Sunday, September 11, 2016

Amanda Botha gesels met Joan Hambidge: Op 60 kyk sy al skrywend terug

11 September 2016

Vandag – 11 September –  vier die digter en literator Joan Hambidge haar 60ste verjaardag en ook word haar 25ste bundel, Indeks, vandeesmaand bekend gestel. Amanda Botha het haar oor haar werk uitgevra.

Joan Hambidge: “ ’n Mens skryf verse in die donker ure 
wanneer die krag van inspirasie af is.” Foto: Philip de Vos

Sedert haar debuutbundel, Hartskrif, in 1985 verskyn het, het sy dikwels in een jaar twee titels gepubliseer en twee jaar agtereenvolgend – 1989 en 1990 – elke jaar drie bundels die lig laat sien. Sy het in Afrikaans ’n ongeëwenaarde publikasierekord. In dieselfde tyd het sy ook ses romans uitgegee en twee literêre werke.

In 1986 ontvang sy die Eugène Maraisprys vir haar bundel Bitterlemoene en in 2012 die ATKV-Poësieprys vir haar bundel Visums by verstek. Die Litera-prys vir ’n gedig oor Eugène Marais in Lykdigte is ook aan haar toegeken.

Indeks het pas verskyn en bied ’n geleentheid vir terugskoue en bestekopname van jou lewe en digterskap. Wat is vir jou spesiaal aan die mylpaal-verjaardag en ’n 25ste digbundel?

Dat ek kon aanhou dig en die voorreg kon hê om gepubliseer te word met soveel kundige raadgewers en uitgewers! Henning Snyman (as leser), dan mense soos Etienne Bloemhof, Martjie Bosman, ­Charles Fryer, Connie Nel, Hettie Scholtz, Marietjie Coetzee, Frederik de Jager, Hester Carstens, Ampie van Straten, onder andere, in onalfabetiese volgorde!, dog elkeen op ’n unieke manier, fyn lesers.

En dan kritiese verslae van A. P. Grové en T. T. Cloete of Heilna du Plooy – literatore wat kundig inspeel op ’n teks.

En ja, resensente wat meen jy skryf te veel (haha Merwe Scholtz) of dink jy banaliseer die liefde (hoho tydgenote).

Terugskouend het jy verskillende temas oor die jare verken. Brei uit oor die temas wat jy meen jou digterskap voed?

Verlies, familieskap, reis, portretverse, ekfrastiese verse, die parodie, religieuse verse . . . Nee, genugtig, vra ’n kritikus eerder.

Jy is losweg die produktiefste digter in Afrikaans. Wat laat jou steeds dig? En indien wel, hoe beplan jy ’n bundel?

Wat laat ’n mens dig? Komplekse vraag. Indien ek presies sou weet, sou ek waarskynlik nou ophou. Ek beplan ’n bundel rondom ’n reis of ’n aflegging: in my jeug ’n verhouding; nou die inkyk op die herinnering aan soveel ervarings, mense, bestemmings . . .

Foto: Philip de Vos 

My paspoort

Noodgewonge in ’n landing site beland
Argentina teenoor Republika Hrvatska,
Nam Phi neffens Beijing se groot muur-visum.
My boekie propvol en net op één blad staan jy,
skeef gestempel, my paspoort na oraldeur.
Nee, ek lieg, dis twee: Zanzibar en Egipte.
Stone Town blakerend en stinkend;
Kaïro se piramides en kamele en gidse.
Op al die plekke sonder jou, daar was jy:
Tokio, Los Angeles, Santiago de Chile,
onsigbaar, ongesiens, ongehoord
in die omtes van my reisende hart
van kontinent tot kontinent in nood,
in al die o-klanke van aftrek en optel.

En hierdie gedig, uit Astrak, sal ek later verander in ’n propperse sonnet.

Sou jy uit jou oeuvre ’n bundel kan uitsonder wat vir jou besonder spesiaal is?

Dad. Die bundel oor my vader – my ou Dad wat my deur die jare aangemoedig het. Ook Hartskrif. My eersteling. En Verdraaide raaisels wat my eerste kennismaking met Suid-Amerika registreer – wat nou, in Indeks, saamgesnoer is. Sedert 1989 het ek hierdie landskap vyf keer besoek. In Argentinië was ek twee jaar terug; Chili verlede jaar oor Desember en Januarie. Met die Andes as die simbool wat ’n skeidslyn is tussen die mens wat ek was en nou is.

In “Ars poetica”, die eerste gedig in Indeks, bely jy dat daar ’n tyd was dat ’n versreël of inval “sonder slag of stoot” hom kon aanmeld en dat daar dalk nou ’n “beurtkrag met die digterlike proses” is. Sal jy dalk meer toeligting bied?

Die ouer digter is waarskynlik meer tegnies bedrewe. Jy kan ’n gedig ten spyte van jouself of ellendes “skep”. ’n Gedig spring nie meer uit jou uit nie. Maar jy kan dit tegnies laat werk . . .

Die politieke en ekonomiese troebelhede (van ons land) speel saam, nie waar nie?

’n Mens skryf verse in die donker ure wanneer die krag van inspirasie af is.

Jy bied ’n afdeling aan as ’n inventaris van verdriet/verlies. Jy hou in digreëls herinneringsmomente van ’n lewe vas. Wil jy uitbrei oor die verrekening van verlies in jou werk?

Verlies is die voedingsbron van my digkuns. Die dood van geliefdes (my vader, geliefdes). Ek is waarskynlik ’n romantikus. Ek word so maklik teleurgestel, maar terselfdertyd bly ek voortbeweeg. Driftig, enersyds dromend; andersyds krities, gedistansieerd.

Foto: Philip de Vos

As jy bestek opneem wie teken jy aan as invloede of deur wie sou jy digterlik gevoed word?

Ek word digterlik gevoed deur verskillende digters, maar my vriendskap met Johann de Lange moet ek uitsonder as ’n digterlike voedingsbron. Hy is ’n besondere digter en iemand wat my verse lees, objektief en altyd met belangrike aanwysings.

Jy het al genoem dat jou studente in kreatiewe skryfwerk onder jou leiding ’n eie stem moet vind – jy duld nie epigone nie.

’n Mens moet wanneer jy skryfskole aanbied jong digters begelei om hul eie stem te vind en nie blote naskrywers te word nie. Hulle moet hulself ook in ’n stadium ontheg en losmaak van my as mentor en voortbeweeg. Hopelik dan al die raad onthou en dit toepas. Soos: lees soveel moontlik, kyk of jou beelde klop, kan jy iets bydra . . .

Jy’s reeds weer aan die werk. Soos jyself sê jou telling is “sixty-love”. ’n Roman en nog ’n bundel aan die kom?

’n Nuwe bundel, Astrak, is in wording en ’n roman, Begeerte, wat afspeel in Wene. Freud, Klimt, The Third Man, Sabina Spielrein en die Riesenrad is die intertekste. Opvallend ook dat mense vergeet dat ek ook romans skryf.

Hambidge se bundel Indeks word op Donderdag 22 September om 18:00 by die Book Lounge in Kaapstad bekend gestel.

(Hierdie onderhoud word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)



Saturday, September 10, 2016

Onderhoud: 5 vrae aan Joan Hambidge, deur Marchelle van Zyl

Die digter Joan Hambidge vier môre haar 60ste verjaardag en haar nuutste bundel, Indeks, is van vandeesmaand te koop. Marchelle van Zyl het met haar gesels.

Joan Hambidge
Foto: Edrea Cloete

1. As jy oor die ses dekades terugkyk, wat wil jy vier en wat sal jy anders doen?
’n Lewe waarin ek telkens die vermoë gehad het om sowel teenstand as geluk kreatief te verwerk. Hiermee dan iets wat die hier-en-nou en die ek oorstyg, omdat ’n boek ook iets vir iemand anders beteken.

By nabaat sou ek miskien losser wou staan van die Afrikaanse letterkunde met sy spelers en hul agendas. Ek dink ’n skrywer moet haar eie interne GPS vertrou.

Luister na jouself en ten minste een goeie leser (of twee) wat nie oneerlik is nie.


2. As jy ’n resensie van jou lewe moet skryf, wat sal jy sê?
Dit is ’n pikareske roman. Daar is reise en uitdagings, en die aweregse, dwarse hoofkarakter gee stem aan gay vroue, raak betrokke by polemieke en is dikwels betrokke by die taalstryd. Dalk windmeulens.

Te midde van al die polemieke en stryde skryf sy voortdurend gedigte oor stilte. Sy is wars van oneerlike mense en het onlangs ’n joernalis met ’n retrohaarstyl in sy dinges gestuur oor hy ’n leuen versprei het.

’n Lojale, driftige persoonlikheid, wat nie tyd vir dubbelpratery het nie. “Kom tot die punt” is haar motto. Weeg jou woorde. Hierom heet die blog Woorde wat weeg.


3. Wat is die topboeke wat jy glo almal in hul leeftyd moet lees?
Saul Bellow se Herzog. Die versamelde gedigte van Pablo Neruda, D.J. Opperman, Elisabeth Eybers en N.P. van Wyk Louw. Die laaste romans van Karel Schoeman.

Ek is ’n poësieleser en die werk van Emily Dickinson bly ’n hoogtepunt.


4. Waarna kan ons uitsien in jou nuwe bundel?
Indeks karteer twee landskappe: die Argentynse en Chileense wêreld. Die bundel werk met die Andes as ’n broeiende simbool. Daar is verse oor afskeid, bestekopnames en tergery: Ek speel met die ou weduwee Viljee . . . En daar is ’n reeks oor Neruda.


5. Wat maak jou gelukkig?

Wanneer ek ’n gedig voltooi het en ek voel dat ek iets nuuts kon sê.

(Hierdie onderhoud word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)