonder boeiende roman oor ‘n man, ene Jaco Diehl, wat betrek word by moorde.

Hy woon eers in Hermanus, dan Sandbaai en beland dan in Kaapstad. Hy het ‘n vriendin in ‘n inrigting, daar is verwysings na dwelms, alkoholmisbruik (die AA) en die verkragting van ‘n man deur ‘n man. En dan moord ...

Die peregrinasieverhaal gemeng met ‘n speurverhaal en ‘n onbetroubare verteller op die koop toe, maak van hierdie roman iets besonders. Die boek is sowat 250 bladsye lank en ‘n mens wil die hele tyd weet wát gaan volgende gebeur. Gaan die moordenaar – eintlik dalk in die meervoud – aan die pen ry? Boonop maak die Bybelse verwysings en voorspellings van swaarkry iets unheimlichs van hierdie roman in hierdie tyd van inperking: 
Ons keer terug na ‘n tyd van swaarkry. Dis Bybels om so in siklusse te leef. Kyk hoe lank het die Israeliete in ballingskap verkeer. (181)
Ons is nou in grendeltyd eweneens bewus van ellende.
Maar my geestelike geesdrif is daarmee heen en deesdae is ek die louwarm kos in God se mond wat Hy binnekort sal uitspoeg.(156)
Ons het egter ‘n skrywende verteller: dus onbetroubaar wat die belewenis en vertelling deurmekaar laat vloei. En boonop is daar ‘n verwysing na Georges Simenon se Maigret-speurder wat waarsku dat menslike emosies belangriker sal wees as plot.

‘n Skrywer wat ‘n roman skryf oor Fouché, die historiese figuur, die Duke of Otranto? ‘n Man wat bekend was vir sy agterbakse en rewolusionêre optredes. Gaan kyk maar na die geskiedenis met Robespierre en wat hy van die koning gedink het. Dit is ‘n belangrike kode vir ongerymdhede wat in hierdie roman gaan gebeur. Napoleon se minister van polisie, die slagter van Lyon is die onderwerp van die verteller se boek, ‘n man wat ‘n situasie kon lees en bewimpel.

Dus ‘n konfrontasie met werklike moorde in die hede teenoor koppe wat rol in die verlede. Silence of the lambs staan ook opgeteken as inspirasie in die nawoord. 

‘n Rekenaar wat oppak en hardeskryf wat uitgewis word, is verdere waarskuwings dat jy nie die verteller op sy woord moet neem nie. ‘n Doolhof inderdaad.

En die uitgewer in sy roman beskryf sy werk as die filosofie van die nihilisme. Inderdaad. Want wat het ‘n skoonmaker met karate te make met Yokio Mishima? “‘n Mens moet jou ekskursies, soos jou woorde, tel,” waarsku die verteller. En dalk bedoel hy ook jou intellektuele ekskursies?

Die fiksionele uitgewer meen verder die lewe bestaan uit vlakke en lae. En met hierdie roman is dit bepaald die geval. Die skrywer in die roman spot ook met sy posisie as skrywer dalk as synde “high maintenance vir low returns”? Hiermee word daar kommentaar gelewer op die eise om suksesvol te wees wat die skryfproses mag beduiwel.

In die erkenningslys word daar o.a. na Colin Wilson verwys. The Outsider en sy studies oor reeksmoordenaars en buitesintuiglike ervarings is van sy werke wat hier na vore kom. Jack Kerouac se On the Road slaan deur. Wilson het as jong man bedags in biblioteke navorsing gedoen en snags in parke geslaap totdat sy eerste boek ‘n blitsverkoper was. Die Beats – soos Kerouac – het die kapitalisme verfoei en in hul skryfwerk ondermyn.

Die werklike skrywer vind kennelik aanklank by skrywers wat die donker kant van die psige karteer soos Donna Tart in The Secret History en Bret Easton Ellis in American Psycho.

Nog ‘n skrywer wat skryf oor ‘n storie omdat daar nie ‘n storie is nie. Absoluut nie. Hy dupe jou. Hy lei jou om die bos en trek al skrywend sy voetspore dood. Te laat besef jy dat jy jou in ‘n metaroman bevind.

In hierdie tyd beland In the Dream House van Carmen Maria Machado op my lessenaar, ‘n roman wat verlede jaar verskyn en internasionaal opslae gemaak het. Hier het ons eweneens ‘n skrywer wat agentskap binne ‘n lesbiese verhouding fiksionaliseer en vanuit verskillende perspektiewe beskou: as American Gothic, as pathetic fallacy, as spy triller, ensomeer.

Vreemd hoe boeke met mekaar in gesprek tree. Twee skrywers op verskillende kontinente wat die verskillende aspekte van lees en skryf ondersoek. Beide voorspel die virus wat ‘n hele wêreld tot stilstand gaan ruk.

En ‘n verder heerlike stuk ironie: die Amerikaanse karakter besoek Suid-Afrika as jong kind en lewer kommentaar op die landskap. 

Aanspreeklikheid bevat apokaliptiese en distopiese elemente. Die nawoord gee belangrike sleutels vir verdere speurwerk in hierdie roman. ‘n Mens behoort Skrywersblok (2009) weer te lees wat weens die grendeltyd onmoontlik was vir hierdie leser.

‘n Spannende roman wat iewers die draak steek met die letterkunde se beheptheid met speur- en moordverhale tans en wys dat jy helder en toeganklik kan skryf sónder om oppervlakkig te wees. 

*

Ek tel 12 bottels Spier Cab op. Vir my en vriende. Die inperking is verby. Alkoholvrye bier kan nog, maar die wyn helaas nie.

In die aand is dit Fellini se herinneringstog: Amarcord.


Dinsdag 2 Junie 2002

Something’s got to give. Die dak word reggemaak en my kombuisdrein is verstop. Skielik is daar water oor die kombuisvloer. Ek en die faktotum spook om te sien waar die lekkasie is. Ontdek die prop onder die U-boog het verroes. 

Ek neem ‘n foto van die prop en plaas dit ter wille van die regte agtergrond op Tristia en stuur dit vir die loodgieter.

Binne ‘n halfuur is daar ‘n hulpvaardige jong swart man wat met my kwinkeleer.
“Waar is jou masker?”, vra hy.
Ek sit onmiddellik ‘n wit masker op.
Gelukkig het hierdie oorstroming tydens Fase 3 gebeur waar mense mag uitgaan om te help. Flink en hulpvaardig.

*

Die bedelaars word aggressiewer wanneer ‘n mens nie iets wil koop in die winkel nie. Geld is nie genoeg nie. Hulle het voorskrifte én voorkeure. Soek Peanut Butter en brood en melk.

Die ellende van mense gryp aan die keel, veral na 6nm.

*

Jo Stafford sing No other love – hartverskeurend mooi.

Die 8nm applous in Kaapstad word al hoe minder uitbundig.

Miskien omdat ons weet die virus gaan nog lank met ons wees?

*

My oor word fyner ingestel met die Franse CD’s. Dominique de Louche se Frans volg ek beter wanneer hy praat oor Fellini. 

*

Nou wag die herinneringsfilm, Amarcord.

‘n Uitsonderlike film waarin die jong man Titta se rite of passage tydens die Mussolini-tydvak ondersoek word. ‘n Lieflike rolprent wat al die argetipes van ‘n kleindorp weergee: die familie, die onderwyser, die priester, die hoer, die stoute kinders wat masturbeer in ‘n springende motor (wat deur vele Hollywood-regisseurs al geskaai is), die fokus op die verskil tussen waansin en normaliteit teen die agtergrond van die oorlog. Met skerp kommentaar op Fascisme.

En uiteindelik die dood van die moeder.

Dit werk met sterk en bekende simbole – soos die pou se vere wat later in slaapkamertonele herhaal word. Mooi tonele soos Titta wat vry met die winkelvrou en sy kop tussen haar massiewe borste plaas en die tepels op haar aandrang moet suig. Altyd die oermoeder in Fellini se films wat die jong seun inisieer. Terselfdertyd word hy versmoor deur háár passie. En hy bly onvervuld.

Die film begin met die lente en die pofblommetjies wat deur die lug wapper. Dan word dit winter en uiteindelik is dit weer lente. Die ritualistiese verbranding van die Ou heks van die winter aktiveer die paganistiese aspek van die film wat met etlike primordiale simbole werk.

Moreaand sal ek weer terugkeer na hierdie komplekse film.


Woensdag, 3 Junie 2020 

Jeanne Goosen het vertrek. ‘n Vreemde hartseer neem van my besit.

Die afgelope tyd is daar geskryf oor haar biografie, haar gedigte (onaf in manuskripvorm) en haar onvergeetlike aforismes.

Goosen is veelkantig, ‘n kreatiewe wonderwerk wat in vele genres haar merk gemaak het. Ons is nie almal so nie. Lou-oond. Paw-paw vir my darling, Elders aan diens ...

Om ‘n mens na te boots.

In hierdie vreemde teks vind ‘n mens die essensie van Goosen: die mengsel van fantasie en realiteit. Die storie van Bres, Brim en Dana. Dalk dieselfde persoon?

Jeanne het in Parow groot geword en selfs hierdie ruimte het sy gefiksionaliseer. Hoe is die pa dood? Hieroor bestaan daar verskillende weergawes. Maar fiksie was háár ruimte en soos Fellini het sy telkens teruggekeer na die plek van grootword en kreatief daaruit geput. In die bekende kortverhaal “Aan die einde van die reënboog” (1987) speel sy met herinnering aan Bellville / Parow met ‘n vrou wat mans bliksem in ‘n kroeg – met Anneli van Rooyen se bekende liedjie wat speel in die agtergrond.

Die Commercial Hotel se Ladies Bar: ‘n Klipdrift Double, ‘n Goodyear-asbak en ‘n Texan is hoe die verteller haarself beskryf wat haar binne die orde van die manlike domein bevind.
Die spanning ontstaan wanneer ‘n man vra:”Ou pel,” sê hy.”Wat is DIT wat nou net hier ingestap het? Issit ‘n man of issit nou ‘n vrou?”

Dan ontstaan daar ‘n weddenskap tussen die mans of dit ‘n man of vrou is. Die verteller staan op en dink: “Ek is lank, lenig en dertig. Ek is so fit soos Rodger Bannister voor hy die vierminuut-myl gekraak het. Ek is ‘n vrou, en ek vat g’n kak van niemand nie.”

Die man wat gebliksem word herinner haar aan die Laerskool Parow se hoof – sonder sy lat.
Sy sit die man in ‘n hewige, fisiese stryd op sy plek.

Carmensita in die kroeg bewonder haar en die spreker sê: “Hulle noem my Jean,” antwoord ek.”Net Jean.”

Aan die ein-de vôn die reë-enbôô-ôôg...! sing Anneli van Rooyen ten slotte wanneer die oorwinning beklink is.

Jean = Jeanne en in die fantasie (met die strikdas) kan alle gender- en jeugkonflik ópgehef word.
Jean (manlik) versus Jeanne (vroulik); Jean (jeug) versus Jeanne (die volwasse skrywer).

*

Almal van ons het ‘n komplekse verhouding met Jeanne gehad. Terwyl jy nog lekker nadink oor ‘n samesyn van lag en heerlikhede, gee sy jou ‘n dwarsklap. Jy gee vir haar ‘n digbundel persent wat sy met potloodstrepe bekrap en jou vertel hoe vrot Die verlore simbool is.

Iets wat ‘n mens leer navigeer. Haar kreatiwiteit het altyd vergoed vir beskuldigings en rugstekery.

Dan onhou jy weer ‘n uitbundige aand – waar die uwe paradeer as Pavarotti met ‘n handdoek om die kop en saam-mime – en Jeanne wat ballet doen. En op The Sound of Music dans met ‘n vrou.

Of hoe sý saamsing in Melville se Question Mark met twee akkordeon-spelers.

Of klavierspeel by Phil du Plessis se huis. Of jou opbel met ‘n lang, verdrietige gesprekke.

Jeanne sou jou ook bystaan wanneer jy deur slegte tye gaan en teenstanders van jou wegklap.

Nou is Jeanne Goosen elders aan diens. Mag die impak van haar besondere werk na waarde geskat word. Veelkantig en eiesoortig.

© Joan Hambidge

Tuesday, June 2, 2020

Reisrubriek | Die Covid-19 Catch-22 | 2020


Vrydag, 29 Mei 2020

Die inperkingregulasies word verander. Vandag so. More sus. Gelukkig mag ons faktotum terugkeer werk toe en kom skoon maak.

Die dak mag reggemaak word en die geute word na 1 Junie vervang, Deo Volente.

Die inperkingsreëls verander voortdurend op die merry-go-round van onsekerheid. As roker vind ek haar edele dr. Zuma se optrede met betrekking tot sigarette onaanvaarbaar. Ek het wel rookgoed in die vorm van tabak, maar dit is ‘n bewese feit dat mense wat aan stres ly en nie kan rook nie, angsaanvalle kry. Boonop word jy siek as jy skielik ophou rook – aldus my Moeslem-mondhigiënis.

Drank-aankope gaan ook glo na 1 Junie beperk word. Weer streng regulasies van hoeveel jy mag aankoop. Ons weet almal hoé ingewikkeld en prekêr die balanseertoerjie tussen die ekonomie en gesondheid is, maar die belaglike regulasies maak nie sin nie. Alkoholverbod. Kerke mag oop, maar restaurante nie?

Ons gee toe dis ‘n moeilike tyd vir almal, maar die drakoniese wette het in hierdie tyd verdere (en onnodige) spanning geskep. Die beste een is egter die klere-regulasies van minister Patel.

Maar dit skep darem humor. Dr. Zuma met sigarette in haar weave. Grappe rondom maskers (soos die masker beskerm jou teen ‘n drankasem) en frustrasies. Humor is immers altyd die finale uitweg tot oorlewing.

Nou ja: Twak en Patel is die wet van Transvaal.

*

So ervaar Philip French Fellini se Casanova met die DVD-heruitreiking in 2010:
The semi-coherent, death-obsessed narrative reeks of self-disgust and has the clammy atmosphere of an undertaker’s embalming room. Made entirely on fabulous Cinecittà sets, it’s superbly photographed and magnificently staged and Sutherland (who hated the experience) is a compelling presence (Philip French's Classic DVD | Film | The Guardian. Besoek 30 Mei 2020).
Hiermee word daar verskil, omdat ek die film nou weer bekyk – vir die tweede keer binne twee dae. Die kritiek was indertyd snedig toe die film verskyn het. Fellini self het bely dat hy geen simpatie met Casanova as figuur gehad het nie en eers tydens die verfilming versag het teenoor sy subjek.

Om te dink dat Robert Redford en Jack Nicholson oorweeg is vir hierdie rol.

Die mores van die tyd word uiters subtiel ondersoek. Die digter en letterkundige figuur Casanova se peregrinasieverhaal word in high camp vertel. Sutherland se neus is die ene prostese en die film se fokus op getekende vaginas vind ons later terug met ‘n intertekstuele knipoog in Pedro Almodóvar se Talk to her (2002).

In hierdie film red ‘n verkragting ‘n jong meisie uit ‘n komatose staat en Almodóvar laat jou nadink oor reg en verkeerd. As sy nie verkrag was nie, sou sy nie herstel het nie. Vir die kyker ‘n skokkende opsie. In hierdie aangrypende rolprent – wat handel oor ‘n jong, effens-vertraagde man se obsessie met ‘n pragtige meisie – gebruik hy ‘n wit-en-swart-film om die vrees vir penetrasie te openbaar. Die jong man gaan ‘n donker grot binne.

Die vrees vir vroulike seksuele krag word so verbeeld. Federico en Pedro kyk dikwels na die vertraagde mens se lot.


Saterdag, 30 Mei 2020

Ondertussen vergelyk ons Elia Kazan se produksie van A street car named desire met die nuwe een met Gillian Anderson (Gillian Anderson - A Streetcar Named Desire (Not About Angels) - YouTube. Besoek 30 Mei 2020).

Wanneer ‘n mens dit as geheel beskou, is dit ‘n kragtige produksie met moderne musiek en Anderson wat waansinnig én provokatief is. Tuimelend. Oop met deure wat toemaak. Die Australies-gebore Benedict Andrews teenoor Elia Kazan, die Grieks-Amerikaanse regisseur oor wie Susan Sontag so insigryk skryf in Against Interpretation.

Kwessie van smaak. Persoonlik verkies ek die sober, treurige interpretasie van Vivien Leigh as Blanche. ‘n Persoon vasgestrik in haar leuens en waansin. Miskien speel Anderson se gevaarlike persona te veel in op háár interpretasie? Ons weet immers hoe sy o.a in The Fall en in haar lewe grense altyd uitdaag.

Blanche DuBois

Ek moes altyd genadebrood
eet, in die Flamingo-hotel
minnaars teenskunnig onthaal,
toe ek Belle Rève verloor.
Op soek na ‘n holte vir my voet
met vele vereboas,
vertrek ek na Stella,
my swangersus
in New Orleans.
Genagmerrie ek
oor ‘n lewe tus-
sen grense,
tussen tye:
ek onthou daardie skoot
in die donker nag
toe…
Ek is Blanche, Blanche DuBois,
‘n lenteboord,
ek is die Dame van die Kamelias,
ek is, ek is…

Altyd voor
altyd voor
spieëls
staan Blanche DuBois,
altyd weg van lig
van lig
‘n vlermuis
gevang
nes die soekligte
van waarheid
op haar skyn…

Die brutale Kowalski
ek walg van sy
lyf en reuk
in die Elisiese
velde
tussen illusie
en ‘n gekraakte spieël:

in ‘n donkernag ver-
geet sy die pinnommer
van Vodamail,
skakel in die nag
‘n vergete nommer,
ontdek ‘n vreemde selfoon
in haar sak ná ’n nag
soekend soekend na ‘n Blanche duBois
op ‘n Streetcar named desire…

Vivien Leigh en Cate Blanchett
word één met Blanche:
“…I’ve always depended
on the kindness of strangers…”.
Droewe, melancholiese Blanche,
alkoholis en self-bedrieër,
met hierdie vers
verlos ek jou
van eensaamheid
en waansin:
nou speel ek vrolike
Weense walse
net vir jou net vir jou
word één met jou
soos ‘n gerekende aktrise
dansend dansend
wég van verguising
en verkragting.

(Matriks: 2015). 

*

Nights of Cabiria is in 1957 uitgereik en Truffaut beskou dit in daardie tyd as Fellini se beste film. ‘n Wonderlike film – beslis nie sy beste nie – wat die storie vertel van ‘n prostituut op soek na ware liefde. Dit begin waar sy deur ‘n swendelaar besteel word en in die rivier gestamp word. Sy word van verdrinking gered deur jongelinge wat keer dat sy deur die damsuiweraar ingetrek word. Sy is egter ondankbaar vir hierdie reddingspoging en keer woedend terug na haar huisie waar sy veg met die ander dames van die nag. Giulietta Masina, Fellini se vrou, is oortuigend in die rol. Eers word sy deur ‘n filmster opgetel, ene Alberto Lazzari, en ‘n danstoneel in ‘n nagklub is verruklik – omdat dit so verkeerd is in die neus-in-die-lug-plek. Sy vriendin keer terug in die nag en so word haar drome verydel om met hom te slaap.

Sy word by ‘n vertoning deur ‘n towenaar gehiptoniseer en deur die gehoor uitgelag.

Haar droom is om ‘n man te vind met wie sy haar lewe kan deel. Ene Oscar wag haar buite in, belieg en beduisel haar. Sy verkoop haar huis, haal al haar geld uit die bank en word deur hom verneuk. Net soos aan die begin waar die minnaar haar in die water gestamp het, probeer Oscar haar oor ‘n afgrond stamp. Sy verloor hom en haar geld. Tog eindig die film positief met jongelinge wat om haar dans.

*

Pasolini het gehelp om die dialoog te skryf en in ‘n wonderlike onderhoud met die vervaardiger Dino de Laurentiis vertel hy hoe hy ‘n lang stuk uit die film gesny het, omdat dit die storiegang vertraag het. Dit word vertel deur Dino in Italjaanse Engels. Ja, hy het dit gesteel (maar Fellini het geweet hoekom) en later het Fellini die stuk teruggebedel en weer in films gesit vir ‘n geleerde gehoor.

Daar word na die film as ugly realism verwys, maar dit is bekoorlik en aangrypend. Dit is ook herhaaldelik bekroon. Een van Federico Fellini se egte, menslike en pynlike films.


Sondag, 31 Mei 2020

Amptelik is ons nou amper klaar met grendeltyd. Onse President bely hy moes eerder gesê het dat hy ook teen die boikot van sigarette op Vlak 4 was.

Too little too late. Ondertussen heers daar verwarring oor skooltoegaan, al dan nie.

Die middag ry ek Kampsbaai toe en kyk na die see. Mense stap buite met maskers. Maar ten minste is ek al nader aan die see ... binnekort sal ek gaan swem.

Saigon, ‘n puik Oosterse restaurant maak vir my osstert. Ek gaan haal dit af. Ontsettend duur en restaurante sal bepaald pryse moet verlaag oorlewing ontwille.

By ‘n ander kontakpunt kry ek rooi wyn. Genugtig. Osstert sonder regte rooi wyn?

More word daar wyn afgelewer. Spierlandgoed.

*

Sondagaand kyk ek na die onderhoude gevoer met verskeie rolspelers met Nights of Cabiria. Assistente en mense wat agter die skerms gewerk het en altyd onsigbaar is. Dit het weke geneem om die religieuse prosessie te verfilm. Dit het gebots met ‘n werklike besoek van mense op so ‘n bedetog wat chaos veroorsaak het.

Dominique Delouche, ‘n persoonlike assistent van Fellini, was werksaam aan hierdie projek. Die uitknip van die man met ‘n sak wat kos aan die armes uitdeel, was gewoon omdat die film té lank sou wees. Dit het niks te make gehad met sensuur van die kerk nie. Hoekom sou die Katolieke kerk negatief reageer op so ‘n suiwer daad?

Hy wys op die kil ontvangs van La strada en hoe hy by Cannes vir Fellini meegedeel het hoe aangrypend-goed die rolprent is. Hy word toe sy assistent. Hy vertel van die dispuut tussen Visconti en Fellini – wat agterna beskou onnodig was. Beide is immers in eie reg fantastiese filmmakers.

* 

Otto e mezzo
La dolce vita
City of women
Roma
Amarcord
Casanova
I Vitelloni
I am a born liar

Almal in my besit wat ek nou stadig weer kan besoek. Die vreugde van tyd wat stadig beweeg.

*

Kyk weer na die Ou-Testament – die versugting om by die beloofde land uit te kom word telkemale opgeteken. Vanuit verskillende hoeke. Toe genoem Kanaän.

© Joan Hambidge

Monday, June 1, 2020

Reisrubriek | 'n Serp om my nek | 2020


Woensdag, 27 Mei 2020 | ‘n Stopsel twak van my

Francoise Hardy sing vanoggend op FMR. ‘n Stuk heerlike nostalgie. Orals duik Frank Sinatra ook op. Selfs in winkelsentrums.

*

Volgens ‘n psigiater en kundige Jungiaan, is die virus se ongelooflike vernuf om te transformeer én spore dood te vee, ‘n bewys dat dit nie in ‘n laboratorium gemaak is nie. Altyd op pad met ‘n nuwe inkarnasie. Altyd almal een voor.

‘n Laboratorium-produk sou nie so vernuftig kon wees nie.

*

Rook nou regte twak. Die heerlike reuk van die tabak neem my terug na my jeug. My buurman draai vir my zolletjies. Zumatjies? 

So op die maat van Saai die waatlemoen.

Die aande is besonder koud en twee duvets en ‘n pelsagtige kombers nie genoeg nie. Laatnag haal ek ‘n ou piekniekkombers uit die kas. Slaap met ‘n serp om my nek. Pragtige foto’s van sneeu op die berge in Ceres is bekoorlik mooi.

Ek haat binnehuise verhitting: maak ‘n mens net siek. Jou liggaam, meen die uwe, moet self die temperatuur reguleer. In die koudste winter in menseheugenis in New Haven het die binnehuise temperatuur die vensters toegewasem. Die verskil tussen hittig binne en koud buite het siek gemaak.

Koue praat met my. In daardie koue winter van 1984 in New Haven het Hartskrif gebeur. En nou met die virus is ‘n winterreis na Rusland gefnuik.

*

Federico Fellini se Il Vetollini / The Bullocks (1953) is my aandvermaak.

Dit vertel die verhaal van vyf jong mans in ‘n dorpie en hoe hulle die sosiale mores van die tyd ervaar. Die patriarg regeer, die moeder pers af met kos en oordrewe emosies en die kinders bly op amper-dertig nog by die ouers.

Die film begin met die kroning van Mejuffrou Meermin. ‘n Heerlike feestelikheid - behalwe dat sy flou val en swanger is. ‘n Storm voorspel die afloop.

Fausto wil die pad vat, maar hy word deur sy vader ingeboelie in ‘n moet-troue. Die probleem is egter dat hy ‘n blinkoog is wat aanlê by sy baas se vrou. Daar is ‘n karnaval waar die norme uitgedaag word en hy flirteer selfs met die baas se vrou. (Bakhtin se idee van die karnavaleske signifieer die grense wat uitgedaag sal word.)

Alberto (in drag) daag stormdronk by die huis op en is onsteld oor sy suster, Olga se verhouding met ‘n getroude man. Die film analiseer die mores van die tyd en die invloed van die kerk in die klein dorpie.

Fausto speel ook later voetjie-voetjie in ‘n filmhuis, terwyl sy vrou neffens hom blinkoog sit.

Die baas nooi hom vir ‘n drankie een aand na werk en konfronteer hom met sy grensoorskrydende gedrag in die winkel wat kuns- en religieuse objekte verkoop. Hy word summier ontslaan, maar sy vriend, Moraldo voel dit was onregverdig.

Hulle steel ‘n engel uit die winkel en maak hulleself wys dit is geregverdig. Dis immers wat die baas hom skuld. Hulle probeer dit verkoop aan ‘n klooster, maar die monnik sien regdeur hulle. Hulle gee die engel vir ‘n malman (wat hulle gehelp het om die kunsobjek op ‘n waentjie te vervoer) en hy aanbid voor die engel.

Die patriarg is woedend oor nog ‘n oortreding, maar met ‘n geliegery word die vrede herstel. By ‘n teateraand – waar Leopaldi, die skrywer – goedkeuring vir sy teks wil hê by die ou akteur, wat dit goed vind, dans die poppe weer wanneer Fausto met ‘n aktrise bed toe gaan. Die ou akteur probeer Leopaldi verlei en na sy ondeugsame optrede is Fausto in die moeilikheid.

Sandra verdwyn met die kind uit ontsteltenis oor Fausto se verraad en wanneer sy gevind word by haar skoonpa se huis, word Fausto gebliksem met ‘n belt deur sy pa.

Een van die kalfies verlaat die dorp per trein. Sy vriende bly agter – slapend in hul beddens.

Hy is aan die woord as die voice over. Dalk Fellini self?

In hierdie film sien ‘n mens reeds die temas wat Fellini later sou aansny: die karnaval, die soeke na sin, liefdesontrouheid, die impak van die kerk en mores, die gesin wat die kind beheer.

En hoe ‘n mens nooit die plek van jou jeug verlaat nie.


Donderdag, 28 Mei 2020

Bibberkoud. Sneeu in Ceres. Tweeuur in die oggend begin ek met ‘n nuwe roman: Keerweer. ’n Projek om die gedagtes te orden en melancholie af te weer.

Die strate is omineus stil. Die ligte is aan en net my koffiemasjien is wakker met klein smakgeluidjies.

Ek maak roosterbrood. Die masjien is laas in my vorige lewe laas gebruik, maar is flink op sy pos. Is daar iets lekkerder as roosterbrood met Marmite, botter en vars tamatie?

Vyfuur is dit bedtoegaantyd. Ek rook een van my zumatjies. Die reuk is so vars; anders as sigarette met chemiese stowwe.

As ‘n hele wêreld vir Marcel Proust kon oopgaan in À la recherche du temps perdu met ‘n Madeleine-koekie, is dit vir my so met tabak. Aliwal-Noord, Standerton – boere wat pyp rook op die stoep.

*

Ons Franse woord vir die dag is dan: perdu.

*

Vandag bly ek binne. Ysig. Snerpend. My buurvrou los pannekoek voor die deur.

Casanova van Federico Fellini is aan die beurt.

‘n Aanskoulike film. Bykans soos ‘n opera waar elke vinjet iets be-teken. Vroue wat sit en skinder en hulle koppe draai na mekaar. Casanova (Donald Sutherland) is kamp en over the top. Fellini het die film gebaseer op die dagboek van die 18e-eeuse avonturier en skrywer. Hierdie 1976 film is bekroon vir die beste kostuums deur Danilo Donati. In die dokumentêr oor Fellini het Sutherland openlik bely hoe moeilik Fellini was. Daar was geen regie nie; die teks is al om die hawerklap verander en hy moes dialoog binne enkele minute leer.

Die film skop af in Venesië in die 18e eeu. Daar is ‘n karnaval en ‘n poging om ‘n reuse boegbeeld uit die water te red, misluk. Dit word as ‘n slegte voorteken te sien. (Fellini begin telkens sy films met so ‘n voorteken of prospeksie: in Il Vetollini is daar ‘n storm wat ellende voorspel; hierdie bad omen is belangrik, omdat Casanova later beskuldig word van ‘n belangstelling in swart magie.)

Hy het op ‘n eiland seks met ‘n vrou wat haar voordoen as ‘n non, terwyl haar geliefde, ‘n ryk man, ‘n voyeur is. Casanova is bewus hiervan. Die man loer deur die oog van ‘n vis wat hang teen die muur.

Hy word tronk toe gestuur weens dié oortreding, maar ook weens sy belangstelling in die onbekende kennis – alchemie o.a. – van die tyd. In die tronk dink hy na oor al sy verskillende verhoudings. Hy ontsnap uit die tronk, reis na Parys en hier probeer hy Madame d’Urfé se siel transformeer na dié van ‘n man; uiteraard in die teenwoordigheid van ‘n jong vrou vir sy eie plesier. Sy versoek hierdie transformasie omdat vroue in die tyd volgens die kerk nie ‘n siel had nie en dus nie die ewige lewe sou kon binnegaan nie.

In Londen word hy deur twee vroue beroof en Casanova probeer selfmoord pleeg deur in die Teems te spring. Hier word hy gered deur ‘n visioen (tipies Fellini) met dwerge en ‘n reuse vrou. Hierna vertrek hy na Rome waar hy ‘n dekadente party van Lord Talou bywoon. Hy wen dan die uitdaging vir hoeveel orgasmes hy in een uur kan bereik. Tot groot bewondering van almal. In Switserland raak hy verlief op ‘n alchemis se dogter, ene Isabella. Daar is ‘n orgie en hierna vertrek hy na Dresden waar hy kortstondig sy vervreemde moeder sien.

In Württemberg ontmoet hy die meganiese pop Rosalba. Hy gaan uiteindelik met haar bed toe – waarskynlik ‘n beeld van sy uitbranding en die dood van sy libido.

Die ou Casanova word verneder en in die kasteel in Dux word sy portret vernietig en besmeer met uitskot. In die slottoneel droom hy dat hy terug is in Venesië en die spoke van sy verlore geliefdes teister hom. In die slottoneel dans hy met die pop.
*
Die film het duidelik ‘n Fellini-aanslag: droom en werklikheid; gefnuikte seksuele begeerte; die gemeenskap as ‘n demper; die karnaval.

Donald Sutherland word Casanova. Sy wenkbroue is afgeskeer en swart wenkbroue word geteken na bo. Sy hare is teruggeskeer sodat sy hoë voorkop hom omineus laat lyk.

Hierdie Kanadese akteur (opgelei in Brittanje) wat veral in Don’t look now (1973) met Julie Christie my oortuig het van sy erns as akteur – veral met die naaktonele. Maar moenie vergeet van Klute – met Jane Fonda –, A dry white season, JFK. Hy is bekend vir sy uitgesproke anti-oorlog-standpunte en ‘n verhouding met Jane Fonda (kortstondig).

‘n Mens kan selde hoor wat hy sê. Maar sy liggaamstaal en spel met sy oë vertel altyd meer as genoeg.

*

Aardklop is ook gekanselleer. ‘n Mens het oneindige deernis met die akteurs se ellende. Hulle behoef ‘n gehoor; skrywers kan alleen voortdreun. Net met ‘n potlood en papier. 


© Joan Hambidge