Thursday, August 3, 2017

Reisjoernaal | Namibië Julie 2017 (Deel V)

Swakopmund en Walvisbaai

Vanoggend vroeg is dit propperse ontbyt by Naukluft. 

Ek is op pad Swakopmund toe met Oom Aggis, die gids deur die Namib, se vader.

'n Engelse ontbyt saam met die twee Hong Kongelinge. O gedoente. Toe hulle wil uitjekkereer, blyk dit hulle het wederregtelik in die hotelletjie oorgebly en nie in die kampeerterrein nie.

En die bestuurderes eis 'n ekstra bedrag. Dit blyk egter gou dat op hul reisvorm eersgenoemde aangeteken staan en nie laasgenoemde nie.

Dit blyk die jongeling het self al die reëlings getref en dus was hy nie bewus van die subtiele verskille nie.

Ewentwel, ek slaan my oë op na die duine. Dis hoekom ek altyd belê in my reisagent, mevrou Cathy Petersen. Loop iets skeef of skuins, e-pos ek haar. Sy is my back-up op meer as een vlak.

Want reis gooi bepaald sy curve balls. Vanoggend ontdek ek 'n goggabie het in die nag gebyt. Seker 'n sandvlooi. Ek vind nêrens in my huisapteek antibiotiese salf nie. En die rooi bytmerke staan. Ek drink 'n anti-allergie-pilletjie en ontdek sunlightseep in my sak!

Ek maak dit effens nat en smeer dit oor die rooi merke.

Daar werk die boereraat soos 'n bom. Die rooi swelsel sak en ek en Oom Aggis, 'n Damara, is in die viertrek (sowat vier ure) na Swakopmund.

Die pad is woes. Bestudeer my Franse grammatikaboekie om die kop stil te hou. Bekyk die landskap en neem die gebruiklike foto's. Oom Aggis vertel van al sy wedervaringe as draaiwer. Sy oudste kind is 30 en die jongste twee. Hy het net agt seuns, brag hy.

Ek gee vir hom 'n footjie en besef hy moet na een terugry Naukluft toe - sonder lunch.
Dis mos nie reg nie?

Nee beduie hy; as hulle oorslaap op 'n plek dan kry hulle kosgeld - andersins nie.

Dis ongeveer twee minute na twaalf en ons stop by die Spur wat 'n lieflike speshúl aanbied: 'n burger teen N$ 50.

Strand hotel

Hy eet alte lekker en oom Aggis laai my af by die Strand-hotel. Hier raak ek liggies bedonnerd toe die concierge my twee tasse neem en verdwyn. Die dame by die inboektafel lyk nie bekommerd nie. Hy het dit glo net agtertoe geneem en sal dit nou-nou kamer toe bring ...

My kamera, my grimeersakkie (haha), selfoonlaaier, et al. is in 'n die klein blou sak. Ek verduidelik vir haar WAAROM ek onrustig is: sowat tien jaar gelede word 'n tas in 'n hotel in Plymouth gesteel toe ek deur Engeland reis. Die hotel trek die skouers op (dit was nie in die kamer nie) en die bustoer is nonchalant (dit was nie op die bus nie).

In transit = geen visum = en route.

Daardie tas is fakala stryt.

Gone.

Die kamer in Swakop is wel lieflik. 

Ek pak my klere uit, hang dit in die kas op. Twee serpe was ek uit: die rooigrond van die Namib spoel uit en 'n jean stof ek af.

'n Kamer moet nou eers my mana oorneem alvorens ek rustig raak.

Daar is 'n helikopter wat oor die Namib vlieg ($N 6 000) en 'n lugballon wat jou eweneens oor die landskap kan neem (ook teen 'n ongelooflike bedrag). Indertyd wel 'n helli geneem oor die asembenemende Victoria-valle ...

Nou beantwoord ek al die e-posse na dae se stilte in die woestyn. Knip my naels en maak my reg vir 'n wandeling deur die stad.

Dit is koud hier. Die see is onrustig. Dis winter hier. Na die hitte van Sossusvlei en die stof, is dit 'n verademing om by die kus te wees.

Ek eet vroeg in die hotel se steak house. Heel skaflik, behalwe vir 'n warm glas vir die rooi wyn ...

En dan is dit bed toe vir die combo: seevaart- & duine-trip.

Lady Gaga 

Die seevaarttrip is wonderlik. Ons word 'n walvis en dolfyne beloof, maar helaas moet ons tevrede wees met 'n pelikaan, ene Lady Gaga wat haar aanmeld op die dek en al bedelend vissies kry. Dan is daar 'n Rakkertjie Rob wat swiep-swiep oor die dek. In die koue oseaan (12 grade) swem 'n hele paar. Die gids neem ons na die eiland waar daar glo 30 000 woon. Hy vertel hoe die moeders 'n suigeling moet agterlaat om kos te soek - dikwels vir twee dae - en dan by haar terugkeer is die kleinding opgevreet. Die natuurwet. Soos die wet van Transvaal ...

Ons sien blou emmers in die water. Dit blyk egter die plek te wees vir die kweek van oesters. Ingewikkeld hoe diep dit onder die water lê en net op die regte oomblik na bo gebring word en uitgevoer word na Hong Kong. En as daar een vrot oester in is, word die hele besending teruggestuur. Ons word oesters aangebied, maar ek dink dit is te vroeg vir so 'n delikatessen.

In die baai staan daar oliebore. En omdat die olieprys gedaal het, is daar geen soektog na olie nie. Die wispelturigheid van die politiek wat vraag en aanbod kan manipuleer, is welbekend.

Die rondvaart is drie ure lank en goed vir die gemoed.  

Hierna is dit duine toe op 'n viertrek met 'n nuwe gids. Hy is 'n behendige bestuurder wat ook veel weet van die natuur en die ekologiese veranderinge van die kusgebied. Hy wys kaarte om te verduidelik hoe die kuslyn verander het. Hier het 'n huis gestaan eens op 'n tyd; nou is daar net 'n paar stukke hout ....

Die huis is begrawe onder sand.

Ons ry terwyl dit hoogwater is en moet koes-koes om 'n brander te mis teen 'n duin. Dan is dit opwaarts. Die Duitsers kreun van plesier en vrees.

Jouissance in sy oorspronklike sin van die woord. Dan beweeg ons na bo en weer - na 'n klein asemophou - skielik na onder.

Onder grom die duine.

"Dit is 'n Landrover-begraafplaas hierdie," spot die gids. Want as jy nie reg mik en trap en ratte bemeester nie, is dit sokke tyd.

Ons stop vir 'n versnapering. Onder 'n duinplant sien ek streepmuise rondharloop. Die gids voer hulle kaas. Dit is opvallend hoe die gidse op die seevaart en by die duine die wilde diere voer.

'n Kleingecko, vertel ons gids, kom ook uit en eet 'n chippie uit sy hand soos 'n hondjie.

Dus op een dag op 'n katamaran en in 'n viertrek.

Ons ry by die klein monument verby in Walvisbaai: die Rynse kerk wat ingevoer is uit Duitsland.

'n Belangrike troop om hierdie land te verstaan wat steeds die Duitse kultuur erken.

© Joan Hambidge



Reisjoernaal | Namibië Julie 2017 (Deel IV)


Dis so stil in die woestyn ek kan my Mondaine hoor tik.

Die dag begin met goeie nuus: die geld uit die ATM is terugbetaal en na 'n paar lengtes in die binnenshuise swembad is ek reg vir die pad: Naukluft Lodge.

Eers die kliniese Hilton-hotel en Windhoek is besonder skoon en wen glo elke jaar die prys vir die skoonste stad in Afrika.

Die voormalige uitgewer kry nie haar draai nie en ons ry verby al die landmerke in Windhoek omring deur die Khomas-Hocland en die Auas-berge. Soos die Katutara-township, die Reiter von Südwest, die Alte Feste oftewel die museum, die botaniese tuin, unsw. Ons sien drinkers op die stoep sit, maar hierdie reis is om die natuurskoon te besigtig.

Ses ure lank se reis na Solitaire met twee Hong Kong-mense agter en ek voor langs die gids. Ons ry verby bergkwaggas en springbokke.

Ek verkyk my aan die wewer-neste wat soms 'n boom laat omtiep, so groot is hulle. Hierdie neste kan tot 'n 100 kg swaar raak. Die wewer op egte Afrikaans heet die versamelvoël. 

Die Spreetshoogtepas durf ons rustig aan. Soms stop ons vir foto's en dan is ons weer
veilig.

Hierdie onpretensieuse landskap praat met my. Dit sit in my DNS - waarskynlik omdat ek gebore is op Aliwal-Noord hunker ek na ooptes. Na grond. Daar is lieflike plaashuise gebaai in stilte.

Tot by Solitaire.

By die Naukluft-lodge is daar geen internet nie en al die jongelinge op hul Samsungs is vies. Die aand is daar 'n egte Namibiese braai met wildsvleis, hoender, knoffelbrood en natuurlik: Apfelstrudel.

Ek gaan vroeg rus. Dis immers moreoggend ons reis na die Sossusvlei-duine en ons moet vier-dertig op wees.

Kleinboer is my bedtydstorie en ek is ontroer deur die ervaring van sy vrou se dood en die begrafnis daarna. Hy beskryf die ritueel van 'n Zoeloe-begrafnis met die drie emmers vloeistof ...

Hy verwys ook na Johan van Wyk, daardie uitsonderlike digter wat na homself verwys as 'n giraffe in 'n bordeel ...

Heldedade kom nie dikwels voor nie is ook in my reistas vir lees. 'n Knap bundel met waarskynlik die beste ekfrastiese verse in Afrikaans.

Ek sit my lig af en droom van my vriend Gerrit. Hy maak 'n hek oop in die droom vir my. Hy is sowat ses jaar gelede onverwags oorlede en ja, in hierdie ruimte is 'n mens voortdurend bewus van die oorgang tussen lewe en dood. Maar dit bedreig nie. Ek is immers die afgelope tyd deur soveel geliefdes verlaat. 

By die Naukluft vertel 'n vrou van 'n jong Russiese kind wat op die boottrip in die water geval het. Gelukkig het die gids haar betyds kon red.

Die wekker lui. Brekfis en dan 'n uur lank se ry deur warrelende stof tot by die duine. Imposant. Beeldskoon. Onwrikbaar. Onbeweeglik.

Die jongeling uit Hong Kong stap die duin flink uit. Ek helaas doen dit minder adret.

Terug Landrover toe. Ons skaats oor die woestynsand. Tyd vir stilte. Ek lees Kleinboer, wyl ons wag op 'n foto-sessie. Sy vertelling hoe hy lepels vis met 'n magneet in sy huis wat die vorige bewoner se kinders in die muuropening laat val het. Oor sy tweelingbroer. Sy ouers: die streng, wiskunde-onnie en die ongasvrye, agterdogtige en neurotiese moeder. 'n Resep vir rebellie. Maar Kleinboer vertel alles soos dit is. Sonder skroom, skaamte of skuld.

Met die lotto-nommers tussenin waarin hy arbitrêre saak saamsnoer. Wat 'n fantasie het hierdie man nie. Dis eerlike Yeoville-neo-realisme waarin die verteller vir sy leser wys dat ons Afrika kan waardeer en geniet.

Verby Big Daddy en Big Mama se duine. Tot by Sossusvlei. Tot by die canyon. Goedskiks ses Landrovers is in die sand gesnoeker. Geen mens in sig nie en die gids weet te vertel hulle is "gered" deur 'n Namib-viertrek.

Ons hou piekniek onder die bome by 'n outydse tafeltjie. Smul aan hard gekookte eier, toebroodjies, jogurt en koffie. Die Hong Kongelinge gesels opgewonde oor die natuurskoon in hul taal. Ek en die gids praat Afrikaans. 'n Wonderbaarlike ervaring van hierdie land is hoe suiwer en amper outyds die Afrikaans is. Geen Engelse sleng of stoplappe nie.

Ek neem foto's. Ek verkyk my aan die bome. Ek vind nou berusting toe ons by Weltevrede-lodge verby ry, die naam van my moeder se meenthuis.

Middagete sit daar vier vinkies en bedel by my tafel. Ek voer vir hulle krummels. Hulle is boodskappers uit die ander oord.

My sak val oop. Daar is 'n pakkie note in van vorige bestemmings: Turkye, Sjina, Argentinië en Chili.

Matriks, Indeks en Astrak is my trits waarin ek 'n fase van my lewe afhandel.

Woestynlandskap
(Tierra de sombra
come mi boca.)
Federico García Lorca

In hierdie landskap sonder genade
waaier my hele lewe voor my uit:

ek sien my ma wat padkos pak
vir 'n reis na haar familie in die suide.

Soggens hou my vader woordeloos toesig
wanneer ek my tas vol klere pak

en my mentor hoor ek goedskiks lag
oor ek tans boom- en voëlname bemeester.

In vele fotobeelde sit hulle roerloos, wagtend
in die volledige geheimenis van die dood ómhul.


© Joan Hambidge